’n Besielende voorbeeld van Christelike sendingwerk
“Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.”—1 KORINTHIËRS 11:1.
1. Op watter maniere het Jesus ’n voortreflike voorbeeld vir sy volgelinge gestel om na te volg? (Filippense 2:5-9)
WAT ’n voortreflike voorbeeld het Jesus tog vir sy dissipels gestel! Hy het sy hemelse heerlikheid met genoeë verlaat om na die aarde toe te kom en tussen sondige mense te leef. Hy was bereid om groot lyding ter wille van die mensdom se verlossing te verduur en, nog belangriker, ter wille van die heiliging van sy hemelse Vader se naam (Johannes 3:16; 17:4). Toe hy tereggestaan het en sy lewe op die spel was, het Jesus met vrymoedigheid gesê: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig.”—Johannes 18:37.
2. Waarom kon die verrese Jesus sy dissipels die opdrag gee om voort te gaan met die werk wat hy begin het?
2 Voor sy dood het Jesus sy dissipels baie goed opgelei sodat hulle kon voortgaan met die werk om van Koninkrykswaarheid te getuig (Mattheüs 10:5-23; Lukas 10:1-16). Gevolglik kon Jesus ná sy opstanding die volgende opdrag gee: “Gaan . . . maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Mattheüs 28:19.
3. Hoe het die dissipelmaakwerk uitgebrei, maar tot watter gebiede was dit hoofsaaklik beperk?
3 Jesus se dissipels het hierdie opdrag vir die volgende drie en ’n half jaar gehoorsaam, maar hulle het hulle dissipelmaakwerk tot die Jode, Joodse proseliete en besnede Samaritane beperk. Toe het God in 36 G.J. beveel dat die goeie nuus aan ’n onbesnede man, Cornelius, en sy huis verkondig moes word. Gedurende die volgende dekade is ander nie-Jode in die gemeente ingebring. Maar die meeste van die werk was blykbaar tot die gebiede oos van die Middellandse See beperk.—Handelinge 10:24, 44-48; 11:19-21.
4. Watter betekenisvolle gebeurtenis het omstreeks 47-48 G.J. plaasgevind?
4 Iets was nodig om die Christene aan te spoor of te help om dissipels van Jode en nie-Jode in vergeleë gebiede te maak. Die ouere manne van die gemeente in Siriese Antiochië het dus omstreeks 47-48 G.J. hierdie goddelike boodskap ontvang: “Sonder nou Barnabas en Saulus vir My af vir die werk waarvoor Ek hulle geroep het” (Handelinge 13:2). Let op dat Paulus toe onder sy oorspronklike naam, Saulus, bekend gestaan het. Let ook op dat God Barnabas vóór Paulus genoem het, moontlik omdat Barnabas op daardie tydstip as die senior van die twee beskou is.
5. Waarom is die verslag oor Paulus en Barnabas se sendingreis vir Christene vandag van groot waarde?
5 Die breedvoerige verslag oor Paulus en Barnabas se sendingreis dien as ’n groot aanmoediging vir Getuies van Jehovah, veral vir sendelinge en pioniers wat hulle tuisdorpe verlaat het om God in ’n vreemde gemeenskap te dien. Daarbenewens sal ’n hersiening van Handelinge hoofstukke 13 en 14 ongetwyfeld nog baie meer beweeg om Paulus en Barnabas na te volg en hulle aandeel aan die allerbelangrikste dissipelmaakwerk te vergroot.
Die eiland Ciprus
6. Watter voorbeeld het die sendelinge in Ciprus gestel?
6 Die sendelinge het sonder versuim uit die Siriese hawe van Seleucië na die eiland Ciprus vertrek. Nadat hulle in Salamis aangekom het, het hulle nie uitgestel nie, maar “het die woord van God in die sinagoges van die Jode verkondig”. In navolging van Jesus se voorbeeld was hulle nie tevrede om in daardie stad te bly en te wag dat die eilandbewoners na hulle toe kom nie. Pleks daarvan het hulle “die hele eiland deurgegaan”. Hulle moes ongetwyfeld baie geloop het en op talle verskillende plekke gebly het, aangesien Ciprus ’n groot eiland is en hulle reis hulle oor die lengte van die grootste deel daarvan geneem het.—Handelinge 13:5, 6.
7. (a) Watter uitsonderlike gebeurtenis het in Pafos plaasgevind? (b) Watter gesindheid moedig hierdie verslag ons aan om aan die dag te lê?
7 Teen die einde van hulle verblyf is die twee mans met ’n wonderlike ondervinding in die stad Pafos beloon. Die goewerneur van die eiland, Sergius Paulus, het na hulle boodskap geluister en ‘het gelowig geword’ (Handelinge 13:7, 12, NAV). Paulus het later geskryf: “Let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie” (1 Korinthiërs 1:26). Nogtans was Sergius Paulus onder die magtiges wat gelowig geword het. Hierdie ondervinding behoort ons almal, veral die sendelinge, aan te moedig om ’n positiewe gesindheid te hê wanneer ons die geleentheid kry om vir regeringsamptenare te getuig, net soos ons in 1 Timotheüs 2:1-4 aangemoedig word. Gesaghebbendes het God se knegte by tye al baie gehelp.—Nehemia 2:4-8.
8. (a) Watter verandering het Barnabas en Paulus se verhouding blykbaar op hierdie tydstip ondergaan? (b) Hoe het Barnabas ’n pragtige voorbeeld gestel?
8 Onder die invloed van Jehovah se gees het Paulus die grootste aandeel gehad in die bekering van Sergius Paulus (Handelinge 13:8-12). Dit lyk ook of Paulus van toe af die leiding geneem het. (Vergelyk Handelinge 13:7 met Handelinge 13:15, 16, 43.) Dit was in ooreenstemming met die goddelike opdrag wat Paulus tydens sy bekering ontvang het (Handelinge 9:15). Hierdie gebeurtenis het moontlik Barnabas se nederigheid beproef. Maar Barnabas het, pleks van hierdie verandering as ’n persoonlike belediging te beskou, in alle waarskynlikheid die betekenis van sy naam, “Seun van vertroosting”, eer aangedoen en Paulus deur die hele sendingreis heen lojaal ondersteun en ook daarná toe sommige Joodse Christene hulle bediening onder onbesnede nie-Jode bevraagteken het (Handelinge 15:1, 2). Wat ’n pragtige voorbeeld is dit tog vir ons almal, met inbegrip van dié wat in sending- en Bethelhuise woon! Ons moet altyd gewillig wees om teokratiese veranderings te aanvaar en ons volle steun te gee aan diegene wat aangestel is om die leiding onder ons te neem.—Hebreërs 13:17.
Die tafelland van Klein-Asië
9. Wat leer ons uit Paulus en Barnabas se bereidwilligheid om na Pisidiese Antiochië te reis?
9 Van Ciprus af het Paulus en Barnabas noordwaarts na die vasteland van Asië gevaar. Om die een of ander onvermelde rede het die sendelinge nie lank in die kusgebied gebly nie, maar ’n lang en gevaarlike reis van ongeveer 180 kilometer na Pisidiese Antiochië onderneem, wat op die sentrale tafelland van Klein-Asië geleë was. Dit het beteken dat hulle oor ’n bergpas moes reis en na ’n vlakte van ongeveer 1 100 meter bo seevlak moes afdaal. Bybelgeleerde J. S. Howson sê: “Die bevolking van daardie berge, wat die tafelland . . . van die vlaktes aan die suidkus geskei het, was deur die hele antieke wêreld berug vir hulle wetteloosheid en plundergewoontes.” Daarbenewens moes die sendelinge gevare van natuurlike elemente trotseer. “Geen distrik in Klein-Asië”, voeg Howson by, “het sulke kenmerkende ‘watervloede’ soos die bergagtige streek van Pisidië nie, waar riviere onder enorme kranse uitbreek, of deur smal klowe bruis.” Hierdie besonderhede help ons om te sien watter soort reise die sendelinge bereid was om te onderneem sodat hulle die goeie nuus kon verkondig (2 Korinthiërs 11:26). Baie van Jehovah se knegte trotseer vandag eweneens allerhande struikelblokke om mense te bereik en die goeie nuus aan hulle te verkondig.
10, 11. (a) Hoe het Paulus die hele tyd oor dinge gepraat waarmee sy gehoor hulle kon vereenselwig? (b) Waarom was baie Jode moontlik verstom om van die Messias se lyding te hoor? (c) Watter soort redding het Paulus sy hoorders voorgehou?
10 Aangesien daar ’n Joodse sinagoge in Pisidiese Antiochië was, het die sendelinge eers soontoe gegaan sodat hulle diegene wat die beste bekend was met God se Woord ’n geleentheid kon bied om die goeie nuus aan te neem. Toe hulle aan die woord gestel is, het Paulus opgestaan en ’n meesterlike openbare toespraak gehou. Hy het die hele toespraak deur oor dinge gepraat waarmee die Jode en proseliete in die gehoor hulle kon vereenselwig (Handelinge 13:13-16, 26). Na sy inleiding het Paulus die roemryke geskiedenis van die Jode hersien en hulle daaraan herinner dat Jehovah hulle voorvaders uitgekies het en hulle toe uit Egipte verlos het, en ook hoe hy hulle gehelp het om die inwoners van die Beloofde Land te oorwin. Toe het Paulus Jehovah se handelinge met Dawid beklemtoon. Hierdie inligting het die eerste-eeuse Jode na aan die hart gelê omdat hulle verwag het dat God ’n nakomeling van Dawid as ’n verlosser en ’n ewige heerser sou verwek. In hierdie stadium het Paulus met vrymoedigheid gesê: “Uit die nageslag van hierdie man [Dawid] het God vir Israel, volgens die belofte, Jesus as Verlosser verwek.”—Handelinge 13:17-23.
11 Maar die soort verlosser wat baie Jode verwag het, was ’n militêre held wat hulle van Romeinse oorheersing sou verlos en die Joodse nasie bo alle ander nasies sou verhef. Gevolglik was hulle ongetwyfeld verstom om Paulus te hoor sê dat die Messias deur hulle eie godsdiensleiers oorgelewer is om tereggestel te word. “Maar God het Hom uit die dode opgewek”, het Paulus vrymoedig gesê. Teen die einde van sy toespraak het hy sy gehoor daarop gewys dat hulle ’n wonderlike soort redding kon verkry. “Laat dit . . . aan julle bekend wees”, het hy gesê, “dat deur Hom vergifnis van sondes aan julle verkondig word, en dat elkeen wat glo, deur Hom geregverdig word van alles waarvan julle deur die wet van Moses nie geregverdig kon word nie.” Paulus het sy toespraak afgesluit deur sy gehoor aan te moedig om nie onder die baie te wees wat, soos God voorspel het, hierdie wonderlike voorsiening van redding sou verontagsaam nie.—Handelinge 13:30-41.
12. Wat was die resultaat van Paulus se toespraak, en hoe behoort dit ons aan te moedig?
12 Wat ’n voortreflike Bybelse toespraak was dit tog! Hoe het die gehoor gereageer? “Baie van die Jode en van die proseliete wat God aanbid het, het Paulus en Barnabas gevolg” (Handelinge 13:43, NW). Hoe aanmoedigend is dit tog vir ons vandag! Laat ons insgelyks ons uiterste bes doen om die waarheid doeltreffend aan te bied, of dit nou in ons openbare bediening of deur ons kommentare en toesprake by ons gemeentelike vergaderinge is.—1 Timotheüs 4:13-16.
13. Waarom moes die sendelinge Pisidiese Antiochië verlaat, en watter vrae ontstaan aangaande die nuwe dissipels?
13 Die nuwe belangstellendes in Pisidiese Antiochië kon nie hierdie goeie nuus vir hulleself hou nie. Gevolglik het ‘byna die hele stad die volgende sabbatdag bymekaargekom om die woord van die Here te hoor’. En die boodskap het gou verder as die stad versprei. Trouens, “Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei” (Handelinge 13:44, 49, NAV). Pleks dat hulle dit verwelkom het, het afgunstige Jode daarin geslaag om die sendelinge uit die stad te laat verdryf (Handelinge 13:45, 50). Watter uitwerking het dit op die nuwe dissipels gehad? Is hulle ontmoedig en het hulle tou opgegooi?
14. Waarom kon teenstanders nie ’n einde maak aan die werk wat die sendelinge begin het nie, en wat leer ons hieruit?
14 Nee, want dit was God se werk. Die sendelinge het ook ’n vaste fondament van geloof in die verrese Here Jesus Christus gelê. Dit is dus duidelik dat die nuwe dissipels Christus, en nie die sendelinge nie, as hulle Leier beskou het. Gevolglik lees ons hulle “is vervul met blydskap en met die Heilige Gees” (Handelinge 13:52). Hoe bemoedigend is dit tog weer eens vir sendelinge en ander dissipelmakers vandag! As ons nederig en ywerig ons deel doen, sal Jehovah God en Jesus Christus ons bediening seën.—1 Korinthiërs 3:9.
Ikonium, Listre en Derbe
15. Watter prosedure het die sendelinge in Ikonium gevolg en met watter resultate?
15 Paulus en Barnabas het toe omtrent 140 kilometer suidoos na die volgende stad, Ikonium, gereis. Vrees vir vervolging het hulle nie verhinder om dieselfde prosedure as in Antiochië te volg nie. Die Bybel sê wat die resultaat was: “’n Groot menigte Jode sowel as Grieke [het] gelowig geword” (Handelinge 14:1). Die Jode wat die goeie nuus nie aangeneem het nie, het mense weer eens teen die sendelinge opgesweep. Maar die sendelinge het volhard en ’n geruime tyd in Ikonium deurgebring om die nuwe dissipels te help. Maar toe hulle uitvind dat hulle Joodse teenstanders van plan was om hulle te stenig, het Paulus en Barnabas wyslik na die volgende gebied, “Listre en Derbe en die omstreke”, gevlug.—Handelinge 14:2-6.
16, 17. (a) Wat het met Paulus in Listre gebeur? (b) Watter invloed het God se handelinge met die apostel op ’n jong man in Listre gehad?
16 Moedig “het hulle die evangelie verkondig” in hierdie nuwe gebied waar die werk vir die eerste keer gedoen is (Handelinge 14:7). Toe Jode in Pisidiese Antiochië en Ikonium hiervan te hore kom, het hulle die hele pad Listre toe gekom en die skares omgepraat om Paulus te stenig. Paulus het nie tyd gehad om te vlug nie, en hy is met klippe bestook sodat sy teenstanders oortuig was dat hy dood is. Hulle het hom toe buitekant die stad gesleep.—Handelinge 14:19.
17 Kan jy dink hoe ontsteld die nuwe dissipels hieroor moes gewees het? Maar wonder bo wonder, toe hulle Paulus omring, het hy opgestaan! Die Bybel sê nie of ’n jong man met die naam Timotheüs een van hierdie nuwe dissipels was nie. Hy moes ongetwyfeld van God se handelinge met Paulus te wete gekom het en dit moes ’n diep indruk op sy jong gemoed gemaak het. Paulus het in sy tweede brief aan Timotheüs geskryf: “Jy het my navolger geword in leer, lewenswandel, . . . soos my te beurt geval het in Antiochië, in Ikonium, in Listre. Watter vervolginge het ek nie al verdra nie! En die Here het my uit almal verlos” (2 Timotheüs 3:10, 11). Omtrent ’n jaar of twee nadat Paulus gestenig is, het hy na Listre teruggekeer en gevind dat jong Timotheüs ’n voorbeeldige Christen was, en dat hy “goeie getuienis gehad [het] van die broeders in Listre en Ikonium” (Handelinge 16:1, 2). Paulus het hom gevolglik as ’n reisgenoot gekies. Dit het Timotheüs gehelp om geestelik te groei, en mettertyd was hy bekwaam genoeg sodat Paulus hom kon stuur om verskillende gemeentes te besoek (Filippense 2:19, 20; 1 Timotheüs 1:3). Vandag het ywerige knegte van God net so ’n wonderlike invloed op jongeres, van wie talle grootword om soos Timotheüs waardevolle knegte van God te word.
18. (a) Wat het in Derbe met die sendelinge gebeur? (b) Watter geleentheid het hulle nou gehad, maar watter keuse het hulle gemaak?
18 Die oggend ná sy noue ontkoming aan die dood in Listre het Paulus saam met Barnabas na Derbe vertrek. Hierdie keer het geen teenstanders hulle gevolg nie, en die Bybel sê “baie mense het daar gelowig geword” (Handelinge 14:20, 21, NAV). Nadat Paulus en Barnabas ’n gemeente in Derbe gestig het, moes hulle ’n besluit neem. Van Derbe na Tarsus was daar ’n goeie pad wat deur die Romeine gebou is. Van Tarsus af was dit net ’n kort reis terug na Siriese Antiochië. Dit was waarskynlik die gerieflikste manier om terug te gaan, en daardie sendelinge kon gedink het dat hulle nou op ’n welverdiende rus geregtig was. Paulus en Barnabas het egter in navolging van hulle Meester besef dat daar ’n groter behoefte bestaan het.—Markus 6:31-34.
God se werk is ten volle verrig
19, 20. (a) Hoe het Jehovah die sendelinge geseën omdat hulle na Listre, Ikonium en Antiochië teruggekeer het? (b) Watter les hou dit vir Jehovah se volk vandag in?
19 Die sendelinge het nie die kort roete huis toe geneem nie, maar het eerder moedig omgedraai en dieselfde stede besoek waar hulle lewe voorheen in gevaar was. Het Jehovah hulle geseën vir hierdie onselfsugtige besorgdheid oor die nuwe skape? Ja beslis, want die verslag sê hulle het ‘die siele van die dissipels versterk en hulle vermaan om in die geloof te bly’. Hulle het gepas vir hierdie nuwe dissipels gesê: “Ons moet deur baie verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan” (Handelinge 14:21, 22). Paulus en Barnabas het hulle ook aan hulle roeping as mede-erfgename van God se komende Koninkryk herinner. Ons moet nuwe dissipels vandag ook so aanmoedig. Ons kan hulle versterk om beproewinge te verduur deur die vooruitsig op ewige lewe onder die heerskappy van daardie selfde Koninkryk van God aan hulle voor te hou wat Paulus en Barnabas verkondig het.
20 Voordat hulle elke stad verlaat het, het Paulus en Barnabas die plaaslike gemeente gehelp om beter georganiseerd te raak. Hulle het klaarblyklik bekwame manne opgelei en hulle aangestel om die leiding te neem (Handelinge 14:23). Dit het ongetwyfeld tot verdere uitbreiding bygedra. Sendelinge en ander help onervarenes vandag net so om vooruitgang te maak tot hulle verantwoordelikheid op hulle kan neem voordat eersgenoemdes in sommige gevalle wegtrek en hulle goeie werk voortsit waar daar meer hulp nodig is.
21, 22. (a) Wat het gebeur nadat Paulus en Barnabas hulle sendingreis voltooi het? (b) Watter vrae laat dit ontstaan?
21 Toe die sendelinge uiteindelik na Siriese Antiochië teruggekeer het, kon hulle diep tevrede voel. Trouens, die Bybelverslag sê dat hulle die werk wat God aan hulle toevertrou het “volledig verrig” het (Handelinge 14:26, NW). Dit is te begrype dat hulle ondervindinge “aan al die broeders groot blydskap verskaf” het (Handelinge 15:3). Maar wat van die toekoms? Sou hulle nou terugsit en op hulle louere rus soos die spreekwoord sê? Hoegenaamd nie. Nadat hulle die bestuursliggaam in Jerusalem besoek het om uitspraak oor die kwessie van besnydenis te kry, het die twee weer op sendingreise vertrek. Hierdie keer het hulle verskillende rigtings ingeslaan. Barnabas het vir Johannes Markus saamgeneem en na Ciprus gegaan, terwyl Paulus ’n nuwe metgesel, Silas, gevind het en deur Sirië en Cilicië gereis het (Handelinge 15:39-41). Dit was op hierdie reis dat hy jong Timotheüs gekies en saamgeneem het.
22 Die Bybel sê nie vir ons wat die resultate van Barnabas se tweede reis was nie. Wat Paulus betref, hy het verder gereis na nuwe gebiede en gemeentes in ten minste vyf stede gestig—Filippi, Berea, Thessalonika, Korinthe en Efese. Wat was die sleutel tot Paulus se buitengewone sukses? Geld dieselfde beginsels vir die Christelike dissipelmaakwerk vandag?
Onthou jy?
◻ Waarom is Jesus die voortreflikste voorbeeld om na te volg?
◻ In watter opsig was Barnabas ’n voorbeeld?
◻ Wat leer ons uit Paulus se toespraak in Pisidiese Antiochië?
◻ Hoe het Paulus en Barnabas hulle toewysing ten volle verrig?
[Prent op bladsy 15]
Die manier waarop die apostel Paulus vervolging verduur het, het ’n blywende indruk op die jong man Timotheüs gemaak