Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w95 3/1 bl. 25-28
  • Die beste manier waarop ek my lewe kon gebruik

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die beste manier waarop ek my lewe kon gebruik
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek betree die pionierdiens!
  • Ierland tydens die oorlogsjare
  • Voorrade geestelike voedsel
  • Teëstand word te bowe gekom
  • Terug Engeland toe
  • Jehovah seën ons as ons doen wat hy vra
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2017
  • Hou aan om die saad te saai—Jehovah sal dit laat groei
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Lewenslank saam in die pionierdiens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Die seëninge van die pionierbediening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
w95 3/1 bl. 25-28

Die beste manier waarop ek my lewe kon gebruik

SOOS VERTEL DEUR BOB ANDERSON

Ongeveer tien jaar gelede het ’n paar vriende my gevra: “Waarom is jy al so lank ’n pionier, Bob?” “Wel”, het ek geglimlag en gesê, “kan julle aan enigiets beters dink as om pionierdiens te doen?”

EK WAS 23 jaar oud toe ek in 1931 die pionierdiens betree het. Nou is ek 86 jaar oud en dien steeds as ’n pionier. Ek weet dat ek my lewe aan niks beters kon gewy het nie. Laat ek verduidelik waarom ek so sê.

In 1914 is ’n traktaat by ons huis gelaat. Dit was deur die Internasionale Bybelstudente uitgegee, soos Jehovah se Getuies toe genoem is. Toe die Getuie teruggekom het, het my ma hom sorgvuldig oor die helse vuur uitgevra. Sy is as ’n streng Wesleyaanse Metodis grootgemaak, maar kon nooit hierdie leerstelling van ewige foltering met ’n God van liefde versoen nie. Die oomblik toe sy die waarheid daaroor uitgevind het, het sy gesê: “Ek was nog nooit in my lewe so gelukkig nie!”

My ma het dadelik opgehou om by die Metodistekerk Sondagskoolklasse te gee en het by die klein groepie Bybelstudente aangesluit. Sy het getuieniswerk begin doen in ons tuisdorp Birkenhead, wat uitkyk op die hawestad Liverpool oorkant die Merseyrivier, en het spoedig gereeld per fiets na talle naburige dorpe gery. Sy het die res van haar lewe in hierdie groot gebied getuig, baie bekend geword en sodoende ’n goeie voorbeeld vir haar kinders gestel. Sy het in 1971 op die rype ouderdom van 97 gesterf, ’n bedrywige Getuie tot die einde toe.

Ek en my suster, Kathleen, is uit die Metodistekerk se Sondagskool geneem sodat ons saam met my ma na haar vergaderinge met die Bybelstudente kon gaan. Later, toe my pa ook saamgekom het, het my ouers reëlings getref vir ’n gereelde gesinsbybelstudie uit die boek Die harp van God. In daardie dae was só ’n studie ’n nuwigheid, maar hierdie vroeë grondslag van basiese Bybelwaarhede het goeie vrugte afgewerp, aangesien ek en my suster albei mettertyd die pionierdiens betree het.

My ma het geglo dat die “Fotodrama van die Skepping” wat ons in 1920 in Liverpool gesien het die geestelike keerpunt vir ons kinders was, en sy was reg. Hoewel ek jonk was, het daardie fotodrama ’n groot indruk op my gemaak. Iets wat ek baie goed onthou, is die deel wat Jesus se lewe uitgebeeld het, veral waar dit gewys het hoe hy sy dood tegemoetgaan. Die hele ondervinding het my gehelp om my op die belangrikste werk in die lewe toe te spits—die predikingswerk!

Aan die begin van die twintigerjare het ek Sondagmiddae saam met my ma traktate begin versprei. Ons is eers aangesê om dit by die huise te laat; later is daar vir ons gesê om dit vir die huisbewoners te gee en dan terug te gaan na diegene wat belanggestel het. Ek het dit nog altyd as die vroeë grondslag van ons herbesoeke en Bybelstudies beskou, wat vandag so produktief is.

Ek betree die pionierdiens!

Ek en Kathleen is in 1927 gedoop. Ek het as ’n analitiese chemikus in Liverpool gewerk toe ek, in 1931, die resolusie gehoor het om die naam Jehovah se Getuies aan te neem. Ek het dikwels die Genootskap se kolporteurs (nou bekend as pioniers) by die sakeondernemings in Liverpool sien werk en hulle voorbeeld het my baie beïndruk. Hoe het ek tog nie daarna gesmag om vry van wêreldse omgang te wees en my lewe in Jehovah se diens deur te bring nie!

Gedurende die somer van daardie selfde jaar het my vriend Gerry Garrard vir my gesê dat hy ’n toewysing van die Wagtoringgenootskap se tweede president, Joseph F. Rutherford, aanvaar het om in Indië te gaan getuig. Net voor hy per skip vertrek het, het hy my kom besoek en oor die voorreg van voltydse diens gesels. Toe hy totsiens gesê het, het hy my verder aangemoedig deur te sê: “Ek is seker dat jy binnekort ’n pionier sal wees, Bob.” En dit was ook so. Ek het daardie Oktober begin. Watter vreugde, watter vryheid om per fiets op plattelandse paaie na afgesonderde gemeenskappe te ry en die predikingswerk daar te doen! Ek het toe geweet dat ek met die belangrikste werk wat ek kón doen, begin het.

My eerste pioniertoewysing was in Suid-Wallis waar ek my by Cyril Stentiford aangesluit het. Cyril het later met Kathleen getrou, en hulle het etlike jare saam as pioniers gedien. Hulle dogter, Ruth, het ook later die pionierdiens betree. Teen 1937 was ek in Fleetwood, Lancashire—Eric Cooke se pioniermaat. Tot op daardie tydstip het pioniers net in die plattelandse gebiede van Brittanje gewerk, buite die gemeentes se gebied. Maar Albert D. Schroeder, wat toe verantwoordelik was vir die werk van die Genootskap se takkantoor in Londen, het besluit om ons na die stad Bradford, Yorkshire, toe te stuur. Dit was die eerste keer dat pioniers in Brittanje die toewysing ontvang het om ’n spesifieke gemeente te help.

In 1946 het Eric na die Wagtoring-Bybelskool Gilead gegaan en is na Suid-Rhodesië, nou Zimbabwe, gestuur, en hy en sy vrou dien steeds getrou as sendelinge in Durban, Suid-Afrika.

In 1938 het ek ’n ander toewysing gehad, hierdie keer as sonekneg (nou bekend as ’n kringopsiener) in noordwestelike Lancashire en die pragtige Merestreek. Daar het ek Olive Duckett ontmoet, en nadat ons getroud is, het sy dadelik by my in die kringwerk aangesluit.

Ierland tydens die oorlogsjare

Kort nadat Brittanje in September 1939 teen Duitsland oorlog verklaar het, is my toewysing na Ierland verander. Daar is begin om mense in Brittanje vir militêre diens op te roep, maar nie in die suidelike Republiek van Ierland nie, wat solank die oorlog geduur het ’n neutrale land gebly het. Die Republiek van Ierland en Noord-Ierland sou een kring word. Beperkings is egter ingestel, en ’n mens moes reispermitte bekom om van Brittanje na enige deel van Ierland te gaan. Die owerheid het vir my gesê ek kon gaan, maar ek moes instem om dadelik terug te kom Engeland toe wanneer my ouderdomsgroep opgeroep word. Ek het mondelings ingestem, maar toe ek my permit gekry het, was daar tot my verbasing geen voorwaardes daaraan verbonde nie!

Daar was toe net meer as 100 Getuies in die hele Ierland. Toe ons in November 1939 in Dublin aankom, het Jack Corr, wat al lank ’n pionier was, ons ontmoet. Hy het vir ons gesê daar is nog twee pioniers in ’n nabygeleë dorp en ’n paar belangstellendes in Dublin, ongeveer 20 altesaam. Jack het ’n vertrek vir vergaderinge in Dublin gehuur en almal het ingestem om gereeld elke Sondag daar te vergader. Hierdie reëling het voortgeduur tot die gemeente in 1940 gestig is.

Noord-Ierland, as deel van die Verenigde Koninkryk, het teen Duitsland oorlog gevoer; toe ons dus noord na Belfast gegaan het, het ons met voedselrantsoenboekies en snags met die verduisteringsreël te kampe gehad. Hoewel Nazi-vliegtuie meer as 1 600 kilometer ver moes vlieg om Belfast te bereik en weer na hulle basisse in Europa terug te gaan, het hulle die stad met welslae gebombardeer. Gedurende die eerste aanval is ons Koninkryksaal beskadig en ons woonstel vernietig terwyl ons by broers in ’n ander deel van die stad gekuier het; ons het dus ’n merkwaardige ontkoming gehad. Daardie selfde nag het ’n Getuiegesin na ’n gemeenskaplike bomskuiling gehardloop. Toe hulle daar aankom, was dit vol en moes hulle na hulle huis toe teruggaan. Die skuiling is direk deur ’n bom getref en almal daarin het omgekom, maar ons broers het met net ’n paar snye en kneusplekke daarvan afgekom. Tydens hierdie moeilike oorlogsjare is nie een van ons broers ernstig beseer nie, waarvoor ons Jehovah bedank het.

Voorrade geestelike voedsel

Namate die oorlog voortgeduur het, het beperkings strenger geraak en uiteindelik is possensuur ingestel. Dit het beteken dat Die Wagtoring onderskep is en nie toegelaat is om in die land gebring te word nie. Hoewel ons gewonder het wat ons kon doen, was Jehovah se hand nie kort nie. Een oggend het ek ’n brief van ’n “neef” in Kanada ontvang wat vir my oor familiesake geskryf het. Ek het nie die vaagste benul gehad wie hy was nie, maar in ’n naskrif het hy gesê dat hy vir my “’n interessante Bybelartikel” insluit om te lees. Dit was ’n eksemplaar van Die Wagtoring, maar omdat dit in ’n gewone omslag was, is dit nie deur die sensor verwyder nie.

Ek en my vrou het dadelik, met die hulp van plaaslike Getuies, waaronder Maggie Cooper wat by die “Fotodrama”-werk betrokke was, afskrifte van die artikels begin maak. Ons het onsself weldra georganiseer om 120 eksemplare oor die hele land uit te stuur, aangesien ons gereeld eksemplare van Die Wagtoring in gewone omslae van talle nuwe vriende in Kanada, Australië en die Verenigde State ontvang het. Danksy hulle ywer en goedhartigheid het ons nooit ’n nommer tydens die hele oorlogstyd oorgeslaan nie.

Ons kon ook kringbyeenkomste hou. Die streekbyeenkoms van 1941 was ’n besondere gebeurtenis toe die nuwe boek Kinders vrygestel is. Dit het gelyk asof die sensor nie teen ’n boek wat hy gedink het oor kinders handel beswaar gehad het nie, daarom kon ons ons voorraad sonder enige probleme in die land inkry! By ’n ander geleentheid het ons die boekie Peace—Can It Last? plaaslik laat druk, aangesien dit onmoontlik was om eksemplare van Londen af in te voer. Ondanks al die beperkings wat ons opgelê is, is daar geestelik goed na ons omgesien.

Teëstand word te bowe gekom

’n Leraar wat in Belfast in ’n verpleeginrigting gebly het wat deur een van Jehovah se Getuies bestuur is, het ’n eksemplaar van die boek Rykdom aan sy vrou in Engeland gestuur. Sy was teen die waarheid gekant en in haar antwoord het sy dit duidelik gestel. Sy het ook beweer dat ons “’n onpatriotiese organisasie” is. Die sensor van die pos het dit gelees en die saak by die speurdiens gerapporteer. Ek is gevolglik na die polisiebarakke ingeroep om ’n verduideliking te gee en gevra om ’n eksemplaar van die boek Rykdom saam te bring. Interessant genoeg het ek opgemerk, toe die boek uiteindelik teruggegee is, dat al die onderstreepte dele oor die Rooms-Katolieke Kerk gehandel het. Ek het gedink dat dit van belang was, aangesien ek geweet het dat die polisie op die uitkyk vir bedrywighede van die IRL (Ierse Republikeinse Leër) was.

Ek is sorgvuldig oor ons neutraliteit in tye van oorlog uitgevra omdat dit vir die polisie moeilik was om ons standpunt te verstaan. Maar die owerheid het nooit enige stappe teen ons gedoen nie. Toe ek later toestemming gevra het om ’n byeenkoms te hou, het die polisie daarop aangedring dat hulle twee polisieverslaggewers stuur. Ek het gesê: “Ons sal hulle verwelkom!” Hulle het dus gekom en die hele middagsessie bygewoon terwyl hulle aantekeninge in snelskrif gemaak het. Aan die einde van die sessie het hulle gevra: “Waarom is ons hierheen gestuur? Ons geniet dit alles!” Hulle het die volgende dag weer gekom en het met blydskap ’n gratis eksemplaar van ons boekie Peace—Can It Last? geneem. Die res van die byeenkoms het vlot verloop.

Net nadat die oorlog verby was en reisbeperkings minder streng was, het Pryce Hughes van die Bethel in Londen na Belfast toe gekom. Hy is deur Harold King vergesel, wat later as ’n sendeling na China gestuur is. Nadat ons ses jaar van die takkantoor in Londen afgesny was, is ons almal grootliks deur hierdie broers se toesprake bemoedig. Kort daarna is Harold Duerden, ’n ander getroue pionier, van Engeland af gestuur om met die Koninkrykswerk in Belfast te help.

Terug Engeland toe

Ons het mettertyd die Ierse broers baie liefgekry en dit was moeilik om na Engeland toe terug te keer. Maar ek en my vrou is na Manchester toe teruggestuur en het later na Newton-le-Willows verhuis, ’n ander dorp in Lancashire waar daar hulp nodig was. Lois, ons dogter, is in 1953 gebore en dit was hartverblydend om te sien hoe sy op 16-jarige ouderdom die pionierdiens betree. Nadat sy met die pionier David Parkinson getrou het, het hulle hulle voltydse diens in Noord-Ierland voortgesit; sodoende het hulle in baie opsigte my en Olive se voetspore gevolg. Nou is hulle, saam met hulle kinders, terug in Engeland, en ons almal dien in dieselfde gemeente.

Ondanks die veranderinge in ons omstandighede het ek nooit die pionierdiens verlaat nie—dit is hoe Olive dit verkies het, en ek ook. Ek het nog altyd gemeen dat my vrou ook erkenning vir my pionierdiens moet ontvang, want sonder haar voortdurende, liefdevolle ondersteuning sou ek nooit in die voltydse diens kon volhard het nie. Ons word albei natuurlik nou gouer moeg, maar die getuieniswerk is steeds ’n vreugde, veral wanneer ons saam is en Bybelstudies met ons bure hou. Deur die jare heen het ons die voorreg gehad om ongeveer honderd mense te help om toegewyde, gedoopte knegte van Jehovah te word. Wat ’n vreugde was dit tog! En ek skat dat hierdie syfer teen hierdie tyd baie maal vermenigvuldig het namate gesinne tot in die derde en vierde geslag ook Getuies geword het.

Ek en Olive gesels dikwels oor die talle voorregte en ondervindinge wat ons deur die jare gehad het. Watter gelukkige jare was dit tog en hoe gou het dit verbygegaan! Ek weet dat ek niks beters met my lewe kon gedoen het as om my God, Jehovah, al hierdie jare as ’n pionier te dien nie. Of ek nou met waardering op die verlede terugkyk of met verwagting na die toekoms kyk, vind ek dat Jeremia se woorde soveel betekenis het: “Dit is die goedertierenhede van die HERE dat ons nie omgekom het nie, want sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut; . . . daarom sal ek op Hom hoop.”—Klaagliedere 3:22-24.

[Prent op bladsy 26]

Bob en Olive Anderson

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel