Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w85 12/1 bl. 8-12
  • Regverdig verklaar “vir die lewe”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Regverdig verklaar “vir die lewe”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Barmhartige reëling
  • 144 000 “heiliges”
  • Regverdig beskou​—Hoe en waarom?
  • Aangeneem as geestelike seuns
  • Erfgename van priesterskap en koningskap
  • “Die openbaarmaking van die kinders van God”
  • Regverdig verklaar as ’n vriend van God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Skep behae in Jehovah se regverdigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Die Romeine kry die allerbeste nuus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Waarom geregtigheid najaag?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
w85 12/1 bl. 8-12

Regverdig verklaar “vir die lewe”

“Deur een daad van regverdigmaking . . . word hulle regverdig verklaar vir die lewe.”​—ROMEINE 5:18, NW.

1. Wie honger en dors na geregtigheid, en hoe sal daar in hulle begeerte voorsien word?

“SALIG is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word” (Mattheüs 5:6). So ’n dors na geregtigheid sal ook nie net vir diegene aan wie ‘die koninkryk van die hemele behoort’ ten volle geles word nie, maar ook vir die wat ‘die aarde sal besit’ (Mattheüs 5:10; Psalm 37:29). Albei klasse het deel aan die hoop waarvan die apostel Petrus geskryf het: “Ons verwag volgens sy [God se] belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon” (2 Petrus 3:13). Ja, Jehovah God het ’n regverdige, nuwe hemelse regering belowe, “die koninkryk van die hemele”, en ’n regverdige “nuwe aarde”, of mensegemeenskap op ’n paradysaarde.

2. Watter verband is daar tussen Jehovah, geregtigheid en ons hoop op ’n vreedsame Nuwe Orde?

2 Maar wat moet ons presies verstaan onder regverdige nuwe hemele en ’n regverdige nuwe aarde? Dit beteken dat die nuwe hemelse regering sowel as die mensdom op aarde wat daardeur regeer word God se standaard vir reg en verkeerd moet erken. Jehovah is “die Woning van geregtigheid” (Jeremia 50:7). Geregtigheid is die fondament van sy soewereiniteit, of troonposisie in die heelal (Job 37:23, 24; Psalm 89:15). As daar vrede in die heelal moet wees, moet Jehovah se skepsele sy reg erken om standaarde vas te stel van wat regverdig en wat goddeloos is. Ons hoop op ’n regverdige Nuwe Orde hang andersyds daarvan af dat Jehovah by sy standaarde bly.​—Psalm 145:17.

3. Watter vraag ontstaan met die oog op Jehovah se volmaakte geregtigheid?

3 Die vraag ontstaan dus hoe die heilige en regverdige God Jehovah handelinge met onregverdige sondaars kan hê. (Vergelyk Jesaja 59:2; Habakuk 1:13.) Hoe kon hy aan sy verhewe standaarde van geregtigheid getrou bly en terselfdertyd onder sondaars diegene uitkies wat deel sal hê aan die regverdige, goewermentele “nuwe hemele”, en diegene wat ’n deel sal wees van die regverdige “nuwe aarde” as sy vriende aanvaar? Om dit te beantwoord, moet ons die Bybelse leerstelling van regverdigmaking, of regverdigverklaring, verstaan.

’n Barmhartige reëling

4. Waarom staan die sondige mensdom swaar in die skuld by God, en waarom kan ons onsself nie van hierdie skuld bevry nie?

4 In die Skrif word sondes met skulde vergelyk. (Kyk Mattheüs 6:12, 14; 18:21-35; Lukas 11:4.) Alle mense is sondaars en staan derhalwe swaar in die skuld by God. “Die loon van die sonde is die dood” (Romeine 6:23). Aangesien hulle deur hulle voorvader Adam ‘onder die sonde verkoop’ is, kan Adam se nakomelinge niks doen om hulleself van hierdie verpletterende skuld te bevry nie (Romeine 7:14). Slegs die dood van die skuldenaar kan dit uitwis, “want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde” (Romeine 6:7). Geen goeie werke wat gedurende ’n sondaar se lewe verrig is, kan terugkoop wat Adam verloor het of hom selfs ’n regverdige posisie voor God besorg nie.​—Psalm 49:8, 10; Romeine 3:20.

5. Hoe het Jehovah vir die sondige mensdom verligting gebied terwyl hy steeds sy volmaakte geregtigheid eerbiedig het?

5 Hoe kon Jehovah die sondige mensdom verligting bied sonder om sy eie standaarde van geregtigheid prys te gee? Die antwoord beklemtoon Jehovah se wysheid en onverdiende goedheid. Die apostel Paulus verduidelik dit pragtig in sy brief aan die Romeine. Hy skryf: “Dit is ’n vrye gawe dat hulle [sondaars] deur sy onverdiende goedheid regverdig verklaar word op grond van die verlossing deur die losprys wat deur Christus Jesus betaal is. God het hom as ’n soenoffer gestel deur middel van geloof in sy bloed. Dit het hy gedoen om sy eie regverdigheid te toon, want hy vergeef die sonde wat in die verlede​—terwyl God verdraagsaamheid beoefen het—​geskied het, ten einde in die teenswoordige tyd sy eie regverdigheid te toon, sodat hy regverdig sou wees, selfs wanneer hy die mens wat geloof in Jesus het regverdig verklaar.”​—Romeine 3:24-26, NW.

6. (a) Hoe het Christus se offer aan Jehovah se standaarde van geregtigheid voldoen, en wat is Jehovah dus gewillig om te doen? (b) Hoe kan God geregtigheid toeskryf aan ’n persoon wat geloof het?

6 Deur sy onverdiende goedheid het Jehovah Jesus se offer ten behoewe van Adam se afstammelinge aanvaar (1 Petrus 2:24). Dit was ’n gelykstaande, of ooreenstemmende, offer aangesien Jesus, as ’n volmaakte man, teruggekoop het wat die volmaakte man Adam verloor het (Exodus 21:23; 1 Timotheüs 2:6, vgl. NW). Aangesien daar aan geregtigheid voldoen is, is Jehovah liefdevol gewillig om die sondes ‘uit te delg’ of ‘uit te wis’ wat geskryf is op die rekening van “die mens wat geloof in Jesus het” (Jesaja 44:22; Handelinge 3:19). As so ’n man getrou bly, laat Jehovah nie net na om ‘hom sy misdade toe te reken’ nie, maar Hy skryf geregtigheid aan hom toe (2 Korinthiërs 5:19). Deur middel van hierdie barmhartige reëling ‘is baie tot regverdiges gestel’ (Romeine 5:19). Dit is een aspek van regverdigmaking, die daad van God waardeur ’n persoon as skuldeloos beskou word (Handelinge 13:38, 39). Wie is gedurende hierdie stelsel geregverdig, of regverdig verklaar?

144 000 “heiliges”

7. In watter opsig is Christus regverdig verklaar, en wat het derhalwe moontlik geword?

7 Dit was natuurlik nie nodig dat geregtigheid aan Christus toegeskryf word nie, aangesien hy waarlik regverdig was (1 Petrus 3:18). Nadat hy as ’n volmaakte man (“die laaste Adam”) tot die dood toe getrou gebly en sy reg tot lewe op die aarde opgeoffer het, het sy Vader, Jehovah, Jesus opgewek. Jesus is “regverdig verklaar in die gees”, dit wil sê, volgens sy eie verdienstelikheid in wese regverdig verklaar en as “’n lewendmakende Gees” opgewek (1 Korinthiërs 15:45; 1 Timotheüs 3:16, NW). Hy het deur sy offerdood die grondslag voorsien waarvolgens Jehovah geregtigheid aan geloofsmanne en -vroue kon toeskryf.​—Romeine 10:4.

8, 9. (a) Aan wie word geregtigheid eerste toegeskryf, en waarom? (b) Wie maak die “nuwe hemele” uit, en oor wat sal hulle regeer?

8 Diegene wat deur Jehovah gekies word om die regverdige “nuwe hemele”, of Koninkryksregering onder die Koning Jesus Christus, uit te maak, is logieserwys die eerstes wat in hierdie stelsel ten volle by hierdie barmhartige reëling baat vind. Die boek Daniël beskryf die seremonie in die hemele waar Christus, die Seun van die mens, “heerskappy en eer en koningskap” ontvang, sodat “volke en nasies en tale [op aarde] Hom [sal] vereer”. Daniël toon vervolgens dat “die koningskap en die heerskappy” ook aan “die heiliges van die Allerhoogste”, Jehovah, gegee word.​—Daniël 7:13, 14, 18, 27; vergelyk Openbaring 5:8-10.

9 Daar is geopenbaar dat die getal sodanige “heiliges” wat gekies is om saam met die Lam Jesus Christus op die hemelse berg Sion te heers 144 000 is, “wat gekoop is uit die mense” (Openbaring 14:1-5). Saam met Christus maak hulle die regverdige “nuwe hemele” van Jehovah se nuwe stelsel uit.

Regverdig beskou​—Hoe en waarom?

10. (a) Watter Bybelboek bespreek regverdigmaking die breedvoerigste, en aan wie is dit geskryf? (b) Wie word hoofsaaklik deur die Bybelse leerstelling van regverdigmaking geraak?

10 Die Bybelboek wat God se regverdigmaking van mense die breedvoerigste bespreek, is ongetwyfeld Paulus se brief aan die Romeine. Dit is interessant dat hy hierdie brief aan die “geroepe heiliges” gerig het (Romeine 1:1, 7). Dit verklaar waarom die leerstelling van “regverdigmaking”, of regverdigverklaring, soos uiteengesit deur Paulus, in verband met die 144 000 “heiliges” gebruik word.

11. Watter verband is daar tussen geloof, werke en regverdigmaking?

11 Die hoofpunt van Paulus se redenasie in Romeine is dat nòg Jood nòg nie-Jood ’n regverdige posisie voor God kan verkry deur werke, hetsy dit verrig word om aan die Mosaïese Wet te voldoen of bloot uit respek vir instinktiewe sedewette (Romeine 2:14, 15; 3:9, 10, 19, 20). Jood sowel as nie-Jood kan slegs regverdig verklaar word op grond van geloof in Christus se losprysoffer (Romeine 3:22-24, 29, 30). Die vermaning in die slothoofstukke van Romeine (12-15) toon egter dat sulke geloof deur godvrugtige werke gerugsteun moet word, soos Jakobus ook verduidelik (Jakobus 2:14-17). Sulke werke bewys eenvoudig dat die geregverdigde Christen die geloof het wat ’n voorvereiste is vir regverdigmaking deur God.

12, 13. (a) Waarom moet die 144 000 “heiliges” regverdig verklaar word? (b) Wat doen hulle met die lewensregte wat hulle ontvang?

12 Maar om watter dwingende rede moet Christene wat “geroepe heiliges” is regverdig verklaar word? Dit is waar die tweede aspek van regverdigmaking van toepassing is, naamlik dat God ’n persoon waardig verklaar vir die lewe as Sy volmaakte menseseun. Vanweë die rol wat hulle in die regverdige “nuwe hemele” moet speel, moet die 144 000 afstand doen van enige hoop op die ewige lewe op die aarde (Psalm 37:29; 115:16). In hierdie sin sterf hulle ’n offerdood. Hulle ‘word aan Christus se dood gelykvormig’.​—Filippense 3:8-11.

13 In ooreenstemming met die beginsel wat in die Mosaïese Wet uiteengesit is, moet enige offerande aan Jehovah sonder gebrek wees (Levitikus 22:21; Deuteronomium 15:21). Daar word van die 144 000 “heiliges” gepraat as “volmaakte regverdiges”.​—Hebreërs 12:23.

Aangeneem as geestelike seuns

14, 15. (a) Watter verandering ondergaan die 144 000 wat sonde betref? (b) In watter opsig word hulle tot” ’n nuwe lewe” opgewek?

14 Terwyl hierdie “heiliges” nog in die vlees lewe, ondergaan hulle ’n simboliese dood. Die apostel Paulus verduidelik: “Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe? Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel . . . aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam [met Christus] gekruisig is, sodat die liggaam van die sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie. Want hy wat gesterf het, is geregverdig van die sonde.”​—Romeine 6:2-7, vgl. NAV.

15 Die 144 000 “heiliges”, waarvan daar in hierdie tyd van die einde slegs ’n klein oorblyfsel op die aarde is, ‘sterf’ gedurende hulle menselewe ‘die sonde af’. Ná hulle simboliese dood word daardie “geroepe heiliges” tot “’n nuwe lewe” opgewek. Daar hy hulle regverdig verklaar het, is Jehovah in ’n posisie om hulle deur sy gees te verwek om sy geestelike “kinders” te wees. Hulle word “weer gebore” en as “kinders van God” aangeneem (Johannes 3:3; Romeine 8:9-16).a Hulle word geestelike Israeliete en word in die nuwe verbond geneem.​—Jeremia 31:31-34; Lukas 22:20; Romeine 9:6.

Erfgename van priesterskap en koningskap

16. Waarvan word die 144 000 “heiliges” erfgename?

16 As aangenome, geestelike “kinders” van God word die 144 000 “heiliges” ook ‘erfgename’ (Galasiërs 4:5-7). Paulus het aan ander geesverwekte Christene geskryf: “En as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Romeine 8:17). Wat is Christus se erfenis? Jehovah het hom ‘volgens die orde van Melgisedek vir ewig’ ’n Koning-Priester gemaak (Hebreërs 6:19, 20; 7:1). As “mede-erfgename” van Christus word geesverwekte Christene ook deur Jehovah as geestelike priesters gesalf (2 Korinthiërs 1:21; 1 Petrus 2:9). Daarbenewens is een van die uiteindelike oogmerke waarom hulle deur Jehovah regverdig verklaar word dat hulle later as konings “in die lewe heers deur die Een, Jesus Christus”.​—Romeine 5:17, vgl. NW.

17. (a) Wat moet gesalfde Christene daagliks doen hoewel hulle regverdig verklaar is? (b) Hoe ontvang hulle hulle beloning?

17 Terwyl hierdie gesalfde Christene nog op aarde is, moet hulle, hoewel hulle regverdig verklaar is, steeds teen hulle sondige neigings stry (Romeine 7:15-20). Hulle het Christus se bloed nodig om hulle te reinig van hulle daaglikse sondes weens onvolmaaktheid (1 Johannes 1:7; 2:1, 2). As hulle tot die einde van hulle aardse lewe getrou bly, sterf hulle letterlik en word hulle as ’n deel van die regverdige “nuwe hemele” opgewek tot “’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis”.​—1 Petrus 1:3-4; 2 Petrus 3:13.

“Die openbaarmaking van die kinders van God”

18, 19. (a) Waarop wag die menslike “skepping”? (b) Hoe sal “die kinders van God” ‘geopenbaar’ word, en waarom sien die menslike “skepping” met reikhalsende verlange hierna uit?

18 Hoe raak al hierdie dinge diegene​—wat baie talryker is as die 144 000 geestelike “kinders van God”—​wat honger en dors na geregtigheid maar wat hoop om die aarde te besit? Die apostel Paulus skryf oor hulle: “Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe . . . in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.”​—Romeine 8:19-21.

19 Sulke menslike “skepping”, wat hoop om vir ewig op ’n paradysaarde te leef, sien met “reikhalsende verlange” uit na die tyd​—nou naby—​wanneer die Koning Jesus Christus en die verrese “kinders van God” ‘geopenbaar’ sal word deur die huidige goddelose stelsel te vernietig en daarna “duisend jaar lank” as konings en priesters te regeer (Openbaring 20:4, 6). Gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus sal die menslike “skepping self vrygemaak . . . word van die slawerny van die verganklikheid”.

20. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

20 Hoe mense in die regverdige “nuwe aarde” uiteindelik “die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” presies sal verkry, en hoe die Bybelse leerstelling van regverdigmaking hulle selfs nou raak, sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a Kyk asseblief Die Wagtoring van 15 April 1982, bladsye 18-29, vir ’n diepgaande bespreking van ‘wedergeboorte’.

Ten opsigte van regverdigmaking deur God—

◻ Wat bedoel die Bybel met regverdige nuwe hemele en ’n regverdige nuwe aarde?

◻ Waarom moet die mensdom met Jehovah versoen word?

◻ Hoe is daar aan Jehovah se standaarde van geregtigheid voldoen?

◻ Waarom is die 144 000 die eerstes wat regverdig verklaar word, en wat doen hulle met die lewensregte wat hulle ontvang?

◻ Waarvan word die 144 000 erfgename saam met Christus?

[Venster op bladsy 11]

Daar is twee aspekte by regverdigmaking, of regverdigverklaring, betrokke:

(1) God beskou daardie persoon as skuldeloos

(2) God verklaar daardie persoon volmaak en waardig vir die ewige lewe op aarde

Die 144 000 gesalfde Christene word in albei opsigte regverdig verklaar. Hulle offer hulle menslike lewensregte op en word as geestelike “kinders” verwek wat geroep word om konings en priesters saam met Christus in die “nuwe hemele” te word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel