“Gelukkig is die vredeliewendes”
IN 1901 is die Nobelprys vir Vrede, wat vir die eerste keer toegeken is, deur Jean-Henri Dunant, stigter van die Rooi Kruis, en ekonoom Frédéric Passy gedeel. Sedertdien is dit al 69 keer toegeken, 55 keer aan 71 verskillende persone, hetsy individueel of gesamentlik, en 14 keer aan 16 groepe of organisasies. Sommige groepe het dit meer as een keer gewen, soos die Internasionale Rooi Kruis-komitee (1917, 1944 en 1963) en die Buro van die Verenigde Volke se Hoë Kommissaris vir Vlugtelingehulp (1954 en 1981). Omdat daar blykbaar geen verdienstelike kandidaat was nie, het die Nobelpryskomitee 19 keer nie ’n toekenning gemaak nie.
Soos jy jou kan voorstel, was die meeste van die pryswenners staatsmanne, diplomate of mense wat op ander maniere by die politiek betrokke is. Maar joernaliste, juriste, sosioloë, ekonome en maatskaplike hervormers het ook al die prys ontvang. Selfs wetenskaplikes, waaronder Linus Pauling in 1962 en Andrei Sakharov in 1975, het hierdie eer ontvang, en so ook vakbondleiers, met name Lech Wałesa in 1983. En in 1970 is die prys aan die landboukundige Norman E. Borlaug toegeken.
Die eerste godsdiensfiguur wat die prys ontvang het, was die Sweedse Lutherse aartsbiskop Nathan Söderblom, wat in 1930 aangewys is. In 1946 het die Metodisteleek en -evangelis John R. Mott die prys gedeel, en hy is in 1952 gevolg deur die teoloog en filosoof Albert Schweitzer en in 1958 deur die Belgiese geestelike Dominique Georges Pire. In 1964 was die keuse die burgerregteleier en Baptisteleraar Martin Luther King jr.
Maar in die laaste jare het godsdiens ’n prominenter rol begin speel in die wêreld se strewe na vrede. In ooreenstemming met hierdie tendens was drie van die laaste nege persone aan wie die Nobelprys vir Vrede toegeken is godsdiensfigure: die Katolieke non Moeder Teresa van Kalkutta in 1979, die Anglikaanse biskop Desmond Tutu van Suid-Afrika in 1984 en verlede jaar Tibet se uitgeweke Boeddhistiese “god-koning”, die Dalai Lama.
Jesus Christus het weliswaar gesê: “Salig is die vredemakers” (Mattheüs 5:9). Maar sal die pogings van geestelikes om vredemakers in hierdie wêreld te wees—hetsy hulle Katolieke, Protestante, Boeddhiste of wat ook al is—met welslae bekroon word?
Die Bybel deel ons mee dat hierdie bose wêreld wat van God vervreem is nooit blywende vrede sal ervaar nie, ’n feit wat nie deur geestelikes se betrokkenheid by die wêreld se liefdadigheids-, maatskaplike en politieke aangeleenthede verander kan word nie. Deur hedendaagse regerings met sy Koninkryk onder Christus Jesus, die “Vredevors”, te vervang, sal die Skepper self die gelowige mensdom binnekort met vrede seën.—Jesaja 9:5, 6; 57:21; Psalm 46:10; Daniël 2:44.
Vredeliewende mense wat hierdie waarheid erken en hulle lewe dienooreenkomstig inrig, sal inderdaad gelukkig wees. Soos die New World Translation Jesus se woorde stel: “Gelukkig is die vredeliewendes.”