Waarom godsdiens ernstig opneem?
“DIE mens kan nie van brood alleen lewe nie” (Mattheüs 4:4, The New English Bible). Hierdie woorde wat so dikwels aangehaal word, roer ’n menslike behoefte aan wat talle vandag uit die oog verloor het. Dit toon dat ons ’n ingeskape geestelike deel het wat bevredig moet word. Dit is waarom die een wat daardie woorde gespreek het, Jesus Christus, ook gesê het: “Hoe geseënd is dié wat hulle behoefte aan God ken.”—Mattheüs 5:3, NEB.
Net godsdiens kan ons “behoefte aan God” vervul. Net godsdiens kan ons fundamentele vrae oor die oorsprong, doel en betekenis van die lewe beantwoord. En net godsdiens kan ware betekenis en vastigheid aan ons lewe gee. Maar nie sommer enige godsdiens sal al hierdie dinge doen nie. Jesus het vir ’n Samaritaanse vrou gesê: ‘Die ware aanbidders sal die Vader in gees en waarheid aanbid’ (Johannes 4:23). Om ‘in waarheid’ te aanbid, beteken meer as om eeue-oue tradisies en ritusse te volg. Dit laat aanhangers dikwels maar net tydelik gelukkig voel, terwyl dit hulle geestelik honger laat.
Edwin O. Reischauer, gewese Amerikaanse ambassadeur in Japan, het byvoorbeeld gesê: “Die Sjinto en Boeddhisme is vir die meeste mense eerder ’n saak van gewoonte en tradisie as van vaste oortuigings.” Baie Japannese is weliswaar tevrede met hierdie toedrag van sake. Maar ’n klomp “nuwe godsdienste” in Japan toon dat daar toenemende ontevredenheid met tradisionele godsdiens is.
Die “nuwe godsdienste” is geneig om die aandag op charismatiese leiers—nie op God nie—te vestig. Baie van hierdie godsdiensleiers beweer dat hulle deur God geïnspireer is. Maar hulle leerstellings is gewoonlik weinig meer as ’n samesmelting van Boeddhisme, die Sjinto en ander gelowe—met ’n groot dosis van die stigter se filosofie daarby. Hulle trekkrag lê dikwels in die belofte van ’n beter lewe en sogenaamde verborge of geneeskragte. Maar lewer sulke godsdienste bewys dat hulle hulle volgelinge leer om “in gees en waarheid” te aanbid? Nouliks. Om maar een rede te noem, sulke godsdienskultusse is geneig om te kom en te gaan. Die feit dat hulle ’n gier is, gee weinig rede om hulle ernstig op te neem.
’n Godsdiens wat ernstig opgeneem moet word
Maar daar is ’n godsdiens wat al langer bestaan as enige ander vorm van aanbidding. Dit is die godsdiens wat in die Heilige Bybel geleer word. Daar is sowat 35 eeue gelede begin om die Bybel te skryf, en van die ‘geskiedenisse’ wat in sy vroeë hoofstukke bewaar is, gaan meer as duisend jaar verder terug.a Dit bevat die oudste gegewens wat oor die oorspronge van godsdiens beskikbaar is. Dit alleen is rede om die godsdiens van die Bybel ernstig te ondersoek.
The Encyclopedia Americana sê aangaande die Bybel: “Sy lig ‘het in die hele wêreld uitgegaan’. Hy word nou as ’n skat van sedelike beginsels en godsdiens beskou waarvan die onuitputlike leer belowe om selfs waardevoller te wees namate die hoop van ’n wêreldbeskawing toeneem.” Maar as ’n boek werklik ’n betroubare gids tot die ware godsdiens is, sal jy verwag dat dit die boek moet wees wat die grootste verspreiding geniet, dat dit vir alle waarheidsoekers toeganklik moet wees, nie waar nie?
Dit is die geval met die Bybel. Dit is, in sy geheel of ten dele, in 1 928 tale vertaal, en is die boek wat die grootste verspreiding in die geskiedenis geniet. Die Bybel het verder ook bewys dat dit geskiedkundig en wetenskaplik betroubaar is. Argeologie en die geskiedenis getuig van die akkurate vervulling van Bybelprofesieë. Dit is vry van alle vorme van spiritisme en mistisisme en die okkulte. Dit is alles in ooreenstemming met die Bybel se aanspraak dat hy deur God geïnspireer is.b—2 Timotheüs 3:16.
Die “vrugte” van ware godsdiens
Maar is dit nie so dat baie godsdienste beweer dat hulle die Bybel volg nie? En is dit nie duidelik dat daar tweedrag, vyandskap en skynheiligheid onder baie sogenaamde Christene is nie? Ja, maar dit is geen rede om die Bybel te minag nie. Jesus Christus self het getoon dat die meeste van dié wat bely dat hulle Christene is deur God verwerp sal word. (Sien Mattheüs 7:13, 14, 21-23.) Hoe sal ’n mens dan diegene kan uitken wat die ware godsdiens wat in die Bybel geleer word, beoefen? Jesus het geantwoord: “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken.”—Mattheüs 7:16, 17, 20.
Ja, ware godsdiens moet ’n sterk krag ten goede wees wat ’n heilsame uitwerking op aanbidders het. Neem as voorbeeld Akinori, ’n Japannees wat, soos hy self sê, “die personifikasie van wedywering geword het”. Hy het sy doelwitte bereik om aan ’n leidende universiteit te gradueer en werk by ’n toonaangewende firma te kry. Hy het geen rede gesien om godsdiens in sy lewe in te bring nie. ‘Godsdiens is vir die swakkes wat ’n steunsel in die lewe nodig het’, het hy gedink.
Alles het glad verloop totdat hy, as gevolg van stres en uitputting, ernstig siek geword het. Sy nek het skeef getrek en hy kon sy ken nie van sy linkerskouer wegbeweeg nie. Baie “vriende” by Akinori se maatskappy het min vertroosting gebied in sy tyd van nood. (Vergelyk Spreuke 17:17.) Hy het heeltemal verslaaf geraak aan alkohol en selfs daaraan gedink om sy eie lewe te neem.
Maar Akinori se vrou het mettertyd begin om die Bybel saam met Jehovah se Getuies te studeer. Sy het eendag tydens ’n gesprek vir hom vertel van die teks in Galasiërs 6:7 wat sê: “Net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.” Omdat hierdie woorde hom diep getref het, het Akinori saam met sy vrou begin studeer, en wat hy geleer het, het sy beskouing oor die betekenis van die lewe verander. Namate Akinori se lewensbeskouing rooskleuriger geword het, het sy lyding wat deur stres veroorsaak is, begin verdwyn! Soos ’n Bybelspreuk dit stel: “’n Rustige hart is die lewe vir die vlees” (Spreuke 14:30). Ja, ware godsdiens dra goeie vrugte!
Tosjiro is nog ’n Japannees wat gesien het hoe godsdiens ’n krag ten goede kan wees. Hoewel hy geglo het dat dit voordele inhou om godsdiens te beoefen, het hy niks daaromtrent gedoen nie. Al waarin hy belanggestel het, was om ’n huis van sy eie aan te skaf. Maar toe hy daardie doel bereik het, het dit hom nie die tevredenheid gegee wat hy gedink het dit sal nie. Boonop het hy gesien dat die meeste mense by sy werk oneerlike dinge doen en dat dit tot slegte menseverhoudinge gelei het. Tosjiro het die dinge wat hy gesien het, verafsku.
Eendag het sy vrou ’n ouere man van die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies genooi om hom te besoek. Tosjiro het dadelik gesien dat die ouere man anders as sy kollegas is. Die rede? Die ouere man het opreg Bybelbeginsels in sy lewe toegepas. Dit het Tosjiro beïndruk, en hy het die uitnodiging om die Bybel te bestudeer aanvaar en die godsdiens van die Bybel sy leefwyse begin maak.
Ons nooi jou ook om Jehovah se Getuies te leer ken. Hulle “vrugte” bewys dat hulle “in gees en waarheid” aanbid. Hulle doen moeite om Bybelbeginsels in hulle lewe toe te pas. En hoewel hulle as individue lank nie volmaak is nie, toon hulle as ’n groep watter sterk geestelike krag ten goede ware godsdiens kan wees.
Duisende onder die Getuies was voorheen ongelukkig met hulle leefwyse. Maar omdat hulle Bybelbeginsels begin toepas het, was baie van hulle in staat om ingrypende veranderinge in hulle lewe aan te bring. Hulle het die sleutel tot persoonlike geluk gevind deur wat die Bybel “die vrug van die gees” noem in hulle lewe aan te kweek, naamlik die eienskappe van liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing.—Galasiërs 5:22.
Ewige voordele as ware godsdiens beoefen word
Maar ware godsdiens moet meer doen as om persoonlikhede te verander of om persoonlike probleme draagliker te maak. Wêreldprobleme soos besoedeling, die bedreiging van ’n kernoorlog en omgewingsbeskadiging dreig om ons pragtige planeet te vernietig. Ekonomiese probleme bederf die geluk en welsyn van miljoene. Geen godsdiens kan ernstig opgeneem word nie, tensy dit die een of ander oplossing vir hierdie wêreldprobleme bied.
Die godsdiens van die Bybel bied so ’n hoop. God belowe om ’n regverdige nuwe wêreld onder ’n hemelse regering, of “koninkryk”, in te lui (Mattheüs 6:9, 10; 2 Petrus 3:13; Openbaring 21:3, 4). Hierdie Koninkryk is die universele geneesmiddel vir al die mens se probleme. En die Bybel gee ons die versekering dat sulke aardwye voordele blywend sal wees: “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.” Ja, ewige lewe in geluk is die hoop van elke ware Christen (1 Johannes 2:17). Maar net diegene wat die beoefening van ware godsdiens ernstig opgeneem het, sal by hierdie komende Koninkryk baat vind. Ons spoor jou dus aan om met ’n deeglike studie van die Bybel te beginc (Johannes 17:3). Wanneer jy die lig van God se Woord in jou lewe laat begin skyn, sal jy groot vreugde ondervind namate jou “behoefte aan God” geleidelik, stap vir stap, bevredig word. Jy kan inderdaad ewige seëninge ontvang omdat jy godsdiens—die ware godsdiens—ernstig opgeneem het.
[Voetnote]
a Sien Genesis 2:4; 5:1; 6:9 vir voorbeeld.
b Vir meer inligting sien die boek Die Bybel—God se woord of die mens s’n? wat by die uitgewers van hierdie tydskrif verkry kan word.
c Jehovah se Getuies sal jou graag hiermee help. ’n Gratis tuisbybelstudie kan gereël word deur met die uitgewers van hierdie tydskrif of die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies in jou gemeenskap in aanraking te kom.
[Prent op bladsy 5]
Die feit dat die Bybel in meer as 1 900 tale beskik- baar is, strook met sy aanspraak dat hy deur God geïnspireer is
[Prent op bladsy 7]
Die godsdiens van die Bybel bied die hoop op wêreldwye vreedsame toestande onder ’n hemelse regering