Volg God se barmhartigheid vandag na
“Laat ons tog val in die hand van die HERE, want sy barmhartighede is groot.”—2 SAMUEL 24:14.
1. Hoe het Dawid oor God se barmhartigheid gevoel, en waarom?
KONING DAWID het uit ondervinding geweet dat Jehovah barmhartiger is as mense. Omdat hy geweet het dat God se weë, of paaie, die beste is, wou Dawid Sy weë leer en in Sy waarheid wandel (1 Kronieke 21:13; Psalm 25:4, 5). Voel jy soos Dawid gevoel het?
2. Watter raad het Jesus in Mattheüs 18:15-17 gegee oor hoe ernstige sonde hanteer moet word?
2 Die Bybel gee ons insig in God se denkwyse, selfs in sake soos wat ons te doen staan as iemand teen ons sondig. Jesus het vir sy apostels, wat later Christenopsieners sou wees, gesê: “As jou broeder teen jou sondig, gaan bestraf hom tussen jou en hom alleen. As hy na jou luister, dan het jy jou broeder gewin.” Die onreg waarvan hier gepraat word, is nie bloot ’n persoonlike belediging nie maar ’n ernstige sonde, soos bedrog of laster. Jesus het gesê as hierdie stap die saak nie oplos nie, en as getuies beskikbaar is, die een teen wie gesondig is hulle moet saamneem om te bewys dat ’n onreg gepleeg is. Is hierdie stap die laaste uitweg? Nee. “As [die sondaar] na hulle nie luister nie, sê dit aan die gemeente; en as hy na die gemeente ook nie luister nie, laat hom vir jou wees soos die heiden en die tollenaar.”—Mattheüs 18:15-17.
3. Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat ’n onberouvolle oortreder “soos die heiden en die tollenaar” moes wees?
3 Omdat hulle Jode was, sou die apostels verstaan het wat dit beteken om ’n sondaar “soos die heiden en die tollenaar” te beskou. Jode het omgang met heidene vermy, en hulle het Jode verag wat as tollenaars vir die Romeine gewerk heta (Johannes 4:9; Handelinge 10:28). Jesus het dus vir die dissipels gesê dat hulle moes ophou om met ’n sondaar om te gaan as die gemeente hom verwerp het. Maar hoe strook dit met die feit dat Jesus soms saam met tollenaars was?
4. Waarom kon Jesus, met die oog op sy woorde in Mattheüs 18:17, met party tollenaars en sondaars omgaan?
4 Lukas 15:1 sê: “Al die tollenaars en sondaars het die gewoonte gehad om na Hom te kom en na Hom te luister.” Nie elke tollenaar en sondaar was daar nie, maar ‘almal’ in die sin van baie. (Vergelyk Lukas 4:40.) Watter van hulle? Diegene wat daarin belanggestel het om vir hulle sondes vergewe te word. Party van hulle is vroeër aangetrek tot Johannes die Doper se boodskap van bekering (Lukas 3:12; 7:29). Wanneer ander dus na Jesus toe gekom het, was die feit dat hy vir hulle gepreek het nie in stryd met sy raad in Mattheüs 18:17 nie. Let daarop dat “baie tollenaars en sondaars [Jesus gehoor het,] en hulle het Hom gevolg” (Markus 2:15). Hulle was nie dié wat met ’n slegte lewenswandel wou voortgaan en enige hulp geweier het nie. Inteendeel, hulle het Jesus se boodskap gehoor en hulle harte is geraak. Al het hulle steeds gesondig, ondanks die feit dat hulle waarskynlik probeer het om veranderinge aan te bring, het “die goeie herder” sy barmhartige Vader nagevolg deur vir hulle te preek.—Johannes 10:14.
Vergifnis, ’n Christelike plig
5. Wat is God se basiese standpunt ten opsigte van vergifnis?
5 Ons het hierdie hartlike versekeringe van ons Vader se vergewensgesindheid: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” “Ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ’n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige” (1 Johannes 1:9; 2:1). Is vergifnis moontlik vir ’n uitgesette persoon?
6. Hoe kan ’n uitgesette persoon vergewe en herstel word?
6 Ja. Wanneer iemand as ’n onberouvolle sondaar uitgesit word, verduidelik ouere manne wat die gemeente verteenwoordig vir hom dat dit vir hom moontlik is om berou te toon en deur God vergewe te word. Hy mag vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon waar hy Bybelonderrig kan hoor wat hom kan help om berou te toon. (Vergelyk 1 Korinthiërs 14:23-25.) Mettertyd kan hy vra om in die rein gemeente herstel te word. Wanneer ouere manne dan met hom ’n bespreking hou, sal hulle probeer vasstel of hy tot bekering gekom en sy sondige wandel laat vaar het (Mattheüs 18:18). As dit die geval is, kan hy herstel word, in ooreenstemming met die voorbeeld in 2 Korinthiërs 2:5-8. As hy jare lank uitgesit was, sal hy ’n ywerige poging moet aanwend om vordering te maak. Hy sal daarna miskien ook heelwat hulp nodig hê om sy Bybelkennis en waardering op te bou sodat hy ’n geestelik sterk Christen kan word.
Keer terug na Jehovah
7, 8. Watter voorbeeld het God gestel ten opsigte van sy volk wat in ballingskap was?
7 Maar mag die ouere manne self die eerste stap doen om ’n uitgesette persoon te nader? Ja. Die Bybel toon dat barmhartigheid nie bloot betoon word deur ’n negatiewe terughouding van straf nie, maar dikwels deur positiewe dade. Ons het Jehovah as voorbeeld. Voor hy sy ontroue volk in ballingskap laat wegvoer het, het hy in ’n profesie van die vooruitsig van hulle terugkeer gepraat: “Dink aan hierdie dinge, o Jakob en Israel! Want jy is my kneg . . . Ek delg jou oortredinge uit soos ’n newel en jou sondes soos ’n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos.”—Jesaja 44:21, 22.
8 Daarna, gedurende die ballingskap, het Jehovah verdere stappe gedoen deur op ’n positiewe manier op te tree. Hy het profete, sy verteenwoordigers, gestuur om Israel aan te spoor om ‘hom te soek en hom te vind’ (Jeremia 29:1, 10-14). In Esegiël 34:16 het hy hom met ’n herder en die nasie van Israel met verlore skape vergelyk: “Die wat verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring.” Jehovah het hom ook in Jeremia 31:10 as ’n herder van die Israeliete beskryf. Nee, hy het hom nie uitgebeeld as ’n herder wat by die skaapstal vir die verlore skaap wag om terug te kom nie; hy het hom eerder beskryf as ’n herder wat na die verlore skape soek. Let daarop dat God, selfs toe die mense oor die algemeen onberouvol en in ballingskap was, die eerste stappe gedoen het om hulle terugkeer te bewerkstellig. En in ooreenstemming met Maleagi 3:6 sou God nie sy handelwyse onder die Christelike reëling verander nie.
9. Hoe is God se voorbeeld in die Christengemeente nagevolg?
9 Toon dit nie dat daar ’n rede kan wees om die eerste stap te doen teenoor party wat uitgesit is en wat dalk nou berou het nie? Onthou dat die apostel Paulus die opdrag gegee het om die slegte man uit die Korinthiese gemeente te verwyder. Later het hy die gemeente gemaan om hulle liefde teenoor die man te bevestig omdat hy berou gehad het, wat daartoe gelei het dat hy in die gemeente herstel is.—1 Korinthiërs 5:9-13; 2 Korinthiërs 2:5-11.
10. (a) Watter beweegredes moet daar wees vir ’n poging om met party uitgesette persone in aanraking te kom? (b) Waarom moet Christelike familielede nie diegene wees wat die inisiatief neem nie?
10 Die ensiklopedie wat vroeër aangehaal is, het gesê: ‘Die basiese rede vir ekskommunisering was om die standaarde van die groep te beskerm: “’n bietjie suurdeeg [maak] die hele deeg suur” (1 Kor. 5:6). Hierdie beweegrede blyk duidelik uit die meeste Bybelse en buite-Bybelse teksgedeeltes, maar besorgdheid oor die individu, selfs ná uitsetting, was die grondslag vir Paulus se woorde in 2 Kor. 2:7-10.’ (Ons kursiveer.) Gevolglik moet die herders van die kudde logieserwys vandag sodanige besorgdheid aan die dag lê (Handelinge 20:28; 1 Petrus 5:2). Vorige vriende en familielede hoop dalk dat ’n uitgesette persoon sal terugkeer, maar uit respek vir die gebod in 1 Korinthiërs 5:11 gaan hulle nie met ’n uitgesette persoon om nie.b Hulle laat dit aan die aangestelde herders oor om die inisiatief te neem om te sien of so iemand graag wil terugkeer.
11, 12. Met watter soort uitgesette persone sal selfs ouere manne nie in aanraking wil kom nie, maar watter soort kan hulle besoek?
11 Dit sou selfs vir ouere manne nie gepas wees om die inisiatief te neem om sekere uitgesette persone, soos afvalliges, wat “verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan”, te nader nie. Hulle is ‘valse leraars wat verderflike ketterye heimlik probeer invoer en met verdigte woorde probeer om uit die gemeente voordeel te trek’ (Handelinge 20:30; 2 Petrus 2:1, 3). Die Bybel maak ook geen voorsiening vir toenadering tot uitgesette persone wat aggressief is of oortreding aktief aanmoedig nie.—2 Thessalonicense 2:3; 1 Timotheüs 4:1; 2 Johannes 9-11; Judas 4, 11.
12 Maar baie uitgesette persone is nie so nie. Een het dalk opgehou met die ernstige oortreding waarvoor hy uitgesit is. ’n Ander het dalk tabak gebruik, of in die verlede te veel gedrink, maar probeer nie nou om ander ook te laat oortree nie. Jy moet onthou dat selfs voor Israel hulle tot God gewend het terwyl hulle in ballingskap was, hy verteenwoordigers na hulle gestuur het om hulle aan te spoor om terug te kom. Die Bybel sê nie of Paulus of die ouere manne in die Korinthiese gemeente ’n poging aangewend het om uit te vind wat die uitgesette man se situasie was nie. Toe daardie man hom bekeer het en opgehou het met sy onsedelikheid het Paulus die gemeente opdrag gegee om hom te herstel.
13, 14. (a) Wat toon dat party uitgesette persone op barmhartige pogings kan reageer? (b) Hoe kan die liggaam van ouere manne reël dat hulle besoek word?
13 In onlangse tye was daar gevalle waar ’n ouere man ’n uitgesette persoon toevallig teëgekom het.c As dit gepas was, het die herder kortliks die stappe geskets wat tot herstelling kan lei. Party van daardie persone het berou getoon en is herstel. Sulke vreugdevolle resultate toon dat daar uitgesette of gedissosieerde persone is wat op barmhartige toenadering deur die ouere manne sal reageer. Maar hoe kan ouere manne hierdie saak hanteer? Die liggaam van ouere manne moet hoogstens een keer per jaar kyk of daar sulke persone in hulle gebied woon.d Die ouere manne sal veral aandag skenk aan diegene wat langer as ’n jaar uitgesit is. Na gelang van die omstandighede kan hulle twee ouere manne (hopelik ouere manne wat kennis dra van die situasie) stuur om so ’n persoon te gaan besoek as dit gepas is. Maar hulle sal nie iemand besoek wat ’n kritiese, gevaarlike gesindheid openbaar of wat dit bekend gemaak het dat hy nie gehelp wil word nie.—Romeine 16:17, 18; 1 Timotheüs 1:20; 2 Timotheüs 2:16-18.
14 Die twee herders kan bel om ’n afspraak te maak vir ’n kort besoek, of hulle kan op ’n gepaste tyd daar aangaan. Gedurende die besoek hoef hulle nie streng of selfs koel te wees nie, maar hulle moet hul barmhartige besorgdheid hartlik toon. Pleks van die oorspronklike saak te hersien, kan hulle Bybeltekste soos Jesaja 1:18 en 55:6, 7 en Jakobus 5:20 bespreek. As die persoon daarin belangstel om terug te keer na God se kudde, kan hulle vriendelik verduidelik watter stappe hy moet doen, soos om die Bybel en die Genootskap se publikasies te lees en vergaderinge by die Koninkryksaal by te woon.
15. Wat moet ouere manne wat ’n uitgesette persoon besoek in gedagte hou?
15 Hierdie ouere manne sal wysheid en onderskeidingsvermoë nodig hê om vas te stel of daar ’n aanduiding van berou is en of ’n volgende besoek gepas sal wees. Hulle moet natuurlik in gedagte hou dat party uitgesette persone nooit ‘tot bekering vernuwe’ sal word nie (Hebreërs 6:4-6; 2 Petrus 2:20-22). Ná die besoek sal die twee ’n kort mondelinge verslag aan die Gemeentelike Dienskomitee gee. Hulle sal op hulle beurt die liggaam van ouere manne by hulle volgende vergadering van die situasie in kennis stel. Die ouere manne se barmhartige toenadering sal God se beskouing weerspieël het: “Keer terug na My, en Ek wil na julle terugkeer, sê die HERE van die leërskare.”—Maleagi 3:7.
Ander barmhartige hulp
16, 17. Hoe moet ons die Christelike familielede van ’n uitgesette persoon beskou?
16 Wat van dié van ons wat nie opsieners is en nie sulke pogings ten opsigte van uitgesette persone sal aanwend nie? Wat kan ons in ooreenstemming met hierdie reëling en in navolging van Jehovah doen?
17 Solank iemand uitgesit of gedissosieer is, moet ons hierdie instruksie volg: “[Moenie omgaan] met iemand wat, al staan hy as ’n broeder bekend, ’n hoereerder is of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie” (1 Korinthiërs 5:11). Maar hierdie Bybelse riglyn behoort nie ons beskouing van Christelike gesinslede wat saam met die uitgesette persoon woon te beïnvloed nie. Eertydse Jode was so heftig teen tollenaars gekant dat hulle selfs die gesin van die tollenaar gehaat het. Jesus het dit nie goedgekeur nie. Hy het gesê dat ’n sondaar wat nie gehelp wou word nie “soos die heiden en die tollenaar” behandel moes word; hy het nie gesê dat Christelike gesinslede so behandel moes word nie.—Mattheüs 18:17.
18, 19. Wat is ’n paar maniere waarop ons ons Christelikheid teenoor getroue familielede van ’n uitgesette persoon kan betoon?
18 Ons behoort veral gesinslede wat getroue Christene is te ondersteun. Hulle het dalk reeds met pyn en struikelblokke te kampe omdat hulle in dieselfde huis woon as iemand wat uitgesit is en wat hulle dalk selfs in hulle geestelike strewes ontmoedig. Hy wil dalk nie hê dat Christene by die huis kom kuier nie; of as hulle vir die lojale gesinslede kom kuier, is hy miskien nie bedagsaam genoeg om uit die besoekers se pad te bly nie. Hy kan ook probeer om die gesin se pogings om al die Christenvergaderinge en -byeenkomste by te woon in die wiele te ry. (Vergelyk Mattheüs 23:13.) Christene wat met so ’n hindernis te kampe het, verdien beslis ons barmhartigheid.—2 Korinthiërs 1:3, 4.
19 Een manier waarop ons ware barmhartigheid kan betoon, is deur ‘bemoedigend te spreek’ en aanmoedigende gesprekke met sulke getroue gesinslede te voer (1 Thessalonicense 5:14, NW). Daar is ook goeie geleenthede om ondersteuning te gee voor en ná vergaderinge, wanneer julle velddiens doen of wanneer julle op ander tye bymekaar is. Ons hoef nie van uitsetting te praat nie, maar daar is baie opbouende dinge wat ons kan bespreek (Spreuke 25:11; Kolossense 1:2-4). Hoewel die ouere manne steeds soos herders vir die Christene in die gesin sal sorg, sal ons dalk agterkom dat ons ook by hulle kan kuier sonder dat ons iets met die uitgesette persoon te doen hoef te hê. As die uitgesette persoon die deur oopmaak wanneer ons kom kuier of die telefoon antwoord wanneer ons bel, kan ons net vra dat hy die Christelike gesinslid roep na wie ons soek. Soms kan die Christelike gesinslede ’n uitnodiging na ons huis aanvaar om ’n bietjie met ons te assosieer. Die punt is: Hulle—jonk en oud—is ons medeknegte, geliefde lede van God se gemeente, en hulle moenie afgesonder word nie.—Psalm 10:14.
20, 21. Hoe moet ons voel en optree as iemand herstel word?
20 ’n Ander gebied waarop ons barmhartigheid kan betoon, is wanneer ’n uitgesette persoon herstel word. Jesus se illustrasies beklemtoon die blydskap in die hemel wanneer ‘een sondaar hom bekeer’ (Lukas 15:7, 10). Paulus het die volgende aan die Korinthiërs geskryf aangaande die man wat uitgesit was: “[Julle moet] hom . . . vergewe en vertroos, dat so iemand nie miskien deur alte groot droefheid verteer word nie. Daarom vermaan ek julle om die liefde aan hom te bevestig” (2 Korinthiërs 2:7, 8). Laat ons daardie raad ernstig en liefdevol toepas in die dae en weke ná iemand herstel is.
21 Jesus se gelykenis van die verlore seun noem ’n gevaar wat ons moet vermy. Die oudste broer was nie bly dat die verlore seun teruggekom het nie, maar was kwaad. Ons moet nie so wees en kwade gevoelens koester oor ’n onreg wat verby is of iemand dit nie gun dat hy herstel word nie. Ons doel is eerder om soos die vader te wees, wat Jehovah se reaksie uitgebeeld het. Die vader was bly dat sy seun, wat verlore en so goed as dood was, gevind is, of weer lewend geword het (Lukas 15:25-32). Daarom sal ons vrylik met die herstelde broer praat en hom andersins aanmoedig. Ja, ons moet dit duidelik maak dat ons barmhartigheid betoon, soos ons vergewensgesinde en barmhartige hemelse Vader ook doen.—Mattheüs 5:7.
22. Wat is daarby betrokke om Jehovah God na te volg?
22 Dit ly geen twyfel nie, as ons ons God wil navolg, moet ons ooreenkomstig sy gebooie en sy geregtigheid barmhartigheid aan die dag lê. Die psalmdigter beskryf hom só: “Genadig en barmhartig is die HERE, lankmoedig en groot van goedertierenheid. Die HERE is vir almal goed, en sy barmhartighede is oor al sy werke” (Psalm 145:8, 9). Wat ’n liefdevolle voorbeeld vir Christene om na te volg!
[Voetnote]
a “Tollenaars is om verskeie redes deur die Joodse bevolking van Palestina gehaat: (1) hulle het geld ingesamel vir die vreemde moondheid wat Israel beset het en het gevolglik hierdie euwel indirek ondersteun; (2) hulle was bekend vir hulle gewetenloosheid, en hulle het hulself ten koste van ander van hulle eie volk verryk en (3) hulle werk het hulle gereeld met nie-Jode in aanraking gebring, wat hulle ritueel onrein gemaak het. Veragting vir tollenaars word in die N[uwe] T[estament] sowel as die rabbynse literatuur aangetref . . . Volgens laasgenoemde moes selfs die gesin van die tollenaar gehaat word.”—The International Standard Bible Encyclopedia.
b As ’n uitgesette familielid in ’n Christen se huis woon, sal daardie persoon steeds deel wees van die normale, alledaagse huishoudelike verhoudinge en bedrywighede. Dit kan insluit dat hy teenwoordig is wanneer die gesin geestelike materiaal bespreek.—Sien Die Wagtoring van 15 November 1988, bladsye 19, 20.
c Sien die 1991 Yearbook of Jehovah’s Witnesses, bladsye 53-4.
d As ’n Getuie gedurende die predikingswerk van huis tot huis of op ’n ander manier hoor van ’n uitgesette persoon wat in die gebied woon, moet hy daardie inligting aan die ouere manne verstrek.
Het jy hierdie punte raakgesien?
◻ Hoe het Jode tollenaars en sondaars behandel, maar waarom het Jesus met party van hulle omgegaan?
◻ Watter skriftuurlike grondslag is daar om barmhartig die inisiatief te neem ten opsigte van baie wat verlore is?
◻ Hoe kan liggame van ouere manne hierdie inisiatief neem, en teenoor wie?
◻ Hoe moet ons barmhartigheid betoon teenoor herstelde persone en teenoor die gesinne van uitgesette persone?
[Venster op bladsy 23]
Enigiemand wat eens ’n deel van God se rein en gelukkige gemeente was maar nou uitgesit of gedissosieer is, hoef nie in so ’n toestand te bly nie. Nee, die persoon kan tot bekering kom en die inisiatief neem om met die ouere manne van die gemeente te praat. Die pad terug is oop.
[Foto-erkenning op bladsy 24]
Garo Nalbandian