Liefde vir Jehovah beweeg ons tot ware aanbidding
“Dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar.”—1 JOHANNES 5:3.
1, 2. Met watter beweegrede moet ons Jehovah dien?
’NGROEP van 80 besoekers uit Japan was besig met ’n toer deur ’n byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Kalifornië, VSA. Die pragtige omgewing, onder meer ’n tuin vol blou spotvoëls, duiwe en kolibries, het hulle selfs nader laat voel aan hulle Grootse Skepper, Jehovah God. Hulle toergids het gou besef dat bykans almal in die groep voltyds as pioniers dien. Daarom is die groep later ’n vraag gevra wat al dikwels gevra is: “Waarom is daar so baie pioniers in Japan?” Daar was ’n oomblik van stilte. Toe het ’n jong vrou hierdie antwoord gegee: “Omdat ons Jehovah liefhet.”
2 Liefde vir Jehovah—hoe spoor dit ons tog nie aan tot ywer in sy diens nie! Dit is waar dat nie almal die pionierdiens kan betree nie. Trouens, vir die meeste van ons meer as viermiljoen Koninkryksverkondigers is dit nie moontlik om hulle sake só te reël dat hulle hierdie voorreg kan geniet nie. Maar baie wie se omstandighede hulle toelaat, strewe daarna. Ons ander kan ook ‘op die HERE vertrou, en doen wat goed is’ en ons liefde toon deur op die een of ander manier aan die dissipelmaakwerk deel te neem (Psalm 37:3, 4). En alle toegewyde aanbidders van Jehovah kan help om die pioniergees aan te moedig deur diegene wat pioniers is liefdevol te ondersteun.—Mattheüs 24:14; 28:19.
3. Watter kontras kan tussen die meeste beweerde Christene en Jehovah se Getuies gesien word?
3 In teenstelling met die meeste beweerde Christene, wat godsdiens geriefshalwe as ’n blote bysaak in hulle lewe beskou, toon Jehovah se Getuies ’n vurige liefde vir God wat hulle motiveer om aan te hou om “eers die koninkryk van God en sy geregtigheid” te soek. Dit het opoffering geverg, maar hoe bevredigend was daardie opoffering tog nie! (Mattheüs 6:33; 16:24). Hulle het dit gedoen in ooreenstemming met die eerste groot gebod, wat oorspronklik deur Moses uitgespreek is en deur Jesus Christus herhaal is: “Jehovah ons God is een Jehovah, en jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.”—Markus 12:29, 30, NW; Deuteronomium 6:4, 5, NW.
4, 5. Wie kan as getrou beskou word, en hoe kan getrouheid getoon word?
4 ’n Lid van die hoofkwartierpersoneel van Jehovah se Getuies het onlangs teenoor F. W. Franz, die 98-jarige president van die Wagtoringgenootskap wat al meer as 70 jaar in die voltydse diens is, opgemerk: “Jy was nog altyd ’n goeie voorbeeld van getrouheid, broer Franz.” En broer Franz het geantwoord: “Ja! ’n Mens móét getrou wees.” Dit som die saak op. Ons kán getrou wees in watter aspek van die Koninkryksbedrywigheid ons ook al dien.—1 Korinthiërs 4:2; Galasiërs 3:9.
5 Baie sal gewis heelwat meer in Jehovah se diens wil doen, maar skriftuurlike verantwoordelikhede of gesondheidsprobleme beperk hulle moontlik ietwat. Diegene wat nie as pioniers kan dien nie, moet egter nie as minder getrou beskou word nie. Party het al onder die moeilikste omstandighede lojaal gebly, en dit boonop jare lank. Ja, hulle was getrou! Hulle het liefde vir Jehovah getoon en ywerig gedien ter heelhartige ondersteuning van sy teokratiese reëlings. Hulle het ’n lewendige belangstelling in die pioniers se bedrywighede getoon en potensiële pioniers, dikwels hulle eie kinders, aangemoedig om die pionierdiens na te streef as ’n lewensloopbaan wat alle ander loopbane oortref.—Vergelyk Deuteronomium 30:19, 20.
6, 7. Hoe geld die presedent wat in 1 Samuel 30:16-25 uiteengesit word vandag?
6 Die liefdevolle, eendragtige optrede van God se hele volk in ons dag kan toegelig word met die verslag in 1 Samuel 30:16-25. In ’n geveg teen die Amalekiete het “Dawid . . . hulle verslaan van die aandskemering af tot die aand van die volgende dag” en baie buit geneem. Toe hulle na die kamp terugkeer, het party van Dawid se krygers gevra dat niks van die buit aan dié gegee word wat nie saam met hulle in die hitte van die stryd was nie. Maar Dawid het geantwoord: “Wie sou in hierdie saak na julle luister? Want soos die deel van die wat in die geveg aftrek, so is ook die deel van die wat by die pakgoed bly; gelykop moet hulle deel.”
7 Dieselfde beginsel geld vandag. Die pioniers is aan die voorpunt van ons geestelike geveg. Maar die res van die gemeente gee hulle heelhartige, lojale ondersteuning. En die pragtige resultaat van hulle gesamentlike bedrywigheid gedurende 1991 word in die tabel wat hierop volg, weergegee.
’n Uitmuntende rapport
8. (a) Wat toon die wêreldrapport met betrekking tot die totale getal verkondigers en die ure wat hulle in Jehovah se diens bestee het? (b) Watter interessante punte merk jy op in verband met lande wat vir die eerste keer in die rapport verskyn?
8 Ja, die voorafgaande vier bladsye van hierdie tydskrif toon hoe die eendragtige pogings van al Jehovah se ywerige aanbidders gedurende 1991 wêreldwyd tot opwindende uitbreiding bygedra het. ’n Skitterende hoogtepunt van 4 278 820 Koninkryksverkondigers is aangeteken—’n vermeerdering van 6,5 persent. Hierdie verkondigers het 951 870 021 uur (bykans eenmiljard!) in die diens bestee. En let op die verdienstelike poging wat deur ons broers aangewend is in lande waar daar voorheen beperkings op die werk was, maar wat nou in die wêreldverslag verskyn—Bulgarye, Ethiopië, Kameroen, Mosambiek, Nicaragua, Rwanda, Tsjeggo-Slowakye en die USSR.
9, 10. (a) Hoe het die pioniers gereageer op die uitdaging wat swaar tye bied? (b) Watter aanmoediging word gegee om die pionierdiens te betree?
9 In die laaste jare het die pioniergees wêreldwyd posgevat. Selfs in lande waar vryheid van aanbidding eers onlangs toegestaan is, is daar ’n toename in die pioniergeledere. Haglike ekonomiese toestande verhinder hierdie getroue Getuies nie om hulle allerbeste in Jehovah se aanbidding te doen nie. (Vergelyk 2 Korinthiërs 11:23, 27.) Gemiddeld 14 persent van alle Koninkryksverkondigers het elke maand aan die pionierdiens deelgeneem. Die pionierhoogtepunt was 780 202, wat ’n uitstekende 18 persent van alle verkondigers is.
10 Wanneer ander die vreugde van die pioniers sien, word hulle aangemoedig om ook die pionierdiens te betree. Is jy een van dié wat nog nie ’n pionier is nie? Kan jou liefde vir Jehovah jou dan miskien aanspoor om die woorde van Jesaja 6:8 jou eie te maak, naamlik: “Hier is ek, stuur my”? Of kan God se Woord, weens jou ywerige studie van die Bybel, só ’n brandende begeerte in jou hart laat ontstaan dat jy eenvoudig die volgende stap móét doen, naamlik om die pionierdiens te betree? Selfs ten tye van beproewing het Jehovah se woord Jeremia aangevuur, sodat hy nie kon swyg nie.—Jeremia 20:9.
Liefdevolle diens aan die mensdom
11. Hoe floreer die tuisbybelstudiebedrywigheid?
11 Een van die uitstaande kenmerke van die jaar se rapport is die toename in die getal gratis tuisbybelstudies, 3 947 261, wat gereeld elke maand wêreldwyd gehou word. Dit is ’n liefdevolle reëling waardeur Jehovah se Getuies belangstelling wat hulle tydens hulle werk van huis tot huis vind verder ontwikkel. Ons hou graag Bybelstudies met mense van alle nasionaliteite en rasse en verrig ons werk met dieselfde erns as die apostel Paulus. Die feit dat hy “kragtig by die Jode sowel as die Grieke aangedring het”, het ongetwyfeld beteken dat hy baie ure daaraan bestee het om ander die waarheid te leer (Handelinge 20:20, 21). Dieselfde geld vandag. Jehovah se Getuies help “alle soorte mense [om] gered [te] word en tot ’n juiste kennis van die waarheid [te] kom”.—1 Timotheüs 2:4, NW.
12-14. Watter verblydende verslae kom uit Europa?
12 Hoe opwindend is die verslae oor die toename in Bybelstudiebedrywighede in Oos-Europa tog nie! Dekades lank moes die broers in klein groepies vergader, moontlik met net een verslete kopie van ’n ou Wagtoring vir die hele groep. Maar nou stroom ’n oorvloed Bybels en Bybellektuur daardie lande binne. Dit herinner ’n mens aan Hooglied 2:4: “Hy [Christus Jesus] vat my na ’n [geestelike] feesplek toe; hy straal van liefde vir my” (NAV). Noudat hulle hul eie eksemplare van die tydskrifte het, word baie van hulle bekwaam om “die woord van die waarheid reg te sny”.—2 Timotheüs 2:15.
13 ’n Gemeente van 103 verkondigers in St. Petersburg, Rusland, het onlangs oor die 300 tuisbybelstudies gerapporteer. Hierdie Bybelstudiepoging het uitstekende vrugte afgewerp—in slegs agt maande is 53 nuwe Getuies gedoop. Meer as die helfte van die gemeente is maar agt maande of minder in die waarheid! En hulle het geen ouere manne nie—net een bedieningskneg om na hulle geestelike vooruitgang om te sien.
14 ’n Koninkryksverkondiger in Estland se Bybelstudent het haar gevra of sy ’n paar vriende na die studie kan nooi. Toe die Getuie die volgende week by die huis aankom, was daar 50 mense! Spesiale reëlings moes natuurlik getref word om verder na al daardie belangstellendes om te sien.
15. Wat kan van die bywoning van die Gedenkmaal en van die doopsyfer gesê word?
15 Baie van dié wat studeer, geniet vir die eerste keer Christelike omgang wanneer hulle die Gedenkmaal van Jesus se dood bywoon. Die afgelope jaar was die bywoning vir die eerste keer meer as 10 000 000, met 10 650 158 wat wêreldwyd in 66 207 gemeentes vir hierdie vreugdevolle geleentheid byeengekom het. In talle Latyns-Amerikaanse, Afrika- en Oos-Europese lande was daar drie tot vier keer soveel teenwoordig as die aantal Koninkryksverkondigers in daardie lande. Nou moet ons voorbereidsels begin tref vir die Gedenkmaal wat vanjaar op Vrydag, 17 April, sal plaasvind. Ons hoop ’n groot aantal van die nuwe Bybelstudies wat die Gedenkmaal bywoon, sal aanhou om vooruitgang te maak sodat hulle gedoop kan word. Wat die doopsyfer betref, was daar weer in 1991 meer as 300 000 wat hulle toewyding aan Jehovah God deur waterdoop gesimboliseer het.
Liefhebbers van godvrugtige vryheid
16. Watter opwindende verslae kom van die “Liefhebbers van Vryheid”-Streekbyeenkomste?
16 ’n Noemenswaardige aspek van die 1991-diensjaar was die reeks “Liefhebbers van Vryheid”-Streekbyeenkomste, wat nou in die Noordelike Halfrond voltooi is maar nog tot in 1992 in die Suidelike Halfrond gehou sal word. Die volledige byeenkomsprogram is vir die eerste keer in ’n aantal Oos-Europese lande aangebied, waar ons broers hulle daarin verbly om hulle nuutgevonde vryhede tot Jehovah se lof te gebruik. Die totale bywoningsyfer wat in Oktober 1991 vir die eerste 705 byeenkomste in 54 lande gerapporteer is, was 4 774 937.
17, 18. (a) Watter vryhede geniet Jehovah se aanbidders nou, en watter vryhede is hulle te wagte? (b) Hoe verskil godvrugtige vryheid van wêreldse vryhede?
17 Jesus het vir sy dissipels gesê: “Die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:32). In ons dag het die Bybel miljoene mense vrygemaak van die Christendom se dogmas. Hierdie miljoene het geleer dat Jehovah se voorsiening van Jesus se losprysoffer dit vir die mensdom moontlik sal maak om “vrygemaak [te] word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Romeine 8:19-22). Wat ’n wonderlike vryheid sal dit nie wees nie—om vir ewig op ’n paradysaarde te leef binne die gepaste perke wat liefdevol deur Jehovah bepaal word!—Jesaja 25:6-8; vergelyk Handelinge 17:24-26.
18 Die vryhede wat Jehovah se Getuies nou geniet en verwag om steeds oorvloediger in God se nuwe stelsel van dinge te geniet, kom van ons God, Jehovah (2 Korinthiërs 3:17). Hulle is nie afhanklik van enige politieke of revolusionêre beweging nie (Jakobus 1:17). Om enige misverstand in dié verband te voorkom, het die 1991-byeenkomslapelkaarte wat deur Jehovah se Getuies in party Oos-Europese lande gedra is die bewoording “Liefhebbers van Godvrugtige Vryheid” pleks van bloot “Liefhebbers van Vryheid” gehad.
Vurige liefde vir Jehovah
19. Hoe kan gebedsintimiteit met Jehovah ons onderskraag?
19 Ons liefde vir Jehovah en ons vertroue in hom sal ons na aan hom in gebed laat bly. Dit is hierdie intimiteit met Jehovah wat ons broers gehelp het om baie ontberings en vervolgings te verduur (Psalm 25:14, 15, NW). In die uur van sy grootste beproewing het Jesus deur middel van gebed intimiteit met sy Vader behou (Lukas 22:39-46). Sulke gebedsintimiteit met Jehovah het Stefanus gedurende die angs van sy marteldood onderskraag. Net voordat hy gestenig is, het hy in die hemel opgekyk en gesê: “Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens [Jesus] aan die regterhand van God staan.”—Handelinge 7:56.
20-22. Hoe lig ’n ondervinding toe dat God ons gebede verhoor?
20 Soos Jehovah se aanbidders al so dikwels ondervind het, beantwoord Jehovah gebede wat in ooreenstemming met sy wil is. Byvoorbeeld, in een Afrikaland waar die werk van die Getuies verbied is, het ’n spesiale pionier wat na die noorde op reis was ’n groot sak vol Koninkrykslektuur en posstukke by hom gehad wat hy moes aflewer. Die kondukteur, wat besig was om die bus te laai, het vir die broer gevra: “Wat is in die sak?” Die broer het die eerste ding gesê wat by hom opgekom het: “Pos.”
21 Op pad het die bus deur ’n roetinekontrolepunt gejaag. Die verkeerspolisie het die bus agternagesit en dit gestop omdat hulle vermoed het dat dit smokkelgoedere vervoer het. Hulle het al die passasiers beveel om uit die bus te klim en het opdrag gegee dat al die bagasie deursoek word. Wat ’n krisis! Die broer het ’n entjie van die brommende groep mense af weggestap, op sy knieë geval en tot Jehovah gebid. Toe hy hom weer by die groep aansluit, het hulle begin om elkeen van die reisigers se bagasie oop te maak en dit sorgvuldig te deursoek. Toe die broer se sak oopgemaak moes word, het hy stil tot Jehovah om hulp geroep.
22 “Wie se sak is dit hierdie, en wat is daarin?” het die polisieman uitgeroep. Voordat die broer iets kon sê, het die buskondukteur geantwoord en gesê: “Dit is pos van die ———— poskantoor na die ———— poskantoor.” “Nou goed dan”, het die verkeersbeampte gesê. Hy het die sak opgetel en dit vir die kondukteur gegee. “Maak seker dat jy dit op ’n baie veilige plek bêre vir die reis”, het hy hom toe beveel. Die pionier het weer op sy knieë geval om die Hoorder van die gebed te bedank.—Psalm 65:3; Spreuke 15:29.
23. Wat het Jehovah getoon, en waarom laat hy nietemin soms toe dat vervolging sy gang gaan?
23 Dit beteken egter nie dat aanbidders van Jehovah alle rampspoedige gebeure vryspring nie. In sekere situasies, in Bybeltye sowel as in ons tyd, het Jehovah getoon dat hy sy volk kan verlos. Maar in harmonie met die manier waarop hy die onkreukbaarheidsgeskil besleg, laat hy blykbaar soms toe dat die vervolging sy volle gang gaan. (Vergelyk Mattheüs 26:39.) Daarbenewens beskerm Jehovah nie vanselfsprekend sy volk teen ongelukke, burgerlike onrus of misdaad nie, hoewel die beoefening van praktiese wysheid wat op die Bybel gegrond is, waardevol kan wees (Spreuke 22:3; Prediker 9:11). Ons kan egter die vertroue hê dat ons getrouheid, of ons nou uit beproewende situasies verlos word of nie, selfs, indien nodig, deur ’n opstanding beloon sal word.—Mattheüs 10:21, 22; 24:13.
24. Watter liefdevolle gawes het Jehovah voorsien, en hoe kan ons op sy liefde reageer?
24 Hoe wonderlik is Jehovah se liefdevolle gawes tog! Sy gawe aan die mense van hierdie aarde en alles wat daarop is, is ’n buitengewone bewys van sy liefde (Psalm 104:1, 13-16; 115:16). En God se barmhartige gawe van sy Seun, Jesus Christus, om die mensdom van sonde en die dood vry te koop, is die liefdevolste gawe wat nog ooit gegee is. “Hierin is die liefde van God tot ons geopenbaar, dat God sy eniggebore Seun in die wêreld gestuur het, sodat ons deur Hom kan lewe. Hierin is die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening [“soenoffer”, NW] vir ons sondes” (1 Johannes 4:9, 10). Laat ons, in reaksie op daardie liefde, oortuig wees “dat geen dood of lewe of engele of owerhede of magte of teenwoordige of toekomende dinge of hoogte of diepte of enige ander skepsel ons sal kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus, onse Here, is nie”.—Romeine 8:38, 39.
Ter hersiening van hierdie artikel
◻ Wat beteken dit om getrou te wees?
◻ Op watter gebiede van ons bedrywigheid kan ons liefde vir Jehovah toon?
◻ Watter aspekte van die jaar se diensrapport het jou die meeste geïnteresseer?
◻ Hoe kan ons waardering toon vir Jehovah se liefdevolle gawes?
[Venster op bladsy 15]
WAAROM SO BAIE PIONIERS?
Na bewering was die Japannese 2 600 jaar lank vurige aanbidders van hulle keisers. Net in die oorloë van die 20ste eeu het oor die driemiljoen Japannese krygsmanne hulle lewe opgeoffer omdat hulle gedink het dat daar geen groter eer was as om vir hulle keiser-god te sterf nie. Maar Boeddhisties-Sjintoïstiese militarisme het in die Tweede Wêreldoorlog misluk, en daarna het die keiser van sy godheid afstand gedoen. Wat kon hierdie godsdiensleemte vul? Gelukkig is baie mense deur middel van tuisbybelstudies wat deur sendelinge van Jehovah se Getuies en later deur plaaslike Getuies met hulle gehou is, gehelp om die ware God, Jehovah, te vind en om hulle lewe aan hom toe te wy. Hierdie toewyding beteken baie vir daardie Japannese Getuies. Vroeër was hulle bereid om hulle lewe vir ’n keiser-god op te offer, maar met hoeveel groter ywer gebruik hulle tog nou hul energie as pioniers in die aanbidding van die lewende God en Skepper van die heelal—die Soewereine Heer Jehovah!
[Tabel op bladsy 10-13]
WÊRELDRAPPORT VAN JEHOVAH SE GETUIES VIR DIE 1991-DIENSJAAR
(See bound volume)
[Prent op bladsy 16]
Liefhebbers van godvrugtige vryheid—aanbidders van Jehovah by ’n byeenkoms in Praag, 9-11 Augustus 1991