Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 10/15 bl. 8-9
  • Die pousdom—Is dit deur Christus gestig?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die pousdom—Is dit deur Christus gestig?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Soortgelyke materiaal
  • Is die pous “sint Petrus se opvolger”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Was Petrus die eerste pous?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Hy het vergewensgesindheid by sy Heer geleer
    Volg hulle geloof na
  • Laat ons vashou aan ons kosbare geloof!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 10/15 bl. 8-9

Die pousdom—Is dit deur Christus gestig?

“TUSSEN Petrus, die eerste Biskop van Rome, en ons huidige pous, Johannes Paulus II, is daar ’n lang lyn opperpriesters—trouens, meer as 260.” Dit is wat Katolieke monnik Anthony Foy in The Southern Cross, ’n Katolieke tydskrif vir Suidelike Afrika, sê. Hy gaan voort: “Dit is na hierdie ononderbroke lyn van pouse waarna ons met vertroue kan verwys wanneer ons gevra word om te bewys dat die Katolieke Kerk deur Jesus Christus gestig is.”

Kan daar met vrymoedigheid gesê word dat hierdie lang lyn pouse met die apostel Petrus begin het? Volgens Katolieke teologie het vier pouse, Linus, Anacletius, Clemens I en Evaristus, Petrus tot die jaar 100 G.J. opgevolg. Die Bybel maak wel melding van ’n Christen genaamd Linus wat in Rome gewoon het (2 Timotheüs 4:21). Daar is egter niks wat daarop dui dat Linus, of enigiemand anders, ’n pouslike opvolger van Petrus was nie. Die apostel Johannes, wat vyf boeke van die Bybel in die laaste dekade van die eerste eeu geskryf het, het geen melding gemaak van die sogenaamde opvolgers van Petrus wat hierbo genoem word nie. Trouens, as daar ’n opvolger vir Petrus was, sou Johannes nie self die logiese keuse gewees het nie?

Wat die bewering betref dat Petrus die eerste biskop van Rome was, is daar geen bewys dat hy selfs die stad besoek het nie. Trouens, Petrus self sê dat hy sy eerste brief uit Babilon geskryf het (1 Petrus 5:13). Die Katolieke argument dat Petrus “Babilon” as ’n geheime verwysing na Rome gebruik het, is ongegrond. Die werklike Babilon het in Petrus se dag bestaan. Daarbenewens het Babilon ’n aansienlike Joodse gemeenskap gehad. Aangesien Jesus Petrus die opdrag gegee het om sy predikingswerk hoofsaaklik onder die besnede Jode te doen, is dit heeltemal redelik om te glo dat Petrus Babilon om hierdie rede besoek het.—Galasiërs 2:9.

Let ook daarop dat Petrus nêrens na homself verwys as enigiets meer as een van Christus se apostels nie (2 Petrus 1:1). Hy word nêrens in die Bybel as “Heilige Vader”, “die Opperpriester” of “Pous” (Latyns, papa, ’n liefderike term vir “Vader”) aangespreek nie. Pleks daarvan het hy nederig getrou gebly aan Jesus se woorde in Mattheüs 23:9, 10: “En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is. Julle moet julle ook nie leermeesters laat noem nie, want een is julle leermeester: Christus.” Petrus wou nie vereer word nie. Toe die Romeinse leerowerste Cornelius ‘aan sy voete neergeval en hom hulde bewys het, het Petrus hom opgerig en gesê: Staan op, ek is self ook maar ’n mens.’—Handelinge 10:25, 26.

Wat die 260 beweerde pouse betref, erken priester Foy: “’n Hele paar van hulle was nie hulle hoë amp waardig nie.” In ’n poging om dit goed te praat, sê die New Catholic Encyclopedia: “Dit is die amp wat belangrik was vir bestuursdoeleindes, en nie die persoonlike karakter van die individuele pous nie. As persoon was hy dalk ’n heilige mens, ’n middelmatige mens of selfs ’n skurk.” Maar glo jy dat Christus sulke manne sou gebruik om hom te verteenwoordig?

Hoe dit ook al sy, die bewering dat die pousdom deur Jesus gestig is, word eenvoudig nie deur die Bybel ondersteun nie. Volgens die Encyclopedia of Religion erken selfs hedendaagse Katolieke geleerdes dat “daar geen direkte Bybelse bewys is dat Jesus die pousdom as ’n permanente amp binne die kerk gevestig het nie”.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel