Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w99 4/1 bl. 9-14
  • Lewe ná die dood—Wat glo mense?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lewe ná die dood—Wat glo mense?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Baie antwoorde, ’n gemeenskaplike tema
  • Die oorsprong van die leerstelling
  • Die wêreldryk van valse godsdiens brei uit na die Ooste
  • Wat van Judaïsme, die Christendom en Islam?
  • Die idee vat pos in Judaïsme, die Christendom en Islam
    Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
  • Is daar lewe ná die dood?
    Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
  • Die onsterflikheid van die siel—Die oorsprong van die leerstelling
    Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
  • Lewe die siel na die dood voort?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
w99 4/1 bl. 9-14

Lewe ná die dood—Wat glo mense?

“As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe?”—JOB 14:14.

1, 2. Hoe probeer baie mense vertroosting vind wanneer hulle ’n geliefde aan die dood afgestaan het?

IN ’N roukamer in die stad New York stap vriende en familie stil by die oop kis van ’n 17-jarige seun verby wie se jong lewe deur kanker kortgeknip is. Die hartseer moeder herhaal oor en oor met trane in haar oë: “Tommy is nou gelukkiger. God wou Tommy by hom in die hemel hê.” Dit is wat sy geleer is om te glo.

2 Ongeveer 11 000 kilometer daarvandaan, in Jamnagar, Indië, steek die oudste van drie seuns die hout op die lykstapel van hulle afgestorwe vader aan die brand. Oor die geknetter van die vuur sing-praat die Brahmaan die Sanskritmantras: “Mag die siel wat nooit sterf nie, voortgaan in sy pogings om verenig te word met die hoogste werklikheid.”

3. Oor watter vrae dink mense al eeue lank na?

3 Die dood is ’n alomteenwoordige werklikheid (Romeine 5:12). Dit is net normaal vir ons om te wonder of die dood die einde van alles is. Job, ’n eertydse getroue kneg van Jehovah God het oor die natuurlike siklus van plante nagedink en gesê: “Daar is selfs vir ’n boom hoop. As hy afgekap word, sal hy weer uitspruit, en sy eie takkie sal nie ophou bestaan nie.” Wat dan van mense? “As ’n man sterf, kan hy weer lewe?” het Job gevra (Job 14:7, 14, NW). Deur die eeue heen het mense in elke gemeenskap al nagedink oor die vrae: Is daar lewe ná die dood? Indien wel, watter soort lewe? Wat glo mense dus? En waarom?

Baie antwoorde, ’n gemeenskaplike tema

4. Wat glo mense van verskillende godsdienste oor lewe ná die dood?

4 Baie naamchristene glo dat mense óf hemel óf hel toe gaan nadat hulle gesterf het. Daarenteen glo Hindoes aan reïnkarnasie. Volgens die Islamitiese geloof sal daar ’n oordeelsdag ná die dood wees, wanneer Allah elkeen se lewenswandel sal oordeel en ’n persoon na die paradys of die helse vuur sal stuur. In party lande is opvattings omtrent die dooies ’n eienaardige vermenging van plaaslike tradisie en die sogenaamde Christelike godsdiens. In Sri Lanka laat Boeddhiste sowel as Katolieke die deure en vensters byvoorbeeld wawyd oopstaan wanneer een van hulle huismense sterf, en die kis word so neergesit dat die voete van die oorledene na die voordeur wys. Hulle glo dat hierdie maatreëls dit vir die gees, of siel, van die oorledene makliker maak om uit te gaan. Onder baie Katolieke en Protestante in Wes-Afrika is dit gebruiklik om spieëls toe te maak wanneer iemand sterf sodat niemand daarin kan kyk en die dooie se gees sien nie. Veertig dae later sal familie en vriende dan die siel se hemelvaart vier.

5. Wat is ’n grondleerstelling waaroor die meeste godsdienste saamstem?

5 Ten spyte van hierdie verskille lyk dit of die meeste godsdienste ten minste oor een punt saamstem. Hulle glo dat iets binne-in ’n mens—hetsy dit ’n siel, ’n gees of ’n spook genoem word—onsterflik is en ná die dood van die liggaam voortleef. Byna al die honderde godsdienste en sektes van die Christendom staan geloof in die onsterflikheid van die siel voor. Hierdie opvatting is ook ’n amptelike leerstelling van Judaïsme. Dit vorm die grondslag van Hindoeïsme se reïnkarnasieleer. Moslems glo dat die siel voortleef nadat die liggaam gesterf het. Die Australiese inboorling, die Afrika-animis, die Sjintoïs, selfs die Boeddhis, leer almal verskillende weergawes van hierdie selfde tema.

6. Hoe beskou party geleerdes die idee dat die siel onsterflik is?

6 Daarenteen is daar diegene wat glo dat bewuste lewe by die dood eindig. Vir hulle is die idee dat emosionele en intellektuele lewe in ’n onpersoonlike, skimagtige siel apart van die liggaam voortduur heeltemal onredelik. Die 20ste-eeuse Spaanse geleerde Miguel de Unamuno skryf: “Om aan die onsterflikheid van die siel te glo, is om te wens dat die siel onsterflik moet wees, maar om dit so vurig te begeer dat hierdie wilsuiting alle rede sal ignoreer en die grense daarvan oorskry.” Ander wat hierdie opvatting gedeel het, sluit mense van uiteenlopende agtergronde in, soos die bekende eertydse filosowe Aristoteles en Epikurus, die geneesheer Hippokrates, die Skotse filosoof David Hume, die Arabiese geleerde Averroës en Indië se heel eerste premier ná onafhanklikheid, Jawaharlal Nehru.

7. Watter belangrike vrae oor die opvatting dat die siel onsterflik is, moet nou ondersoek word?

7 Aangesien ons voor sulke botsende idees en opvattings te staan kom, moet ons vra: Het ons werklik ’n onsterflike siel? As die siel in werklikheid nie onsterflik is nie, hoe kon so ’n valse leerstelling dan ’n wesenlike deel van soveel van vandag se godsdienste geword het? Waar het die idee ontstaan? Dit is noodsaaklik dat ons betroubare en bevredigende antwoorde op hierdie vrae vind, want ons toekoms hang daarvan af (1 Korintiërs 15:19). Maar laat ons eers ondersoek hoe die leerstelling van die onsterflikheid van die siel ontstaan het.

Die oorsprong van die leerstelling

8. Watter rol het Sokrates en Plato gespeel om die idee te bevorder dat die siel onsterflik is?

8 Die Griekse filosowe Sokrates en Plato van die vyfde eeu v.G.J. word beskou as van die eerstes wat die idee bevorder het dat die siel onsterflik is. Maar hierdie idee het nie sy oorsprong by hulle gehad nie. Hulle het dit eerder verfyn en in ’n filosofiese leerstelling verander, wat dit groter byval laat vind het by die geleerde klasse van hulle dag en dié daarna. Feit is dat die Zoroastriste van eertydse Persië en die Egiptenaars voor hulle ook aan die onsterflikheid van die siel geglo het. Die vraag is dus: Wat is die oorsprong van hierdie leerstelling?

9. Waardeur is die antieke kulture van Egipte, Persië sowel as Griekeland beïnvloed?

9 “In die antieke wêreld”, sê die boek The Religion of Babylonia and Assyria, “het Egipte, Persië en Griekeland die invloed van die Babiloniese godsdiens ondervind.” Hierdie boek sê verder aangaande die Egiptiese godsdiensopvattings: “In die lig van die vroeë kontak tussen Egipte en Babilon, soos die El-Amarna-tablette toon, was daar beslis baie geleenthede vir Babiloniese beskouings en gebruike om by Egiptiese kultusse ingelyf te word.”a Min of meer dieselfde kan van die ou Persiese en Griekse kulture gesê word.

10. Wat was die Babiloniese beskouing van lewe ná die dood?

10 Maar het die eertydse Babiloniërs aan die onsterflikheid van die siel geglo? Professor Morris Jastrow jr., van die Universiteit van Pennsilvanië, VSA, het hieroor geskryf: “Die gedagte dat dít wat eens in aansyn gekom het moontlik totaal vernietig kan word, het nooit by die mense of die leiers van [Babiloniese] godsdiens opgekom nie. Die dood was [na hulle mening] ’n oorgang na ’n ander soort lewe, en die ontkenning van onsterflikheid [van die huidige lewe] het bloot beklemtoon dat dit onmoontlik is om die verandering in bestaan, wat deur die dood veroorsaak word, vry te spring.” Ja, die Babiloniërs het geglo dat ’n soort lewe, in die een of ander vorm, ná die dood voortgesit word. Hulle het dit getoon deur voorwerpe saam met die dooies te begrawe wat hulle in die hiernamaals kon gebruik.

11, 12. Waar het die leerstelling van die onsterflikheid van die siel ná die Vloed sy oorsprong gehad?

11 Die leerstelling van die onsterflikheid van die siel kan dus ongetwyfeld tot eertydse Babilon teruggevoer word. Is dit van belang? Ja, beslis, want volgens die Bybel het Nimrod, ’n agterkleinseun van Noag, die stad Babel, of Babilon, gestig. Ná die wêreldvloed in Noag se dag het alle mense een taal gepraat en een godsdiens gehad. Nimrod was nie net “in verset teen Jehovah” nie, maar hy en sy volgelinge wou ‘’n naam vir hulleself maak’. Deur die stad te stig en ’n toring daar te bou het Nimrod dus ’n ander godsdiens begin.—Genesis 10:1, 6, 8-10, NW; 11:1-4.

12 Volgens tradisie het Nimrod ’n gewelddadige dood gesterf. Ná sy dood sou die Babiloniërs redelikerwys geneig gewees het om groot agting vir hom te hê as die stigter, bouer en eerste koning van hulle stad. Aangesien die god Mardoek (Merodag) as die stigter van Babilon beskou is en ’n aantal van die Babiloniese konings na hom vernoem is, het party geleerdes beweer dat Mardoek die vergoddelikte Nimrod verteenwoordig (2 Konings 25:27; Jesaja 39:1; Jeremia 50:2). Indien dit die geval is, dan was die idee dat ’n persoon ’n siel het wat ná die dood voortleef ten minste teen die tyd van Nimrod se dood reeds iets algemeens. Hoe dit ook al sy, geskiedenisverslae toon dat die leerstelling van die onsterflikheid van die siel ná die Vloed sy oorsprong in Babel, oftewel Babilon, gehad het.

13. Hoe het die leerstelling van die onsterflike siel regoor die aarde versprei, en wat was die gevolg?

13 Die Bybel toon verder dat God die pogings van die toringbouers by Babel gedwarsboom het deur hulle taal te verwar. Omdat hulle nie meer met mekaar kon kommunikeer nie, het hulle hulle projek gestaak en is hulle “daarvandaan oor die hele aarde verstrooi” (Genesis 11:5-9). Hoewel die spraak van hierdie voornemende toringbouers verander is, moet ons in gedagte hou dat hulle denke en idees nog dieselfde was. Waar hulle ook al heen gegaan het, het hulle godsdiensidees dus saam met hulle gegaan. Sodoende het Babiloniese godsdiensleerstellings—onder andere die onsterflikheid van die siel—regoor die aarde versprei en die grondslag geword van die vername godsdienste van die wêreld. ’n Wêreldryk van valse godsdiens is dus gestig, wat gepas in die Bybel beskryf word as “Babilon die Grote, die moeder van die hoere en van die walglike dinge van die aarde.”—Openbaring 17:5.

Die wêreldryk van valse godsdiens brei uit na die Ooste

14. Hoe het Babiloniese godsdiensopvattings na die Indiese subkontinent versprei?

14 Party geskiedkundiges sê dat grootskaalse migrasie meer as 3 500 jaar gelede ’n Ariese volk met ’n ligte vel uit die noordweste na die Indusvallei gebring het, wat nou grotendeels in Pakistan en Indië geleë is. Van daar af het hulle oor die vlaktes van die Gangesrivier en oor die hele Indië versprei. Party deskundiges sê dat die godsdiensopvattings van die migrerende volk op eertydse Iraanse en Babiloniese leringe gebaseer was. Hindoeïsme het dus sy oorsprong gehad by hierdie godsdiensidees.

15. Wat het daartoe aanleiding gegee dat die idee van ’n onsterflike siel hedendaagse Hindoeïsme beïnvloed het?

15 In Indië het die idee van ’n onsterflike siel die vorm van die reïnkarnasieleerstelling aangeneem. Hindoewysgere, wat met die universele probleem van boosheid en lyding onder mense geworstel het, het vorendag gekom met die wet van Karma, die wet van oorsaak en gevolg. Hulle het hierdie wet met geloof in die onsterflikheid van die siel gekombineer en die reïnkarnasieleerstelling ontwikkel, waarvolgens goeie en slegte dade in een lewe in die volgende lewe beloon of gestraf word. Die doelwit van die getroues is moksja, of om van die kringloop van hergeboortes bevry te word en een te word met wat die hoogste werklikheid, of Nirwana, genoem word. Namate Hindoeïsme deur die eeue heen versprei het, het die reïnkarnasieleerstelling ook versprei. En hierdie leerstelling het die grondslag van hedendaagse Hindoeïsme geword.

16. Watter opvatting aangaande die hiernamaals het die godsdiensdenke en -gebruike van die groot bevolking in Oos-Asië begin oorheers?

16 Uit Hindoeïsme het ander godsdienste ontstaan, soos Boeddhisme, Djainisme en Sikhisme. Hulle glo ook aan reïnkarnasie. En namate Boeddhisme die grootste deel van Oos-Asië—China, Korea, Japan en ander plekke—binnegedring het, het dit ’n groot invloed op die kultuur en godsdiens van die hele gebied gehad. Hieruit het godsdienste ontstaan wat ’n mengelmoes oortuigings ingesluit het, met elemente van Boeddhisme, spiritisme en vooroueraanbidding. Die invloedrykste hiervan is Taoïsme, Confucianisme en Sjinto. Sodoende het die opvatting dat lewe ná die dood van die liggaam voortduur die godsdiensdenke en -gebruike oorheers van die groot deel van die mensdom in daardie deel van die wêreld.

Wat van Judaïsme, die Christendom en Islam?

17. Wat het die eertydse Jode omtrent lewe ná die dood geglo?

17 Wat glo mense wat lede is van die godsdienste van Judaïsme, die Christendom en Islam omtrent lewe ná die dood? Van hierdie godsdienste is Judaïsme verreweg die oudste. Dit kan ongeveer 4 000 jaar, tot by Abraham, teruggevoer word—lank voordat Sokrates en Plato die teorie van die onsterflikheid van die siel geformuleer het. Die eertydse Jode het aan die opstanding van die dooies geglo en nie aan inherente menslike onsterflikheid nie (Matteus 22:31, 32; Hebreërs 11:19). Hoe het die leerstelling van die onsterflikheid van die siel Judaïsme dan binnegedring? Die geskiedenis verskaf die antwoord.

18, 19. Hoe het die leerstelling oor die onsterflikheid van die siel Judaïsme binnegedring?

18 In 332 v.G.J. het Aleksander die Grote die Midde-Ooste verower, en dit het Jerusalem ingesluit. Terwyl Aleksander se opvolgers sy program van vergrieksing voortgesit het, het ’n vermenging van die twee kulture plaasgevind—dié van die Grieke en die Jode. Jode het mettertyd met Griekse denke vertroud geraak, en party het selfs filosowe geword.

19 Filo van Aleksandrië, van die eerste eeu G.J., was een van hierdie Joodse filosowe. Hy het hoë agting vir Plato gehad en het Judaïsme in terme van Griekse filosofie probeer verduidelik, en sodoende die weg vir latere Joodse denkers gebaan. Die Talmoed—geskrewe kommentare oor mondelinge wette deur die rabbi’s—is ook deur Griekse denke beïnvloed. “Die rabbi’s van die Talmoed”, sê die Encyclopaedia Judaica, “het in die voortgesette bestaan van die siel ná die dood geglo.” Latere Joodse mistieke literatuur, soos die Kabbala, leer selfs reïnkarnasie. Die idee van die onsterflikheid van die siel het Judaïsme dus indirek deur Griekse filosofie binnegedring. Wat kan daar gesê word oor hoe die leerstelling in die Christendom posgevat het?

20, 21. (a) Wat was die vroeë Christene se standpunt ten opsigte van Platoniese, of Griekse, filosofie? (b) Wat het tot ’n vermenging van Plato se idees en Christelike leerstellings gelei?

20 Die ware Christelike geloof het by Jesus Christus begin. Miguel de Unamuno, wat vroeër aangehaal is, het oor Jesus geskryf: “Hy het aan die opstanding van die vlees geglo, volgens die Joodse manier, en nie aan die onsterflikheid van die siel, volgens die [Grieks-]Platoniese manier nie.” Hy het afgesluit: “Die onsterflikheid van die siel . . . is ’n heidense filosofiese dogma.” In die lig hiervan kan ons sien waarom die apostel Paulus die eerste-eeuse Christene ten sterkste gewaarsku het teen “die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense, volgens die elementêre dinge van die wêreld en nie volgens Christus nie”.—Kolossense 2:8.

21 Maar wanneer en hoe het hierdie “heidense filosofiese dogma” die Christendom binnegedring? The New Encyclopædia Britannica verduidelik: “Van die middel van die 2de eeu AD het Christene wat in Griekse filosofie onderrig is, gemeen dat hulle hulle geloof daarvolgens moet uitdruk, vir hulle eie intellektuele bevrediging sowel as om geleerde heidene te bekeer. Die filosofie wat hulle die beste gepas het, was Platonisme.” Twee van hierdie vroeë filosowe wat ’n baie groot invloed op die Christendom se leerstellings gehad het, was Origines van Aleksandrië en Augustinus van Hippo. Albei was grootliks beïnvloed deur Plato se idees en het daartoe bygedra dat daardie idees met Christelike leerstellings vermeng is.

22. Hoe het die leerstelling van die onsterflikheid van die siel ’n belangrike deel van Islam gebly?

22 Hoewel die idee van die onsterflikheid van die siel weens Platoniese invloed in Judaïsme en die Christendom posgevat het, was die konsep van die begin af ’n deel van Islam. Die Koran, die heilige boek van Islam, leer dat die mens ’n siel het wat ná die dood voortleef. Dit praat van die uiteindelike bestemming van die siel as lewe in ’n hemelse paradystuin of as straf in ’n brandende hel. Dit beteken nie dat Arabiese geleerdes nie Islamitiese leerstellings en Griekse filosofie probeer kombineer het nie. Trouens, die Arabiese wêreld is in ’n mate deur Aristoteles se werk beïnvloed. Maar Moslems glo nog steeds aan die onsterflikheid van die siel.

23. Watter belangrike vrae oor lewe ná die dood sal in die volgende artikel bespreek word?

23 Dit is duidelik dat godsdienste regoor die wêreld vorendag gekom het met ’n verstommende reeks opvattings van die hiernamaals, wat gebaseer is op die lering dat die siel onsterflik is. En sulke opvattings het miljarde mense beïnvloed, ja, selfs oorheers en ’n houvas oor hulle gekry. In die lig van al hierdie idees voel ons verplig om te vra: Is dit moontlik om die waarheid te weet oor wat met ons gebeur wanneer ons sterf? Is daar lewe ná die dood? Wat sê die Bybel daaroor? Ons sal dit in die volgende artikel bespreek.

[Voetnoot]

a El-Amarna is die terrein met ruïnes van die Egiptiese stad Akhetaton, wat vermoedelik in die 14de eeu v.G.J. gebou is.

Kan jy verduidelik?

◻ Wat is ’n gemeenskaplike tema wat in die meeste godsdienste se opvattings oor lewe ná die dood voorkom?

◻ Hoe toon die geskiedenis en die Bybel dat die leerstelling van die onsterflike siel in eertydse Babilon ontstaan het?

◻ In watter opsig is Oosterse godsdienste deur die Babiloniese opvatting van die onsterflikheid van die siel beïnvloed?

◻ Hoe het die lering van die onsterflikheid van die siel Judaïsme, die Christendom en Islam binnegedring?

[Prente op bladsy 12, 13]

Aleksander die Grote se verowering het tot die vermenging van die Griekse en Joodse kulture gelei

Augustinus het probeer om Platoniese filosofie met die Christelike godsdiens te laat saamsmelt

[Erkennings]

Aleksander: Musei Capitolini, Roma; Augustinus: Uit die boek Great Men and Famous Women

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel