Hou aan om die saad te saai—Jehovah sal dit laat groei
SOOS VERTEL DEUR FRED METCALFE
VROEG in 1948 het ek in my bediening van huis tot huis ’n plasie aan die buitewyke van Cork in die suide van Ierland besoek. Toe ek aan die boer verduidelik wie ek is, het hy bloedrooi in sy gesig geword. Hy het in woede uitgebars, my vir ’n Kommunis uitgekryt en gehardloop om sy gaffel te kry. Sonder om twee keer te dink het ek spore gemaak van die plaaswerf af en so in die hardloop op my fiets gespring, wat ek langs die pad laat staan het. Die bult daar was baie steil, maar ek het sonder om om te kyk so vinnig as wat ek kon, afgery, want ek het in my verbeelding gesien hoe die boer sy gaffel soos ’n werpspies agter my aan gooi.
Ek het al aan sulke reaksies gewoond geraak in die twee jaar vandat ek in 1946 uit Engeland as ’n spesiale pionier na die Republiek Ierland gekom het. Die groepie van net ongeveer 24 Koninkryksverkondigers by wie ek aangesluit het, het teen hierdie tyd reeds kwaai vyandigheid en beswaddering verduur. Maar ek was oortuig dat Jehovah se gees mettertyd resultate sou meebring.—Galasiërs 6:8, 9.
Maar voordat ek vertel hoe sake verloop het, wil ek julle eers so ’n ietsie vertel van my jong dae en die opvoeding wat my in sulke moeilike omstandighede baie gehelp het.
Goeie voorbeeld en opvoeding deur ouers
My vader het vroeg in 1914 met die waarheid in aanraking gekom. Op pad huis toe van ’n sokkerwedstryd in Sheffield, Engeland, af het hy ’n Bybeltraktaat gelees wat die toestand van die dode verduidelik het. Hy het toe al etlike kerke besoek in sy soeke na antwoorde op sy vrae, maar met min welslae. Wat hy toe in daardie traktaat gelees het, het hom opgewonde gemaak. Hy het, na aanleiding van die advertensie in die traktaat, die ses dele van Studies in the Scriptures bestel. Hy het hulle verslind en dikwels tot die vroeë oggendure toe gelees. My pa het gou die waarheid ingesien.
Kort daarna het hy met die plaaslike gemeente van Jehovah se Getuies begin assosieer; ’n verbintenis wat meer as 40 jaar geduur het en waarvan hy die meeste van die tyd as presiderende opsiener gedien het. Tot my vader se groot vreugde het twee van sy broers en al drie sy susters die waarheid aangeneem. Een van sy broers het vir ’n jong verkoopsmeisie getuig, en sy en haar suster het albei toegewyde, gesalfde Christinne geword. My vader en sy broer is later met hierdie twee jong meisies getroud.
Ek was een van vier seuns in my gesin wat in “die tug en vermaning van die Here” opgevoed is (Efesiërs 6:4). Ek is bly dat my ouers geen moeite ontsien het om die waarheid by ons in te skerp nie. Destyds was daar geen spesiale publikasies met die doel om ouers te help om Bybelwaarhede aan hulle kinders te leer nie; maar ons het twee keer per week ’n gereelde gesinsbybelstudie uit die boek Die Harp van God gehad, en ons het ook ’n gereelde bespreking van die dagteks gehad.—Deuteronomium 6:6, 7; 2 Timotheüs 3:14, 15.
My moeder en vader se waardering vir die vergaderinge en hulle ywer vir die bediening was ook vir ons ’n wonderlike voorbeeld. My vader het ook, benewens sy uitnemende geestelike hoedanighede, ’n goeie humorsin gehad, wat hy aan sy kinders oorgedra het. My ouers se harde werk het goeie vrugte afgewerp. Al vier hulle seuns, wat nou in hulle sestigerjare is, dien Jehovah nog steeds met vreugde.
Ek begin met pionierdiens
In April 1939, toe ek 16 jaar oud was, het ek my skoolopleiding voltooi en ’n gewone pionier geword. My vader het by my in die pionierdiens aangesluit en my ’n uitstekende opleiding gegee. Ons het met fietse die hele gebied binne ’n radius van 11 kilometer om ons huis deeglik gedek. Ons het altwee elke dag 50 boekies geneem, en ons het nie huis toe gegaan voordat ons hulle nie almal versprei het nie.
Twee jaar later het ek die voorreg gehad om onder die eerste spesiale pioniers te wees wat in Brittanje aangestel is. Dit was ’n vreugde om hierdie seën te ontvang, maar dit was traumaties om die geluk en geborgenheid van ’n teokratiese tuiste te verlaat. Ek het my mettertyd en met Jehovah se hulp aangepas.
My pionierdiens is gedurende die Tweede Wêreldoorlog onderbreek toe ek, saam met ander jong Getuies, oor die neutraliteitsgeskil in die gevangenis beland het. Ek is in die Durham-gevangenis as ’n JG (Jong Gevangene) geklassifiseer. Dit het beteken dat ek ’n kortbroek moes dra—’n besliste nadeel in koue weer. Stel jou die prentjie voor: ek, Wilf Gooch (tans die koördineerder van die Takkomitee in Brittanje), Peter Ellis (’n lid van die Britse Takkomitee) en Fred Adams—almal amper 1,8 meter lank—waar ons almal soos ’n klomp skoolseuns in kortbroeke staan!
Toewysing—Ierland
Ná my ontslag uit die gevangenis het ek drie jaar lank in verskillende dele van Engeland pionierdiens gedoen. Toe het ek ’n toewysing ontvang wat vir my ’n toets sou wees en terselfdertyd aan my die grootste bevrediging sou verskaf—die Republiek Ierland. Al wat ek van die suide van Ierland geweet het, was dat feitlik almal daar Rooms-Katolieke was. Maar ek het my nie gesteur aan die negatiewe kommentare van sommige nie en het sonder om te aarsel die toewysing aangeneem. Dit was ’n tyd vir die uitbreiding van ware aanbidding, en ek was oortuig dat Jehovah my deur sy heilige gees sou help.
Die meeste van die Getuies in die Republiek Ierland was in die hoofstad, Dublin, met net een of twee hier en daar op ander plekke. Gevolglik het die meeste mense nog nooit eers een van Jehovah se Getuies gesien nie. Ek het saam met drie ander spesiale pioniers in die stad Cork begin werk. Dit was nie maklik om ’n horende oor te vind nie. Tydens hulle Mis het die priesters hulle mense voortdurend teen ons gewaarsku en ons “Kommunistiese duiwels” genoem. Koerante het ook die publiek teen ons bedrywighede gewaarsku.
Eendag was ’n haarkapper besig om my hare met ’n outydse skeermes (cutthroat) te sny. In die loop van ons gesprek het hy my gevra wat ek in Cork doen. Toe ek hom vertel, het hy woedend geword en my gevloek. Hy was so kwaad dat sy hand gebewe het, en ek het al gesien hoe ek met my kop onder my arm by sy winkel uitstap! Hoe verlig was ek tog om heelhuids daar uit te kom!
Gepeupelgeweld
Ons het soms met gepeupelgeweld te kampe gehad. Een dag in Maart 1948 was ons byvoorbeeld besig in die bediening van huis tot huis toe ’n gepeupel my maat, Fred Chaffin, aangerand het. Fred het, met die gepeupel op sy hakke, na ’n busterminus toe gevlug en by ’n busbestuurder en ’n kondukteur hulp gesoek. In plaas daarvan het hulle hom ook begin toetakel. Fred het verder in die straat op gehardloop en daarin geslaag om weg te kruip agter ’n hoë muur wat aan die priester se huis gegrens het.
Ek het intussen na my fiets toe genael en met ’n systraat langs weer by die middestad probeer kom. Maar toe ek in die hoofstraat indraai, het die gepeupel my daar ingewag. Twee mans het my boeketas gegryp en die inhoud daarvan in die lug gegooi. Toe het hulle my met die vuis begin slaan en begin skop. Skielik het ’n man op die toneel verskyn. Hy was ’n polisieman in gewone drag en hy het die aanranding stopgesit en my en die aanranders na die polisiekantoor geneem.
Hierdie aanranding het ’n geleentheid geskep om ‘die goeie nuus te verdedig en wetlik te bevestig’ (Filippense 1:7, NW). Toe die saak voorgekom het, het die polisieman wat my gered het, en wat self ’n Rooms-Katoliek was, in die hof getuig, en ses mense is skuldig bevind op ’n aanklag van aanranding. Die saak het bewys dat ons ’n reg gehad het om van huis tot huis te gaan en het as ’n afskrikkende voorbeeld gedien vir diegene wat miskien daaraan gedink het om hulle toevlug tot geweld te neem.
Aanvanklik was dit die mening dat dit te gevaarlik is om susters as pioniers na plekke soos Cork te stuur. Maar dit het dikwels gelyk of dit beter sou wees as susters belangstellende vroue besoek. Die Genootskap het dus kort vóór hierdie aanranding twee gawe pioniersusters na Cork toe aangewys. Een van hulle, Evelyn MacFarlane, het later ’n sendeling geword en uitstekende werk in Chili gedoen. Die ander een, Caroline Francis, wat haar huis in Londen verkoop het om in Ierland pionierdiens te kom doen, het my vrou geword.
Waarheidsaad ontkiem
Ons kon maklik gedink het dat ons ons tyd verspil deur die saad van Koninkrykswaarheid onder sulke omstandighede te saai. Maar die feit dat ons gesien het hoe die waarheid hier en daar ontkiem, het ons geloof versterk in Jehovah se vermoë om dit te laat groei. Die Genootskap het byvoorbeeld by een geleentheid die naam en adres van ’n man aan ons gestuur wat aan hulle geskryf en ’n eksemplaar van die boek Laat God waaragtig wees gevra het. Die adres was in Fermoy, ’n dorpie sowat 35 kilometer van die stad Cork af. Ek het dus een Sondagoggend op my fiets gespring en in die pad geval om hierdie man te gaan opsoek.
Toe ek by Fermoy kom, het ek by ’n man navraag gedoen. “O”, het hy gesê, “dis nog [14 kilometer] met hierdie pad aan.” Ek het weer in die pad geval en uiteindelik ’n plaas met ’n plaaspaadjie langs bereik. Die jong man wat die boek bestel het, het by die plaashek gestaan. Toe ek my aan hom voorstel, het hy gesê: “Daardie boek is sy gewig in goud werd!” Ons het ’n goeie bespreking gehad, en ek was nouliks bewus van die 50 kilometer lange fietsrit terug huis toe. Selfs vandag nog, meer as 40 jaar later, is dit vir my ’n groot genot wanneer ek daardie “jong” man, Charles Rinn, elke jaar by byeenkomste ontmoet. Vandag is daar tien gemeentes in die Cork-gebied.
Gedurende die vyftigerjare het ek en Caroline waarheidsaad in die middelland van Ierland gesaai. Aanmoediging om te volhard het in 1951 gekom toe sagmoediges soos “ouma” Hamilton en haar skoondogter die waarheid gou aangeneem het. “Ouma” Hamilton het die eerste gedoopte verkondiger in die graafskap Longford geword.—1 Thessalonicense 2:13.
Huisvesting was ’n probleem. Sodra daar druk op huisbase uitgeoefen is, het hulle ons gevra om te trek. Nadat ons drie verskillende kamers kort na mekaar verloor het, het ons toe maar ’n tent, ’n grondseil en slaapsakke gekoop en hulle in ’n model Y-Fordjie saam met ons geneem. Aan die einde van elke dag se getuieniswerk het ons die tent opgeslaan waar ons ook al kon. Later het ons ’n vier meter lange woonwa aangeskaf. Hy was beknop, met weinig moderne geriewe—ons moes ’n halfkilometer ver loop vir drinkwater—en hy het geen isolering ingehad nie, maar vir ons was dit luukse huisvesting. My humorsin is eendag beproef toe ek op ’n nat boomwortel gegly en agteroor in ’n lang, smal, vlakkerige put geval het. Ons het nietemin die kringopsiener en sy vrou in daardie woonwa gehuisves wanneer hulle ons besoek het.
Somtyds het goedhartige mense onverwagte weldade aan ons bewys. In 1958 het ons byvoorbeeld na Sligo in die weste van Ierland gegaan, agt jaar ná ’n ander pionierpaartjie uit die dorp gesit is. Ons het gebid dat Jehovah ons moet help om ’n staanplek vir die woonwa te vind, en na baie ure se gesoek het ons afgekom op ’n groot steengroef wat nie in gebruik was nie. ’n Man wat met beeste in die paadjie afgekom het, het ons meegedeel dat die steengroef aan sy familie behoort. “Kan ons dit gebruik?” het ons gevra, en aan hom gesê dat ons verteenwoordigers van ’n Bybelgenootskap is. Hy het gesê ons kan dit met plesier doen.
Kort daarna het hy gevra: “Aan watter Bybelgenootskap behoort julle?” Dit was ’n benoude oomblik. Ons het vir hom gesê dat ons Jehovah se Getuies is. Tot ons grootste verligting het hy vriendelik gebly. ’n Paar weke later het hy aan ons ’n kwitansie vir ’n jaar se huur vir die staanplek gegee. “Ons wil geen geld hê nie”, het hy gesê. “Maar ons weet met watter teenstand julle mense te doen het, en as enigiemand dus sou vra watter reg julle het om hier te staan, dan is dit julle bewys.”
Terwyl ons in Sligo was, het ons gehoor van ’n man—’n welbekende winkelier en sokkerspeler—wat ’n mate van belangstelling in die waarheid getoon het toe die vorige pioniers nog in die dorp was. Omdat hy egter agt jaar lank min met die Getuies in aanraking was, het ons gewonder hoe dit teen dié tyd met hom gaan. Die stralende glimlag op Mattie Burn se gesig toe ek my aan hom voorstel, het die antwoord verstrek. Die waarheidsaad wat jare tevore geplant is, het nie doodgegaan nie. Hy is nog steeds ’n lid van die bedrywige gemeentetjie in Sligo.
Gesindhede verander
Een plek wat ’n sprekende voorbeeld was van baie se vyandige gesindheid teenoor ons, was die dorp Athlone. Toe ons ons in die vyftigerjare met die getuieniswerk op daardie gebied begin toespits het, het die priesters gereël dat almal wat in een deel van die dorp woon ’n versoekskrif onderteken wat gesê het hulle wil nie hê dat Jehovah se Getuies hulle moet besoek nie. Hulle het hierdie versoekskrif aan die regering gestuur, en dit het die werk etlike jare lank in Athlone baie bemoeilik. Eenkeer het ’n groep jeugdiges my as ’n Getuie herken en my met klippe begin gooi. Toe ek voor ’n winkelvenster gaan staan, het die eienaar my in sy winkel ingenooi—meer om sy venster te beskerm as vir my—en my by die agterdeur laat uitgaan.
Maar toe ek onlangs, in Augustus 1989, in Athlone ’n begrafnistoespraak vir ’n getroue broer gehou het, kon ek nie help om my te verwonder oor die groei wat Jehovah daar gegee het nie. Benewens lede van die gemeente, het sowat 50 plaaslike mense eerbiedig na die begrafnisrede geluister in die mooi Koninkryksaal wat deur die broers gebou is.
Spesiale opleiding aan die Gileadskool
In 1961 is ek genooi na ’n kursus van tien maande aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Hierdie spesiale kursus was net vir broers, daarom moes ek en Caroline die uitnodiging biddend oorweeg. Ons was 12 jaar lank nooit van mekaar geskei nie. Boonop het my vrou ook ’n sterk begeerte gehad om die Gileadskool by te woon en ’n sendeling te word, en daarom was sy veral teleurgestel dat sy nie ook genooi is nie. Maar omdat sy edelmoedig was, het sy Koninkryksbelange eerste gestel en toegestem dat ek moes gaan. Die kursus was ’n wonderlike voorreg. Dit was nogtans ’n vreugde om terug te keer huis toe en betrokke te raak by die werk in die Genootskap se takkantoor en aanmoediging te gee aan die 200 of meer Getuies wat in die vroeë sestigerjare in Ierland besig was met die plant- en natmaakwerk.
Etlike jare later, in 1979, het Caroline tog die geleentheid gekry om die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York te besoek toe ek na ’n spesiale Gileadkursus vir Takkomiteelede genooi is. Dit was die hoogtepunt van, soos dit later geblyk het, die laaste deel van haar lewe. Twee jaar later is sy oorlede. Deur die 32 jaar heen wat ons saam in die voltydse bediening gedien het, het Caroline nooit haar ywer vir Jehovah se diens of haar geloof dat hy die groei sou gee, verloor nie.
Ek het haar ontsettend baie gemis. Een ding wat my gehelp het om my verlies te verwerk, was ’n artikel in ’n Ontwaak! wat destyds verskyn het, met die opskrif “Hoe om ná die dood van ’n dierbare met die lewe voort te gaan” (8 Junie 1981). Wanneer ek aan my afgestorwe maat gedink het, het my oë vol trane geskiet, maar ek het gedoen wat die artikel aan die hand gegee het en my in Jehovah se diens besig gehou.
Jehovah se seën duur voort
’n Jaar vantevore, in April 1980, was ek teenwoordig toe broer Lyman Swingle van die Bestuursliggaam ’n nuwe takkantoorgebou in Dublin toegewy het. Hoe opwindend was dit tog om 1 854 verkondigers in die veld te sien, wat teen daardie tyd ook Noord-Ierland ingesluit het! En nou, tien jaar later, toon die rapport in die jaarboek ’n hoogtepunt van 3 451 vir 1990!
Intussen het ek nog ’n seën ontvang. Terwyl ek as ’n instrukteur vir die Koninkryksbedieningskool gedien het, het ek Evelyn Halford, ’n aantreklike en ywerige suster, ontmoet wat na Ierland toe gekom het om te dien waar daar hulp nodig was. Ons is in Mei 1986 getroud, en sy is inderdaad ’n ware hulp vir my in al my teokratiese bedrywighede.
Van my 51 jaar in die voltydse diens vandat ek die skool verlaat het, het ek 44 in Ierland deurgebring. Dit is hartverblydend om te sien hoe baie van diegene wat ek gehelp het Jehovah nog steeds dien, sommige as ouere manne en bedieningsknegte. Ek kan sonder aarseling sê dat een van die grootste vreugdes wat ’n mens kan smaak, is om iemand anders op die weg na die lewe te help.
Dit was geloofversterkend om te sien hoe ware aanbidding, ondanks kwaai teenstand, in die een plek na die ander in Ierland gedy. Tans is daar ongeveer 3 500 verkondigers verbonde aan meer as 90 gemeentes dwarsdeur die land. Ja, daar is geen perke aan wat Jehovah kan doen nie. Hy sal die saad laat groei as ons dit ywerig plant en natmaak (1 Korinthiërs 3:6, 7). Ek weet dit is so. Ek het dit in Ierland sien gebeur.