Die Bybel—Kom dit van God af?
JEHOVAH, ’n God van onbeperkte mag en gesag, het beslis die reg om op enige manier wat hy goeddink met sy menseskepsele te kommunikeer. As hy verkies het om deur die geskrewe woord te kommunikeer, sou hy ook sy boodskap deur die eeue heen moes bewaar. Is dit die geval met die Bybel?
Omtrent 1 500 jaar voor Christus, toe daar met die skrywe van die Bybel begin is, het daar baie ander godsdiensgeskrifte bestaan. Maar hulle het almal in onbruik geraak en het uiteindelik net verdwyn. Party is deur argeoloë opgegrawe en is nou artefakte wat in museums ten toon gestel word. Die dele van die Bybel wat meer as drieduisend jaar gelede geskryf is, het daarenteen nooit vergete geraak nie, en afskrifte het tot op ons dag behoue gebly. Dit is merkwaardig, veral as ons in ag neem met hoeveel vyandigheid die Bybel deur die geskiedenis heen bejeën is. Geen ander boek was die teiken van soveel vernynige teenkanting en haat nie. Om die Bybel te lees of te versprei, was strafbaar met boetes, tronkstraf, marteling en dikwels die dood.
Hoe kon ’n blote boek onder sulke omstandighede behoue bly? Die Bybel self sê vir ons: “Die woord van die Here bly tot in ewigheid” (1 Petrus 1:25). Die feit dat die Bybel bly bestaan het en onvernietigbaar is, help ons om dit as die heilige Woord van God te identifiseer.
Daarbenewens kan ons met reg verwag dat God se boodskap aan die mensdom wêreldwyd beskikbaar sal wees. Is dit die geval met die Bybel? Ja, dit is! Geen ander boek in die geskiedenis kan in hierdie opsig met die Bybel vergelyk word nie. Daar word geskat dat daar al 3 000 000 000 eksemplare van die Bybel versprei is. Boonop is geen ander boek in soveel tale vertaal nie. Die Bybel kan nou, in sy geheel of gedeeltelik, in meer as 1 900 verskillende tale gelees word. Die Amerikaanse Bybelgenootskap sê dat dit nou aan 98 persent van die wêreld se bevolking beskikbaar is. The New Encyclopædia Britannica sê dat die Bybel “waarskynlik die invloedrykste versameling boeke in die mensegeskiedenis” is. Dit is dus nie onvanpas om dit as die grootste boek op aarde te beskryf nie.
Die interne harmonie wat die Bybel van begin tot einde kenmerk, is op sigself kragtige bewys dat dit inderdaad deur God geinspireer is. Sou dit realisties wees om te verwag dat die geskrifte van sowat 40 verskillende persone oor ’n tydperk van 1 600 jaar almal in harmonie kon wees en een fundamentele tema sou hê? Dit sou onmoontlik wees as dit aan die toeval of bloot menslike leiding oorgelaat is. Maar dit is die geval met die 66 boeke waaruit die Bybel bestaan. Dit is net ’n bomenslike, langlewende, intelligente wese wat só ’n merkwaardige produk tot stand kon bring.
Nie net geskiedenis nie
Die historiese inhoud van die Bybel is merkwaardig. Maar ’n boodskap van God wat uitsluitlik uit historiese gegewens bestaan, sou vir ons van min waarde wees. Ons het leiding en praktiese wysheid nodig, en dít kan ook in die Bybel gevind word. Die Bybel moedig ons byvoorbeeld aan om “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” aan te kweek—onderwerpe waaroor daar baie in die Bybel geskryf word (Galasiërs 5:22; Kolossense 3:12-14). Die Bybel moedig vlytigheid, sindelikheid, eerlikheid, huwelikstrou, respek en liefde vir jou medemens aan; en dit bevat ’n ontsaglike skat van raad oor ’n mens se gedrag binne die gesin en in die gemeenskap.
Wanneer dit toegepas word, strek die Bybel se raad ons werklik tot voordeel. Dit bevry ons van onkunde en bygeloof (Johannes 8:32). Die praktiese wysheid daarin is sonder gelyke. Dit bevat ongetwyfeld goddelike wysheid.
Die bewering dat ‘die woord van God lewend en kragtig is’, stem ten volle ooreen met die manier waarop die Bybel mense inderdaad verander (Hebreërs 4:12). Miljoene wat vandag lewe, het skadelike karaktertrekke te bowe gekom en hulle vorige vernietigende lewenswyse ten goede verander omdat hulle die Bybel se standaarde ter harte geneem het.—Efesiërs 4:22.
Wat gebeur wanneer Bybelstandaarde veronagsaam word? Die gevolg is ongelukkigheid en ellende, oorloë, armoede, seksueel oorgedraagde siektes en verbroke gesinne. ’n Mens kan sulke dinge te wagte wees, want as jy die Heilige Bybel veronagsaam, beteken dit dat jy God, wat die mens geskep het en weet wat sy behoeftes is, se leiding verwerp.
Die Bybel voorspel ook die toekoms, iets wat vir mense onmoontlik is. Die opkoms van wêreldmoondhede deur die eeue heen, van Babilon af tot vandag toe, is profeties in die Bybel bekend gemaak (Daniël, hoofstukke 2, 7, 8). Daarbenewens is daar amper tweeduisend jaar gelede ’n akkurate beskrywing van wêreldtoestande in hierdie 20ste eeu in die Bybel ingesluit (Mattheüs, hoofstukke 24, 25; Markus, hoofstuk 13; Lukas, hoofstuk 21; 2 Timotheüs 3:1-5; 2 Petrus 3:3, 4; Openbaring 6:1-8). Die lang lys Bybelprofesieë wat reeds vervul is, verseker ons dat die vooruitsig op ’n gelukkige toekoms, soos dit in die Bybel beskryf word, ’n werklikheid is.
Ons verantwoordelikheid
Dit is alles oorweldigende bewys dat God werklik met mense gekommunikeer het. Dit is waar, God het onvolmaakte manne gebruik om sy boodskap neer te skryf. Maar dit beteken nie dat die Bybel enigsins minder betroubaar is as wat ’n mondelinge boodskap van God, of een wat deur engele oorgedra is of een wat wonderbaarlik in die hemel geskryf en per bode aan die mens op aarde afgelewer is, sou wees nie.
As ons die heilige, of goddelike oorsprong van die Bybel erken, plaas dit egter ’n verantwoordelikheid op ons. Jehovah verwag tereg dat ons sy Woord gereeld lees (Psalm 1:1, 2). Produktiewe Bybellees vereis dat ons die regte gesindheid moet hê. ’n Mens moet onthou dat die Bybel nie gelees moet word asof dit ’n gewone stuk lektuur is nie. ’n Mens moet dit beskou “nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God”.—1 Thessalonicense 2:13.
Sommige dinge in die Bybel is moeilik om te verstaan. Maar deur dit gereeld te lees, verbeter ’n mens se begrip en kry jy ’n vollediger beeld van God se wil en van sy voornemens (Hebreërs 5:14). Jy is miskien nog nie ten volle oortuig dat die Bybel die heilige Woord van God is nie. Maar hoe kan jy geloof of ongeloof in die Bybel konsekwent te kenne gee as jy dit nie noukeurig ondersoek het nie?
Ten spyte van die skeptisisme wat daar vandag oor die Bybel se goddelike oorsprong bestaan, het ’n noukeurige ondersoek van die Heilige Bybel talle redelike persone beweeg om die woorde van die apostel Paulus uit te roep: “God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig”!—Romeine 3:4.
[Grafiek op bladsy 4]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
Die Bybel is nou aan 98 persent van die wêreld se bevolking beskikbaar
Geen ander boek in die geskiedenis het die Bybel se geraamde verspreiding van 3 000 000 000 geëwenaar nie. The New Encyclopædia Britannica sê dat dit “waarskynlik die invloedrykste versameling boeke in die mensegeskiedenis” is
[Prente op bladsy 4]
Die Bybel het voortbestaan, terwyl ander godsdiensgeskrifte bloot artefakte in museums geword het
Bo: Assiriese verslag oor die Vloed
Regs: Gebede tot die Egiptiese god Ra
[Erkenning]
Both: Courtesy of the Trustees of The British Museum
[Prent op bladsy 5]
Die Bybel is deur sowat 40 verskillende persone oor ’n tydperk van 1 600 jaar geskryf, en dit het een fundamentele tema van die begin tot die einde. Dit is net ’n bomenslike, langlewende, intelligente wese wat só ’n merkwaardige produk tot stand kon bring
[Prent op bladsy 5]
Die opkoms van wêreldmoondhede deur die eeue heen, van Babilon af tot vandag toe, is profeties in die Bybel voorspel (Daniël 2, 7, 8).
Regs: Keiser Augustus
[Erkenning]
Museo della Civiltà Romana, Roma
[Prent op bladsy 6]
Die Bybel het amper tweeduisend jaar gelede hedendaagse wêreld-toestande akkuraat voorspel (Mattheüs 24, 25; Markus 13; Lukas 21; 2 Timotheüs 3:1-5; 2 Petrus 3:3, 4; Openbaring 6:1-8). Die onfeilbare akkuraatheid van Bybelprofesie verseker ons dat God se belofte van ’n paradysaarde beslis vervul sal word
[Erkenning]
Reuters/Bettmann Newsphotos