Toon Christelike lojaliteit wanneer ’n familielid uitgesit is
1. Watter situasie kan ’n Christen se lojaliteit toets?
1 Die band tussen familielede kan baie sterk wees. Dit is vir ’n Christen ’n toets wanneer ’n huweliksmaat, ’n kind, ’n ouer of ’n ander nabye familielid uitgesit is of hom van die gemeente gedissosieer het (Matt. 10:37). Hoe behoort lojale Christene so ’n familielid te behandel? Maak dit ’n verskil as die persoon in jou huis woon? Kom ons hersien eerstens wat die Bybel hieroor sê, aangesien die beginsels daarin ewe veel van toepassing is op dié wat uitgesit is as op dié wat hulle gedissosieer het.
2. Hoe moet Christene, volgens die Bybel, persone behandel wat uit die gemeente gesit is?
2 Hoe ons uitgesette persone moet behandel: God se Woord sê dat Christene nie met iemand moet omgaan wat uit die gemeente gesit is nie: “Hou [op] om met enigeen om te gaan wat ’n broer genoem word maar wat ’n hoereerder of ’n gierigaard of ’n afgodedienaar of ’n kwaadspreker of ’n dronkaard of ’n afperser is, en [moenie] eens saam met so iemand . . . eet nie. . . . Verwyder die goddelose mens onder julle uit” (1 Kor. 5:11, 13). Jesus se woorde in Matteus 18:17 hou ook hiermee verband: “Laat [die uitgesette persoon] vir jou net soos ’n man van die nasies en soos ’n belastinggaarder wees.” Die mense met wie Jesus gepraat het, het goed geweet dat die Jode van daardie tyd glad niks met nie-Jode te doen gehad het nie en dat hulle belastinggaarders as uitgeworpenes vermy het. Jesus het sy volgelinge dus geleer om nie met uitgesette persone om te gaan nie.—Sien Die Wagtoring van 1 Desember 1981, bladsye 15-17 (Engels: 15 September 1981, bladsye 18-20).
3, 4. Watter soort omgang met uitgesette en gedissosieerde persone mag ons nie hê nie?
3 Dit beteken dat lojale Christene nie geestelike omgang moet hê met enigiemand wat uit die gemeente gesit is nie. Maar meer is daarby betrokke. God se Woord sê dat ons “nie eens saam met so iemand [moet] eet nie” (1 Kor. 5:11). Ons vermy derhalwe ook sosiale omgang met ’n uitgesette persoon. Dit beteken dat ons nie saam met hom sal piekniek hou, na ’n partytjie toe gaan, balspeletjies speel, inkopies doen, teater toe gaan of sal eet nie, hetsy by die huis of in ’n restaurant.
4 Mag ons met ’n uitgesette persoon praat? Hoewel die Bybel nie elke moontlike situasie dek nie, help 2 Johannes 10 ons om Jehovah se beskouing hieroor te kry: “As iemand na julle toe kom en nie hierdie leer bring nie, moet julle hom nooit in julle huise ontvang of hom groet nie.” Die Wagtoring van 1 Desember 1981, bladsy 22, lewer hieroor kommentaar en sê dat “net om vir iemand ‘Hallo’ te sê die eerste stap kan wees wat tot ’n gesprek of moontlik selfs ’n vriendskap kan lei. Wil ons daardie eerste stap teenoor ’n uitgesette persoon doen?”
5. Wat verbeur iemand wanneer hy uitgesit word?
5 Dit is inderdaad net soos bladsy 28 van dieselfde nommer van Die Wagtoring sê: “Die feit is dat wanneer ’n Christen hom aan sonde oorgee en uitgesit moet word, hy baie verbeur: sy goedgekeurde naam by God; . . . soete omgang met die broers, met inbegrip van baie van die omgang wat hy met Christenfamilielede gehad het.”
6. Moet ’n Christen alle omgang vermy met ’n uitgesette familielid wat in dieselfde huis woon? Verduidelik.
6 In dieselfde huis: Beteken dit dat Christene wat in dieselfde huis as ’n uitgesette gesinslid woon, in hulle daaglikse bedrywighede dit moet vermy om met hom te praat, saam met hom te eet of met hom om te gaan? Die Wagtoring van 15 April 1991 sê in die voetnoot op bladsy 22: “As ’n uitgesette familielid in ’n Christen se huis woon, sal daardie persoon steeds deel wees van die normale, alledaagse huishoudelike verhoudinge en bedrywighede.” Gesinslede kan dus self besluit tot watter mate die uitgesette gesinslid ingesluit kan word tydens maaltye of ander bedrywighede in die huis. En tog sal hulle nie broers met wie hulle omgaan, die indruk wil gee dat alles dieselfde is as voordat die persoon uitgesit is nie.
7. Hoe sal geestelike omgang in die huis verander wanneer ’n gesinslid uitgesit word?
7 Maar Die Wagtoring van 1 Desember 1981, bladsy 25, sê aangaande die uitgesette of gedissosieerde persoon: “Die vorige geestelike bande is heeltemal verbreek. Dit is waar selfs ten opsigte van sy familielede, met inbegrip van diegene in sy gesinskring. . . . Dit sal veranderinge beteken in die geestelike omgang wat in die huis bestaan het. As die man byvoorbeeld uitgesit is, sal sy vrou en kinders nie gemaklik voel wanneer hy ’n gesins-Bybelstudie hou, die Bybel vir hulle voorlees of hulle in gebed voorgaan nie. As hy wil bid, soos met maaltye, het hy die reg om dit in sy eie huis te doen. Maar hulle kan stil hulle eie gebede tot God doen (Spr. 28:9; Ps. 119:145, 146). Maar gestel dat ’n uitgesette persoon in die huis teenwoordig wil wees wanneer die gesin die Bybel saam lees of ’n Bybelstudie hou. Die ander kan hom toelaat om te kom luister mits hy nie probeer om hulle te leer of sy godsdiensidees te verkondig nie.”
8. Watter verantwoordelikheid het Christenouers teenoor ’n minderjarige uitgesette kind wat nog in die huis is?
8 As ’n minderjarige kind wat nog in die huis is, uitgesit word, is Christenouers nog steeds vir sy opvoeding verantwoordelik. Die Wagtoring van 15 November 1988, bladsy 20, sê: “Net soos hulle hom steeds van voedsel, klere en onderdak sal voorsien, moet hulle hom ooreenkomstig God se Woord onderrig en dissiplineer (Spreuke 6:20-22; 29:17). Liefdevolle ouers kan dus reël om ’n tuisbybelstudie met hom te hou, al is hy uitgesit. Miskien sal dit vir hom, met die oog op verbetering, die voordeligste wees as hulle met hom alleen studeer. Of hulle kan besluit dat hy steeds aan die gesinstudiereëling kan deelneem.”—Sien ook Die Wagtoring van 1 Oktober 2001, bladsye 16-17.
9. In watter mate mag ’n Christen kontak hê met ’n uitgesette familielid wat nie in die huis woon nie?
9 Familielede wat nie in die huis woon nie: “Die situasie is anders wanneer die uitgesette of gedissosieerde persoon ’n familielid is wat buite die gesinskring of huis woon”, sê Die Wagtoring van 15 April 1988, bladsy 28. “Dit sal dalk moontlik wees om feitlik geen kontak met die familielid te hê nie. Selfs al is daar sommige familiesake wat kontak vereis, moet dit beslis tot ’n minimum beperk word”, ooreenkomstig die Goddelike opdrag om “op te hou om met enigeen om te gaan” wat onberouvol sondig (1 Kor. 5:11). Lojale Christene moet onnodige omgang met so ’n familielid probeer vermy en selfs kontak in sakebedrywighede tot die absolute minimum beperk.—Sien ook Die Wagtoring van 1 Desember 1981, bladsye 26-7.
10, 11. Wat sal ’n Christen oorweeg voordat hy toelaat dat ’n uitgesette familielid in sy huis intrek?
10 Die Wagtoring bespreek nog ’n situasie wat kan ontstaan: “Sê nou dat ’n naverwant, soos ’n seun of ouer wat nie in die huis woon nie, uitgesit word en daarna wil terugtrek huis toe? Die gesin kan besluit wat om te doen, afhangende van die situasie. ’n Uitgesette ouer kan byvoorbeeld siek wees of nie langer in staat wees om finansieel of fisies vir homself te sorg nie. Die Christenkinders het ’n Skriftuurlike en morele verpligting om hulp te verleen (1 Tim. 5:8). . . . Wat gedoen gaan word, sal afhang van faktore soos die ouer se ware behoeftes, sy gesindheid en die agting wat die hoof van die huisgesin vir die geestelike welsyn van die gesin het.”—Die Wagtoring van 1 Desember 1981, bladsye 25-6.
11 Wat ’n kind betref, sê dieselfde artikel verder: “Christenouers het soms ’n kind wat fisies of emosioneel siek geword het ’n ruk lank in die huis teruggeneem. Maar in elke geval kan die ouers die individuele omstandighede in ag neem. Het ’n uitgesette seun op sy eie gewoon, en kan hy dit nou nie meer doen nie? Of wil hy terugtrek hoofsaaklik omdat dit ’n makliker lewe sal wees? Wat van sy sedes en gesindheid? Sal hy ‘suurdeeg’ in die huis inbring?—Gal. 5:9.”
12. Wat is ’n paar voordele van die uitsettingsreëling?
12 Voordele as ons aan Jehovah lojaal is: Dit is voordelig as ons saamwerk met die skriftuurlike reëling om onberouvolle oortreders uit te sit en te vermy. Dit hou die gemeente rein en onderskei ons as mense wat die Bybel se hoë sedelike standaarde handhaaf (1 Pet. 1:14-16). Dit beskerm ons teen verderflike invloede (Gal. 5:7-9). Dit gee die oortreder ook die geleentheid om ten volle baat te vind by die dissipline wat hy ontvang het en wat hom kan help om die ‘vreedsame vrug, naamlik regverdigheid’, voort te bring.—Heb. 12:11.
13. Watter aanpassing het een familie gemaak, en wat was die gevolg?
13 Nadat ’n broer en sy vleeslike suster ’n toespraak by ’n kringbyeenkoms gehoor het, het hulle besef dat hulle aanpassings moes maak in die manier waarop hulle opgetree het teenoor hulle ma, wat op ’n ander plek gebly het en al ses jaar uitgesit is. Direk ná die byeenkoms het die man sy ma gebel, haar van hulle liefde verseker en verduidelik dat hulle nie meer met haar kon praat tensy daar dringende familiesake was wat vereis het dat hulle met haar in aanraking kom nie. Kort daarna het sy ma die vergaderinge begin bywoon en is sy uiteindelik herstel. Haar ongelowige man het ook begin studeer en is mettertyd gedoop.
14. Waarom moet ons die uitsettingsreëling lojaal ondersteun?
14 Ons lojale ondersteuning van die uitsettingsreëling wat in die Skrif uiteengesit word, toon ons liefde vir Jehovah en gee ’n antwoord aan die een wat Hom uittart (Spr. 27:11). Op ons beurt kan ons die versekering hê dat Jehovah ons sal seën. Koning Dawid het van Jehovah geskryf: “Wat sy insettinge betref, ek sal nie daarvan afwyk nie. Met iemand wat lojaal is, sal u lojaal handel.”—2 Sam. 22:23, 26.