Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w15 12/1 bl. 12-14
  • Was Petrus die eerste pous?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Was Petrus die eerste pous?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “OP HIERDIE ROTS SAL EK MY KERK BOU”
  • “JY IS PETRUS . . . ”
  • DIE POUS​—PETRUS SE OPVOLGER?
  • Is die pous “sint Petrus se opvolger”?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Hy was lojaal ondanks beproewinge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Afvalligheid—’n Versperring op die weg na God
    Die mensdom se soeke na God
  • Petrus se graf—Is dit in die Vatikaan?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2015
w15 12/1 bl. 12-14
Die apostel Petrus praat met Jesus

Was Petrus die eerste pous?

“Kardinaal Jorge Mario Bergoglio, S.J., is gekies as die pous, die 265ste opvolger van Petrus.”​—DIE VATIKAAN SE INLIGTINGSDIENS, VATIKAANSTAD, 13 MAART 2013.

“Die biskop van Rome is die hoof van die Kerk omdat hy die opvolger is van sint Petrus, wat hierdie voorreg van Jesus Christus ontvang het.”​—THE PRIMACY OF THE BISHOP OF ROME DURING THE FIRST THREE CENTURIES, 1903, DEUR VINCENT ERMONI.

“As enigiemand sê . . . dat die Roomse pous nie die opvolger van sint Petrus is nie; laat hy vervloek wees [dit wil sê, as ’n afvallige verklaar word].”​—DIE EERSTE VATIKAANSE KONSILIE, 18 JULIE 1870.

MILJOENE Katolieke regoor die wêreld stem saam met wat die Eerste Vatikaanse Konsilie oor die pous gesê het. Hulle beskou dit as ’n onveranderlike leerstelling van die kerk. Maar die vraag bly staan: Is dit op die Bybel gebaseer? Is pous Fransiskus werklik ’n opvolger van die apostel Petrus? En was Petrus die eerste pous?

“OP HIERDIE ROTS SAL EK MY KERK BOU”

Hoekom het die Vatikaanse Konsilie in 1870 gesê dat die pous ’n opvolger van Petrus is? Hulle redenasie is hoofsaaklik gebaseer op hoe hulle Matteus 16:16-19 en Johannes 21:15-17 vertolk. Die gesprekke tussen Jesus en Petrus wat ons in hierdie Skrifgedeeltes lees sowel as ander Bybelverslae toon dat die apostel Petrus ’n belangrike rol in die geskiedenis van die vroeë Christelike godsdiens gespeel het. Om die waarheid te sê, die eerste keer dat Jesus en Petrus ontmoet het, het Jesus voorspel dat Petrus rotsagtige eienskappe in sy lewe sou openbaar (Johannes 1:42). Maar het Christus Petrus as die hoof van die Kerk aangestel?

In Matteus 16:17, 18 het Jesus vir Petrus gesê: “Ek sê vir jou, jy is Petrus [wie se naam “’n stuk rots” beteken], en op hierdie rots sal ek my kerk bou.”a Het Jesus gesê dat hy sy “kerk”, of gemeente, op Petrus, ’n man, sou bou? Sou Petrus die hoof oor alle ander volgelinge van Jesus wees? Hoe het die ander apostels wat die gesprek gehoor het, Jesus se woorde verstaan? Die Evangelies toon dat hulle later ’n hele paar keer gestry het oor wie die grootste onder hulle is (Matteus 20:20-27; Markus 9:33-35; Lukas 22:24-26). Waarom sou die apostels daaroor gestry het as Jesus Petrus reeds as die hoof aangestel het?

Hoe het Petrus self Jesus se woorde verstaan? Omdat Petrus as ’n Israeliet grootgemaak is, sou hy geweet het van verskeie Hebreeuse profesieë wat praat van ’n “steen” of ’n “hoeksteen” (Jesaja 8:13, 14; 28:16; Sagaria 3:9). Petrus het een van hierdie profesieë in sy brief aan medeaanbidders aangehaal, en hy het verduidelik dat die voorspelde “hoeksteen” die Here Jesus Christus, die Messias, is. Petrus het die Griekse woord pe’tra alleenlik gebruik om na Christus te verwys, dieselfde woord wat in Matteus 16:18 in Jesus se woorde gevind word.​—1 Petrus 2:4-8.

Die apostel Paulus was ook ’n getroue volgeling van Jesus. Het Paulus geglo dat Jesus Petrus as hoof van die Kerk aangestel het? Toe Paulus gepraat het van die posisie wat Petrus in die vroeë Christengemeente gehad het, het hy geskryf dat Petrus een van dié was “wat as pilare beskou is”. Vir Paulus was daar meer as een ‘pilaar’ (Galasiërs 2:9). Wat meer is, as Petrus deur Jesus as die hoof van die gemeente aangestel is, waarom sou sy medegelowiges hom bloot beskou het as ’n pilaar?

Toe Paulus geskryf het oor hoe Petrus mense nie altyd op dieselfde manier behandel het nie, het hy respekvol maar reguit gesê: “Ek het hom van aangesig tot aangesig teëgestaan omdat dit duidelik was dat hy verkeerd was” (Galasiërs 2:11-14). Paulus het nie gedink dat Christus sy kerk, of gemeente, op Petrus of op enige ander onvolmaakte man gebou het nie. Hy het eerder geglo dat die gemeente gebou is op Jesus Christus as die fondament. Vir Paulus “[was] die rots . . . die Christus”.​—1 Korintiërs 3:9-11; 10:4.

“JY IS PETRUS . . . ”

Hoe moet ons dan die woorde: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal ek my kerk bou”, verstaan? Om ’n aanhaling te verstaan, moet ons weet wat die konteks is. Waaroor het Jesus en Petrus gepraat? Jesus het sy dissipels kort tevore gevra: “Wie sê julle is ek?” Sonder huiwering het Petrus geantwoord: “U is die Messias, die Seun van die lewende God.” Toe het Jesus Petrus geprys en gesê dat hy sy “kerk”, of gemeente, op ’n selfs stewiger “rots” sou bou​—Jesus self, die een waarin Petrus kort tevore geloof bely het.​—Matteus 16:15-18.

Hoe moet ons Jesus se woorde: “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal ek my kerk bou”, verstaan?

In ooreenstemming hiermee het baie van die “Kerkvaders” geskryf dat die rots van Matteus 16:18 Christus is. In die vyfde eeu het Augustinus byvoorbeeld geskryf: “Die Here het gesê: ‘Op hierdie rots sal ek my Kerk bou’, omdat Petrus vir hom gesê het: ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God.’ Dit is dus op hierdie rots, waarin jy gesê het dat jy geloof het, wat ek my Kerk sal bou.” Augustinus het herhaaldelik gesê dat “die Rots (Petra) die Christus is”.

Volgens wat die Katolieke Kerk glo, sou Augustinus en ander vandag as afvalliges beskou word. Trouens, die Switserse teoloog Ulrich Luz het gesê dat die Vatikaanse Konsilie van 1870 die beskouing van hedendaagse Bybelgeleerdes as afvalligheid sou veroordeel.

DIE POUS​—PETRUS SE OPVOLGER?

Die apostel Petrus het nie die titel “pous” geken nie. Die feit is: Die woord is eers laat in die 11de eeu as ’n amptelike titel vir die biskop van Rome gebruik. Trouens, tot die negende eeu toe het baie ander biskoppe hulleself pous genoem. Wat meer is, die vroeë Christene het nie geglo dat enige gesag wat blykbaar aan Petrus gegee is, aan ’n opvolger oorgedra is nie. Daarom het die Duitse geleerde Martin Hengel tot die slotsom gekom dat daar nie in die geskiedenis of in die teologie enige grondslag is vir die idee dat die pous die hoof van die Kerk is nie.

Tot watter slotsom kan ons kom? Was Petrus die eerste pous? Het hy enige opvolgers gehad? Is die Katolieke leerstelling van die hoofskap van die pous op die Bybel gebaseer? Die enigste korrekte antwoord op elke vraag is eenvoudig nee. Maar die feit bly staan dat Jesus beslis sy kerk, sy ware gemeente, op homself gebou het (Efesiërs 2:20). Die belangrike vraag vir ons elkeen is dus: Het ek die ware gemeente gevind?

a Alle Bybelaanhalings in hierdie artikel is geneem uit die Katolieke New American Bible, die vertaling wat op die Vatikaan se amptelike webwerf gebruik word.

Die Eerste Vatikaanse Konsilie van 1869-1870

Hoe die hoofskap van die pous ontstaan het

  • 32 HJ: Jesus voorspel dat hy sy kerk, of gemeente, op homself sal bou; geen hoofskap word aan die apostel Petrus gegee nie

  • 55-64: Die apostel Paulus en die apostel Petrus skryf verskeie briewe waarin hulle verduidelik dat Jesus die enigste fondament van die Christengemeente is

  • 254-257: Stefanus, die biskop van Rome, bevorder die idee dat hy as die opvolger van Petrus die hoof oor die ander biskoppe is; maar party biskoppe, soos Firmilianus van Sesarea en Siprianus van Kartago, verwerp Stefanus se bewering

  • 296-304: Eerste bekende inskripsie wat toon dat die titel “papa”, of “pous”, gebruik is om na die biskop van Rome te verwys

  • 5de eeu: Nog ’n biskop van Rome, Leo I, gebruik Matteus 16:18 om te probeer bewys dat hy die hoof oor die ander biskoppe is

  • 6de eeu: Die titel papa (pous) word al hoe meer vir die Roomse biskop gebruik; maar tot so laat as die negende eeu noem nie-Roomse biskoppe hulleself pous

  • 1075: Gregorius VII verklaar dat die titel “pous” uitsluitlik deur die biskop van Rome gebruik mag word; in sy Dictatus Papae (Pouslike Verordeninge) word die pousdom “as ’n plaasvervanger vir Christus afgebeeld”, sê ’n geskiedkundige

  • 1870: Die Eerste Vatikaanse Konsilie besluit dat “die Roomse pous die opvolger van sint Petrus, die Apostelvors, is en [dat die pous] ook die ware Vikaris van Christus en die Hoof van die hele Kerk is”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel