Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 7/1 bl. 10-13
  • Jehovah se seën het my ryk gemaak

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se seën het my ryk gemaak
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ons laat ons nie deur die verbod stuit nie
  • Ons bereik ons doelwit
  • Baanbrekers in ’n nuwe gebied
  • Soos die Wilde Weste
  • Uitdagings—maar steeds ryk
  • Ek het my ‘hand aan die ploeg geslaan en nie agtertoe gekyk nie’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Koekies vir die terriërs
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • Jehovah het my geleer om sy wil te doen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Waarom dit my vreugde verskaf om dissipels te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 7/1 bl. 10-13

Jehovah se seën het my ryk gemaak

Soos vertel deur Elsie Meynberg

“DIE seën van Jehovah—dit maak ryk, en hy voeg geen smart daarby nie” (Spreuke 10:22, NW). Ek het persoonlik die waarheid van hierdie Bybelspreuk ervaar. Laat ek jou vertel hoe ek dit ervaar het.

Toe ek net ses was, het ek geluister na besprekings wat my ma gehad het met ’n Bybelonderrigter wat ons besoek het, en ek het opgemerk hoe geboei my ma was deur wat sy geleer het. Een koue winternag het ek ondertoe gegaan vir ’n glas water en Ma gevind waar sy langs die oop oonddeur lees. Pleks van met my te raas soos ek verwag het, het sy haar arm om my gesit en verduidelik dat God se naam Jehovah is. Die hartlikheid in haar stem het vir my vertel dat wat sy geleer het vir haar baie belangrik was.

Na nog ’n paar besprekings met die Bybelonderrigter het Ma te voet begin uitgaan om die goeie nuus wat sy geleer het aan die bure mee te deel. Maar sy is nie altyd goed ontvang nie. Ons het op die platteland naby Beatty, Saskatchewan, Kanada, gewoon, en ons bure was meestal familie van ons, stoere Lutherane of Evangeliste. Ma het nogtans aangehou om hulle te besoek.

Ek het dikwels deur vensters wat wit van die sneeu was, gekyk terwyl Ma gesukkel het om die perde uit die skuur te bring, en ek het geweet dat sy nie daaraan gewoond is om hulle in te span nie. Ander kere het sy na die vergaderinge of in die veldbediening uitgegaan ondanks Pa se klagtes. Hy het nie saamgestem met Ma se nuwe geloof nie, maar sy was vasbeslote. Sy het altyd teruggekeer met ’n innerlike vreugde wat almal duidelik kon sien. “Die seën van Jehovah—dit maak ryk”, het sy altyd gesê. Ek het gewonder wat sy daarmee bedoel het. Hoewel ek net ses was, wou ek Jehovah ook dien.

Eendag was ek op die dak saam met my pa, terwyl hy die dakspane reggemaak het. Ma en my suster Eileen het saam met ’n groep in ’n Model T-Ford vertrek om aan ’n “inligtingsoptog” deel te neem. Hulle sou deur die dorp loop met plakkate wat ’n Bybeltoespraak adverteer.

“Jy sal tog nooit so dom wees nie, nè?” het Pa my gevra. Maar al was ek ’n dogtertjie wat baie daarvan gehou het om op die dak te klim, sou ek eerder aan daardie optog wou deelneem as om op die dak te wees. Maar hulle het gesê dat ek te kort was om ’n plakkaat te dra.

Ons laat ons nie deur die verbod stuit nie

Oplaas, in November 1940, het my eerste geleentheid om aan Koninkrykspredikingswerk deel te neem, aangebreek. Hoe opwindend! Aangesien die predikingswerk van Jehovah se Getuies destyds in Kanada verbied is, het ons in die middel van die nag uitgegaan en die boekie End of Nazism by elke huis se deur gelaat.

Toe ek nege jaar oud was, was ek vasbeslote om my lewe aan Jehovah toe te wy en my te laat doop. Weens die vervolging is ons nie meegedeel waar die vergadering gehou sou word nie, maar ons is na ’n plek in die woud gelei waar ’n groot groep Getuies ’n “piekniek” gehou het. Ek en my ouer suster Eleanor was onder die talle wat daar in die koue water van ’n nabygeleë meer gedoop is.

Destyds het ’n klas altyd ’n skooldag begin deur die vlag te salueer en die volkslied te sing. Ondanks die beskuldigende blikke van ons klasmaats, het ons eerbiedig geweier om daaraan deel te hê op grond van die Bybelse leer oor afgodediens (Daniël, hoofstuk 3). My niggie Elaine Young, wat ook ’n Getuie was, moes ses kilometer ver skool toe loop, maar sy is elke dag teruggestuur omdat sy nie die vlag gesalueer het nie. Dan het sy weer al die pad huis toe geloop. Sy het dit vir die helfte van die skooljaar gedoen sodat sy nie as afwesig aangeteken sou word en sou druip nie.

Toe ek my skoolloopbaan voltooi het, het ek in ’n bank gaan werk. Maar ’n toets het gekom toe my versoek geweier is om die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in New York in 1950 by te woon. Ek het ’n bietjie spaargeld gehad en het besluit om op te hou werk en die voltydse bediening te betree. Ek en Elaine het dus na die stad Regina verhuis. “Sy sal teen die lente terug wees om te kom bedel”, het party gespot. Maar ek kon myself onderhou deur deeltyds as ’n huisbediende te werk. Die rykdom van Jehovah se seëninge het my sedertdien in sy voltydse bediening gehou.

Ons bereik ons doelwit

Ek en Elaine was verheug toe ons in 1955 na die 26ste klas van Gilead genooi is en later na Bolivia, Suid-Amerika, gestuur is. Daar was destyds net ongeveer 160 Getuies in die hele land. Uiteindelik het ons na Tarija, ons eerste toewysing, gegaan en by twee ander sendelinge aangesluit.

Tarija was ’n pragtige dorp. Dit was so interessant om die vroue in hulle tradisionele drag te sien terwyl hulle vragte op hulle koppe dra. Die mense was vriendelik en het nooit vir ons gesê dat hulle nie belangstel nie. Hulle het blykbaar gemeen dat dit hofliker is om vir ons te sê om weer te kom op ’n tyd wat hulle geweet het hulle nie tuis sou wees nie. Dit het ’n rukkie geneem voordat ons daaraan gewoond geraak het.

Eendag het ons met ’n man by sy deur gepraat toe ’n jeep stilhou en ’n woedende priester, rooi in die gesig, uitspring. “As jy nie ophou om met daardie meisies te praat nie, sal jy geëkskommuniseer word!” het hy vir die man geskreeu. Hy het na ons gekyk en gedreig: “Julle het geen reg om hier te preek nie. As julle nie ophou nie, sal ek verdere stappe doen.” Teen hierdie tyd het baie bure uitgekom om te kom kyk. Ons het dus eenvoudig ons werk voortgesit en baie boeke en Bybels onder die nuuskierige omstanders versprei.

Nadat ons twee jaar in hierdie pragtige vallei deurgebring het waar perskes, grondboontjies en druiwe geil gegroei het, was ons aanvanklik nie bly toe ons na Potosí gestuur is nie, want dit is ’n bitter koue mynstad wat op ’n hoogte van 4 000 meter geleë is. Ons was gewoond aan die yskoue Kanadese winters, maar die verskil was dat die huise in Potosí gewoonlik geen verhitting gehad het nie. In Potosí kon ons egter hartlike omgang met ’n Christengemeente geniet, terwyl daar nog geen gemeente in Tarija gestig was nie.

Baanbrekers in ’n nuwe gebied

Daarna is ek en Elaine na Villamontes gestuur om die predikingswerk daar aan die gang te sit. Die vragmotor waarop ons gery het, was vol gelaai met smokkelsuiker. Om dus probleme by die tolbome te vermy, het die bestuurder eers na sononder vertrek. Hoe het ons tog gewens dat ons ’n flitslig saamgebring het, want skielik het iets langs ons onder die seil geroer! Dit was die vragmotorbestuurder se helper.

Om vyfuur die oggend het ons stilgehou. Naar van die uitlaatgasse en vol stof het ons uitgekruip. ’n Grondverskuiwing het ons pad versper. Uiteindelik na vier uur van harde werk het die eienaar sy helper met die voertuig oor die smal rotslys laat ry waar ’n pad oopgemaak is. Die eienaar wou nie eers kyk toe die vragmotor stadig al langs die rand oorry nie. Die buitenste wiel van sy dubbele wiele het tussen hemel en aarde bokant die skynbaar bodemlose afgrond aan die kant van die pad in die rondte gedraai. Ek en Elaine het dit te voet oorgesteek. Terwyl ons verder gery het na Villamontes was die haarnaaldraaie op die bergpasse so skerp dat die bestuurder herhaaldelik gedwing is om agteruit te ry en die vragmotor om hulle te manipuleer. Uiteindelik, na 35 uitputtende ure, het ons daar aangekom.

Dit was vir my en Elaine ’n nuwe ondervinding om geheel en al op ons eie te wees. Die tropiese insekte was ook vir ons iets nuuts. Groot kewers met harde doppies het soms op ons geval wanneer hulle teen die lig bokant ons koppe vasgevlieg het. Piepklein vliegies se pynlike stekies het jeukerige knoppies veroorsaak waaruit ’n helder vloeistof geëtter het. Op die eerste aand in ons nuwe huis het ek buitetoe gegaan om die buitetoilet te gebruik. Maar toe ek my flitslig aanskakel, het dit gelyk asof die hele vloer van kakkerlakke wemel. Akkedisse het weggeskarrel en groot paddas het uit die hoekies vir my geloer. Ek het besluit dat ek tot die oggend kon wag.

’n Ander keer was ons by die rivier en het gedink ons kon rus op ’n stomp wat ons daar gesien het. Maar ons het besluit om eers ’n herbesoek daar naby te doen. Toe ons terugkeer, was die stomp weg. Opgewonde verbygangers het vir ons vertel dat daar ’n reuseslang was. Ek’s bly ons het nie probeer om op daardie “stomp” te sit nie!

Wat ons die meeste omtrent Villamontes geniet het, was om mense in die aand te besoek. Ons het hulle gewoonlik gevind waar hulle op rottangstoele buite op die sypaadjies sit en ’n kruiedrankie, maté, drink. Ons het baie aangename tye gehad om die Koninkryksbeloftes in sulke omgewings te verduidelik. Maar moeiliker tye het gekom nadat Elaine getroud is en ek saam met ’n nuwe maat na Vallegrande gestuur is.

Soos die Wilde Weste

Om Vallegrande te bereik, was nog ’n uitputtende reis van drie dae nodig, en hierdie keer was ek alleen. Dit het gelyk asof die smal grondpad sonder ophou in die wildernis voortkronkel. Ek het uiteindelik daar opgedaag toe die son ondergaan. Die bus het die rustigheid van ’n dorpie versteur waar perde ’n algemener gesig as motors was. Mense het onder die daklyste uitgeloer, wat oor die sypaadjies uitgesteek het en deur pilare gestut is. Van die mans wat teen die pilare geleun het, het geweergordels met rewolwers gedra. Dit het gelyk asof feitlik almal swart dra. Ek het gedink: ‘Dis dan net soos die Wilde Weste!’

En dit was in werklikheid so. Geskille is met die geweer besleg. Selfs al was dit ’n dorp met net tienduisend mense, was moord en geweld in daardie tyd alledaags. Die bevolking is oorheers deur ’n bende wat die tolboom by die ingang van die dorp oorgeneem het. Die bendelede het ’n bestaan gemaak deur busse voor te keer en hulle te beroof. Boere is ook beroof wanneer hulle hul oeste dorp toe gebring het. Jong meisies is onder bedreiging met ’n vuurwapen voor hulle ouers se oë verkrag. Moeders het nie eers hulle dogters toegelaat om na die winkel op die hoek te gaan om inkopies te doen nie.

Stel jou voor wat ons gedink het toe die bendeleier eendag in die Koninkryksaal ingekom het. Hy was dronk. Die kringopsiener, wat die toespraak gehou het, het bleek geword. “Ek glo!” het die bendeleier geskreeu terwyl hy die rugleuning van die bank so hard gestamp het dat dit gebreek het. Toe het hy die kringopsiener gegryp. Maar skielik het hy afgekoel, en ’n ou skoolvriend van hom in die gehoor het dit reggekry om hom weg te lei.

’n Weermaggeneraal het die bendeleier uiteindelik tot ’n tweegeveg uitgedaag. Die generaal het ’n dooie hond in die dorpsplein laat ophang met ’n teken daarby wat gesê het: “Trap uit die dorp uit, of dieselfde sal met jou gebeur.” Die rampokker het vertrek, en toestande in Vallegrande het verbeter.

Soms het ons 12 uur te perd gery om in die afgeleë dorpies te preek. ’n Onderwyser in een van die dorpies het ons gasvry ontvang en later een van Jehovah se Getuies geword. Eenkeer het ek ’n muil geleen om daarheen te gaan, maar elke keer wanneer hy by die huis van een van sy vorige eienaars verbygegaan het, het hy daar uitgedraai en moes hulle ons weer op die pad uitlei.

Uitdagings—maar steeds ryk

Soos in die geval van baie ander sendelinge het ek gevind dat die grootste uitdaging nie die hitte of die insekte, die koue of die hoogte bo seespieël, of selfs die siekte en die armoede is nie. Dit kan eerder persoonlikheidsgeskille wees. ‘Waarom ontstaan sulke probleme in Jehovah se organisasie?’ het ek gewonder, en ek het selfs begin twyfel dat Jehovah my met seëninge ryk maak. Dan het ek die teks in Spreuke 10:22 onthou oor Jehovah se seën. Die tweede deel van die vers sê: “En hy voeg geen smart daarby nie.” Ons moet Jehovah dus nie vir hierdie probleme blameer nie. Ek het besef dat hulle deel is van wat Adam aan ons oorgedra het en ingesluit word by wat Paulus in Romeine 8:22 beskryf: ‘Die hele skepping sug tesame en is tesame in barensnood tot nou toe.’

Ek het met Walter Meynberg van die Kanadese Bethel gekorrespondeer, en terwyl ek in 1966 in Kanada met vakansie was, is ons getroud en na La Paz, die vernaamste stad van Bolivia, gestuur. Wat ’n seën was dit tog om te sien hoe die gemeentes hier vermenigvuldig van net een toe ek in Bolivia aangekom het tot 24, in elke hoek van die stad. Dit was dieselfde in ander stede van die land. Die groep van ongeveer 160 verkondigers wat die goeie nuus in Bolivia verkondig het toe ek vir die eerste keer in 1955 hier aangekom het, het inderdaad tot sowat 7 000 vermeerder!

My moeder se voorbeeld van vasbeslotenheid wat sy so lank gelede gestel het, het daartoe gelei dat meer as tien van my naaste familielede in die voltydse diens is. Ek is verheug om te sê dat my vader ’n toegewyde Getuie geword het, en dat meer as 30 mense met wie ek die voorreg gehad het om ’n Bybelstudie te hou, gedoop is. Is dit nie rykdomme nie? Ja, ek glo dit is. Inderdaad, ‘die seën van Jehovah—dit is wat my ryk gemaak het’.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel