Lewe na die dood—die onbeantwoorde vrae
“AS ’N mens sterwe, sal hy weer lewe?” (Job 14:14). Mense in elke gemeenskap deur die eeue heen het al gewonder oor hierdie vraag, wat eeue vantevore deur die aartsvader Job gevra is, en daar was geen tekort aan antwoorde nie.
Die eertydse Grieke het beweer dat die siele van die afgestorwenes voortgeleef het. Hulle is oor die Styxrivier na ’n ontsaglike ondergrondse ryk geneem wat die onderwêreld genoem is. Daar het regters die siele òf tot foltering in ’n tronk met hoë mure, òf tot saligheid in die Elisiese velde gevonnis. Ander eertydse volke het gedink dat siele sterre of komete geword het. Nog ander het die beskouing gehuldig dat siele liggewend was en na die maan opgetrek is; elke maand wanneer dit volmaan was, is hulle na die son verplaas.
Vandag is daar steeds volop teorieë oor ’n hiernamaalse lewe. Hindoes en Boeddhiste glo in reïnkarnasie. Moslems leer dat die siel na die afsterwe van die liggaam voortleef en gedurende die laaste oordeel òf paradys òf hel toe sal gaan. Die meeste Protestante word geleer dat siele na die dood voortleef om hemelse saligheid of foltering in die vlamme van die hel te ervaar. Katolisisme voeg Limbus en die vaevuur by hierdie scenario.
In sommige lande is opvattings van sogenaamde siele van die afgestorwenes ’n vreemde vermenging van plaaslike tradisie en die sogenaamd Christelike godsdiens. Byvoorbeeld, talle Katolieke en Protestante in Wes-Afrika het die gewoonte om spieëls te bedek wanneer iemand sterf, sodat niemand dalk kyk en die afgestorwe persoon se gees sien nie. Veertig dae na die dood van ’n geliefde sal familie en vriende fees hou om die siel se hemelvaart te vier. Daarna, gewoonlik tydens Kersfees of op Nuwejaarsdag, sal familielede die begraafplaas besoek en alkoholiese drank op die graf uitgooi. Hulle sal selfs met die afgestorwenes praat en hulle gunste vra en familienuus meedeel.
Dit is duidelik dat daar min eenstemmigheid onder die wêreld se godsdienste is oor wat presies na die dood gebeur. Nogtans is daar feitlik universele eenstemmigheid oor een fundamentele stelling: die onsterflikheid van die mensesiel. Die meeste leerstellings oor lewe na die dood is bloot variasies van hierdie grondtema.
Daar is nietemin etlike kwellende vrae wat opduik: Waar presies kom die idee vandaan dat die siel onsterflik is? Word dit in die Skrif geleer? As dit die geval is, waarom leer selfs nie-Christelike gelowe dit? Hierdie is vrae wat nie geïgnoreer moet word nie. Wat jou godsdiensoortuiging ook al is, die dood is ’n feit wat ’n mens onder die oë moet sien. Die geskille raak jou dus op ’n uiters persoonlike manier. Ons nooi jou derhalwe om hierdie kwessies onbevooroordeeld te ondersoek.