Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 7/15 bl. 27-29
  • Het ons werklik die oorspronklike manuskripte nodig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het ons werklik die oorspronklike manuskripte nodig?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die materiaal
  • Manuskripbegrawings
  • Geskiedkundige ontwikkelings
  • Oorskrywery van God se Woord
  • Waarom ons vol vertroue kan wees
  • Hoe het die boek behoue gebly?
    ’n Boek vir alle mense
  • Is die Bybel verander?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die Bybel se stryd om voort te bestaan
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • A3 Hoe die Bybel tot in ons tyd bewaar is
    Die Bybel – Nuwe Wêreld-vertaling
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 7/15 bl. 27-29

Het ons werklik die oorspronklike manuskripte nodig?

ONGEVEER 3 500 jaar gelede het ’n bejaarde man in die Midde-Ooste ’n geskiedverslag saamgestel van die wêreld tot op sy tyd. Daardie werk, wat uiteindelik uit vyf uitvoerige boeke bestaan het, moes ’n ontsaglike onderneming gewees het. Die man was oor die 80 jaar oud toe hy sy verslag begin het. Nòg hy nòg sy volk het ’n vaste woonplek gehad, maar het van plek tot plek in die Sinaiwoestyn geswerf. Maar wat daardie bejaarde man geskryf het, het uiteindelik ’n deel geword van die belangrikste letterkundige produksie wat die wêreld ooit geken het.

Daardie man was Moses, vir wie God die voorreg gegee het om die eertydse nasie Israel uit slawerny in die land Egipte uit te lei. Die vyf boeke wat hy geskryf het, is vandag bekend as die Pentateug, die eerste deel van die Heilige Bybel. Moses is deur God se heilige gees, of werkende krag, gelei. Gevolglik kan ons selfs vandag sy geskrifte lees en persoonlik baie daarby baat vind. Maar soms vra mense: ‘Kan ons werklik vertroue stel in die woorde van Moses en die ander Bybelskrywers? Het ons hulle oorspronklike manuskripte? Indien nie, wat het met hulle gebeur? En hoe kan ons seker wees dat wat in die Bybel is werklik die dinge is wat die skrywers daarvan oorspronklik geskryf het?’

Die materiaal

Daar bestaan baie redes om te vertrou dat die Bybel se inhoud nie verander het sedert dit aanvanklik geskryf is nie. Ons het weliswaar nie die Bybelskrywers se oorspronklike manuskripte nie. Maar ons behoort in werklikheid nie te verwag om daardie manuskripte te hê nie. Waarom nie? Vanweë die materiaal waarop hulle geskryf is, ’n sekere eertydse Joodse gebruik en die geskiedenis van die tye sedert hulle dit geskryf het.

Beskou asseblief eers die materiaal. Sommige dinge wat geskryf is toe die Bybel saamgestel is, bestaan steeds. Maar die meeste hiervan is op klip of klei geskryf, wat vir lang tydperke behoue kan bly. Maar blykbaar is die Bybel oorspronklik op iets bederfbaarders geskryf. Party geskrifte van die Bybelskrywer Jeremia is byvoorbeeld deur koning Jojakim verbrand (Jeremia 36:21-31). Klip- of kleitablette sou nie so maklik op daardie manier vernietig kon word nie.

Watter skryfmateriaal het Bybelskrywers dus gebruik? Wel, “Moses is opgelei in al die wysheid van die Egiptenaars”, en die skryfmateriaal wat die meeste in Egipte gebruik is, was papirus (Handelinge 7:22). Dus het Moses waarskynlik op hierdie bederfbare materiaal geskryf. Ander skryfmateriaal wat algemeen in die Midde-Ooste gebruik is, was diervelle—leer of velyn. Miskien het Jeremia op leer geskryf. Leer of papirus sou gebrand het toe koning Jojakim Jeremia se rol in die vuur gegooi het.

Dit is waar dat talle papirusmanuskripte duisende jare lank in die warm, droë klimaat van Egipte behoue gebly het. Maar dit is uitsonderlik. Gewoonlik bederf papirus sowel as leer maklik. Geleerde Oscar Paret sê: “Albei hierdie skryfmiddels word ewe veel bedreig deur vogtigheid, deur skimmel en deur verskeie wurms. Ons weet uit daaglikse ondervinding hoe maklik papier, en selfs sterk leer, in die buitelug of in ’n vogtige kamer bederf.”

In eertydse Israel, waar die meeste van die boeke van die Bybel geskryf is, was die klimaat nie gunstig vir die behoud van manuskripte nie. Gevolglik het die meeste van die oorspronklike manuskripte van die Bybel waarskynlik lank gelede verweer. Selfs al het hulle nie verweer nie, is daar ’n eertydse Joodse gebruik wat dit onwaarskynlik maak dat hulle tot op ons dag behoue sou bly. Wat is daardie gebruik?

Manuskripbegrawings

In 1896 het ’n geleerde wat deur ’n geniza in Kaïro gesnuffel het 90 000 antieke manuskripte ontdek wat ’n omwenteling in die studie van Midde-Oosterse geskiedenis teweeggebring het. Wat is ’n geniza? En wat het dit te doen met die oorspronklike manuskripte van die Bybel?

’n Geniza is ’n vertrek waar Jode van vroeë tye manuskripte geplaas het wat weens gebruik verslete was. Geleerde Paul E. Kahle skryf: “Die Jode het gewoonlik alle soorte geskrewe en gedrukte materiaal in sulke vertrekke, wat in of naby hulle sinagoges was, bewaar; daar is nie beplan om hulle te hou soos goed wat in argiewe gehou is nie, maar hulle moes ’n tyd lank onaangeraak daar bly. Die Jode was bang dat sulke geskrifte wat die naam van God bevat het deur misbruik ontheilig sou word. Sulke geskrewe—en in latere jare ook gedrukte—werk is van tyd tot tyd na heilige grond geneem en begrawe; gevolglik het dit bederf. Dit was bloot per toeval dat die Kaïro-Geniza vergeet is en die inhoud daarvan die lot van ander Genizas vrygespring het.”—The Cairo Geniza, bladsy 4.

Sê nou ’n oorspronklike Bybelmanuskrip het behoue gebly tot die tyd wanneer hierdie gebruik ontwikkel het? Die manuskrip sou ongetwyfeld verslete gewees het weens gebruik en sou begrawe word.

Geskiedkundige ontwikkelings

’n Laaste faktor wat onthou moet word in ons ondersoek oor wat moontlik met oorspronklike Bybelmanuskripte gebeur het, is die onstuimige geskiedenis van Bybellande. Beskou byvoorbeeld wat met daardie boeke gebeur het wat die bejaarde man Moses geskryf het. Ons word meegedeel: “Toe Moses die woorde van hierdie wet klaar in ’n boek geskryf het tot die einde toe, het Moses aan die Leviete wat die verbondsark van die HERE gedra het, bevel gegee en gesê: Neem hierdie wetboek en sit dit neer aan die kant van die verbondsark van die HERE julle God.”—Deuteronomium 31:24-26.

Die verbondsark was ’n heilige kis wat simbolies van God se teenwoordigheid onder die Israeliete was. Dit is (saam met Moses se manuskripte) in die Beloofde Land ingedra, waar dit op verskeie plekke gehou is. Die Filistyne het dit ’n ruk lank in besit geneem. Later het Israel se koning Dawid die Ark na Jerusalem gebring, en dit is uiteindelik in die tempel geplaas wat koning Salomo daar gebou het. Maar koning Agas het ’n heidense altaar in die tempel gebou en dit uiteindelik toegemaak. Koning Manasse het dit met heidense aanbidding gevul.

Wat het intussen met die verbondsark en met Moses se geskrifte gebeur? Ons weet nie, maar ten minste ’n paar van hulle het verlore gegaan. In die tyd van koning Josia het tempelwerkers onverwags “die wetboek”, miskien die oorspronklike dokument wat deur Moses geskryf is, gevind (2 Konings 22:8). Baie informasie daarin was vir die koning voorheen onbekend, en die voorlesing daarvan het ’n groot geestelike herlewing tot gevolg gehad.—2 Konings 22:11–23:3.

Na Josia se dood het die mense van Juda weer eens ontrou geword en is hulle uiteindelik na Babilon weggevoer. Die tempel is vernietig en alle waardevolle dinge daarin is na Babilon geneem. Daar is geen verslag oor wat toe met die Ark of die waardevolle dokument wat in Josia se tyd ontdek is, gebeur het nie. Maar jare later, toe baie Jode wat na hulle tuisland teruggekeer het, aangemoedig is om Jerusalem te herbou en rein aanbidding te herstel, het die priester Esra en ander in die openbaar vir hulle uit “die boek van die wet van Moses” gelees (Nehemia 8:2-9). Daar was dus kopieë van die oorspronklike geskrifte. Waar het hulle vandaan gekom?

Oorskrywery van God se Woord

Moses het die tyd voorspel wanneer ’n koning oor Israel sou heers en het hierdie spesiale bevel opgeteken: “As hy op die troon van sy koninkryk sit, moet hy vir hom ’n afskrif van hierdie wet in ’n boek skrywe, uit dié wat voor die Levitiese priesters lê” (Deuteronomium 17:18). Gevolglik moes ’n paar kopieë van die Skrif gemaak word.

Oorskrywery van die Skrif het uiteindelik ’n beroep in Israel geword. Psalm 45:1 (NW) sê inderdaad: “Mag my tong die stif van ’n vaardige kopiis wees.” Kopiiste soos Safan en Sadok is by name genoem. Maar die bekendste kopiis van die ou tyd was Esra, wat ook van die oorspronklike geskrifte in die Bybel geskryf het (Esra 7:6, NW; Nehemia 13:13, vgl. NW; Jeremia 36:10, vgl. NW). Selfs terwyl latere gedeeltes van die Bybel geskryf is, is daardie boeke wat reeds voltooi was, oorgeskryf en versprei.

Toe Jesus Christus op aarde was, was kopieë van die Hebreeuse Skrifte (Genesis tot Maleagi) nie net in Jerusalem nie maar blykbaar ook in sinagoges van Galilea beskikbaar (Lukas 4:16, 17). Selfs in verafgeleë Berea in Macedonië kon edelmoedige Jode “elke dag die Skrifte ondersoek”! (Handelinge 17:11). Vandag bestaan daar nagenoeg 1 700 manuskripkopieë van Bybelboeke wat voor Jesus se geboorte geskryf is, asook ongeveer 4 600 van dié wat deur sy dissipels saamgestel is (Mattheüs tot Openbaring).

Was die kopieë akkuraat? Ja, besonder akkuraat. Professionele kopiiste van die Hebreeuse Skrifte (wat Soferim genoem is) het noukeurig daarop gelet dat hulle nie foute maak nie. Om hulle werk na te gaan, het hulle die woorde en selfs die letters van elke manuskrip wat hulle oorgeskryf het, getel. Daarom het Jesus, die apostel Paulus en ander wat dikwels die ou Bybelskrywers aangehaal het, nie getwyfel oor die akkuraatheid van die kopieë wat hulle gebruik het nie.—Lukas 4:16-21; Handelinge 17:1-3.

Joodse kopiiste en die latere Christenkopiiste was weliswaar nie onfeilbaar nie. Foute het ingesluip, maar die vele kopieë wat steeds bestaan, help ons om hierdie foute op te spoor. Hoe? Wel, verskillende kopiiste het verskillende foute gemaak. As ons dus die werk van verskillende kopiiste met mekaar vergelyk, kan ons baie van hulle foute opspoor.

Waarom ons vol vertroue kan wees

In 1947 is ’n paar ou rolle onverwags in grotte naby die Dooie See ontdek. Hierdie rolle het getoon presies hoe akkuraat die oorskrywery van die Skrif was. Onder die rolle was ’n kopie van die Bybelboek Jesaja wat ongeveer duisend jaar ouer was as enige manuskrip wat voorheen beskikbaar was. Nogtans het ’n vergelyking tussen die Dooie See-manuskrip en latere kopieë getoon dat dinge soos woordorde en grammatika die enigste verskille was. Die betekenis van die teks was onveranderd na duisend jaar van oorskrywery! Geleerde William Henry Green kon derhalwe aangaande die teks van die Hebreeuse Skrifte sê: “Daar kan met sekerheid gesê word dat geen ander werk van die ou tyd so akkuraat oorgedra is nie.” Soortgelyke kommentare is gemaak oor die akkuraatheid waarmee die Christelike Griekse Skrifte oorgedra is.

Dit sal beslis opwindend wees om die oorspronklike dokument te vind wat Moses of Jesaja geskryf het. Maar ons het nie werklik die oorspronklike dokumente nodig nie. Wat belangrik is, is nie die dokument nie, maar sy inhoud. En, ondanks die feit dat etlike onstuimige eeue verloop het en baie manuskripte herhaaldelik oorgeskryf is, kan ons vol vertroue wees dat die Bybel steeds op wonderbaarlike wyse die informasie bevat wat in daardie ou oorspronklike manuskripte gevind word. Die woorde in die Skrif is dus waar: “Alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ’n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af, maar die woord van die Here bly tot in ewigheid.”—1 Petrus 1:24, 25.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel