Jesus se lewe en bediening
DIE artikel “Jesus voltooi alles wat God vra”, op die volgende bladsye, is die laaste gedeelte in ons reeks “Jesus se lewe en bediening” wat al so lank in ons tydskrif gepubliseer word. Hierdie reeks verskyn al langer as ses jaar in Die Wagtoring, in 149 opeenvolgende nommers, en die eerste een het in die nommer van 1 April 1985 verskyn.
Ons hoop dat hierdie reeks in Die Wagtoring jou gehelp het om op die apostel Paulus se raad ag te slaan om ‘die oog te vestig op Jesus’ en om God se bevel om na ‘hom te luister’ te gehoorsaam (Hebreërs 12:2, 3; Mattheüs 17:5). Met die verloop van jare het baie geskryf om te sê hoe hulle gehelp is om dit te doen. “Dit is asof ek daar is om na hom te luister en te sien wat hy doen”, het een leser geskryf. “Hierdie artikels het my liefde vir hom verinnig.”
’n Ander leser het geskryf: “Dit lyk asof elke nommer ’n gedagte bevat wat ek misgekyk het toe ek die Bybelverslag gelees het. Ek het dit geniet om die verskillende gebeurtenisse tydens Jesus se lewe in ’n beter chronologiese volgorde in my gedagtes te kry deur elke artikel te lees.” Baie het ook gesê hoe hulle dit waardeer het om uit te vind wanneer en waar Jesus gedurende sy bediening geleer en dinge gedoen het.
’n Vrou in Spanje het gesê: “Ek het al die artikels van die begin af gehou. Volwassenes sowel as kinders kan soveel uit hulle leer. Ek is 44, en ek lees hierdie verslae met geesdrif. Dit is asof ek tydens elke historiese gebeurtenis teenwoordig is.”
’n Moeder in die Verenigde State het geskryf: “Omdat die artikels so kort en eenvoudig is, neem my man nou aan ons gesinstudie deel. My agtjarige seuntjie het gevra dat ek skryf om vir julle dankie te sê dat sy pa nou die Bybel studeer. Hy vra of hierdie artikels eendag, wanneer die reeks eindig, in boekvorm kan verskyn sodat hy dit vir sy skoolmaats kan gee.”
Jy stem dalk saam met die leser wat onlangs gekla het: “Ek is ’n bietjie hartseer om te dink dat die reeks binnekort gaan eindig noudat die finale dae van Christus se lewe bespreek word. Ek sal sy plek in Die Wagtoring werklik mis.” Ons hoop dat jy dit sal geniet om hierdie laaste deel in ons reeks “Jesus se lewe en bediening” te lees.