Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 10/15 bl. 30-31
  • Die “huis van Dawid”—Feit of fiksie?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die “huis van Dawid”—Feit of fiksie?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nog ’n argeologiese bewys
  • Argeologiese ontdekking toon dat koning Dawid werklik bestaan het
    Nog onderwerpe
  • Kan hierdie boek vertrou word?
    ’n Boek vir alle mense
  • Die Moabitiese steen—vernietig maar nie verlore nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Bybelboek nommer 10—2 Samuel
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 10/15 bl. 30-31

Die “huis van Dawid”—Feit of fiksie?

DAWID—die jong herderseun wat ’n musikant, ’n digter, ’n soldaat, ’n profeet en ’n koning geword het—beklee ’n vername posisie in die Bybel. Sy naam word 1 138 keer genoem; die uitdrukking “huis van Dawid”—wat dikwels na die vorstehuis van Dawid verwys—word 25 keer gebruik (1 Samuel 20:16). Was koning Dawid en sy vorstehuis net fiksie? Wat openbaar die argeologie? ’n Onlangse merkwaardige ontdekking by ’n argeologiese opgrawingsterrein in Tel Dan in die noorde van Galilea steun volgens berig die historisiteit van Dawid en sy vorstehuis.

In die somer van 1993 het ’n span argeoloë, onder leiding van professor Avraham Biran, ’n gebied buite die buitenste poort van antieke Dan opgegrawe. Hulle het ’n steenplein ontdek. ’n Swart basaltklip wat bo die grond uitgesteek het, is maklik verwyder. Toe die klip so gedraai is dat die middagson daarop skyn, het die letters duidelik sigbaar geword. “O Here, hier is ’n inskripsie!” het professor Biran uitgeroep.

Professor Biran en sy kollega, professor Joseph Naveh van die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem, het onmiddellik ’n wetenskaplike verslag oor die inskripsie geskryf. ’n Artikel in die tydskrif Biblical Archaeology Review, Maart/April 1994, wat op hierdie verslag gebaseer is, sê: “Dit gebeur nie dikwels dat ’n argeologiese vonds die voorblad van die New York Times haal nie (wat nog te sê van die tydskrif Time). Maar dit is wat verlede somer gebeur het met ’n ontdekking in Tel Dan, ’n pragtige heuwel in noordelike Galilea, aan die voet van berg Hermon langs een van die bolope van die Jordaanrivier.

“Daar het Avraham Biran en sy span argeoloë ’n merkwaardige inskripsie uit die negende eeu v.G.J. gevind wat na die ‘huis van Dawid’ sowel as na die ‘koning van Israel’ verwys. Dit is die eerste keer dat die naam Dawid in enige antieke inskripsie gevind is wat nie Bybels van aard is nie. Die feit dat die inskripsie nie bloot na ’n ‘Dawid’ verwys nie, maar na die huis van Dawid, die vorstehuis van die groot Israelitiese koning, is selfs merkwaardiger.

“‘Koning van Israel’ is ’n uitdrukking wat dikwels in die Bybel gevind word, veral in die Boek van Konings. Maar dit is dalk die oudste nie-Bybelse verwysing na Israel in Semitiese skrif. Al word net een ding deur hierdie inskripsie bewys, is dit die feit dat Israel sowel as Juda, in teenstelling met die bewerings van party geleerde Bybelkritici, belangrike koninkryke van daardie tyd was.”

Die datering is gebaseer op die vorm van die letters, die ontleding van die erdewerk wat naby die klipfragment gevind is en die inhoud van die inskripsie. Al drie metodes dui op dieselfde tydvak, die negende eeu v.G.J., iets oor honderd jaar ná koning Dawid. Geleerdes meen dat die inskripsie ’n deel van ’n oorwinningsmonument was wat in Dan opgerig is deur ’n Aramese vyand van sowel die “koning van Israel” as die “[koning van die] huis van Dawid”. Die Arameërs, wat ’n gewilde stormgod, Hadad, aanbid het, het na die ooste gewoon.

Gedurende die noordelike somer van 1994 is nog twee fragmente van hierdie stele gevind. Professor Biran sê: “In hierdie twee fragmente is die naam van die Aramese god Hadad asook ’n verwysing na ’n veldslag tussen die Israeliete en die Arameërs.”

Die vernaamste fragment wat in 1993 gevind is, het 13 gedeeltelik sigbare reëls in ou Hebreeuse skrif bevat. Destyds is punte as woordverdelers gebruik om woorde in ’n teks te skei. Maar “huis van Dawid” word as een woord met die letters “bytdwd” (getranslitereer in gewone letters) geskryf in plaas van “byt” (huis), ’n punt en dan “dwd” (Dawid). Dit is te verstane dat vrae omtrent die vertolking van “bytdwd” geopper is.

Die taalkenner professor Anson Rainey verduidelik: “Joseph Naveh en Avraham Biran het nie die inskripsie in besonderhede verduidelik nie, omdat hulle dalk as vanselfsprekend aangeneem het dat lesers sou weet dat ’n woordverdeler tussen twee samestellende dele in so ’n konstruksie dikwels weggelaat word, veral as die kombinasie ’n goed gevestigde eienaam is. ‘Die huis van Dawid’ was beslis so ’n politieke en aardrykskundige eienaam in die middel-negende eeu v.G.J.”

Nog ’n argeologiese bewys

Ná daardie ontdekking het ’n kenner van die Mesa-stele (wat ook die Moabitiese steen genoem word), professor André Lemaire, aan die lig gebring dat dit ook na die “huis van Dawid” verwys.a Die Mesa-stele, wat in 1868 ontdek is, het baie gemeen met die Tel Dan-stele. Albei dateer uit die negende eeu v.G.J., is van dieselfde stof, is dieselfde grootte en is in amper identiese Semitiese skrif geskryf.

Met verwysing na ’n nuwe rekonstruksie van ’n beskadigde reël op die Mesa-stele het professor Lemaire geskryf: “Ongeveer twee jaar voor die ontdekking van die Tel Dan-fragment het ek die gevolgtrekking gemaak dat die Mesa-stele ’n verwysing na die ‘huis van Dawid’ bevat. . . . Die rede waarom hierdie verwysing na die ‘huis van Dawid’ nooit vantevore opgemerk is nie, kan wees weens die feit dat die Mesa-stele nog nooit ’n behoorlike editio princeps [eerste uitgawe] gehad het nie. Dit is wat ek voorberei, 125 jaar ná die ontdekking van die Mesa-stele.”

Sulke argeologiese inligting is belangrik omdat ’n engel, Jesus self, sy dissipels en mense oor die algemeen die historisiteit van Dawid bevestig het (Matteus 1:1; 12:3; 21:9; Lukas 1:32; Handelinge 2:29). Argeologiese ontdekkings stem blykbaar saam dat hy en sy vorstehuis, die “huis van Dawid”, ’n feit en nie fiksie is nie.

[Voetnoot]

a Die Mesa-stele is bekend aan die lesers van die Wagtoringgenootskap se lektuur. (Sien Die Wagtoring, 15 April 1990, bladsye 30-1.) Dit word in die Louvre-museum, Parys, uitgestal.

[Prent op bladsy 31]

Die Tel Dan-fragment,* wat in 1993 in die stad Dan in die noorde van Galilea ontdek is

* Tekening is gebaseer op ’n foto wat in die Israel Exploration Journal verskyn het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel