Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 8/1 bl. 23-25
  • Die Romeine kry die allerbeste nuus

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Romeine kry die allerbeste nuus
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • PAULUS EN DIE ROMEINE
  • GELOOF EN DIE WET
  • REGVERDIGHEID DEUR GELOOF
  • ANTWOORDE OP BESWARE
  • REGVERDIGHEID EN VLEESLIKE JODE
  • BEGINSELS VAN REGVERDIGHEID
  • VIR GESALFDES EN ANDER SKAPE
  • Bybelboek nommer 45—Romeine
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Regverdig verklaar “vir die lewe”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Romeine 5:8 – ‘Christus het vir ons gesterf toe ons nog sondaars was’
    Verduidelikings van Bybelverse
  • Skep behae in Jehovah se regverdigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 8/1 bl. 23-25

Die Romeine kry die allerbeste nuus

HOE kan ’n sondige mens in God se oë regverdig wees en sodoende die ewige lewe verkry? Hierdie vraag het in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling tot skerp woordewisselings gelei. Ken jy die antwoord? Of jy dit ken of nie, jy is dit aan jouself verskuldig om die apostel Paulus se meesterlike bespreking van die probleem in die Bybelboek Romeine te lees. As jy dit doen, sal dit jou help om te verstaan watter uiters belangrike verband daar tussen geloof, werke, regverdigheid en die lewe is.

PAULUS EN DIE ROMEINE

Die boek Romeine is ’n brief wat Paulus omstreeks 56 G.J. aan die Christene in Rome geskryf het. Waarom het hy die brief geskryf? Hoewel Paulus Rome in 56 G.J. nog nie besoek het nie, het hy blykbaar baie Christene daar geken, aangesien hy ’n paar van hulle by name in sy brief aanspreek. Daarbenewens wou Paulus baie graag na Rome gaan om sy Christenbroeders aldaar aan te moedig, en hy het blykbaar ook beplan om Rome aan te doen in sy voorgenome sendingreis na Spanje.—Romeine 1:11, 12; 15:22-24.

Maar die vernaamste rede waarom Paulus hierdie brief geskryf het, was om dié vraag te beantwoord: Hoe kan mense die regverdigheid verkry wat tot die lewe lei? Die antwoord is die allerbeste nuus. Regverdigheid word op grond van geloof toegereken. Paulus stel hierdie punt en sit die tema van sy brief uiteen wanneer hy skryf: “Ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”—Romeine 1:16, 17.

GELOOF EN DIE WET

In die eerste eeu het nie almal saamgestem dat regverdigheid op grond van geloof toegereken is nie. ’n Minderheid het onomwonde daarop aangedring dat meer nodig was. Het Jehovah dan nie die Mosaïese Wet voorsien nie? Hoe kon enigiemand wat hulle nie aan daardie geïnspireerde voorsiening onderwerp het nie, regverdig wees? (Sien Galasiërs 4:9-11, 21; 5:2.) In 49 G.J. is die vraag oor die onderhouding van die Wet deur die bestuursliggaam in Jerusalem bespreek, en hulle het tot die slotsom gekom dat nie-Jode wat die goeie nuus aanvaar het hulle nie hoef te besny en aan die bepalinge van die Joodse Wet hoef te onderwerp nie.—Handelinge 15:1, 2, 28, 29.

Ongeveer sewe jaar later het Paulus sy brief aan die Romeine geskryf ter ondersteuning van daardie belangrike besluit. Trouens, hy het dit verder gevoer. Die Wet was nie net onnodig vir nie-Joodse Christene nie, maar Jode wat staatgemaak het op gehoorsaamheid aan die Wet sou nie regverdig verklaar word vir die lewe nie.

REGVERDIGHEID DEUR GELOOF

As jy deur die boek Romeine lees, sal jy sien hoe sorgvuldig Paulus sy saak stel deur sy verklarings met baie aanhalings uit die Hebreeuse Skrifte te staaf. Wanneer hy met die Jode praat, wat dalk sukkel om sy geïnspireerde lering te aanvaar, openbaar hy toegeneentheid en besorgdheid (Romeine 3:1, 2; 9:1-3). Nogtans stel hy sy saak met merkbare duidelikheid en onbetwisbare logika.

In Romeine hoofstuk 1 tot hoofstuk 4 begin Paulus met die waarheid dat almal aan sonde skuldig is. Mense kan dus net op grond van geloof regverdig verklaar word. Die Jode het weliswaar probeer om regverdig te wees deur die Mosaïese Wet te onderhou. Maar hulle het nie daarin geslaag nie. Paulus sê derhalwe reguit: ‘Jode sowel as Grieke is almal onder die sonde.’ Hy staaf hierdie ongewilde waarheid deur ’n paar tekste uit die Skrif aan te haal.—Romeine 3:9.

Watter hoop is daar, aangesien ‘geen vlees uit die werke van die wet geregverdig sal word nie’? God sal mense as ’n vrye gawe op grond van Jesus se losprysofferande regverdig verklaar (Romeine 3:20, 24, vgl. NW). As hulle hierby baat wil vind, moet hulle geloof in daardie offerande hê. Is hierdie lering dat mense op grond van geloof regverdig verklaar word iets nuuts? Glad nie. Abraham is regverdig verklaar vanweë sy geloof voordat die Wet nog ingestel is.—Romeine 4:3.

Noudat die belangrikheid van geloof bevestig is, bespreek Paulus in hoofstuk 5 die grondslag van Christelike geloof. Dit is Jesus, wie se lewensweg van regverdigheid die slegte gevolge van Adam se sonde verwyder vir diegene wat geloof in Hom het. Dit is dus “deur een daad van geregtigheid”, nie deur gehoorsaamheid aan die Mosaïese Wet nie, dat ‘alle soorte mense regverdig verklaar word vir die lewe’.—Romeine 5:18, vgl. NW.

ANTWOORDE OP BESWARE

Maar wat verhinder Christene, as hulle nie onder die Wet is nie, om voort te gaan en te sondig en daarop te reken dat hulle in elk geval danksy God se onverdiende goedheid regverdig verklaar sal word? Paulus antwoord op hierdie beswaar in Romeine hoofstuk 6. Christene het gesterf wat hulle vorige sondige leefwyse betref. Hulle nuwe lewe in Jesus stel hulle onder verpligting om teen hulle vleeslike swakhede te stry. Hy maan: “Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers [nie].”—Romeine 6:12.

Maar behoort die Jode ten minste nie nog aan die Mosaïese Wet vas te hou nie? In hoofstuk 7 verduidelik Paulus sorgvuldig dat dit nie die geval is nie. Net soos ’n getroude vrou van die wet van haar man bevry is wanneer hy sterf, so het die dood van Jesus gelowige Jode van onderworpenheid aan die Wet bevry. Paulus sê: “Julle [is] dan ook ten opsigte van die wet dood deur die liggaam van Christus.”—Romeine 7:4.

Beteken dit dat daar iets met die Wet verkeerd was? Glad nie. Die Wet was volmaak. Die probleem was dat onvolmaakte mense nie aan die Wet gehoorsaam kon wees nie. “Ons weet dat die wet geestelik is”, het Paulus geskryf, “maar ek is vleeslik, verkoop onder die sonde.” ’n Onvolmaakte mens kan nie God se volmaakte Wet hou nie en word derhalwe daardeur veroordeel. Hoe wonderlik is dit dan dat ‘daar geen veroordeling is vir diegene wat in eenheid met Christus Jesus is nie’! Gesalfde Christene is deur die gees as seuns van God aangeneem. Jehovah se gees help hulle om teen die onvolmaakthede van die vlees te stry. “Wie sal beskuldiging inbring teen die uitverkorenes van God? God is dit wat regverdig maak” (Romeine 7:14; 8:1, 33, vgl. NW). Niks kan hulle van God se liefde skei nie.

REGVERDIGHEID EN VLEESLIKE JODE

Wat van die nasie Israel as die Wet nie meer nodig is nie? En wat van al daardie tekste wat ’n herstelling van Israel belowe? Hierdie vrae word in Romeine hoofstukke 9 tot 11 beantwoord. Die Hebreeuse Skrifte het voorspel dat slegs ’n klein groepie Israeliete gered sou word en dat God sy aandag op die nasies sou vestig. In ooreenstemming hiermee word die profesieë oor die redding van Israel nie deur vleeslike Israel nie, maar deur die Christengemeente vervul, waarvan ’n klein groepie gelowige vleeslike Jode en die res regskape nie-Jode is.—Romeine 10:19-21; 11:1, 5, 17-24.

BEGINSELS VAN REGVERDIGHEID

In Romeine hoofstukke 12 tot 15 verduidelik Paulus vervolgens ’n paar praktiese maniere waarop gesalfde Christene ooreenkomstig hulle regverdigmaking kan lewe. Hy sê byvoorbeeld: “[Stel julle liggame] as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer—dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed” (Romeine 12:1, 2). Ons moet vertroue stel in die krag van die goeie en nie die kwaad met kwaad vergeld nie. “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie”, het die apostel geskryf, “maar oorwin die kwaad deur die goeie.”—Romeine 12:21.

Rome was die sentrum van politieke mag in Paulus se dag. Gevolglik het Paulus Christene hierdie wyse raad gegee: “Laat elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom gestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie” (Romeine 13:1). Christene se betrekkinge met mekaar is ook deel van ’n leefwyse wat met regverdigheid strook. “Wees aan niemand iets verskuldig nie”, sê Paulus, “behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat ’n ander liefhet, het die wet vervul.”—Romeine 13:8.

Daarbenewens moet Christene mekaar se gewete in ag neem en mekaar nie oordeel nie. Paulus maan: “Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien” (Romeine 14:19). Watter goeie raad is dit tog wat ’n Christen in elke aspek van sy lewe kan toepas! Dan sluit Paulus in hoofstuk 16 af deur groete aan individue oor te dra, en laastens bemoedig hy hulle en gee hy hulle raad.

VIR GESALFDES EN ANDER SKAPE

Die onderwerp wat in Romeine bespreek is, was in die eerste eeu belangrik en is vandag steeds uiters belangrik. Regverdigheid en die ewige lewe is van groot belang vir alle knegte van Jehovah. Romeine is weliswaar aan ’n gemeente van gesalfde Christene geskryf, terwyl die oorgrote meerderheid van Jehovah se Getuies vandag van die “groot menigte” is en ’n aardse hoop het (Openbaring 7:9). Nogtans bevat hierdie brief ook vir hulle ’n uiters belangrike boodskap. Wat is dit?

Die boek Romeine bewys dat Christene deur middel van geloof regverdig verklaar word. Die gesalfdes word regverdig verklaar met die doel om medeheersers saam met Jesus in die hemelse Koninkryk te word. Lede van die groot menigte word ook regverdig verklaar, maar as ‘vriende van God’, soos die aartsvader Abraham (Jakobus 2:21-23). Hulle regverdigheid maak dit vir hulle moontlik om die groot verdrukking te oorlewe, en dit is, net soos in die geval van die gesalfdes, op geloof in die bloed van Jesus gegrond (Psalm 37:11; Johannes 10:16; Openbaring 7:9, 14). Daarom is Paulus se redenasie in Romeine van groot belang vir die ander skape sowel as die gesalfdes. En die boek se goeie raad oor ’n leefwyse wat strook met ons regverdigmaking is uiters belangrik vir alle Christene.

The Book of Life, geredigeer deur doktore Newton Marshall Hall en Irving Francis Wood, sê: “Wat redenasies en leerstellings betref, bereik Paulus die hoogtepunt van sy geïnspireerde onderrig [in Romeine]. Dit is hoflik, taktvol, maar nietemin gesaghebbend. . . . Die studie van hierdie brief bring sy eie ryk en oorvloedige beloning mee.” Lees gerus self die boek en verheug jou in “die goeie nuus” wat dit bevat, naamlik “God se krag tot redding”.—Romeine 1:16, NW.

[Venster/Prent op bladsy 24]

“Daar is geen [wêreldlike] mag behalwe van God nie.” Dit beteken nie dat God elke individuele heerser in sy posisie plaas nie. Inteendeel, wêreldlike heersers bestaan slegs omdat God dit toelaat. In baie gevalle het God voorsien en voorspel watter menseheersers sou regeer en hulle is dus “deur God in hulle relatiewe posisies geplaas”.—Romeine 13:1, vgl. NW.

[Erkenning]

Museo della Civiltà Romana, Roma

[Venster/Prent op bladsy 25]

Christene word aangesê: “Beklee julle met die Here Jesus Christus.” Dit beteken dat hulle noukeurig in Jesus se voetspore moet volg en hom moet navolg deur geestelike in plaas van vleeslike belange eerste in hulle lewe te stel, en dus ‘geen voorsorg te maak vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie’.—Romeine 13:14.

[Venster/Prent op bladsy 25]

Paulus het vir die Romeine gesê om ‘mekaar met ’n heilige kus te groet’. Maar hy het nie hier ’n nuwe Christelike gebruik of godsdiensritus ingestel nie. In Paulus se dag was ’n kus op die voorkop, lippe of hande dikwels ’n manier om mense te groet en om toegeneentheid of respek te betoon. Paulus het dus bloot verwys na ’n gebruik wat in sy dag algemeen was.—Romeine 16:16.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel