Vrae van lesers
Toon Stefanus se uitroep in Handelinge 7:59 dat gebede tot Jesus gerig moet word?
Handelinge 7:59 sê: “Hulle het aangehou om Stefanus met klippe te gooi terwyl hy gesmeek en gesê het: ‘Here Jesus, ontvang my gees.’” Hierdie woorde het vrae by party mense laat opkom, aangesien die Bybel sê dat Jehovah die “Hoorder van die gebed” is (Psalm 65:2). Het Stefanus werklik tot Jesus gebid? Dui dit aan dat Jesus en Jehovah dieselfde persoon is?
Die King James Version sê dat Stefanus “God aangeroep het”. Dit is dus te verstane dat baie tot dieselfde slotsom kom as die Bybelkommentator Matthew Henry, wat gesê het: “Stefanus bid hier tot Christus, en ons moet ook.” Maar hierdie beskouing is verkeerd. Waarom?
Barnes’ Notes on the New Testament erken openlik: “Die woord God is nie in die oorspronklike teks nie en moes nie in die vertaling gewees het nie. Dit kom in geeneen van die ou [manuskripte] of vertalings voor nie.” Hoe het dit gebeur dat die woord “God” in daardie vers ingevoeg is? Die geleerde Abiel Abbot Livermore het dit “’n voorbeeld van die sektariese vooroordele van die vertalers” genoem. Die meeste moderne vertalings laat derhalwe hierdie foutiewe verwysing na God weg.
Nietemin sê baie vertalings wel dat Stefanus tot Jesus “gebid” het. En die voetnoot in die naslaanuitgawe van die Nuwe Wêreld-vertaling toon dat die woord “gesmeek” ook “aanroep; bid” kan beteken. Dui dit nie aan dat Jesus die Almagtige God is nie? Nee. Vine’s Expository Dictionary of Old and New Testament Words verduidelik dat die oorspronklike Griekse woord, e·pi·ka·leʹo, in hierdie situasie beteken: “Om aan te roep, te smeek; . . . om ’n beroep te doen op ’n gesaghebbende.” Paulus het dieselfde woord gebruik toe hy gesê het: “Ek beroep my op die keiser!” (Handelinge 25:11). Die Bybel, 1983, sê dus tereg dat Stefanus na Jesus “geroep” het.
Wat het Stefanus beweeg om so ’n versoek te doen? Volgens Handelinge 7:55, 56 het Stefanus, “vol heilige gees, in die hemel ingetuur en God se heerlikheid gesien en Jesus wat aan God se regterhand staan”. Normaalweg sou Stefanus sy versoeke tot Jehovah gerig het in die naam van Jesus. Maar toe Stefanus die verrese Jesus in ’n visioen sien, het hy blykbaar gevoel dat hy sy versoek regstreeks tot hom kon rig en gesê: “Here Jesus, ontvang my gees.” Stefanus het geweet dat Jesus gesag gegee is om die dooies op te wek (Johannes 5:27-29). Hy het Jesus derhalwe gevra om sy gees, of lewenskrag, te bewaar tot die dag wanneer Jesus hom tot onsterflike lewe in die hemel sou opwek.
Beteken Stefanus se uitroep dat ons tot Jesus moet bid? Glad nie. Om maar een ding te noem, Stefanus het Jesus duidelik van Jehovah onderskei, want die verslag sê dat hy Jesus “aan God se regterhand [sien] staan” het. Ook was hierdie omstandighede buitengewoon. Die enigste ander geval waar sulke woorde tot Jesus gerig is, is toe die apostel Johannes Jesus in ’n visioen gesien en Hom op soortgelyke wyse regstreeks aangespreek het.—Openbaring 22:16, 20.
Hoewel Christene vandag tereg al hulle gebede tot Jehovah God rig, het hulle ook onwrikbare geloof dat Jesus “die opstanding en die lewe” is (Johannes 11:25). Soos met Stefanus die geval was, kan geloof in Jesus se vermoë om sy volgelinge uit die dode op te wek, ons tydens beproewinge help en onderskraag.