Koninkryksverkondigers berig
“Elke teks wat sy gelees het, het my hart geraak”
“DIE woord van God is lewend en oefen krag uit”, het die apostel Paulus gesê (Hebreërs 4:12, NW). Dit was die geval in die lewe van ’n Viëtnamese vrou wat as Boeddhis grootgemaak is. Hierdie is haar verhaal.
“My ouers, wat nog in Viëtnam is, is in naam Boeddhiste, en ek is dus as Boeddhis grootgemaak totdat ek op 22-jarige ouderdom getrou het. My man se familie het my probeer dwing om my in die Katolieke Kerk te laat doop. Hulle het gesê dat my oorlede skoonmoeder nie hemel toe kon gaan nie omdat ek ’n Boeddhis is! Ek het aanvanklik geweier, maar ek is later gedoop om hulle tevrede te stel. Ek het nietemin diep in my hart belaglik gevoel omdat die Katolieke Kerk se skynheiligheid my dwars in die krop gesteek het. Dit het niks van Boeddhisme verskil nie. Die Katolieke Kerk was net so betrokke by oorlog en die politiek, en albei godsdienste het vooroueraanbidding aangemoedig.
“As ek in Viëtnam gebly het, sou my kanse om die waarheid te leer baie gering gewees het. Ek het grootgeword toe daar politieke omwentelinge in Suid-Viëtnam plaasgevind het, en ek het in ’n dorp baie ver van Saigon af gewoon. Dit was dus ’n seën om na Australië te kon ontsnap.
“Ek was een van die gelukkiger bootmense. Ek moes met my twee maande oue baba in my arms in die donker hardloop om van die polisie te ontsnap en op die vissersbootjie te kom. Na sewe dae op see het ons in Maleisië aangekom, waar ons ’n paar maande in ’n vlugtelingekamp gebly het voor ons na Australië gekom het.
“Na twee en ’n half jaar in Australië het Jehovah se Getuies my tydens hulle huis-tot-huisbediening besoek. Ek het tydens die eerste besoek ’n gereelde Bybelstudie aanvaar omdat ek dit as ’n goeie geleentheid beskou het om Engels te leer. Maar die Getuie wat my gevind het se gedrag en die waarheid wat sy my geleer het, het ’n baie groot indruk op my gemaak. Elke teks wat sy gelees het, het my hart geraak, en ek kon geen skynheiligheid in Jehovah se organisasie sien nie. Nadat ek die Bybel een en ’n half jaar lank studeer het, het ek my lewe aan Jehovah toegewy en is ek gedoop.
“Ek moet sê dat die waarheid my hele lewensbeskouing verander het. My man is ’n ongelowige, maar Jehovah het my en my gesinnetjie gehelp en ons onderskraag. Hy was my Groot Onderrigter en het my geleer om ’n beter vrou en moeder te word. Ek dank Jehovah steeds dat hy my uit geestelike duisternis tot in die lig van Bybelwaarheid gehelp het.”
God se geïnspireerde Woord het in hierdie geval waarlik krag ten goede uitgeoefen. As ’n mens die Bybel studeer en toepas wat jy leer, maak dit jou lewe sinvol en lei dit tot die ewige lewe in God se nuwe wêreld. Soos God Moses geïnspireer het om te skryf: “Dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe.”—Deuteronomium 32:47.