Jesus se lewe en bediening
Van Pilatus na Herodes en weer terug
TOE Jode Jesus daarvan beskuldig dat hy sê hy is ’n koning, gaan Pilatus weer in die goewerneur se paleis in om hom te ondervra. Hoewel Jesus glad nie probeer wegsteek dat hy ’n koning is nie, verduidelik hy dat sy Koninkryk nie ’n bedreiging vir Rome is nie.
“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie”, sê Jesus vir Pilatus. “As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.” Jesus erken dus drie keer dat hy ’n Koninkryk het, hoewel dit nie ’n aardse koninkryk is nie.
Maar Pilatus dring verder by hom aan: “Is U dan tog ’n koning?” Met ander woorde, is jy ’n koning selfs al is jou Koninkryk nie van hierdie wêreld nie.
Jesus laat Pilatus verstaan dat hy tot die regte slotsom gekom het, en antwoord: “U sê dat Ek ’n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem.”
Ja, Jesus se bestaan op aarde getuig van “die waarheid”, veral die waarheid omtrent sy Koninkryk. Jesus is bereid om aan daardie waarheid getrou te bly selfs al kos dit hom sy lewe. Hoewel Pilatus vra: “Wat is waarheid?” wag hy nie vir verdere verduideliking nie. Hy het genoeg gehoor om ’n oordeel te vel.
Pilatus keer terug na die skare wat buitekant die paleis wag. Met Jesus klaarblyklik aan sy sy sê hy vir die owerpriesters en diegene saam met hulle: “Ek vind geen skuld in Hom nie.”
Die skare is woedend oor die besluit en hou aan sê: “Hy maak die volk oproerig met sy leer die hele Judea deur, vandat Hy in Galilea begin het tot hier toe.”
Die Jode se onredelike fanatisme verbaas Pilatus ongetwyfeld. Terwyl die owerpriesters en ouderlinge aanhou skreeu, draai Pilatus na Jesus en vra: “Hoor U nie hoe baie dinge hulle teen U getuig nie?” Maar Jesus wend steeds geen poging aan om te antwoord nie. Sy kalmte te midde van die wilde aantygings verstom Pilatus.
Toe Pilatus uitvind dat Jesus ’n Galileër is, sien hy ’n uitweg om van sy verantwoordelikheid ontslae te raak. Die heerser van Galilea, Herodes Antipas (seun van Herodes die Grote) is in Jerusalem vir die Paasfees. Pilatus stuur Jesus dus na hom toe. Herodes Antipas het Johannes die Doper vroeër onthoof, en Herodes het bang geword toe hy hoor hoe Jesus wonderwerke verrig, want hy het gevrees dat Jesus in werklikheid Johannes is wat uit die dood opgewek is.
Nou is Herodes oorstelp van vreugde by die vooruitsig om Jesus te sien. Dit is nie omdat hy oor Jesus se welvaart bekommerd is nie of omdat hy ’n werklike poging wil aanwend om uit te vind of die beskuldigings teen hom waar of vals is nie. Inteendeel, hy is net nuuskierig en hoop om te sien hoe Jesus ’n wonderwerk verrig.
Maar Jesus weier om Herodes se nuuskierigheid te bevredig. Trouens, terwyl Herodes hom ondervra, sê hy nie ’n woord nie. Herodes is teleurgesteld, en hy en sy soldate skeer die gek met Jesus. Hulle sit ’n blink kleed om hom en dryf die spot met hom. Dan stuur hulle hom terug na Pilatus. Gevolglik word Herodes en Pilatus, wat voorheen vyande was, goeie vriende.
Wanneer Jesus terugkeer, roep Pilatus die owerpriesters, die Joodse heersers en die volk bymekaar en sê vir hulle: “Julle het hierdie man na my gebring as een wat die volk afvallig maak. En nou het ek in julle teenwoordigheid ondersoek ingestel en in hierdie man geen skuld gevind aan die dinge waaraan julle Hom beskuldig nie; ja, ook Herodes nie, want ek het julle na hom gestuur; en daar is deur Hom niks gedoen wat die dood verdien nie. Nadat ek Hom dan gekasty het, wil ek Hom loslaat.”
Pilatus het Jesus dus twee keer onskuldig verklaar. Hy is gretig om hom los te laat, omdat hy besef dat dit net uit afguns is dat die priesters hom oorgelewer het. Maar terwyl Pilatus steeds probeer om Jesus los te laat, kry hy nog ’n sterk motivering om dit te doen. Terwyl hy op sy regbank sit, stuur sy vrou ’n boodskap na hom, en maan sy hom: “Moet tog niks te doen hê met dié regverdige man nie, want ek het vandag in ’n droom [klaarblyklik van goddelike oorsprong] baie gely om sy ontwil.”
Maar hoe kan Pilatus hierdie onskuldige man loslaat, aangesien hy weet dat hy dit behoort te doen? Johannes 18:36-38; Lukas 23:4-16; Mattheüs 27:12-14, 18, 19; 14:1, 2; Markus 15:2-5.
◆ Hoe beantwoord Jesus die vraag omtrent sy koningskap?
◆ Wat is “die waarheid” waarvan Jesus gedurende sy aardse lewe getuienis gelewer het?
◆ Wat is Pilatus se oordeel, hoe reageer die mense en wat doen Pilatus met Jesus?
◆ Wie is Herodes Antipas, waarom is hy so bly om Jesus te sien en wat doen hy met hom?
◆ Waarom is Pilatus gretig om Jesus los te laat?