Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 4/15 bl. 14-20
  • Sal jy God se barmhartigheid navolg?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sal jy God se barmhartigheid navolg?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Goddelike geregtigheid geskied
  • Geregtigheid in ewewig met barmhartigheid
  • Besorgdheid oor wat verlore was
  • Blydskap in die hemel—Waaroor?
  • Bekering en barmhartigheid in aksie
  • Jehovah—die bron van ware geregtigheid en regverdigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Volg Jehovah na—Beoefen geregtigheid en regverdigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Geregtigheid binnekort vir alle nasies
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Verheug oor die sondaar wat berou toon
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 4/15 bl. 14-20

Sal jy God se barmhartigheid navolg?

“Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders.”—EFESIËRS 5:1.

1. Waarom moet die navolging van ander vir ons almal van belang wees?

DIE meeste mense volg ander na, of dit nou in goeie dinge of slegte dinge is. Diegene met wie ons in aanraking kom, en wat dalk deur ons nagevolg word, kan ’n merkbare uitwerking op ons hê. Die geïnspireerde skrywer van Spreuke 13:20 het gewaarsku: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg.” God se Woord sê dus met goeie rede: “Moenie navolg wat kwaad is nie, maar wat goed is. Hy wat goed doen, is uit God.”—3 Johannes 11.

2. Wie moet ons navolg, en hoe?

2 Ons het uitstekende Bybelse voorbeelde van manne en vroue wat ons kan navolg (1 Korinthiërs 4:16; 11:1; Filippense 3:17). Tog is God die persoon wat ons allereers moet navolg. Nadat die apostel Paulus eienskappe en gebruike genoem het wat ons moet vermy, het hy ons in Efesiërs 4:31–5:2 aangespoor om ‘vol ontferming teenoor mekaar te wees en mekaar te vergewe’. Dit het gelei tot die belangrike vermaning: “Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde.”

3, 4. Watter beskrywing het God van homself gegee, en waarom moet ons daaraan aandag skenk dat hy ’n geregtige God is?

3 Watter weë en eienskappe van God moet ons navolg? Daar is baie aspekte van sy persoonlikheid en dade wat ons moet navolg, soos ons kan sien uit die manier waarop hy homself aan Moses beskryf het: “HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders.”—Exodus 34:6, 7.

4 Aangesien Jehovah ‘geregtigheid en reg liefhet’, moet ons beslis hierdie aspek van sy persoonlikheid leer ken en navolg (Psalm 33:5; 37:28). Hy is die Skepper sowel as die mens se opperste Regter en Wetgewer, en gevolglik betoon hy geregtigheid teenoor almal (Jesaja 33:22, NW). Dit blyk duidelik uit die manier waarop hy geregtigheid onder sy volk Israel, en later in die Christengemeente, vereis en laat geskied het.

Goddelike geregtigheid geskied

5, 6. Hoe is geregtigheid in God se optrede teenoor Israel betoon?

5 Toe hy Israel as sy volk gekies het, het God gevra of hulle ‘terdeë na sy woord sou luister en sy verbond sou hou’. Waar hulle aan die voet van die berg Sinai vergader was, het hulle geantwoord: “Alles wat die HERE gespreek het, sal ons doen” (Exodus 19:3-8). Wat ’n ernstige voorneme! God het die Israeliete deur middel van engele sowat 600 wette gegee, en hulle was, as ’n volk wat aan hom toegewy was, verplig om dit te hou. Gestel iemand wou dit nie doen nie? ’n Kenner op die gebied van God se Wet het verduidelik: ‘Die woord wat deur bemiddeling van engele gespreek is, was vas, en elke oortreding en ongehoorsame daad het ’n vergelding in ooreenstemming met geregtigheid ontvang.’—Hebreërs 2:2, NW.

6 Ja, ’n Israeliet wat nie gehoorsaam wou wees nie, sou ‘vergelding in ooreenstemming met geregtigheid’ ontvang, nie onvolmaakte menslike geregtigheid nie, maar geregtigheid van ons Skepper. God het verskeie strafmaatreëls vir wetsverbreking vasgestel. Die ergste straf was ‘uitroeiing’, of teregstelling. Dit het vir ernstige oortredings gegeld, soos afgodediens, owerspel, bloedskande, bestialiteit, homoseksualiteit, kinderoffers, moord en die misbruik van bloed (Levitikus 17:14; 18:6-17, 21-29). Daarbenewens kon enige Israeliet wat enige goddelike wet met opset en onberouvol geskend het, “uitgeroei” word (Numeri 4:15, 18; 15:30, 31). Wanneer hierdie goddelike geregtigheid voltrek is, is die oortreder se nageslag heel waarskynlik deur die gevolge daarvan geraak.

7. Wat was party van die gevolge van die voltrekking van geregtigheid onder God se eertydse volk?

7 Sulke strafmaatreëls het beklemtoon hoe ernstig dit was om goddelike wette te verbreek. As ’n seun byvoorbeeld ’n dronkaard en ’n vraat geword het, moes hy voor ervare regters gebring word. As hulle bevind het dat hy ’n opsetlike, onberouvolle oortreder was, moes die ouers aan die voltrekking van geregtigheid deelneem (Deuteronomium 21:18-21). Dié van ons wat ouers is, kan ons voorstel dat dit nie maklik was om dit te doen nie. Tog het God geweet dat dit gedoen moes word om te verhoed dat goddeloosheid onder ware aanbidders versprei (Esegiël 33:17-19). Dit is gereël deur die Een van wie gesê kon word: “Al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie geen onreg is nie; regverdig en opreg is hy.”—Deuteronomium 32:4, NW.

8. Hoe was geregtigheid ’n kenmerk van God se optrede teenoor die Christengemeente?

8 Na baie eeue het God die nasie Israel verwerp en die Christengemeente gekies. Maar Jehovah het nie verander nie. Hy was nog steeds verbonde tot geregtigheid en kon as “’n verterende vuur” beskryf word (Hebreërs 12:29; Lukas 18:7, 8). Hy het gevolglik steeds ’n voorsiening gehad om godvrugtige vrees by die hele gemeente in te boesem deur oortreders uit te werp. Toegewyde Christene wat onberouvolle oortreders geword het, moes uitgesit word.

9. Wat is uitsetting, en wat bereik dit?

9 Wat behels uitsetting? Ons vind ’n sprekende voorbeeld in die manier waarop ’n probleem in die eerste eeu hanteer is. ’n Christen in Korinthe het hom skuldig gemaak aan onsedelikheid met sy vader se vrou en het nie berou getoon nie, en daarom het Paulus gesê dat hy uit daardie gemeente gewerp moes word. Dit moes gedoen word om die reinheid van God se volk te beskerm, want “’n bietjie suurdeeg [maak] die hele deeg suur”. As hy uitgewerp is, sou verhoed word dat sy goddeloosheid God sowel as Sy volk oneer aandoen. Die ernstige dissipline van uitsetting kon hom ook tot sy sinne skok en die gepaste vrees vir God by hom en die gemeente inboesem.—1 Korinthiërs 5:1-13; vergelyk Deuteronomium 17:2, 12, 13.

10. Hoe moet God se knegte reageer as iemand uitgesit word?

10 As ’n goddelose persoon uitgewerp is, vereis die goddelike gebod dat Christene ‘nie met hom omgaan en selfs nie saam met so iemand eet nie’.a Hy is dus afgesny van omgang, sowel as van sosiale kontak, met lojale persone wat God se wet respekteer en daarvolgens wil wandel. Party van hulle is moontlik selfs familielede buite die onmiddellike gesin en woon nie in dieselfde huis nie. Dit is dalk moeilik vir daardie familielede om hierdie goddelike voorskrif toe te pas, soos dit ook vir Hebreeuse ouers onder die Mosaïese Wet moeilik was om ’n goddelose seun te help teregstel. En tog is God se gebod duidelik; daarom kan ons seker wees dat uitsetting regverdig is.—1 Korinthiërs 5:1, 6-8, 11; Titus 3:10, 11; 2 Johannes 9-11; sien Die Wagtoring, 1 Desember 1981, bladsye 23-28; 15 April 1988, bladsye 28-31.

11. Hoe kan verskeie aspekte van God se persoonlikheid met betrekking tot ’n uitsetting gesien word?

11 Maar onthou dat ons God nie net regverdig is nie; hy is ook ‘groot van goedertierenheid en vergewe die ongeregtigheid en oortreding’ (Numeri 14:18). Sy Woord stel dit duidelik dat ’n uitgesette persoon berou kan toon en goddelike vergifnis kan soek. Wat dan? Ervare ouere manne kan ’n bespreking met hom hou sodat hulle biddend en met groot sorg kan vasstel of hy berou toon oor die oortreding wat tot sy uitsetting gelei het. (Vergelyk Handelinge 26:20.) Indien wel, kan hy in die gemeente herstel word, soos 2 Korinthiërs 2:6-11 toon met die man in Korinthe gebeur het. Tog is party uitgesette persone al jare lank nie meer deel van God se gemeente nie. Kan enigiets dus gedoen word om hulle te help om die pad terug te sien?

Geregtigheid in ewewig met barmhartigheid

12, 13. Waarom moet ons in ons navolging van God meer doen as om bloot sy geregtigheid te weerspieël?

12 Die voorafgaande gedeelte het hoofsaaklik een aspek van God se eienskappe behandel wat in Exodus 34:6, 7 genoem word. Maar daardie verse noem veel meer as net God se geregtigheid, en diegene wat hom wil navolg, lê hulle nie net daarop toe om geregtigheid te laat geskied nie. As jy ’n model van Salomo se tempel wou bou, sou jy net een van die pilare bestudeer? (1 Konings 7:15-22). Nee, want dit sou jou beslis nie ’n gebalanseerde idee van die aard en rol van die tempel gee nie. Op ’n soortgelyke manier moet ons, as ons God wil navolg, ook van sy ander weë en eienskappe naboots, soos die feit dat hy ’n “barmhartige en genadige God [is], lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid . . . vergewe”.

13 Barmhartigheid en vergewensgesindheid is fundamentele eienskappe van God, soos ons sien uit die manier waarop hy teenoor Israel opgetree het. Die God van geregtigheid het hulle nie ongestraf laat bly vir herhaalde oortredings nie, en tog het hy oorvloedige barmhartigheid en vergewensgesindheid aan die dag gelê. “Hy het aan Moses sy weë bekend gemaak, aan die kinders van Israel sy dade. Barmhartig en genadig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Hy sal nie vir altyd twis en nie vir ewig die toorn behou nie” (Psalm 103:7-9; 106:43-46). Ja, ’n terugblik op sy optrede deur honderde jare heen bevestig die waarheid van daardie woorde.—Psalm 86:15; 145:8, 9; Miga 7:18, 19.

14. Hoe het Jesus getoon dat hy God se barmhartigheid nagevolg het?

14 Aangesien Jesus Christus “die afskynsel is van [God se] heerlikheid en die afdruksel van sy wese” moet ons verwag dat hy soortgelyke barmhartigheid en vergewensgesindheid aan die dag sou lê (Hebreërs 1:3). Hy het ook, soos sy optrede teenoor andere toon (Mattheüs 20:30-34). Hy het barmhartigheid ook beklemtoon deur sy woorde wat ons in Lukas hoofstuk 15 lees. Die drie illustrasies wat daar opgeteken is, bewys dat Jesus Jehovah nagevolg het, en hulle voorsien belangrike lesse vir ons.

Besorgdheid oor wat verlore was

15, 16. Waarom het Jesus die illustrasies in Lukas 15 vertel?

15 Daardie illustrasies getuig van God se barmhartige belangstelling in sondaars, en dit voorsien ons van ’n goeie voorbeeld. Let op die agtergrond van die illustrasies: “Al die tollenaars en sondaars het die gewoonte gehad om na [Jesus] te kom en na Hom te luister. En die Fariseërs en die skrifgeleerdes het baie gemurmureer en gesê: Hierdie man ontvang sondaars en eet saam met hulle.”—Lukas 15:1, 2.

16 Al die betrokkenes was Jode. Die Fariseërs en die skrifgeleerdes het hulle beroem op hulle sogenaamd nougesette onderhouding van die Mosaïese Wet, ’n soort wettiese geregtigheid. Maar God was dit nie eens met sulke selfverklaarde geregtigheid nie (Lukas 16:15). Die tollenaars wat genoem is, was blykbaar Jode wat vir Rome belasting ingevorder het. Aangesien baie tollenaars buitensporige bedrae van mede-Jode geëis het, is hulle as ’n groep verag (Lukas 19:2, 8). Hulle is saam met “sondaars” geklassifiseer, wat onsedelike mense, selfs hoere, ingesluit het (Lukas 5:27-32; Mattheüs 21:32). Maar Jesus het die murmurerende godsdiensleiers gevra:

17. Wat was Jesus se eerste illustrasie in Lukas 15?

17 “Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die negen-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie? En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers. En as hy by die huis kom, roep hy sy vriende en bure bymekaar en sê vir hulle: Wees saam met my bly, want ek het my skaap gekry wat verlore was. Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.” Die godsdiensleiers kon die beeldspraak verstaan, want skape en herders was ’n algemene gesig. Die herder het 99 skape in bekende weivelde agtergelaat en wei terwyl hy uit besorgdheid na ’n verlore skaap gaan soek het. Hy het aangehou tot hy die verskrikte skaap gekry en hom liefdevol na die kudde teruggedra het.—Lukas 15:4-7.

18. Wat het tot blydskap gelei, soos Jesus se tweede illustrasie beklemtoon het?

18 Jesus het ’n tweede illustrasie bygevoeg: “Of watter vrou wat tien pennings het, as sy een penning verloor, steek nie ’n lamp op en vee die huis uit en soek sorgvuldig totdat sy dit kry nie? En as sy dit kry, roep sy haar vriendinne en buurvroue bymekaar en sê: Wees saam met my bly, want ek het die penning gekry wat ek verloor het. So, sê Ek vir julle, is daar blydskap voor die engele van God oor een sondaar wat hom bekeer” (Lukas 15:8-10). Die penning was byna ’n dagloon vir ’n arbeider werd. Die vrou se munt was dalk ’n erfstuk, of dalk ’n deel van ’n stel wat sy as sieraad gedra het. Toe sy dit verloor, het sy hard gesoek om die muntstuk te kry, en toe was sy en haar vriendinne saam bly. Wat vertel dit ons van God?

Blydskap in die hemel—Waaroor?

19, 20. Jesus se eerste twee illustrasies in Lukas 15 handel hoofsaaklik oor wie, en watter hoofgedagte het hulle beklemtoon?

19 Hierdie twee illustrasies was in antwoord op kritiek teen Jesus, wat homself ’n paar maande vroeër geïdentifiseer het as “die goeie herder” wat sy lewe vir sy skape sal opoffer (Johannes 10:11-15). Die illustrasies was nietemin nie hoofsaaklik oor Jesus nie. Die lesse wat die skrifgeleerdes en die Fariseërs moes leer, het betrekking gehad op God se gesindheid en weë. Daarom het Jesus gesê dat daar vreugde in die hemel is oor ’n sondaar wat tot bekering kom. Daardie godsdiensleiers het beweer dat hulle Jehovah dien, maar hulle het hom nie nagevolg nie. Daarteenoor het Jesus se barmhartige weë die wil van sy Vader verteenwoordig.—Lukas 18:10-14; Johannes 8:28, 29; 12:47-50; 14:7-11.

20 As een uit honderd rede tot vreugde was, was dit des te meer die geval vir een munt uit tien. Ons kan ons vandag nog die emosies van die vroue voorstel toe die muntstuk gevind is! Die les het in hierdie geval ook met die hemel te doen, aangesien “die engele van God” saam met Jehovah bly is “oor een sondaar wat hom bekeer”. Let op die laaste woord, “bekeer”. Hierdie illustrasies handel in werklikheid oor sondaars wat tot bekering kom. En jy kan sien dat albei illustrasies beklemtoon het dat vreugde oor hulle bekering gepas is.

21. Watter les behoort ons uit Jesus se illustrasies in Lukas 15 te leer?

21 Daardie afgedwaalde godsdiensleiers wat selfvoldaan was oor hulle oppervlakkige onderhouding van die Wet het vergeet dat God ‘barmhartig en genadig is en ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe’ (Exodus 34:6, 7). As hulle hierdie aspek van God se weë en persoonlikheid nagevolg het, sou hulle verstaan het waarom Jesus barmhartig was teenoor sondaars wat hulle bekeer het. Wat van ons? Slaan ons ag op die les en pas ons dit toe? Wel, kyk nou na Jesus se derde illustrasie.

Bekering en barmhartigheid in aksie

22. Vertel kortliks Jesus se derde illustrasie in Lukas 15.

22 Hierdie illustrasie word dikwels die gelykenis van die verlore seun genoem. Maar wanneer jy dit lees, sal jy dalk sien waarom party mense daaraan dink as die gelykenis van ’n vader se liefde. Dit vertel van die jongste seun in ’n gesin wat sy erfporsie by sy vader kry. (Vergelyk Deuteronomium 21:17.) Hierdie seun vertrek na ’n ver land waar hy alles in losbandigheid deurbring, varke moet oppas as werk en in só ’n slegte situasie beland dat hy selfs die varkkos wil eet. Hy kom uiteindelik tot sy sinne en besluit om terug te gaan huis toe, al is dit net om as ’n gehuurde arbeider vir sy vader te werk. Wanneer hy naby sy huis kom, tree sy vader positief op deur hom te verwelkom en selfs ’n fees te hou. Die oudste broer, wat by die huis bly werk het, is kwaad oor die barmhartigheid wat betoon word. Maar die vader sê dat hulle bly moet wees omdat die seun wat dood was nou lewe.—Lukas 15:11-32.

23. Wat moet ons uit die gelykenis van die verlore seun leer?

23 Party skrifgeleerdes en Fariseërs het moontlik gevoel dat hulle met die ouer seun vergelyk word, teenoor sondaars wat soos die jonger seun was. Maar het hulle die sleutelgedagte van die illustrasie gesnap. Snap ons dit? Dit beklemtoon ’n besondere eienskap van ons barmhartige hemelse Vader, sy bereidwilligheid om te vergewe as ’n sondaar opreg berou toon en tot inkeer kom. Dit moes hoorders beweeg het om met vreugde op die bekering van berouvolle sondaars te reageer. Dit is hoe God sake beskou en hoe hy optree, en diegene wat hom navolg, doen dit ook.—Jesaja 1:16, 17; 55:6, 7.

24, 25. Watter weë van God moet ons strewe om na te volg?

24 Dit is dus duidelik dat geregtigheid ’n kenmerk is van al God se weë, en daarom beskou almal wat Jehovah wil navolg geregtigheid as iets kosbaars en jaag hulle dit na. Ons God word nogtans nie bloot deur abstrakte of onbuigsame geregtigheid aangedryf nie. Sy barmhartigheid en liefde is groot. Hy toon dit deur bereid te wees om te vergewe as daar opregte berou is. Dit is dus gepas dat die apostel Paulus ons vergewensgesindheid met ons navolging van God gekoppel het: “Vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het. Wees dan navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde.”—Efesiërs 4:32–5:2.

25 Ware Christene probeer al lank om Jehovah se geregtigheid sowel as sy barmhartigheid en vergewensgesindheid na te volg. Hoe beter ons hom leer ken, hoe makliker behoort dit vir ons te word om hom in hierdie opsigte na te boots. Maar hoe kan ons dit toepas in die geval van iemand wat tereg ernstige dissipline ontvang het omdat hy sonde beoefen het? Kom ons kyk.

[Voetnoot]

a “Ekskommunisering in die algemeenste sin is die opsetlike daad waardeur ’n groep sommige wat eens gerespekteerde lede was die voordele van lidmaatskap weier. . . . Ekskommunisering het in die Christelike era begin verwys na ’n daad van uitsluiting waardeur ’n godsdienstige gemeenskap oortreders die sakramente, gemeentelike aanbidding en moontlik sosiale kontak van enige aard ontsê.”—The International Standard Bible Encyclopedia.

Wat het jy geleer?

◻ Hoe het God se geregtigheid in die nasie Israel en in die Christengemeente geblyk?

◻ Waarom moet ons God se barmhartigheid, sowel as sy geregtigheid, navolg?

◻ Wat het aanleiding gegee tot die drie illustrasies in Lukas 15, en watter lesse moet ons daaruit leer?

[Prent op bladsy 16, 17]

Vlakte van er-Raha voor die berg Sinai (links in die agtergrond)

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Garo Nalbandian

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Garo Nalbandian

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel