Hoe het die boek behoue gebly?
Antieke geskrifte het natuurlike vyande gehad—vuur, vogtigheid, skimmel. Die Bybel was nie vry van sulke gevare nie. Die verslag van hoe dit die tand van die tyd deurstaan het om die wêreld se mees toeganklike boek te word, is uitsonderlik wat antieke geskrifte betref. Daardie geskiedenis verdien meer as net terloopse belangstelling.
DIE Bybelskrywers het nie hulle woorde op klip gegraveer nie; hulle het dit ook nie op duursame kleitablette ingegrif nie. Hulle het klaarblyklik hulle woorde op bederfbare materiaal opgeteken—papirus (wat van die Egiptiese plant met dieselfde naam gemaak is) en perkament (wat van diervelle gemaak is).
Wat het met die oorspronklike geskrifte gebeur? Dit het waarskynlik lank gelede vergaan, die meeste daarvan in eertydse Israel. Die geleerde Oscar Paret verduidelik: “Albei hierdie skryfmateriale [papirus en leer] word ewe veel deur vogtigheid, deur skimmel en deur verskeie wurms bedreig. Ons weet uit daaglikse ondervinding hoe maklik papier, en selfs sterk leer, in die buitelug of in ’n vogtige vertrek bederf.”1
Hoe het die woorde van die Bybelskrywers dan tot vandag toe behoue gebly as die oorspronklike geskrifte nie meer bestaan nie?
Deur nougesette kopiïste bewaar
Kort nadat die oorspronklike dokumente geskryf is, het hulle handgeskrewe kopieë begin maak. Die oorskryf van die Skrif het eintlik ’n beroep in eertydse Israel geword (Esra 7:6, NW; Psalm 45:1, NW). Die kopieë is egter ook op bederfbare materiaal geskryf. Uiteindelik moes dit deur ander handgeskrewe kopieë vervang word. Toe die oorspronklike geskrifte vergaan het, het hierdie kopieë die grondslag vir toekomstige manuskripte geword. Die oorskryf van die kopieë was ’n proses wat eeue lank aangehou het. Het die kopiïste se foute deur die eeue heen die teks van die Bybel drasties verander? Die getuienis sê nee.
Die beroepskopiïste was uiters toegewyd. Hulle het ’n diep eerbied gehad vir die woorde wat hulle oorgeskryf het. Hulle was ook nougeset. Die Hebreeuse woord wat met “kopiïs” vertaal word, is so·ferʹ, wat verwys na tel en neerskryf. Beskou die voorbeeld van die Masorete om die noukeurigheid van die kopiïste toe te lig.a Die geleerde Thomas Hartwell Horne verduidelik aangaande hulle: “Hulle . . . het uitgewerk wat die middelste letter van die Pentateug [die eerste vyf boeke van die Bybel] is, wat die middelste sinsdeel van elke boek is en hoeveel keer elke letter van die [Hebreeuse] alfabet in die hele Hebreeuse Geskrifte voorkom.”3
Vaardige kopiïste het dus van ’n aantal metodes van kruiskontrolering gebruik gemaak. Ten einde te voorkom dat selfs ’n enkele letter uit die Bybelteks weggelaat word, het hulle so ver gegaan as om nie net die woorde te tel wat oorgeskryf is nie, maar ook die letters. Dink aan die groot sorg wat dit behels het: Hulle het na bewering 815 140 afsonderlike letters in die Hebreeuse Geskrifte getel!4 Sulke ywerige inspanning het ’n hoë peil van akkuraatheid verseker.
Die kopiïste was egter nie onfeilbaar nie. Is daar enige bewyse dat die Bybelteks in betroubare vorm behoue gebly het, ondanks eeue se oorskrywery?
’n Vaste grondslag vir vertroue
Daar bestaan goeie rede om te glo dat die Bybel tot in ons dag akkuraat oorgedra is. Die getuienis sluit bestaande handgeskrewe manuskripte in—ongeveer 6 000 van die hele Hebreeuse Geskrifte of dele daarvan en sowat 5 000 van die Christelike Geskrifte in Grieks. Onder hulle is ’n manuskrip van die Hebreeuse Geskrifte wat in 1947 ontdek is en wat toelig presies hoe akkuraat die oorskrywery van die Skrif was. Dit is al “die grootste manuskripontdekking van hierdie tyd” genoem.5
Terwyl ’n jong Bedoeïen-herder vroeg daardie jaar sy kudde opgepas het, het hy ’n grot naby die Dooie See ontdek. Daarin het hy ’n aantal erdekruike gevind, waarvan die meeste leeg was. Maar in een van die kruike, wat styf verseël was, het hy ’n leerrol gevind wat versigtig in linne toegedraai was en die hele Bybelboek Jesaja bevat het. Hierdie goed bewaarde maar verslete rol het tekens van herstelwerk getoon. Min het die jong herder besef dat die antieke rol wat hy in sy hande gehou het uiteindelik wêreldwye aandag sou geniet.
Wat was so betekenisvol omtrent hierdie bepaalde manuskrip? In 1947 het die oudste beskikbare volledige Hebreeuse manuskripte uit omstreeks die tiende eeu G.J. gedateer. Maar hierdie rol het uit die tweede eeu v.G.J.b gedateer—meer as duisend jaar vroeër.c Kenners was baie gretig om uit te vind hoe hierdie rol vergelyk het met manuskripte wat veel later gemaak is.
In een studie het kenners die 53ste hoofstuk van Jesaja in die Dooie See-rol vergelyk met die Masoretiese teks wat duisend jaar later gemaak is. Die boek A General Introduction to the Bible verduidelik die resultate van die studie: “Van die 166 woorde in Jesaja 53 is daar net sewentien letters waaroor daar twyfel bestaan. Tien van hierdie letters is eenvoudig ’n kwessie van spelling, wat nie die betekenis beïnvloed nie. Nog vier letters is geringe stilistiese veranderinge, soos voegwoorde. Die oorblywende drie letters vorm die woord ‘lig’, wat in vers 11 bygevoeg word en nie die betekenis grootliks beïnvloed nie. . . . In ’n hoofstuk met 166 woorde is daar dus slegs een woord (drie letters) waaroor daar ná duisend jaar van oordrag twyfel bestaan—en hierdie woord verander nie die betekenis van die passasie noemenswaardig nie.”7
Professor Millar Burrows, wat jare lank met die rolle gewerk en die inhoud daarvan ondersoek het, het tot ’n soortgelyke slotsom gekom: “Baie van die verskille tussen die . . . Jesajarol en die Masoretiese teks kan as foute in die oorskrywery bestempel word. Afgesien hiervan is daar oor die algemeen ’n merkwaardige ooreenkoms met die teks wat in die Middeleeuse manuskripte gevind word. Hierdie harmonie in ’n manuskrip wat soveel ouer is, lewer gerusstellende bewys van die algemene akkuraatheid van die tradisionele teks.”8
Daar kan ook “gerusstellende bewys” gelewer word oor die oorskrywery van die Christelike Griekse Geskrifte. Byvoorbeeld, die 19de-eeuse ontdekking van die Codex Sinaiticus, ’n velynmanuskrip wat uit die vierde eeu G.J. dateer, het gehelp om die akkuraatheid te bevestig van manuskripte van die Christelike Griekse Geskrifte wat eeue later gemaak is. ’n Papirusfragment van die Evangelie van Johannes, wat in die gebied van Fajoem, Egipte, ontdek is, is tot die eerste helfte van die tweede eeu G.J. teruggevoer, minder as 50 jaar nadat die oorspronklike geskryf is. Dit is eeue lank in die droë sand bewaar. Die teks stem ooreen met dié wat in veel nuwer manuskripte gevind is.9
Die getuienis bevestig dus die feit dat die kopiïste in werklikheid baie akkuraat was. Maar hulle het wel foute gemaak. Geen afsonderlike manuskrip is foutloos nie—nie eers die Dooie See-rol van Jesaja nie. Nietemin kon geleerdes hierdie afwykings van die oorspronklike opspoor en regmaak.
Kopiïste se foute reggemaak
Gestel 100 mense is gevra om ’n handgeskrewe kopie van ’n uitvoerige dokument te maak. Daar sal ongetwyfeld ten minste party van die kopiïste wees wat foute maak. Maar hulle sal nie almal dieselfde foute maak nie. As jy al 100 kopieë neem en dit baie sorgvuldig vergelyk, sou jy die foute kan identifiseer en die presiese teks van die oorspronklike dokument kan bepaal, selfs as jy dit nog nooit gesien het nie.
Die Bybelkopiïste het eweneens nie almal dieselfde foute gemaak nie. Aangesien letterlik duisende Bybelmanuskripte nou vir vergelykende ondersoek beskikbaar is, kon teksgeleerdes foute identifiseer, bepaal wat die oorspronklike teks was en die nodige verbeterings aanteken. As gevolg van sulke sorgvuldige studie het teksgeleerdes meestertekste in die oorspronklike tale voortgebring. Hierdie gesuiwerde weergawes van die Hebreeuse en van die Griekse tekste neem die woorde op wat oor die algemeen as die oorspronklike aanvaar word, en gee dikwels in voetnote die variasies of alternatiewe aan wat dalk in ander manuskripte verskyn. Dit is dié gesuiwerde weergawes deur die teksgeleerdes wat Bybelvertalers gebruik om die Bybel in moderne tale te vertaal.
Wanneer jy dus ’n moderne vertaling van die Bybel optel, het jy alle rede om te vertrou dat die Hebreeuse en die Griekse tekste waarop dit gegrond is die woorde van die oorspronklike Bybelskrywers met merkwaardige getrouheid weergee.d Die geskiedenis van hoe die Bybel deur duisende jare van oorskrywery met die hand behoue gebly het, is waarlik uitsonderlik. Sir Frederic Kenyon, jare lank kurator by die Britse Museum, kon derhalwe sê: “Daar kan nie te sterk aangevoer word dat die teks van die Bybel in wese juis is nie . . . Dit kan van geen ander antieke boek ter wêreld gesê word nie.”10
[Voetnote]
a Masorete (wat “die meesters van oorlewering” beteken) was kopiïste van die Hebreeuse Geskrifte wat tussen die sesde en die tiende eeu G.J. geleef het. Die manuskripkopieë wat hulle gemaak het, word Masoretiese tekste genoem.2
b Die afkorting v.G.J. beteken “voor die Gewone Jaartelling”. G.J. beteken “Gewone Jaartelling”, wat dikwels AD genoem word, vir Anno Domini, of n.C., wat vir “na Christus” staan.
c Textual Criticism of the Hebrew Bible, deur Emanuel Tov, sê: “Met behulp van die koolstof-14-toets word 1QIsaa [die Dooie See-rol van Jesaja] nou tussen 202 en 107 v.G.J. (paleografiese datum: 125-100 v.G.J.) gedateer . . . Die betrokke paleografiese metode, wat in die laaste jare verbeter is, en wat absolute datering moontlik maak op grond van ’n vergelyking van die vorm en posisie van die letters met eksterne bronne soos gedateerde muntstukke en inskripsies, word as ’n betreklik betroubare metode beskou.”6
d Individuele vertalers kan natuurlik óf streng by die oorspronklike Hebreeuse en Griekse tekste bly óf vry vertaal.
[Prent op bladsy 8]
Die Bybel is deur vaardige kopiïste bewaar
[Prente op bladsy 9]
Die Dooie See-rol van Jesaja (faksimilee hier vertoon) is feitlik identies aan die Masoretiese teks wat duisend jaar later gemaak is