Die Bybel—Is dit werklik heilig?
HOEVEEL mense beskou die Bybel vandag as heilig, as God se Woord? In hierdie eeu van skeptisisme meen baie dat dit verouderd en irrelevant is, en twyfel hulle of dit waarlik heilig is. Selfs sommige van die Christendom se godsdiensleiers leer dat die Bybel vol legendes en mites is. Hulle twyfel ‘of ’n intelligente persoon met die Bybelse vertolking van die geskiedenis kan saamstem’.—The Interpreter’s Dictionary of the Bible, Deel 2, bladsy 611.
Vooraanstaande geleerdes saai twyfel oor die korrektheid daarvan om van die Bybel as die Woord van God te praat. Een het gesê “as ’n mens die uitdrukking die Woord van God wil gebruik, sou die gepaste benaming vir die Bybel die Woord van Israel, die Woord van sommige van die belangrike vroeë Christene wees” (The Bible in the Modern World deur James Barr). Wat dink jy? Is die Bybel God se Woord? Is dit werklik heilig?
Wie het die Bybel geskryf?
Die skrywe van Genesis, die eerste boek van die Bybel, word tradisioneel toegeskryf aan Moses, ’n Hebreër wat omtrent 3 500 jaar gelede geleef het. Volgens die Bybel self het omtrent 40 manne van alle stande gehelp om die res van die Skrif te skryf, wat gelei het tot die versameling van die 66 boeke, of dele, van die Bybel. Hierdie manne het hulleself egter nie as die werklike skrywers van die Bybel beskou nie. Een skrywer het gesê: “Die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Timotheüs 3:16). ’n Ander een het van Bybelskrywers geskryf: “Deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.”—2 Petrus 1:21, NAV.
Dit plaas die skrywers in die kategorie van penvoerders, of sekretarisse, wat deur God gerig, of gelei, is. Volgens die Bybel is die skrywer gewoonlik toegelaat om die informasie wat God voorsien het in sy eie woorde uit te druk (Habakuk 2:2, NAV). Daarom is daar baie skryfstyle in die Bybel. Maar dit wat geskryf is, is altyd onder God se leiding gedoen.
Die feit dat hierdie skrywers sê dat hulle goddelik geïnspireer is, is weliswaar nie op sigself ’n bewys dat die Bybel die Skepper se goddelike boodskap aan die mensdom is nie. Tog behoort ’n noukeurige en onbevooroordeelde ondersoek van die boek self duidelik te toon of die Allerhoogste die Bybel se Outeur is of nie. Gee die Bybel blyk van goddelike outeurskap? Kan ons werklik met sekerheid sê dat die Bybel heilig is?