Die Dooie See-rolle—’n weergalose skat
AAN die voet van die Wadi Qumran, aan die noordweste van die Dooie See, staan ’n paar ou ruïnes. Dit is lank as die oorblyfsels van ’n Romeinse fort beskou, en argeoloë het gevolglik min aandag daaraan geskenk. Die ontdekking in 1947 van die Dooie See-rolle van Jesaja het egter daartoe gelei dat hulle weer na die terrein begin kyk het.
Geleerdes het die geboue spoedig aan ’n godsdiens-gemeenskap van die Jode gekoppel. Die onmiddellike gevolgtrekking was dat hierdie mense die rolle in die grotte in die nabygeleë kranse weggesteek het. Maar latere ontdekkings het twyfel daaroor laat ontstaan.
’n Weergalose vonds
Die Bedoeïene was bewus van die waarde van die manuskripte wat hulle reeds gevind het. Toe ’n bejaarde man dus in 1952 vertel het dat hy as kind ’n gewonde patrys gejaag het totdat dit in ’n gat in die rotswand verdwyn het, waar hy ’n klompie erdewerk en ’n ou olielamp gekry het, is daar opnuut begin soek.
Die bejaarde man kon nog die grotopening tussen die diep skeure van die steil krans uitken. Dit was toe al die tyd ’n mensgemaakte grot, en word nou as Grot 4 geïdentifiseer. Daar het die Bedoeïene stukke manuskripte omtrent ’n meter onder die bestaande vlak van die vloer gevind. Nie een van die stukke was in flesse gebêre nie, en gevolglik is die meeste sleg verweer, swart en baie bros. Mettertyd is sowat 40 000 fragmente gevind, wat amper 400 manuskripte verteenwoordig. Al die boeke van die Hebreeuse Geskrifte, met die uitsondering van Ester, was onder die honderd Bybelmanuskripte. Baie van die materiaal wat in Grot 4 gevind is, is nog nie gepubliseer nie.
Een van die belangriker manuskripte was dié van die boeke van Samuel wat op ’n enkele rol geskryf is. Sy Hebreeuse teks, waarvan 47 kolomme uit ’n moontlike 57 behoue gebly het, stem baie ooreen met die teks wat die vertalers van die Griekse Septuagint-weergawe gebruik het. Daar is ook Griekse fragmente van die Septuagint van Levitikus en Numeri wat terugdateer tot die eerste eeu v.G.J. Die manuskrip van Levitikus gebruik IAO vir die Hebreeuse יהוה, die goddelike naam van God, in plaas van die Griekse Kyʹri·os, “Heer”.a
In ’n fragment van Deuteronomium sluit die Hebreeuse teks die gedeelte van hoofstuk 32, vers 43, in wat in die Septuagint gevind word en haal dit Hebreërs 1:6 aan: “En laat al God se engele hulde aan hom bring” (NW). Dit is die eerste keer dat hierdie reël in enige Hebreeuse manuskrip gevind is, en dit toon ’n teks wat die Griekse vertaling blykbaar ondersteun. Sodoende het geleerdes nuwe insig gekry in die teks van die Septuagint, wat so dikwels in die Christelike Griekse Geskrifte aangehaal word.
Daar is vasgestel dat ’n rol van Exodus uit die derde kwart van die derde eeu v.G.J. dateer, ’n rol van Samuel uit die einde van dieselfde eeu en ’n rol van Jeremia uit die tydperk tussen 225 en 175 v.G.J. Voldoende materiaal uit die derde tot die eerste eeu v.G.J. is gevind om veranderinge in skryfstyle en individuele letters van die Hebreeuse en Aramese alfabette na te gaan, iets wat baie waardevol is in die datering van manuskripte.
Die verrassing van Grot 11
Die hele gebied rondom Qumran is uiteindelik deeglik deur plaaslike Bedoeïene en argeoloë gefynkam. In 1956 het ’n paar Bedoeïene egter op ’n dag gesien hoe vlermuise uit skeure in die kranse ten noorde van Grot 1 kom. Hulle het opgeklim en ’n ander grot gekry waarvan die ingang versper was. Twee ton rotsstukke moes verwyder word om dit oop te maak. Die vonds daarbinne was verstommend—twee volledige manuskripte en vyf groot dele van ander manuskripte.
Die belangrikste vonds was ’n pragtige rol van die Psalms. Die dikte van die leer dui daarop dat dit moontlik kalfsvel eerder as bokvel is. Altesaam vyf velle, vier aparte bladsye en vier fragmente maak dit meer as vier meter lank. Hoewel die bokant van hierdie rol goed bewaar gebly het, is die onderkant baie verweer. Dit dateer uit die eerste helfte van die eerste eeu G.J. en bevat dele van 41 psalms. Die Tetragrammaton is sowat 105 keer in ou paleo-Hebreeuse karakters geskryf, wat dit laat uitstaan in die andersins vierkantige Hebreeuse skrif.
’n Ander manuskrip, van Levitikus, is geheel en al in die ou Hebreeuse skrif geskryf, maar die rede daarvoor is nog nie bevredigend verduidelik nie. Dit is die langste dokument wat in hierdie soort skrif bestaan en is gebruik toe die Jode aan die einde van die sewende eeu v.G.J. in Babiloniese ballingskap weggevoer is.
’n Eksemplaar van ’n Targoem, ’n Aramese parafrase van die boek Job, is ook ontdek. Dit is een van die vroegste Targoems wat op skrif gestel is. ’n Aantal kommentare oor ander Bybelboeke is ook in verskillende grotte gevind. Hoe het dit gebeur dat al hierdie rolle so goed in hierdie grotte versteek is?
Soos vroeër gemeld is, is party moontlik deur die Qumran-gemeenskap versteek. Maar uit die bewyse lyk dit dat baie waarskynlik daar geplaas is deur Jode wat gevlug het vir die Romeinse inval in Judea in die jaar 68 G.J., voor die finale vernietiging van Jerusalem twee jaar later. Die woestyn van Juda was ’n veilige, natuurlike wegsteekplek vir die kosbare manuskripte, nie net in die grotte naby Qumran nie, maar ook in daardie grotte baie kilometers na die noorde, in die omgewing van Jerigo en, na die suide, naby Masada. Hoe dankbaar is ons tog dat hulle bewaar gebly het! Hulle bewys verder dat Jehovah se geïnspireerde Woord onveranderlik is. Waarlik, “die woord van onse God hou stand in ewigheid”.—Jesaja 40:8.
[Voetnoot]
a Sien die NW-naslaanuitgawe, Bylae 1C (5) en die voetnoot by Levitikus 3:12, waar hierdie manuskrip as 4Q LXX Levb geïdentifiseer word.
[Venster op bladsy 13]
SAL DIE WÊRELD BINNEKORT MEER WEET?
Hoewel fragmente van die Dooie See-rolle dekades gelede ontdek is, is baie van hulle nooit gepubliseer nie. The New York Times van 23 Desember 1990 het afkeurend gesê: “Selfs fotokopieë [van die fragmente] is in die besit van ’n kliekerige groep geleerdes wat hulle kollegas vermy en weier om enige van die materiaal in hulle besit te publiseer.” Die koerant het egter berig dat daar onlangs ’n personeelverandering in hierdie redaksiespan plaasgevind het, en dit sal moontlik help om “die kliekerigheid wat die rolle omhul [te verbreek] . . . , en die wêreld sal meer te wete kom oor ’n buitengewone era in die geskiedenis”.
[Foto-erkenning op bladsy 12]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.