Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 10/15 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe beskou Jehovah se Getuies begrafnisse?
    Algemene vrae oor Jehovah se Getuies
  • Die Christelike beskouing van begrafnisgebruike
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Christelike begrafnisse—Waardig, beskeie en aanneemlik vir God
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Vereer jy die dooies?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 10/15 bl. 30-31

Vrae van lesers

◼ Waarom vertaal die New World Translation die Hebreeuse woord ʽa·roemʹ in Genesis 3:1 met “versigtig”, aangesien ander Bybelvertalings “listig” of “slim” sê?

Daardie teks lui: “Maar die slang was listiger as [“die versigtigste van”, NW] al die diere van die veld wat die HERE God gemaak het. En hy sê vir die vrou: Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?”

In Spreuke 12:23 en op ander plekke vertaal die New World Translation die Hebreeuse woord ʽa·roemʹ met “skerpsinnig”, wat een grondbetekenis van die woord is wanneer dit op mense van toepassing is. Maar soos met so baie ander woorde het ʽa·roemʹ verskillende betekenisnuanses. Benjamin Davidson definieer ʽa·roemʹ byvoorbeeld soos volg: “I. slinks, listig, subtiel.—II. omsigtig, versigtig.”—The Analytical Hebrew and Chaldee Lexicon.

Waarom kies die New World Translation dan die bybetekenis, naamlik “versigtig”, in Genesis 3:1? Daardie keuse is in harmonie met ander vertalings. Toe Genesis 3:1 byvoorbeeld in die Septuagintvertaling van die derde eeu v.G.J. in Grieks vertaal is, is die woord froʹni·mos gebruik—dieselfde woord wat later in Mattheüs 10:16 gebruik is: “Wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe.”

Hebreeuse geleerde Ludwig Koehler het in 1945 dié kommentaar gelewer: “Die slang is skugter. Dit kan in Grieks baie goed uitgedruk word met fronimos, want deur hierdie skugterheid of versigtigheid openbaar die slang dat hy frenes besit en beoefen.” Freʹnes beteken hier ’n soort instinktiewe wysheid wat ander diere ook openbaar.—Vergelyk Spreuke 30:24, NW.

Daar is egter ’n belangriker rede waarom die woord “versigtig” pleks van “listig” of “slim” in Genesis 3:1 gebruik word. As dit hier sê dat die slang slim is, net voordat dit beskryf hoe hy Eva verlei het om te sondig, kan baie lesers die gevolgtrekking maak dat die Bybel ’n blote slang uitbeeld wat hierdie plan deur middel van sy eie buitengewone slimheid beraam het. So ’n interpretasie sal die verslag tot die status van ’n mite verlaag—en om die minste te sê, ’n taamlik verspotte mite.

Die Bybel leer daarenteen dat iets meer as net die een of ander slim slang daar in die tuin van Eden aan die werk was. Openbaring 12:9 (NW) identifiseer Satan die Duiwel duidelik as daardie “oorspronklike slang”. Hy was die onsigbare, bomenslike mag wat die eenvoudige reptiel gemanipuleer het soos wat ’n meesterbuikspreker met sy pop werk. Die natuurlike versigtigheid van die slang het hom ’n ideale keuse gemaak vir die set. Toe hy nie volgens sy aard versigtig teruggedeins het nie, maar eerder sy mond met vrymoedigheid oopgemaak en met Eva begin praat het, het dit Eva se aandag op doeltreffender wyse getrek.

Daar is geen mites in God se geïnspireerde Woord nie, en deur middel van akkurate vertaling help die New World Translation ons om hierdie feit te waardeer.—2 Timotheüs 3:16, NW.

◼ Waarom beskou Jehovah se Getuies dit nogtans as belangrik om begrafnisse van medegelowiges by te woon, aangesien hulle weet dat die dooies van niks bewus is nie?

Juiste kennis van die Bybel oor die toestand van die dooies beskerm Jehovah se Getuies teen verkeerde gesindhede en gevolglik onverstandige gedrag by begrafnisse. Dit gee hulle ook rede om Christenbegrafnisse by te woon.

God se Woord toon duidelik dat wanneer ’n mens sterf hy nie as ’n onsterflike siel voortleef nie (Prediker 9:5). Wanneer hy sterf, keer sy liggaam terug na die stof, hetsy deur natuurlike ontbinding of deur verassing. Die afgestorwene is nie meer lewend nie; hy sal weer lewe net as God hom in die toekoms opwek.—Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.

Jehovah se Getuies volg dus nie begrafnisgebruike wat gegrond is op die opvatting dat ’n dooie mens ’n onsterflike siel het wat iewers voortlewe nie. Hulle neem nie deel aan lykwake met luide dreunsange of weeklagte om “die geeste” te verdryf of aan deurlopende nagwake of uiterste roubedrywe wat daarop gemik is om die dooies te paai nie.

Dit beteken egter nie dat God se volk nie rou nie. Dit is selfs vir ware aanbidders wat juiste kennis omtrent die dooies het ’n hartseer ondervinding wanneer ’n familielid of hegte vriend sterf. Byvoorbeeld, toe Jakob gedink het dat ’n wilde dier Josef doodgemaak het, het die aartsvader “oor sy seun gerou, baie dae lank”. Ons lees: “Al sy seuns en al sy dogters het moeite gedoen om hom te troos” (Genesis 37:33-35). Toe getroue Jakob gesterf het, het Josef “aan sy dienaars, die geneeshere, bevel gegee om sy vader te balsem”, en “die Egiptenaars het hom sewentig dae lank beween”. Hoewel Jakob se familie nie die Egiptenaars se valse opvattings ten opsigte van die dooies gehuldig het nie, was hulle uiteraard ontroer deur Jakob se dood. “Die hele huis van Josef en sy broers” wou hê dat Jakob behoorlik begrawe word, en selfs buitestaanders kon sien dat hulle getreur het.—Genesis 50:1-11.

Talle ander Bybelse voorbeelde kan gemeld word waar Jehovah se knegte waarlik ontroer was deur die dood van ’n medegelowige of familielid en derhalwe op die regte manier getreur het.a Toe Jesus saam met Lasarus se treurende familielede was, was Jesus nie ongevoelig onbewoë of op onvanpaste wyse jolig nie. Hoewel Jesus vertroue in die krag van die opstanding gestel het, het hy geween (Johannes 11:33-35). Toe Jesus gesterf het, het sy dissipels getreur, selfs al het hy vir hulle gesê dat hy doodgemaak en weer opgewek sou word.—Mattheüs 16:21, 28; Johannes 16:17-20; 20:11.

God se knegte van vandag kan die hartseer ervaar wat die dood meebring, en hulle ervaar dit wel. Nogtans help hulle insig in die Bybel om hulle hartseer te versag of gebalanseerd te maak, ooreenkomstig 1 Thessalonicense 4:13, 14: “Broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring.”

Wat dan van die bywoning van ’n Christelike begrafnis (of ’n gedenktoespraak vir ’n gelowige)? Daar is Bybelse redes waarom Getuies dit as nuttig beskou om sulke begrafnisse te hou en by te woon.

Hou in gedagte dat al Jakob se ‘seuns en al sy dogters moeite gedoen het om hom te troos’ toe dit gelyk het of hy sy seun verloor het (Genesis 37:35). In baie lande is dit gebruiklik dat familielede vir ’n begrafnis bymekaarkom. Dit gee ander, wat dalk nie so na aan die afgestorwene was en emosioneel dus nie so ontroer is nie, die geleentheid om hul simpatie te betuig en vertroosting te bied. Toe Lasarus gesterf het, ‘het baie van die Jode by Martha en Maria gekom om hulle oor hul broer te troos’ (Johannes 11:19). Dit geld ook vir Christene wat “die wat in allerhande verdrukking is” wil vertroos.—2 Korinthiërs 1:4.

Hoewel Christenopsieners dalk baie besig is, moet hulle die leiding neem om vertroosting aan die kudde te bied. Hulle hou in gedagte dat hulle voorbeeld Jesus, die Goeie Herder, gestuur is om ‘die gebrokenes van hart te verbind en om al die treurendes te troos’ (Jesaja 61:1, 2; Johannes 10:14). Jesus het nie net wanneer dit gerieflik was sulke vertroosting gebied nie. Hy was bereid om moeite te doen om by Lasarus se bedroefde familie te wees—om in hulle smart te deel.—Johannes 11:11, 17, 33.

Selfs Christene wat dalk nie baie vir die bedroefdes by ’n begrafnis kan sê nie, kan goed doen bloot deur hulle teenwoordigheid. Treurende familielede kan baie troos put uit die simpatieke teenwoordigheid van baie mense—jonk en oud—in die Christengemeente. Dink aan die reaksie van party Jode toe Jesus na Lasarus se bedroefde susters gekom het: “Kyk, hoe lief Hy hom gehad het!” (Johannes 11:36). Ongelowige familielede, bure of sakevennote wat die begrafnis van ’n Christen bygewoon het, was al baie beïndruk deur die groot getal Getuies aanwesig en was dus meer ontvanklik vir die Bybelwaarhede wat aangebied is.

Getuies wat die begrafnis bywoon se gedrag moet by die omstandighede pas. Hoewel hulle weet dat die afgestorwene nie ly nie en hulle vol vertroue is dat daar ’n opstanding vir alle lojales in die vooruitsig is, neem hulle dié raad ter harte: ‘Daar is ’n tyd om te ween en ’n tyd om te lag, ’n tyd om te weeklaag en ’n tyd om van vreugde rond te spring’ (Prediker 3:4). ’n Begrafnis of ’n gedenkdiens is nie ’n tyd vir luiddrugtige, skertsende praatjies nie. Dit is ’n geleentheid om empatie te betuig, in ooreenstemming met die raad: “Wees bly met die wat bly is, en ween met die wat ween.”—Romeine 12:15.

Daar is nog ’n rede waarom Jehovah se Getuies begrafnisse bywoon. God se Woord sê: “Dit is beter om te gaan na ’n klaaghuis as om te gaan na ’n huis van maaltyd; want die eerste is die einde van al die mense, en die lewende kan dit ter harte neem. . . . Die hart van die wyse manne is in die klaaghuis, maar die hart van die dwase in die huis van vreugde.”—Prediker 7:2-4.

Hoewel Jehovah se Getuies rede het om te hoop, is daardie woorde geïnspireer en in die Bybel geplaas tot ons nut. ’n Begrafnis kan vergelyk word met “’n klaaghuis”. Wanneer ons dit bywoon, kan ons gedagtes van alledaagse sorge en bedrywighede afgelei word sodat ons aan die kortstondigheid van die lewe dink. Die dood kan enigeen van ons, hetsy deur siekte of die een of ander “onvoorsiene gebeurtenis”, oorval en ons in die niet laat verdwyn, want “die mens ken ook sy eie tyd nie” (Prediker 9:11, 12, vgl. NW). Ouers wie se kinders saam met hulle by ’n begrafnis is, vind dalk dat dit kan lei tot ’n bespreking van die werklikheid van die dood, ons behoefte aan die losprys en hoe verstandig dit is om die “God wat die dode opwek” te dien.—2 Korinthiërs 1:9; Prediker 12:1, 13.

Jehovah se Getuies beskou begrafnisse nie as sakramente nie, maar hulle besef wel dat hierdie hartseer gebeurtenisse ’n geleentheid bied om vertroosting te gee. Deur hulle by te woon, kan Christene blyk lewer van die liefde en respek wat hulle vir hul mede-Christen gehad het. En hulle kan beweeg word om ernstiger na te dink oor die betekenis van die lewe en hoe hulle hul lewe voor God moet lei.

[Voetnote]

a Genesis 23:2, 19; Numeri 20:29; Deuteronomium 34:7, 8; 2 Samuel 1:11, 12; 3:31-34; 13:32-37; 18:33; 2 Kronieke 35:24, 25; Job 1:18-20; Psalm 35:14; Jeremia 9:1; Lukas 7:12, 13; 8:49-52; Handelinge 8:2; 9:39.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel