Ek het my ‘hand aan die ploeg geslaan en nie agtertoe gekyk nie’
TOE ek op die vliegtuig klim op pad na my nuwe tuiste in Bolivia, het die woorde wat my moeder vir my in haar laaste brief geskryf het deur my gedagtes gemaal. “Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie” (Lukas 9:62). Ek was vasbeslote om hierdie woorde toe te pas.
Hoewel die sendingwerk ’n nuwe ondervinding sou wees, het ek reeds die voltydse diens sowat vyf jaar lank gesmaak. Ek het die waarheid hy my ouers geleer, wat reeds in 1923 met die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies toe genoem is, begin studeer het. Hoewel ek toe slegs vier jaar oud was, wou ek die Wagtoringgenootskap se publikasies verstaan. Maar my gesin het baie jare lank min omtrent die waarheid gedoen. Van tyd tot tyd het party van ons bure wat Bybelstudente was ons kom besoek. Ek onthou ook hoe Vader die bure besoek het om na regter Rutherford se radiolesings te luister.
Dit was egter eers in 1938 dat die saadjies van die waarheid begin vrug dra het. My moeder—wat toe geskei en weer getroud is—het begin om publikasies van Jehovah se Getuies te aanvaar en ywerig te lees. Ek was veral opgewonde om te leer dat “’n groot menigte” die vernietiging van hierdie huidige stelsel sou oorleef en vir ewig op die aarde sou lewe (Openbaring 7:9-14). Hierdie inligting moes met ander gedeel word!
Nadat ek in Junie 1939 gedoop is, het ek dus daaraan begin dink om ’n voltydse bedienaar, of pionier, te word. Nadat ek na Colorado verhuis het, het ek Helen Nichols en haar moeder—twee gesalfde susters wat gewone pioniers was—leer ken. Die wonderlike ondervindinge wat hulle vertel het, het my verder aangespoor om as ’n pionier te dien. In Mei 1940 het ek derhalwe my eerste pioniertoewysing in Salida, Colorado, ontvang.
Gileadopleiding en buitelandse toewysing
Na ’n paar jaar se pionierdiens in verskillende dele van Colorado en Indiana is ek genooi om die derde klas van Gilead by te woon. Dit is ’n skool wat deur die Wagtoringgenootskap georganiseer is om sendelinge op te lei. Ek het die seëninge van Gileadskool gedurende vyf wonderlike maande geniet, maar nadat ek gegradueer het, het ek nie onmiddellik ’n buitelandse toewysing ontvang nie. Die Tweede Wêreldoorlog het gewoed! Ek is dus gestuur om tydelik saam met sewe ander susters in West Haven, Connecticut, te werk. In 1945 is ek gestuur om in Washington, D.C., te werk. Dit was nietemin weldra moontlik om na my buitelandse toewysing te vertrek: La Paz, Bolivia.
Voor ek my toewysing ontvang het, het ek nooit eens van Bolivia gehoor nie! Geen wonder dat verontrustende gedagtes deur my kop geflits het toe ons die vliegtuig bestyg het nie: Hoe sou ek as ’n sendeling vaar? Sou ek kon volhard? Die herinnering aan my moeder se raad om ‘my hand aan die ploeg te slaan en nie agtertoe te kyk nie’, het my voorneme om ’n sukses van my sendingwerk te maak, versterk. Ek sou ook nie alleen in hierdie nuwe land wees nie. My suster en swaer wat uit die vierde klas van Gilead gegradeer het, het my vergesel. Ons vliegtuig het op 9 Junie 1946 in La Paz neergestryk.
Te midde van ’n revolusie
Die einste dag dat ek daar aangekom het, het iemand probeer om ’n revolusie te begin deur ’n bom op die Staatspaleis te werp. Die bomaanval sowel as die revolusie het misluk. Maar minder as twee maande later het nog ’n revolusie uitgebreek, en talle is gedood en gewond. Die President van die land, sowel as party van sy ministers, is in die vernaamste plein aan ’n lamppaal gehang. Dit was my kennismaking met Bolivia.
Ons kon nietemin na daardie verskriklike bloedvergieting ‘die treurendes troos’, en baie van die nederige Boliviane was gewillig om die Bybel saam met ons te bestudeer (Jesaja 61:1, 2). In daardie dae het ons dikwels deur middel van prekies op grammofoonplate vir die mense getuig. Dit het beteken dat ons ’n grammofoon sowel as ’n boeksak op en af teen die steil heuwels van La Paz op die asemrowende hoogte van 3 660 meter moes dra. As gevolg van my gebroke Spaans het party mense gedink dat ek die grammofoon en plate verkoop het!
Ek het talle ondervindinge as ’n nuwe sendeling geniet. Eendag, terwyl ek in een van die beter gedeeltes van La Paz van huis tot huis gewerk het, het ’n diensmeisie die deur oopgemaak en my ingenooi. Die vrou van die huis het na my aanbieding geluister en op Die Wagtoring ingeteken. Waarom het sy so gunstig gereageer? Sy het kort tevore ’n operasie gehad, en terwyl sy in die kliniek was, het sy die Bybel gelees. Sy het agtergekom dat die Bybel se leerstellings heeltemal anders is as wat haar kerk geleer het en daarom was sy baie gretig om die lektuur te lees wat ek by haar gelaat het. Maar voordat ek haar weer kon besoek, het sy my kom soek en my eindelik op ’n straathoek gevind waar ek Die Wagtoring en Ontwaak! vir verbygangers aangebied het. ‘Kom besoek my asseblief!’ het sy aangedring. Sy het vinnig gevorder met haar studie van die Bybel en is weldra gedoop. Nou, 30 jaar later, is sy steeds ’n getroue kneg van Jehovah.
’n Vuil pop
Nadat ons 11 jaar in La Paz gewerk het, het ons ’n toewysing in die suidelike deel van Bolivia ontvang. Ek, my suster, haar man en my maat, Esther Erickson, het dus na ’n dorpie met die naam Tupiza vertrek. Dit was in Februarie 1957. Tupiza is naby die spoorlyn tussen Bolivia en Argentinië geleë. Die mense daar was vriendelik en dit was maklik om Bybelstudies te begin. Trouens, ons het kort voor lank gereelde vergaderinge georganiseer wat deur heelparty inwoners van Tupiza bygewoon is.
Eendag het ons ’n vuil pop in ons voortuin gevind. Wat het dit beteken? Die priester het die mense blykbaar teen Jehovah se Getuies begin waarsku en daarom het iemand probeer om ons onder ’n hechizo te plaas, dit wil sê ons probeer betoor! Hulle hechizo was egter kragteloos.
Omdat Tupiza so ’n klein dorpie was, is ek en Esther weldra na Villazón, nog ’n klein dorpie op die grens tussen Bolivia en Argentinië, toegewys. Hierdie gebied was dor, winderig en koud! Maar ons was nie mismoedig nie, want ons was seker dat ons Jehovah se seën sou ontvang.
Toe ek en Esther in die dorpie begin werk het, het ons opgelet dat die mense plakkate in hulle vensters het wat sê: “Jehovah se Getuies en Evangeliste nie welkom nie.” Maar die mense in Villazón het geen idee gehad wie Jehovah se Getuies was nie! Soos in Tupiza het ’n priester ingemeng en die plakkate in die kerk uitgegee vir die mense om in hulle vensters te sit. Ondanks die vensterplakkate het die mense gunstig gereageer en het ons baie lektuur versprei en talle Bybelstudies begin. Die plakkate het een vir een uit die vensters verdwyn.
Maar waar kon ons vergaderinge hou? Ons het een vertrek van ons woonstelletjie in ’n Koninkryksaal verander. Vir sitplekke het ons planke op kartondose vol boeke gesit. Omdat daar geen gedoopte broers was nie, het ek en Esther hoofbedekkings opgesit en die vergaderinge self gehou. Tot ons vreugde het meer as honderd die eerste herdenking van Christus se dood wat ons daar gehou het, bygewoon! Party het weliswaar uit nuuskierigheid gekom om te sien hoe die gringas (buitelandse meisies) hulle vergaderinge hou. Maar party van daardie persone wat aanvanklik uit nuuskierigheid gekom het, is nou Getuies.
Ons het ook in die dorpie La Quiaca, Argentinië, gewerk waar ons etlike Bybelstudies met belangstellende persone begin het. Aangesien ons die grens so dikwels moes oorsteek, het ons die aandag van die grenswag getrek. Eendag, toe ons van La Quiaca terugkeer, het die grenswag ons gevra om nie ons werk so openlik te doen nie, daar die werk van Jehovah se Getuies in Argentinië verbied is. Ek het vir hom gesê: “Ek dog jou regering waarborg vryheid van aanbidding.” Hy het geantwoord dat die priesters druk op die regeringsministers uitgeoefen het, en dit het die verbod tot gevolg gehad. Daarna het hy in elk geval sy rug gedraai elke keer wanneer ons die grens na Argentinië oorgesteek het!
Ons het vier jaar lank in Villazón gewerk. My maat het gestudeer met ’n man wie se vrou ’n bestuurderes was van ’n chichería, ’n kroeg wat drank verkoop wat van gegiste koring gemaak word. Die man het die waarheid geleer en is later gedoop. Later het hy tot met sy dood as ’n ouere man gedien. Die chichería? Dis nou ’n Koninkryksaal! Toe ons Villazón verlaat het, was daar ’n gemeente van 20 verkondigers. Nou is daar nagenoeg 60 Getuies, met sowat 110 wat die naweekvergaderinge bywoon.
Ek het nooit ‘agtertoe gekyk nie’
Na Villazón het ek ’n toewysing in Santa Cruz, ’n stad in die oostelike deel van Bolivia, ontvang. Watter vreugde was dit tog om te sien hoe die werk van ’n gemeentetjie van 20 verkondigers tot nege florerende gemeentes groei. In 1965 het ek teruggekeer om in La Paz in een van die sendinghuise te woon, waar ek vandag nog is.
In Februarie 1978 het ’n kleimuur op my geval terwyl ek van ’n stadsbus afgeklim het. My regterbeen was so sleg gebreek dat ek moes leer om weer te loop. Maar nou kan ek weer aan die diens deelneem en Bybelstudies hou.
Nee, die voltydse diens was nie altyd maklik nie. Daar was voor- en nadele, hartseer en teleurstellings. Maar die vreugde om sagmoedige persone te vind en hulle te help om Jehovah te dien, het ruim vergoed vir enige teleurstellings. Nou, na amper 44 jaar van voltydse diens, is ek nog net so vasbeslote om my ‘hand aan die ploeg’ te hou en ’n aandeel te hê in die werk wat nog gedoen moet word.—Soos vertel deur Betty Jackson.
[Prent op bladsy 28]
Betty Jackson verkondig die goeie nuus in Bolivia