Vrae van lesers
◼ Is dit gepas vir ’n Christen om te gaan jag of om te gaan visvang?
Daar is dikwels diep gevoelens betrokke by die verskillende reaksies op jag. Dit is dus die beste as Christene daarna strewe om Jehovah God se denke oor die saak, soos in die Bybel opgeteken, te verstaan en toe te pas.
God het die mens oor “wilde diere” sowel as “vee” laat heers. Aanvanklik het mense nie die Skepper se toestemming, en miskien ook nie enige liggaamlike behoefte, gehad om diere vir kos dood te maak nie (Genesis 1:24, 29, 30). Eers ná die Vloed het God die mens die reg gegee om diere se vleis, waarvan die “siel, . . . sy bloed”, behoorlik uitgeloop het, te eet (Genesis 9:3, 4). Dit kon vleis van òf vee òf wilde diere wees.
Die Israeliete het diere, soos skape en beeste, geteel wat geslag kon word as voedsel wanneer hulle lus was vir vleis. Hulle het ook gejag en visgevang om kos te kry (Deuteronomium 12:20-24; 14:4-20). Dit is in harmonie met God se figuurlike woord dat hy ‘baie vissers sal stuur om sy volk te vang en baie jagters om hulle op te jaag’ (Jeremia 16:16). Jesus het later vissers ingesluit onder sy apostels en het visvangste gelei.—Mattheüs 4:18-22; 17:27; Lukas 5:2-6; Johannes 21:4-7.
Toe die bejaarde aartsvader Isak ’n smaaklike vleisgereg wou hê, was sy seun Jakob gewillig om twee jong bokkies dood te maak om vir hom ’n gereg te maak. Esau het egter ’n wilde dier gaan jag om wildsvleis vir sy vader te kry. Let op dat Isak vir wildsvleis gevra het hoewel vleis van vee beskikbaar was. Let ook op dat albei seuns diere doodgemaak het vir voedsel, nie vir hulleself nie, maar vir iemand anders.—Genesis 27:1-19.
Diere kan om ander redes as net vir vleis doodgemaak word. Hulle velle kan gebruik word om klere mee te maak (2 Konings 1:8; Markus 1:6; Hebreërs 11:37). Beskermende bekleedsels en gereedskap is ook gemaak van dierevelle, selfs van diere wat volgens voorskrif onrein was en wat die Israeliete nie geëet het nie.—Exodus 39:33, 34; Numeri 24:7, NW; Rigters 4:19, NW; Psalm 56:8, NW.
God se vereiste dat die bloed van geslagte diere moet uitloop, moet jagters daaraan herinner dat dierelewe van hom af kom en dus met respek, en nie roekeloos nie, behandel moet word (Levitikus 17:13). Nimrod het blykbaar op diere jag gemaak en waarskynlik gespog oor sy jagvernuf, hoe groot die diere was of hoeveel hy doodgemaak het of die trofeë wat dalk van hulle gemaak is. Hy was “’n geweldige jagter wat teen Jehovah gekant was”.—Genesis 10:9, NW.
So ’n gevoel van opwinding om te jag of diere dood te maak of om vis in te katrol, kan in ’n Christen ontwikkel. Talle jagters of vissers wat hulle harte ondersoek het, het ontdek dat hulle aangesteek was deur die ‘genot om dood te maak’. Sulke opwinding gaan hand aan hand met roekelose geringskatting van dierelewe. Hoewel dit dus nie verkeerd is om te jag of vis te vang nie (wanneer iemand die dooie dier of vangs sal gebruik as voedsel of vir ’n ander gepaste doel), sal dit verkeerd wees as ’n Christen ’n gesindheid soos dié van Nimrod het. Maar daar is ander gevare benewens die opwinding wat jy kry uit jag of ’n trofee.
Die Wagtoring van 1 Oktober 1983 het bespreek waarom ware Christene nie wapens dra of aanhou vir gebruik teen mense of beskerming teen hulle nie (Bladsye 22-5). Sommige Getuies wat oor daardie raad gepeins het, het weer gedink oor die besit van selfs jaggewere. ’n Hele paar het besluit om heeltemal van hulle wapens ontslae te raak of om hulle nie uit te stal of maklik bereikbaar te maak nie. Hierdie Christene sal dus nie die indruk skep dat hulle trots is op hulle wapens of dat hulle daarop vertrou nie. Daarbenewens kan dit ’n tragedie afwend as ’n mens nie eers jaggewere besit, of as dit nie maklik bereikbaar is nie. Die dodelike wapens kan dan nie in die hande van kinders kom wat iemand dalk per ongeluk kan beseer of doodmaak nie; daarbenewens sal wapens ook nie byderhand wees as iemand baie bang of depressief is nie.—Vergelyk Spreuke 22:3.
Party Christene hou dalk van die smaak van sekere soorte wildsvleis of vis, en die praktiesste manier om sulke voedsel te bekom, is om te jag of vis te vang. Ander geniet die buitelug en die oefening wat met jag in die bos gepaard gaan of hulle vind dat die stil ure van visvang hulle laat ontspan. Die Bybel veroordeel dit nie en dit is dus nie nodig om ander wat sulke dinge geniet of nie geniet nie hieroor te oordeel nie. En die voorbeeld van Isak en sy seuns toon dat dit nie nodig is om ’n geskil te maak oor wie die wildsvleis of vis sal eet nie.—Mattheüs 7:1-5; Romeine 14:4.
Die apostel Petrus het klaarblyklik baie daarvan gehou om vis te vang. Toe ’n paar visse daar naby gelê het, het die verrese Jesus hom gehelp om sy eie gevoelens oor vis of die visvangbedryf te ondersoek. Jesus het gevra: “Simon, seun van Jona, het jy My waarlik lief, meer as hulle hier?”—Johannes 21:1-3, 9-15; sien Die Wagtoring van 1 November 1988, bladsy 31.
’n Christen wat met ’n goeie gewete besluit om te gaan jag of om te gaan visvang, moet insgelyks die regte prioriteite hê. Wat sal hy byvoorbeeld doen as ’n jag- of hengelseisoen oopmaak gedurende ’n tyd wanneer gemeentelike vergaderinge gereël is? Of toon sy gesprekke dat hy trots is op sy jag- of visvangvernuf? Hoe goed is dit tog as ’n ryp Christen wat, af en toe, besluit om te gaan jag of vis te vang met oortuiging kan sê: “Ja, Here, U weet dat ek U [meer] liefhet [as hierdie belange].”—Johannes 21:16.