Ons het agt kinders in die tug van Jehovah grootgemaak
SOOS VERTEL DEUR OVERLAC MENEZES
“Hulle het op ’n tweesitplekfiets hier aangekom.”
Dit is hoe die Jornal de Resende in 1988 sy volbladberig oor ons gesin begin het toe ons van Resende na Lages in die suide van Brasilië verhuis het.
DIE berig het voorts gesê: “Ouer mense sal ongetwyfeld die egpaar onthou wat die aandag van Resende getrek het met hulle oorspronklike en vreemde vervoermiddel: ’n groot fiets met twee sitplekke. Voor was die ‘chauffeur’, Overlac Menezes, wat die fiets gestuur het; op die tweede sitplek, sy vrou, Maria José. Die jaar: 1956.”
Die skrywer van die artikel was ’n man genaamd Arisio Maciel, en hy was ook die direkteur van die plaaslike radiostasie. Hy het ons in 1956 vir die eerste keer ontmoet toe ek en my vrou rolle gehad het in die Wagtoringgenootskap se weeklikse radioprogram, Dinge waaroor mense dink. In die artikel het hy my woorde aangehaal toe ek gesê het dat “al die huise in Resende, straat vir straat, besoek is” gedurende ons verblyf.
Sal jy graag wil weet hoe ons so bekend geword het in Resende? En hoe ons, terwyl ons daar was, agt kinders ‘in die tug van Jehovah’ grootgemaak het terwyl ons gehelp het om al die huise in Resende met die goeie nuus van die Koninkryk te bereik?—Efesiërs 6:4, vgl. NW.
Hoe ons Jehovah se weë geleer het
In Januarie 1950 het Maria Minc, een van Jehovah se Getuies, ’n Bybelstudie begin hou met my suster Adeilde in São Paulo. Ek was toe 16 en ’n gedoopte Katoliek, maar ek was lank laas by die kerk. Ek het nietemin nog in God geglo en wou hom dien. Een aand het ek dus na Adeilde se huis gegaan om meer uit te vind oor die nuwe godsdiens wat sy ondersoek het. Maria Minc het my genooi om saam met hulle te studeer, en vir die eerste keer in my lewe het ek ’n Bybel gesien. Gedurende daaropvolgende studies was ek verbaas om in die Bybel te leer dat God se naam Jehovah is, dat die aarde binnekort ’n paradys sal wees, dat die helse vuur en vaevuur nie bestaan nie en dat die mens nie ’n onsterflike siel het nie. My familie het vir my gesê: “Jy sal van jou kop af raak as jy die Bybel so baie lees!”
Ek het goeie vordering gemaak met my Bybelstudie en het vergaderinge by die Koninkryksaal van die Belém-gemeente in São Paulo begin bywoon. Omdat ek verwag het om net grootmense daar te sien, was ek aangenaam verras toe ek baie jongmense van my eie ouderdom daar aangetref het. Op 5 Februarie 1950 het ek vir die eerste keer aan die predikingswerk deelgeneem, en op 4 November daardie selfde jaar het ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.
Kort daarna is ek as openbare spreker aangestel. Destyds het dit beteken dat ek toesprake op straat en in die parke gehou het deur ’n luidspreker te gebruik wat op ’n motor se buffer gemonteer was. Nog ’n werk was die tydskrifwerk. In daardie dae het ons gewoonlik met ons tydskrifsakke op straathoeke gestaan en uitgeroep: “Wagtoring en Ontwaak! kondig Jehovah se Koninkryk aan!” Ek het nie baie tydskrifte versprei nie, maar dit het my die moed gegee om in die openbaar te praat.
Voltydse diens as doelwit
My aandag is spoedig op die belangrikheid van die pionierdiens, of voltydse predikingswerk, gevestig. The Watchtower van 1 April 1950 het ’n artikel bevat met die titel “Al hoe meer pioniers van die goeie nuus.” Dit het gesê: “Om die Koninkryk eerste te soek beteken dat ’n mens te alle tye die Koninkryksbelange voor in jou gedagtes hou. So ’n persoon sal geleenthede soek om ten behoewe daarvan te dien, en sal nie alewig sy materiële behoeftes en die opgaar van wêreldse goed om sy toekoms te verseker eerste stel nie.” Hierdie woorde het die pioniergees in my hart laat posvat.
Nie lank daarna nie het ’n aantreklike jong vrou genaamd Maria José Precerutti my lewe op betekenisvolle wyse verander. Sy het goeie vordering gemaak in haar studie van die Bybel saam met ’n Getuiepaartjie, José en Dília Paschoal. Op 2 Januarie 1954 het sy my geliefde vrou, metgesel, vriend en helper geword. Dit was ook haar doelwit om as pionier te dien. Ons is aangemoedig deur die voorbeelde van sendelinge soos Harry Black, Edmundo Moreira en Richard Mucha, en het dus aansoek gedoen om die pionierdiens te betree. Stel jou ons vreugde—en angs—voor toe ons ’n antwoord ontvang het: “Jou aanbeveling as kringopsiener is goedgekeur”!
Toe ek my eerste toewysing as kringopsiener ontvang het, was ek paniekbevange. My nuwe kring het tien gemeentes in Brasilië se destydse hoofstad, Rio de Janeiro, waaronder ’n paar naby Bethel, ingesluit. Daar was ’n sendinghuis van die Wagtoring- Bybelskool Gilead in die eerste gemeente wat ek moes besoek. Op 22 het ek baie onervare gevoel, en ek het vir broer Mucha, wat destyds toesig oor die werk in Brasilië gehou het, gesê: “Wat kan ek hierdie mense leer?” Hy het geantwoord: “Broer, pas net die raad van die Bybel en die organisasie toe.” Inderdaad goeie advies!
’n Jaar later het Maria José swanger geraak, en ons moes die kringwerk laat vaar. Ons het gelukkig in die voltydse diens gebly. Op versoek van twee Finse gesinne, die Edviks en die Leiniös, het die Genootskap ons as spesiale pioniers na Resende, ’n feitlik onaangeraakte gebied met 35 000 inwoners, gestuur. Dit was die Leiniös wat ons die tweesitplekfiets gegee het wat in die artikel in die Jornal de Resende gemeld is. Die gebruik hiervan het ons gehelp om baie waarheidsaadjies in daardie vrugbare gebied te plant, en ons het etlike maande lank na ons dogter Alice se geboorte in 1956 aangehou om daar te werk. Toe ons daar weg is, het twee susters, Anita Ribeiro en Marian Weiler, die saad kom natmaak en ‘God het dit laat groei’. Vandag is daar nege gemeentes en meer as 700 verkondigers in Resende.—1 Korinthiërs 3:7.
Een van die eerste mense wat ek in Resende ontmoet het, was Manoel Queiroz. Terwyl ek op ’n bus gewag het, het ek twee boeke by hom gelaat waar hy gewerk het. Hy, en later sy vrou, Piedade, het goeie vordering gemaak en hulle is albei gedoop. Manoel het ’n ouere man in die gemeente geword en het tot met sy dood getrou gebly. Ek het ook met Álvaro Soares gestudeer. Met die eerste vergadering wat hy bygewoon het, was hy verbaas om net ses mense teenwoordig te sien, maar vandag is hy stadsopsiener in Resende waar meer as duisend die vergaderinge in die verskillende gemeentes bywoon. In 1978 het Álvaro se seun Carlos met ons dogter Alice getrou. Vandag is meer as 60 van die Soares-familie Getuies.
Toe ons Resende verlaat het, het dit beteken dat ons die voltydse diens verruil het vir ’n ander Christelike verpligting, naamlik om ‘vir die lede van ons huisgesin te sorg’ (1 Timotheüs 5:8, vgl. NW). Maar ons het daarna gestrewe om die pioniergees te behou deur die voltydse diens as ons doelwit voor oë te hou. Ek het werk gekry by ’n firma in São Paulo, en ek het ’n jaar lank elke naweek die 300 kilometer na Resende afgelê om die groep van 15 verkondigers daar te help. Toe, in 1960, het ons na Resende teruggetrek.
Die grootmaak van kinders—’n bykomende voorreg
Ons het regtig nie beplan om so baie kinders te hê nie, maar hulle het in elk geval gekom, die een na die ander. Na Alice was daar Léo, toe Márcia, Maércio, Plínio, André en uiteindelik, in 1976, die tweeling, Sônia en Sofia. Ons het elkeen vreugdevol aanvaar as ‘’n erfdeel van Jehovah’ (Psalm 127:3, vgl. NW). En elkeen is met Jehovah se hulp in die “ernstige vermaning van Jehovah” grootgemaak.—Efesiërs 6:4, NW.
Dit was egter nie ’n maklike taak nie. Soms het ons gehuil weens al die probleme. Maar dit was lonend. Hoe het ons hulle grootgemaak? Deur gesinstudie, deur hulle van kleins af saam met ons na vergaderinge en in die veldbediening te neem, deur dinge saam te doen, deur seker te maak dat hulle goeie omgang geniet, deur hulle ferm te dissiplineer en deur self ’n goeie voorbeeld te stel.
’n Paar jaar gelede het die kringopsiener, op die program by ’n byeenkoms in Cruzeiro, São Paulo, ’n onderhoud met ons gevoer. Nadat ek oor ons gesinstudie gesels het, het die kringopsiener my gevra: “Watter rol het jou vrou hierin gespeel?” Ek onthou dat trane in my oë opgewel het, en dat ek so ’n groot knop in my keel gehad het dat ek hom nie kon antwoord nie. Waarom nie? Omdat ek werklik die beslissende rol waardeer het wat Maria José gespeel het om ons gesin teokraties te hou. Sonder haar getroue ondersteuning sou dit beslis baie moeilik gewees het!
Sedert ons verlowing het ek en Maria José die Bybel saam gestudeer. Toe die kinders gekom het, het dit ’n ware uitdaging geword om die studie gereeld te hou. Om hiermee te help, het ek die tyd van die studie vir die volgende week en die materiaal wat bespreek sou word elke week op die yskasdeur aangebring. Ek het ook waar nodig spesiale opdragte gegee. Eendag het Márcia en Plínio byvoorbeeld aan tafel baklei. Die volgende dag het hulle dus op die yskas die opdrag gekry: “Hoe om met jou broers oor die weg te kom.” Tydens die volgende studie het hulle albei hulle sê gesê en hulle geskille besleg.
’n Ander probleem was op Sondagoggende wanneer die seuns dikwels gesê het dat hulle te siek voel om in die velddiens uit te gaan. Léo en Plínio was bedrewe daarin om maagpyne en ander siektes op te maak sodat hulle nie saam met ons in die predikingswerk kon uitgaan nie. Wanneer ek getwyfel het of hulle werklik siek was, het ek gewoonlik iets soos die volgende gesê: ‘As julle te siek is om in die velddiens uit te gaan, sal julle natuurlik nie gesond genoeg wees om later voetbal te speel nie.’ Hulle het gewoonlik merkwaardig vinnig herstel.
Soms moes ons situasies versigtig benader. Toe Léo 11 was, het hy saam met mede-Getuies gaan piekniek hou, en hy het sonder toestemming ’n kilogram ham gekoop om te eet. Toe ons later die rekening ontvang het, het Maria José vir Léo gevra: “Het jy vergeet dat jy die ham gekoop het?” “Nee”, het hy onskuldig geantwoord. “Ek het dit nie gekoop nie.” “Wel”, het sy gesê, “kom ons gaan praat met die winkeleienaar.” Op pad daarheen het Léo sy geheue herwin. “Nou onthou ek”, het hy gebieg, “ek het nie genoeg geld gehad nie; toe koop ek dit op rekening en vergeet om daarvoor te betaal.” Ek het self die bedrag betaal en het die eienaar gevra om Léo in diens te neem en hom te laat werk totdat hy genoeg geld verdien het om my terug te betaal. Dit was sy straf. Elke oggend om vieruur was Léo die eerste een om by die werk op te daag, en binne ’n maand het hy die volle bedrag aan my terugbetaal.
Ons huis was altyd vol pioniers, reisende opsieners, sendelinge en Betheliete. Ons het die meeste van die tyd nie ’n televisie in die huis gehad nie, en dit het ons gehelp om goeie studiegewoontes en Christelike gesindhede te ontwikkel. Ons het ons kinders in hierdie atmosfeer grootgemaak. ’n Paar van die briewe wat hulle aan ons gestuur het toe hulle groot was, bevestig dat dit goed gewerk het.—Sien venster op bladsy 30.
Ons dien weer as pioniers!
Toe die meeste van ons kinders groot was, het ek teruggedink aan die artikel in Die Wagtoring van 15 Mei 1955 met die titel: “Is die voltydse bediening vir u?” Dit het deels gesê: “Party [mag] geneig wees om die voltydse bediening as die uitsondering te beskou. Maar hierin dwaal hulle, want kragtens sy toewydingsgelofte is elke Christen genoodsaak om voltyds te dien tensy omstandighede waaroor hy geen beheer het nie dit onmoontlik maak.”
Een aand het ek tot Jehovah gebid om weer vir my die deur oop te maak om die voltydse diens te betree. My gesin het hulle samewerking gegee en vriende het my aangemoedig. Tot my groot verbasing het die direkteur van die firma waar ek al 26 jaar gewerk het, ingestem om my deeltyds te laat werk sodat ek as gewone pionier kon dien. Gevolglik het ek met vreugde die werk aangepak wat ek soveel jare tevore moes laat vaar. En drie van die kinders het my voorbeeld gevolg.
Ons het twee jaar lank in Itatiaia gedien, waar ek 15 jaar lank ’n ouere man was, en toe het ons besluit om te verhuis na waar daar meer hulp nodig was. Dit het beteken dat ons op ’n beskeie pensioen moes lewe, wat gelyk was aan ’n kwart van ’n goeie salaris. Nogtans het ons op Jesus se belofte in Mattheüs 6:33 vertrou en aan die Genootskap geskryf oor ons planne. ’n Week later was ons amper buite onsself van vreugde toe ons hulle antwoord ontvang het: “Dit lyk vir ons redelik om voor te stel dat julle na die stad Lages verhuis. Ondanks sy bevolking van meer as 200 000 is daar net 100 verkondigers in drie klein gemeentes. Julle sal baie hulp kan verleen in daardie gebied.”
Ons het in Februarie 1988 verhuis. En hier is ons nog, meer as 1 000 kilometer van ons kinders en vriende. Ons het so pas die ergste winter in 20 jaar beleef. Ek is die enigste ouere man in ons gemeente, en daar is dus baie om te doen. Maar ons is baie, baie geseënd. Veral die gebied verskaf ons baie vreugde. Wanneer ons aan mense se deure klop, sê hulle: “Kom asseblief binne!” Dit is maklik om Bybelstudies te begin. Ons aanvaar verskillende items as bydraes wanneer geld skaars is, en ons het al huis toe gekom met seep, reukweermiddels, skeermeslemmetjies, babaklere (vir ons kleinkind), graankos, groente, vrugte, joghurt, wyn en selfs roomys. Eenkeer het ons houtstoeltjies aanvaar!
Vrugte wat ryk loninge meebring
Vandag, op 56-jarige ouderdom, verskaf dit my vreugde wanneer ek aan ons gesin dink. Die kinders is nie “in die waarheid gebore nie”. Hulle is in ’n Christenhuis gebore, en die waarheid moes in hulle jong verstande en harte ingeskerp word. Dié wat getrou het, het “in die Here” getrou (1 Korinthiërs 7:39; Deuteronomium 6:6, 7). Ons het weliswaar foute gemaak en verkeerde oordeel aan die dag gelê. Soms het ons onregverdig opgetree. By geleentheid het ek nie die beste voorbeeld gestel nie of my verantwoordelikheid as vader en eggenoot verwaarloos. Wanneer ek besef het wat ek gedoen het, het ek Jehovah en my vrou of my kinders om vergifnis gevra, en het ek daarna gestrewe om my verkeerde optrede reg te stel.
Ondanks ons onvolmaakthede is ses lede van die familie—nou vergroot deur skoonseuns, skoondogters en kleinkinders—in die voltydse bediening; vier is ouere manne en een ’n bedieningskneg. Almal behalwe die kleinkinders is gedoop. Die drie minderjarige kinders wat nog by ons is, beplan om die voltydse diens hulle loopbaan te maak. Watter groter beloning kan daar tog wees? Ek is dankbaar teenoor Jehovah dat hy ons gerig het om ons kinders in sy tug groot te maak. Dit maak ons bly om te sien dat hulle steeds sy leringe navolg. En ek bid dat ons, én hulle, nooit van die weg van die lewe sal afdwaal nie.
[Venster op bladsy 30]
Toe ons kinders groot was, het hulle soms in briewe hulle waardering uitgespreek vir die manier waarop ons hulle grootgemaak het. Hier is ’n paar van hulle kommentare:
“Pa, wees verseker daarvan dat Pa en Ma die beste vir ons gedoen het, al het julle dalk foute gemaak—iets wat nou dikwels met my en Carlos gebeur met die grootmaak van ons seun Fabrício.”
Dogter Alice, 33, moeder van twee seuns.
“Ons moet erken dat julle ’n gesamentlike poging aangewend het om ons in die ernstige vermaning van Jehovah groot te maak. En hoe vind ons tog nou daarby baat!”
Dogter Márcia, 27, en haar man, wat op die kring dien.
“Ek besef dat die voorreg wat ek nou het nooit moontlik sou gewees het sonder die hulp wat ek van julle albei gekry het om ’n vaste geestelike grondslag te lê en liefde vir Jehovah en sy diens op te bou nie.”
Seun Maércio, 23, spesiale pionier.
“André, benut Pa se geselskap en ervaring ten volle. Moet nooit sy raad veronagsaam nie. Julle sal mekaar kan help. Ek is nou gelukkiger as ooit.”
Seun Plínio, 20, in Bethel.
[Foto-erkenning op bladsy 26]
Foto: MOURA
[Foto-erkenning op bladsy 27]
Foto: CALINO