Jesus se lewe en bediening
Jesus se verdere verskynings
DIE dissipels is steeds mismoedig. Hulle verstaan nie wat die leë graf beteken nie, en hulle glo ook nie wat die vroue hulle vertel het nie. Later dié Sondag vertrek Kleopas en ’n ander dissipel dus uit Jerusalem na Emmaüs, wat omtrent 11 kilometer weg is.
Onderweg, terwyl hulle die gebeure van die dag bespreek, sluit ’n vreemdeling by hulle aan. “Watter woorde is dit wat julle met mekaar loop en wissel?”, vra hy.
Die dissipels gaan staan stil, hulle gesigte bedruk, en Kleopas antwoord: “Is U alleen ’n vreemdeling in Jerusalem en weet U nie van die dinge wat in hierdie dae daarin gebeur het nie?”
“Watter dinge?”, vra hy.
“Die dinge aangaande Jesus, die Nasarener”, antwoord hulle. “Ons owerpriesters en regeerders het hom tot die doodstraf oorgelewer en hom aan ’n paal gehang. Ons het egter gehoop dat hy die een was wat Israel sou bevry” (NW).
Kleopas en sy metgesel verduidelik die verstommende gebeure van die dag—die berig oor die bonatuurlike verskyning van engele en die leë graf—maar hulle erken dat hulle verward is oor die betekenis van al hierdie dinge. Die vreemdeling wys hulle tereg: “o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie?” Toe lê hy vir hulle gedeeltes uit die heilige skrif uit wat op die Christus betrekking het.
Uiteindelik is hulle naby Emmaüs, en die vreemdeling maak asof hy verder wil gaan. Die dissipels wil meer hoor en dring aan: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag het gedaal.” Hy bly dus vir ’n maaltyd. Terwyl hy ’n gebed doen en die brood breek en aan hulle oorhandig, besef hulle dat hy werklik Jesus in ’n gematerialiseerde menseliggaam is. Maar dan verdwyn hy.
Nou verstaan hulle waarom die vreemdeling soveel geweet het! “Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie?” Hulle staan onverwyld op en haas hulle al die pad terug na Jerusalem waar hulle die apostels en diegene wat saam met hulle vergader is, vind. Voor Kleopas en sy metgesel iets kan sê, sê die ander opgewonde: “Die Here het waarlik opgestaan en het aan Simon verskyn!” Toe vertel die twee hoe Jesus ook aan hulle verskyn het. Hy het dus al vier keer gedurende hierdie dag aan verskillende dissipels verskyn.
Selfs al is die deure gesluit omdat die dissipels bang is vir die Jode, verskyn Jesus skielik ’n vyfde keer. Hy staan reg in hulle midde en sê: “Vrede vir julle!” Hulle is baie bang en meen dat hulle ’n gees sien. Jesus verduidelik dus vir hulle dat hy nie ’n gees is nie en sê: “Waarom is julle ontsteld en waarom kom daar twyfel in julle hart op? Kyk na my hande en my voete, want dit is Ek self. Voel aan My en kyk; want ’n gees het nie vlees en bene soos julle sien dat Ek het nie.” Hulle is nog steeds huiwerig om te glo dat hy lewe omdat dit te goed klink om te glo.
Om hulle te help besef dat hy werklik Jesus is, vra hy: “Het julle hier iets om te eet?” Nadat hy ’n stuk gebraaide vis geneem en dit geëet het, begin hy hulle leer en sê: “Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog [voor my dood] by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die Wet van Moses en die profete en die psalms, vervul moet word.”
Jesus hou as ’t ware ’n Bybelstudie met hulle en leer hulle verder: “So is dit geskrywe, en so moes die Christus ly en op die derde dag uit die dode opstaan, en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder. En julle is getuies van hierdie dinge.”
Thomas is om die een of ander rede nie by hierdie belangrike vergadering dié Sondagaand nie. Gedurende die daaropvolgende dae vertel die ander hom met vreugde: “Ons het die Here gesien!”
“As ek nie in sy hande die merk van die spykers sien en my vinger steek in die merk van die spykers en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie”, maak Thomas beswaar.
Wel, agt dae later vergader die dissipels weer binne. Hierdie keer is Thomas saam met hulle. Hoewel die deure gesluit is, staan Jesus weer eens in hulle midde en sê: “Vrede vir julle!” Dan draai hy na Thomas en sê: “Bring jou vinger hier, en kyk my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.”
“My Here en my God!”, roep Thomas uit.
‘Omdat jy My gesien het, het jy geglo?’ vra Jesus. “Salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” Lukas 24:11, 13-48; Johannes 20:19-29.
◆ Wat vra ’n vreemdeling vir twee van die dissipels wat op die pad na Emmaüs is?
◆ Wat sê die vreemdeling wat die hart van die dissipels in hulle laat brand?
◆ Hoe kom die dissipels agter dat die vreemdeling Jesus is?
◆ Watter opwindende berig hoor Kleopas en sy metgesel wanneer hulle na Jerusalem terugkeer?
◆ Wat is die vyfde verskyning wat Jesus aan sy dissipels maak, en wat gebeur tydens daardie verskyning?
◆ Wat gebeur agt dae ná Jesus se vyfde verskyning, en hoe word Thomas uiteindelik oortuig dat Jesus lewe?