Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 6/1 bl. 15-20
  • Wandel in die vrees van Jehovah

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wandel in die vrees van Jehovah
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Getrou tot die einde toe
  • Vervolging lei tot die verspreiding van die goeie nuus
  • ’n Vervolger word bekeer
  • Nie-Jode word gelowiges!
  • Nie-Joodse gemeente word gestig
  • Vervolging is vergeefs
  • ‘Stefanus het God se goedkeuring en krag gehad’
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
  • Stefanus word gestenig
    My boek met Bybelverhale
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • ‘God is nie partydig nie’
    ‘Getuig deeglik’ oor God se Koninkryk
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 6/1 bl. 15-20

Wandel in die vrees van Jehovah

“Daar [die gemeente] in die vrees van Jehovah en in die vertroosting van die heilige gees gewandel het, het dit in getal bly toeneem.”—HANDELINGE 9:31, “NW”.

1, 2. (a) Wat het gebeur toe die Christengemeente vrede gehad het? (b) Wat doen Jehovah nog selfs al laat hy vervolging toe?

’N DISSIPEL het voor ’n swaar toets te staan gekom. Sou hy sy onkreukbaarheid teenoor God handhaaf? Ja, inderdaad! Hy het in die vrees van God gewandel, met ontsag vir sy Skepper, en sou as ’n getroue getuie van Jehovah sterf.

2 Daardie godvresende handhawer van onkreukbaarheid was Stefanus, “’n man vol van geloof en van die Heilige Gees” (Handelinge 6:5). Sy moord het tot ’n vlaag van vervolging gelei, maar daarna het die gemeente deur die hele Judea, Galilea en Samaria vrede gehad en is dit geestelik opgebou. En “daar dit in die vrees van Jehovah en in die vertroosting van die heilige gees gewandel het, het dit in getal bly toeneem” (Handelinge 9:31, NW). As Jehovah se hedendaagse Getuies kan ons daarvan seker wees dat God ons sal seën, hetsy ons vrede of vervolging ondervind, soos Handelinge hoofstuk 6 tot 12 toon. Laat ons dus in eerbiedige vrees van God wandel wanneer ons vervolg word of enige verligting van vervolging gebruik vir geestelike opbouing en aktiewer diens aan hom.—Deuteronomium 32:11, 12; 33:27.

Getrou tot die einde toe

3. Watter probleem is in Jerusalem opgelos, en hoe?

3 Selfs as probleme in vredestyd ontstaan, kan goeie organisasie help om hulle op te los (6:1-7). Griekssprekende Jode in Jerusalem het gekla dat hulle weduwees in die daaglikse verspreiding van voedsel oor die hoof gesien is en dat Joodse gelowiges wat Hebreeus gepraat het die voorkeur gekry het. Hierdie probleem is opgelos toe die apostels sewe manne aangestel het om na “hierdie nodige saak” om te sien. Een van hulle was Stefanus.

4. Hoe het Stefanus op valse aanklagte gereageer?

4 Maar godvresende Stefanus het spoedig voor ’n toets te staan gekom (6:8-15). Sommige mense het opgestaan wat met Stefanus geredetwis het. Party was van die “sinagoge van die Libertyne”, waarskynlik Jode wat deur die Romeine gevange geneem en later vrygelaat is of Joodse proseliete wat voorheen slawe was. Omdat sy vyande nie opgewasse was teen die wysheid en die gees waarmee Stefanus gespreek het nie, het hulle hom voor die Sanhedrin gebring. Daar het valse getuies gesê: ‘Ons het hierdie man hoor sê dat Jesus die tempel sal vernietig en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, sal verander.’ Maar selfs sy teenstanders kon sien dat Stefanus nie ’n kwaaddoener was nie maar dat sy gesig die rustige voorkoms gehad het van ’n engel, ’n boodskapper van God wat seker was van sy ondersteuning. Hoe anders as hulle gesigte tog, wat venynig van boosheid was omdat hulle werktuie van Satan geword het!

5. Watter gedagtes het Stefanus in sy getuienis beklemtoon?

5 Toe Stefanus deur die hoëpriester Kajafas ondervra is, het hy onbevrees getuig (7:1-53). Sy opsomming van Israel se geskiedenis het getoon dat God van voorneme was om die Wet en tempeldiens af te skaf wanneer die Messias gekom het. Stefanus het gesê dat Moses, die verlosser wat na bewering deur elke Jood geëer is, deur die Israeliete verwerp is, net soos hulle nou ook nie die Een aanvaar het wat groter verlossing bring nie. Deur te sê dat God nie in handgemaakte tempels woon nie, het Stefanus getoon dat die tempel en sy stelsel van aanbidding tot niet sou gaan. Maar aangesien sy regters God nie gevrees het of Sy wil nie wou leer nie, het Stefanus gesê: ‘Julle hardnekkiges, julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Watter profeet het julle vaders nie vervolg nie? Hulle het dié gedood wat die koms van die Regverdige voorspel het, van wie julle verraaiers en moordenaars geword het.’

6. (a) Watter geloofversterkende ondervinding het Stefanus voor sy dood gehad? (b) Waarom kon Stefanus tereg sê: “Here Jesus, ontvang my gees!”?

6 Stefanus se vrymoedige woorde het daartoe gelei dat hy vermoor is (7:54-60). Die regters was woedend oor hierdie onthulling van hulle skuld aan Jesus se dood. Maar hoe is Stefanus se geloof tog versterk toe hy ‘sy oë na die hemel gehou en die heerlikheid van God gesien het en Jesus wat aan Sy regterhand staan’! Stefanus kon nou voor sy vyande staan met die vertroue dat hy God se wil gedoen het. Hoewel Jehovah se Getuies nie gesigte sien nie, kan ons eweneens godgegewe kalmte ervaar wanneer ons vervolg word. Nadat Stefanus se vyande hom buitekant Jerusalem uitgewerp het, het hulle hom begin stenig, en hy het uitgeroep: “Here Jesus, ontvang my gees!” Dit was gepas, aangesien God Jesus die krag gegee het om ander tot die lewe op te wek (Johannes 5:26; 6:40; 11:25, 26). Stefanus het op sy knieë neergeval en uitgeroep: “[Jehovah] reken hulle hierdie sonde nie toe nie!” (vgl. NW). Toe het hy as ’n martelaar gesterf, soos talle ander volgelinge van Jesus sedertdien, self in die moderne tyd, gesterf het.

Vervolging lei tot die verspreiding van die goeie nuus

7. Wat was die gevolge van vervolging?

7 Stefanus se dood het in werklikheid daartoe gelei dat die goeie nuus versprei het (8:1-4). Vervolging het al die dissipels, behalwe die apostels, oor Judea en Samaria verstrooi. Saulus, wat Stefanus se vermoording goedgekeur het, het die gemeente soos ’n dier verwoes en in die huise gegaan om Jesus se volgelinge uit te sleep vir inhegtenisname. Satan se plan om godvresende Koninkryksverkondigers te stuit deur hulle te vervolg, is verydel toe die verstrooide dissipels aangehou het om te preek. Vervolging het vandag ook dikwels daartoe gelei dat die goeie nuus versprei is of die aandag op die Koninkrykspredikingswerk gevestig is.

8. (a) Wat het gebeur as gevolg van die predikingswerk wat in Samaria gedoen is? (b) Hoe het Petrus die tweede sleutel gebruik wat Jesus aan hom toevertrou het?

8 Die evangelis Filippus het na Samaria gegaan ‘om Christus te verkondig’ (8:5-25). Daar was groot blydskap in daardie stad toe die goeie nuus verkondig, onreine geeste uitgedryf en mense genees is. Die apostels in Jerusalem het Petrus en Johannes na Samaria gestuur, en toe hulle gebid en diegene wat gedoop is die hande opgelê het, het hierdie nuwe dissipels die heilige gees ontvang. Die pasgedoopte voormalige towenaar Simon het hierdie mag probeer koop, maar Petrus het gesê: ‘Mag jou geld saam met jou vergaan. Jou hart is nie reg voor God nie.’ Toe hy aangesê is om hom te bekeer en Jehovah om vergifnis te smeek, het hy die apostels gevra om ten behoewe van hom te bid. Dit behoort almal wat Jehovah vandag vrees te beweeg om om goddelike hulp te bid om die hart te bewaak (Spreuke 4:23). (Die woord “simonie”, “die koop of verkoop van ’n kerkamp of geestelike bevordering”, is afgelei uit hierdie gebeurtenis.) Petrus en Johannes het die goeie nuus in baie Samaritaanse dorpe verkondig. Petrus het dus die tweede sleutel gebruik wat Jesus hom gegee het om die deur van kennis en geleentheid oop te maak om in die hemelse Koninkryk in te gaan.—Mattheüs 16:19.

9. Wie was die Ethiopiër vir wie Filippus getuig het, en waarom kon die man gedoop word?

9 God se engel het Filippus toe ’n nuwe toewysing gegee (8:26-40, vgl. NW). ’n “Eunug”, ’n amptenaar oor die skatte van Ethiopië se koningin Kandace, het in ’n wa op die pad van Jerusalem na Gasa gereis. Hy was nie ’n vleeslike eunug, wat uit die Joodse gemeente uitgesluit was nie, maar het as ’n besnede proseliet na Jerusalem gegaan om te aanbid (Deuteronomium 23:1). Filippus het die eunug, of hofdienaar, gevind terwyl hy uit die boek Jesaja gelees het. Nadat Filippus genooi is om op die wa te klim, het hy Jesaja se profesie bespreek en “die evangelie van Jesus aan hom verkondig” (Jesaja 53:7, 8). Nie lank daarna nie het die Ethiopiër uitgeroep: “Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word?” Niks het hom verhinder nie, aangesien hy kennis van God en nou geloof in Christus gehad het. Filippus het die Ethiopiër dus gedoop, en hy het met blydskap verder gereis. Verhinder enigiets jou om gedoop te word?

’n Vervolger word bekeer

10, 11. Wat het met Saulus van Tarsus op die pad na Damaskus en kort daarna gebeur?

10 Intussen het Saulus probeer om Jesus se volgelinge hulle geloof te laat versaak deur hulle met gevangeskap of die dood te dreig (9:1-18a). Die hoëpriester (waarskynlik Kajafas) het vir hom briewe aan die sinagoges in Damaskus gegee wat hom gemagtig het om manne en vroue geboeid na Jerusalem te bring wat “die Weg”, of leefwyse wat op Christus se voorbeeld geskoei was, gevolg het. Omstreeks middag het ’n lig naby Damaskus van die hemel gestraal en het ’n stem gevra: “Saul, waarom vervolg jy My?” Diegene saam met Saulus ‘het die stem gehoor’, maar het nie verstaan wat gesê is nie. (Vergelyk Handelinge 22:6, 9.) Daardie gedeeltelike openbaring van die verheerlikte Jesus was genoeg om Saulus te verblind. God het die dissipel Ananias gebruik om sy sig te herstel.

11 Na sy doop het die voormalige vervolger die teiken van vervolging geword (9:18b-25). Die Jode in Damaskus wou Saulus ombring. Maar die dissipels het hom in die nag deur ’n opening in die muur neergelaat, waarskynlik in ’n groot gevlegte mandjie wat uit toue of gevlegte takkies gemaak is (2 Korinthiërs 11:32, 33, NW). Die opening kon ’n venster gewees het van ’n dissipel se huis wat in die muur gebou was. Dit was nie lafhartigheid om die vyande te ontglip en aan te hou preek nie.

12. (a) Wat het met Saulus in Jerusalem gebeur? (b) Hoe het dit met die gemeente gegaan?

12 In Jerusalem het Barnabas die dissipels gehelp om Saulus as ’n medegelowige te aanvaar (9:26-31). Daar het Saulus onbevrees geredetwis met Griekssprekende Jode wat ook probeer het om hom dood te maak. Toe die broers dit agterkom, het hulle hom na Cesarea geneem en na Tarsus, sy tuisdorp in Cilicië, weggestuur. Die gemeente deur die hele Judea, Galilea en Samaria het toe ‘vrede gehad en is geestelik opgebou’. Terwyl die gemeente ‘in die vrees van Jehovah en die vertroosting van die heilige gees gewandel het, het dit in getal bly toeneem’. Wat ’n goeie voorbeeld is dit vir alle gemeentes vandag as hulle Jehovah se seën wil geniet!

Nie-Jode word gelowiges!

13. Watter wonderwerke het God Petrus in Lidda en Joppe laat doen?

13 Petrus het ook besig gebly (9:32-43). By Lidda (nou Lod) in die Saronvlakte het hy die verlamde Eneas genees. Hierdie genesing het daartoe gelei dat baie hulle tot die Here bekeer het. In Joppe het die geliefde dissipelin Tabita (Dorkas) siek geword en gesterf. Toe Petrus daar aankom, het weduwees geween en hom klere gewys wat Dorkas gemaak het en wat hulle moontlik aangehad het. Hy het Dorkas weer lewend gemaak en toe hierdie nuus versprei, het baie mense gelowig geword. Petrus het in Joppe by Simon die leerlooier gebly, wie se huis by die see was. Leerlooiers het dierevelle in die see geweek en dit met kalk behandel voordat hulle die hare afgekrap het. Die velle is tot leer verwerk deur hulle met sappe van sekere plante te looi.

14. (a) Wie was Cornelius? (b) Wat het gebeur in die geval van Cornelius se gebede?

14 Gedurende daardie tyd (36 G.J.) het iets merkwaardigs elders plaasgevind (10:1-8). In Cesarea het die vroom nie-Jood Cornelius, ’n Romeinse hoofman oor honderd, gewoon. Hy was die hoof van “die Italiaanse leërafdeling”, wat blykbaar bestaan het uit soldate wat onder Romeinse burgers en vrygemaakte slawe in Italië gewerf is. Hoewel Cornelius God gevrees het, was hy nie ’n Joodse proseliet nie. ’n Engel het in ’n gesig vir hom gesê dat sy gebede “voor God in gedagtenis gekom” het. Selfs al was Cornelius nie toe aan Jehovah toegewy nie, is sy gebed wel verhoor. Maar hy het die engel se instruksies gevolg en Petrus laat haal.

15. Wat het gebeur terwyl Petrus op die dak van Simon se huis gebid het?

15 Intussen het Petrus ’n gesig gehad terwyl hy op die dak van Simon se huis gebid het (10:9-23). In ’n verrukking van sinne het hy uit die hemel ’n lakenagtige voorwerp sien neerdaal vol onrein viervoetige diere, kruipende diere en voëls. Toe hy aangesê is om dit te slag en te eet, het Petrus gesê dat hy nog nooit iets onheiligs geëet het nie. “Wat God rein gemaak het, mag jy nie onheilig ag nie”, is hy meegedeel. Die gesig het Petrus dronkgeslaan, maar hy het die leiding van die gees gevolg. Hy en ses Joodse broers het dus die afgesante van Cornelius vergesel.—Handelinge 11:12.

16, 17. (a) Wat het Petrus vir Cornelius en diegene wat by sy huis bymekaargekom het, gesê? (b) Wat het gebeur terwyl Petrus nog gepraat het?

16 Die eerste nie-Jode sou nou die goeie nuus hoor (10:24-43). Toe Petrus en sy metgeselle in Cesarea aankom, het Cornelius, sy familie en sy intieme vriende op hulle gewag. Cornelius het aan Petrus se voete neergeval, maar die apostel het so ’n bewys van hulde nederig van die hand gewys. Hy het vertel hoe Jehovah Jesus as die Messias met die heilige gees en met krag gesalf het en het verduidelik dat elkeen wat in hom glo vergifnis van sondes ontvang.

17 Jehovah het toe opgetree (10:44-48). Terwyl Petrus nog besig was om te praat, het God die heilige gees op daardie gelowige nie-Jode uitgestort. Hulle is onmiddellik deur God se gees verwek en is geïnspireer om in vreemde tale te praat en hom te verheerlik. Gevolglik is hulle gepas in die naam van Jesus Christus gedoop. Dit is hoe Petrus die derde sleutel gebruik het om vir godvresende nie-Jode die deur van kennis en geleentheid oop te maak om in die hemelse Koninkryk in te gaan.—Mattheüs 16:19.

18. Hoe het die Joodse broers gereageer toe Petrus verduidelik het dat nie-Jode “met die Heilige Gees gedoop” is?

18 Later het voorstanders van die besnydenis in Jerusalem met Petrus getwis (11:1-18, vgl. NW). Toe hy verduidelik het hoe die nie-Jode “met die Heilige Gees gedoop” is, het sy Joodse broers hulle daarby neergelê en God verheerlik en gesê: “So het God dan ook aan die . . . [nie-Jode] die bekering tot die lewe geskenk.” Ons moet ook ontvanklik wees wanneer die goddelike wil aan ons verduidelik word.

Nie-Joodse gemeente word gestig

19. Hoe het dit gebeur dat die dissipels Christene genoem is?

19 Die eerste nie-Joodse gemeente is nou gestig (11:19-26). Toe die dissipels verstrooi is deur die verdrukking wat oor Stefanus ontstaan het, het sommige na Antiochië, Sirië, gegaan, wat bekend was vir onrein aanbidding en sedelike verdorwenheid. ‘Die hand van Jehovah was met hulle’ toe hulle die goeie nuus aan die Griekssprekende mense daar verkondig het, en baie het gelowiges geword. Barnabas en Saulus het ’n jaar lank mense daar onderrig, en “die dissipels is [“deur goddelike voorsienigheid”, NW] in Antiochië vir die eerste keer Christene genoem”. Jehovah het ongetwyfeld sake gerig dat hulle so genoem is, aangesien die Griekse woord khre·ma·tiʹzo beteken om “deur goddelike voorsienigheid geroep te word”, en dit word altyd in die Skrif gebruik in verband met iets wat van God kom.

20. Wat het Agabus voorspel, en hoe het die gemeente in Antiochië gereageer?

20 Godvresende profete het ook van Jerusalem na Antiochië gekom (11:27-30). Een van hulle was Agabus wat “deur die Heilige Gees te kenne gegee [het] dat daar ’n groot hongersnood oor die hele wêreld sou kom”. Daardie profesie is vervul gedurende die bewind van Romeinse keiser Claudius (41-54 G.J.), en die geskiedskrywer Josephus maak melding van hierdie “groot hongersnood” (Jewish Antiquities, XX, 51 [ii, 5]; XX, 101 [v, 2]). Die gemeente in Antiochië is deur liefde beweeg om ’n bydrae aan behoeftige broers in Judea te stuur.—Johannes 13:35.

Vervolging is vergeefs

21. Hoe het Herodes Agrippa I teen Petrus opgetree, maar met watter gevolge?

21 Die tydperk van vrede het ten einde geloop toe Herodes Agrippa I diegene wat Jehovah vrees in Jerusalem begin vervolg het (12:1-11). Herodes het Jakobus met die swaard omgebring, miskien deur hom te onthoof as die eerste apostel wat ’n martelaar geword het. Toe hy sien dat dit die Jode welgevallig is, het Herodes Petrus in die gevangenis laat sit. Die apostel was blykbaar weerskante aan ’n soldaat vasgeketting terwyl twee ander sy sel bewaak het. Herodes was van plan om hom na die Pasga en die dae van die ongesuurde brode (14-21 Nisan) tereg te stel, maar die gemeente se gebede ten behoewe van hom is net betyds verhoor, net soos ons s’n dikwels verhoor word. Dit het gebeur toe God se engel die apostel wonderdadig bevry het.

22. Wat het gebeur toe Petrus na die huis van Markus se moeder Maria gegaan het?

22 Petrus was kort daarna by die huis van Maria (die moeder van Johannes Markus), blykbaar ’n vergaderplek vir Christene (12:12-19). In die donkerte het die diensmeisie Rhode Petrus se stem herken maar hom voor die geslote poort laat staan. Die dissipels het aanvanklik miskien gedink dat God ’n engelboodskapper gestuur het as verteenwoordiger van Petrus, wat met sy stem gepraat het. Maar toe hulle Petrus laat inkom, het hy vir hulle gesê om Jakobus en die broers (miskien ouere manne) te vertel dat hy bevry is. Hy het daarna vertrek en ondergronds gegaan sonder om sy bestemming bekend te maak sodat hy hulle en homself in geval van ondervraging nie in gevaar sou stel nie. Herodes se soektog na Petrus was vrugteloos, en die wagte is gestraf, waarskynlik selfs tereggestel.

23. Hoe het Herodes Agrippa I se bewind geëindig, en wat kan ons hieruit leer?

23 Herodes Agrippa I se bewind het skielik in 44 G.J. in Cesarea tot ’n einde gekom toe hy 54 jaar oud was (12:20-25). Hy was in ’n veglustige stemming teenoor die Feniciërs van Tirus en Sidon, wat sy dienaar Blastus omgekoop het om ’n oudiënsie te reël waartydens hulle vrede kon vra. Op die “bepaalde dag” (ook ’n fees ter ere van keiser Claudius) het Herodes ’n koninklike kleed aangetrek, op die troon gaan sit en hulle begin toespreek. Die gehoor se reaksie was: “’n Stem van ’n god en nie van ’n mens nie!” Jehovah se engel het hom onmiddellik getref “omdat hy die eer nie aan God gegee het nie”. Herodes is “deur wurms verteer en het gesterwe”. Mag hierdie waarskuwende voorbeeld ons beweeg om in die vrees van Jehovah te bly wandel deur hoogmoed te vermy en hom die eer te gee vir wat ons as sy volk doen.

24. Wat sal ’n toekomstige artikel ten opsigte van uitbreiding toon?

24 Ondanks vervolging deur Herodes het ‘die woord van Jehovah gegroei en toegeneem’. Trouens, die dissipels kon verdere uitbreiding verwag, soos ’n toekomstige artikel sal toon. Waarom? Omdat hulle ‘in die vrees van Jehovah gewandel het’.

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe het Stefanus getoon dat hy Jehovah vrees, soos baie van God se knegte sedertdien getoon het?

◻ Watter uitwerking het Stefanus se dood op die Koninkrykspredikings-werk gehad, en het dit ’n heden- daagse parallel?

◻ Hoe het die vervolger Saulus van Tarsus Jehovah begin vrees?

◻ Wie was die eerste nie-Joodse gelowiges?

◻ Hoe toon Handelinge hoofstuk 12 dat vervolging nie diegene stuit wat Jehovah vrees nie?

[Prent op bladsy 16, 17]

’n Lig het van die hemel gestraal en ’n stem het gevra: “Saul, Saul, waarom vervolg jy My?”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel