Moenie jou huweliksmaat afskeep nie!
’N EGPAAR verlaat die Koninkryksaal. Die glimlaggende gesigte van die man en vrou weerspieël die geluk wat hulle as “een vlees” geniet, verenig in die aanbidding van hulle God, Jehovah (Mattheüs 19:6). Hulle het egter nie altyd daardie eenheid geniet of aan dieselfde geloof behoort nie. Daar was ’n tyd toe die vrou, Atsoeko, alleen vergaderinge bygewoon het. Sy het daarna huis toe gegaan na haar woedende man wat op haar geskreeu het. Haar man, Kazoetaka, was eenkeer so kwaad dat hy die etenstafel gegryp en met een beweging die hele aandete op die vloer omgekeer het.
Net soos Jesus voorspel het, het die ware Christelike godsdiens verdeeldheid in sommige huisgesinne veroorsaak (Mattheüs 10:34, 35). Maar soos Kazoetaka en Atsoeko geniet party nou godsdienseenheid en geluk in hulle huis. Sulke eenheid het natuurlik nie vanself gekom nie. Wat het die gelowiges gedoen om die teenstand te bowe te kom en ware harmonie in die gesin teweeg te bring? Kom ons kyk, voor ons dit bespreek, eers na die redes waarom sommige hulle huweliksmaat teenstaan.
Waarom het hulle teenstand gebied?
“As ek terugkyk”, erken Atsoeko, “besef ek dat ek vergaderinge toe gegaan het sonder om sake ooit aan my man te verduidelik.” Kazoetaka het kwaad geword omdat hy alleen gelaat is sonder dat hy ingelig is.
Teenstand kan ook weens jaloesie opvlam. Een jong man, Sjigeo, het ongegronde agterdog teen sy vrou se nuwe metgeselle begin koester. “Omdat my vrou haar grimeer het en na die vergaderinge gegaan het, het ek gedink dat daar ’n ander man in haar lewe is.” “Ons het nooit werklik ’n geleentheid gehad waar ons twee alleen kon gesels nie”, erken Masako, sy vrou. “Ek het nooit vir hom gesê hoe innig ek begeer dat hy ook die Christelike waarheid moet leer ken nie.”
Tosjiko, ’n huisvrou, het net soos Sjigeo gevoel. “Toe my man saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het ek beswaar gemaak omdat hy geleidelik al hoe meer tyd saam met die gemeente begin deurbring het. Ek het begin drink om van my gevoelens te ontvlug wanneer hy weg was.”
Tosjiko se woorde het nog ’n rede laat deurskemer—eensaamheid. Dit is hoe sommige voormalige teenstanders gevoel het wanneer hulle huweliksmaat gereeld na hulle vergaderinge gegaan het. “Wanneer ek alleen by die huis was, het ek eensaam gevoel”, sê een man. “Dit het vir my gevoel asof my vrou en kinders my verlaat het”, sê ’n ander. Aangesien die meeste mans dit moeilik vind om te sê: “Ek is eensaam, bly asseblief by die huis”, begin sommige hulle huweliksmaat se godsdiensbeoefening teenstaan.
Druk van vriende en familielede kan soms daartoe lei dat ’n huweliksmaat wat gewoonlik simpatiek is, teenstand bied. Daar word gesê dat ’n vrou in die Ooste gewoonlik “veel meer in die familie opgeneem word as wat sy met haar man verenig word”. Druk van familielede kan maklik tot onenigheid lei. Takasji se Christenvrou wou nie deelneem aan aanbidding by die familie se Boeddhistealtaar nie. “Sake is bemoeilik omdat ons naby my ouers gewoon het”, verduidelik Takasji. “My moeder het druk op my uitgeoefen; daarom het ek my vrou gedreig en geweld gebruik.”
Misverstande, wat deur swak kommunikasie baie vererger word, jaloesie, eensaamheid, of druk van familielede kan tot geweld lei. ’n Man wat sy vrou voorheen geslaan het, erken: “Ek wou nie hê dat ’n godsdiens my gesin van my moes wegneem nie.” ’n Ander sê: “Ek het ’n hekel daaraan gehad om huis toe te kom as daar niemand tuis was nie.” Miskien het hulle gedink: ‘As woorde nie hierdie godsdiensywer kan stop nie, sal ’n paar vuishoue dit wel doen.’
Gelukkig is al die egpare wat hierbo gemeld word later in aanbidding verenig. Hulle verdrietlike ondervindinge behoort nou tot die verlede. Maar omdat hulle dit deurgemaak het, kan hulle praktiese wenke gee wat kan help om potensieel plofbare situasies te ontlont en moontlik gesinne wat nog in hierdie opsig verdeeld is in aanbidding te verenig.
Bly by die waarheid
Wanneer jy jou hand uitsteek om ’n drenkeling uit die water te trek, moet jy sorg dat jy goeie vastrapplek het. As jy dit nie doen nie, kan jy self in die water beland. Die sleutel om jou huweliksmaat te help, is eweneens dat jy self in die lewensreddende waarheid moet vasstaan. “Toe my teenstand op die ergste was”, sê ’n man wat voorheen ’n teenstander was, “het my vrou steeds die kinders aan die hand geneem en na die vergaderinge gegaan. As sy verslap het, sou ek dalk getwyfel het dat haar geloof opreg was.”
Kazoetaka, wat die etenstafel omgegooi het, toon wat sy gesindheid verander het wanneer hy die res van sy verhaal vertel: “Ek het uiteindelik geweier om vir Atsoeko reisgeld te gee. Sy het nietemin al die vergaderinge bygewoon en die kinders saamgeneem. Om dit te doen het sy haar persoonlike besittings bietjie-bietjie verkoop. Ek het soos ’n gek gevoel en het nie meer die begeerte gehad om haar teen te staan nie. Pleks daarvan het ek die tydskrifte begin lees wat sy gelaat het waar ek dit sou sien.”
Kommunikeer met jou huweliksmaat
“Ek moes my man genooi het om saam met my van die Bybel te leer en hom vertel het hoe graag ek wou hê dat ons dit saam moet doen”, sê Kazoetaka se vrou, Atsoeko. “Hy was besorg oor my en die gesin. Goeie kommunikasie sou baie daartoe bygedra het om sy besorgdheid te verlig.” Ja, goeie kommunikasie is die sleutel tot begrip. Die Bybel maan: “Planne misluk sonder beraadslaging” (Spreuke 15:22). In hierdie verband moet “beraadslaging” met jou huweliksmaat oor jou godsdiensbedrywighede weldeurdag wees en taktvol gedoen word. “Die hart van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die lering op sy lippe”, sê die Bybel (Spreuke 16:23). Dit is net so belangrik om versigtig te wees sodat jy die regte tyd kies om te praat.—Prediker 3:7.
Hóé jy dit sê, is waarskynlik net so belangrik as wát jy sê. Die apostel Paulus maan: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord” (Kolossense 4:6). Wanneer jou woorde aangenaam is, op ’n smaakvolle manier geuiter word, sal jou huweliksmaat minder geneig wees om sy of haar ore te sluit vir wat jy te sê het.
Baie mans vind dit moeilik om deur hulle vrou geleer te word. Vrouens moet dus vindingryk wees. Kikoejo het goed gebruik gemaak van die Wagtoringgenootskap se publikasies. Sy sê: “Sodra my Ontwaak! deur die pos gekom het, het ek dit aandagtig deurgelees om artikels te vind wat my man sou interesseer. Dan het ek gebid vir ’n geleentheid om dit met hom te deel.” Sy het die tydskrif in die badkamer gelaat en elke dag die bladsye nagegaan om te sien of hy ’n artikel gelees het. As dit gelyk het of hy nie verder lees nie, het sy ’n ander tydskrif daar neergesit. Kikoejo se man is nou ’n bedieningskneg en ’n pionier.
Die krag van goeie gedrag
Maar sê nou jou huweliksmaat is nie bereid om met jou oor godsdiens te praat nie? As hy of sy ander Christene leer ken, kan dit jou huweliksmaat se vurige teenstand laat afneem en hom of haar beweeg om die Bybel te studeer. Masao, wat nou ’n ouere man is, het Jehovah se Getuies vroeër sy huis belet. Hy sê: “Ek het uiteindelik ingestem tot ’n Bybelstudie saam met die Getuies nadat my vrou my gesoebat het om te help met die bouwerk aan die Koninkryksaal. Dit het my geroer om almal so gelukkig te sien saamwerk—sonder betaling.”
Wat kan jy doen as jou huweliksmaat weier om met enigiemand oor godsdiens te praat? “Indien sommige nie gehoorsaam is aan die woord nie”, maan die apostel Petrus, “[kan] hulle sonder ’n woord gewen . . . word deur die gedrag van hulle [huweliksmaat].” Watter soort gedrag aan die kant van ’n Christenvrou kan byvoorbeeld haar man wen? “Eerbare gedrag tesame met diepe agting” wat “die verborge persoon van die hart in die onverderflike gewaad van die stille en sagmoedige gees” openbaar, sê Petrus.—1 Petrus 3:1-4, NW.
Een Christenvrou het hierdie beginsel toegepas toe haar opponerende man by ’n skandaal betrokke was. Al het dit hom die skande van die gemeenskap op die hals gehaal en hom finansieel geruïneer, het hy nie ’n enkele klagte van haar of van die kinders gehoor nie. “Ek het geweet dat hulle merkwaardige gedrag aan hulle Bybelstudie te danke was”, het die man erken. Nadat hy hulle jare lank teengestaan het, het hy die Bybel begin lees. Ander mans wat later Getuies geword het, sê: “Ek was ’n man wat die rok gedra het, maar skielik het my vrou my as die hoof van die huis gerespekteer.” “Wanneer my sakevriende na ons huis toe gekom het, het my vrou hulle hartlik verwelkom. Ek het daarvan gehou.”
Kinders se goeie gedrag kan ook die hart van teenstanders sag maak. Toe ’n vader wat sy vrou vroeër teengestaan het, gevra is wat sy gesindheid verander het, het hy gesê: “Wanneer my seuntjie van twee en ’n half jaar agtergekom het dat ek op die punt was om my humeur te verloor, het hy in ’n harde stemmetjie uitgeroep en gesê: ‘Die liefde is lankmoedig en vriendelik . . . ’” (1 Korinthiërs 13:4-7). Hierdie goed geleerde seuntjie het sy vader beweeg om die Bybel te ondersoek. Baie vaders het besluit om die Bybel te ondersoek omdat hulle kinders hulle gesmeek het om te studeer.
Ten slotte, ’n opgewekte benadering en ’n sin vir humor kan wondere verrig met jou huweliksmaat se gesindheid. Een man het vir sy gelowige vrou gesê om te vat wat sy wil en pad te gee, en nooit weer terug te kom nie. “Ek wil nie my kind, of geld, of materiële dinge hê nie”, het die vrou geantwoord. Toe het sy ’n groot foerosjiki (doek wat in Japan gebruik word om dinge in toe te draai en te dra) oopgegooi en gesê: “Niks is vir my kosbaarder as jy nie. Klim jy in die foerosjiki! Ek wil jou saam met my neem.” Die man het opgehou om sy vrou teen te staan, die Bybel begin studeer en dien nou as ’n ouere man.
As jy by die waarheid bly, goeie kommunikasie behou, heilsame omgang bied en jou goed gedra, sal jy jou huweliksmaat dalk kan help om ’n gelowige te word. “Selfs al klink dit nie of jou huweliksmaat ’n gelowige word nie”, sê ’n voormalige teenstander, “kan hy in sy hart aan die verander wees.” Moet dus nie tou opgooi nie. Neem die aanmoediging ter harte wat die apostel Paulus aan almal met ongelowige huweliksmaats gee: “Want hoe weet jy, vrou, of jy die man sal red; of hoe weet jy, man, of jy die vrou sal red?”—1 Korinthiërs 7:16.