Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 1/1 bl. 24-25
  • Gennesaret—‘uitsonderlik en wonderskoon’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gennesaret—‘uitsonderlik en wonderskoon’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Kom op ’n uitstappie na die See van Galilea!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Die lewe in Bybeltye—Die Visserman
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
  • Wees vissers van mense
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Vier dissipels sal vissers van mense wees
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 1/1 bl. 24-25

Tonele uit die Beloofde Land

Gennesaret—‘uitsonderlik en wonderskoon’

“Langs die meer Gennesaret is ’n stukkie land met dieselfde naam, uitsonderlik in sy kenmerke en in sy skoonheid. Danksy die vrugbare grond is daar nie ’n plant wat nie daar floreer nie, en die inwoners plant alles aan: die lug is so matig dat dit geskik is vir die grootste verskeidenheid spesies. . . . Dit lewer nie net die grootste ondenkbare verskeidenheid vrugte op nie; dit handhaaf ’n deurlopende voorraad. . . . Dit verkry water van ’n fontein wat die grond baie vrugbaar maak.”

Geskiedskrywer Josephus het die driehoekige vlakte aan die noordwestelike kant van wat algemeen as die See van Galilea bekend staan so beskryf. Die foto’s hierbo kan jou ’n idee gee van hoe produktief hierdie vlakte, een van die vrugbaarstes in Galilea, was.a Hierdie gebied was in vroeë tye so belangrik dat die Evangelieskrywer Lukas die aanliggende varswatersee “die meer Gennesaret” genoem het.—Lukas 5:1.

Hy het daardie uitdrukking gebruik toe hy vertel het dat Jesus na hierdie gebied gekom en vier mans gevind het wat apostels geword het. Was hulle boere wat ’n bestaan uit die vrugbare grond gemaak het en druiwe, okkerneute, olywe of vye verbou het? Nee. Sulke gewasse was volop op die vlakte van Gennesaret, maar hierdie mans was vissers, en dit is maklik om te verstaan waarom hulle vissers was.

Die strome wat deur die vlakte gevloei het, het waarskynlik plante na die see vervoer wat ’n feesmaal vir visse kon word. Die waters het dus gewemel van allerhande visse, wat aanleiding gegee het tot ’n aansienlike vissersbedryf. Petrus en Andreas was handelsvissers daar, asook Jakobus en Johannes, die seuns van die visser Sebedeüs.—Mattheüs 4:18-22; Lukas 5:2-11.

Vis is dikwels gevang deur sleepnette uit ’n boot te sprei. Dit is wat Petrus en Andreas gedoen het toe Jesus na hulle gekom het. ’n Lang treknet, of sleepnet, is in ’n halwe sirkel uitgesprei. Houtdobbers het die bokant bo die water gehou terwyl gewigte aan die onderent die net na die seebodem uitgesprei gehou het. Groot hoeveelhede vis kon in so ’n net gevang word. Dit is dan in die boot ingetrek of na vlakker water gesleep en op die strand uitgegooi. Vis wat geskik was as voedsel is van die res geskei. Let op hoe presies die besonderhede in Lukas 5:4-7 en Johannes 21:6-11 weergegee word. Kan jy onthou dat Jesus hierdie visvangmetode in sy gelykenis van die sleepnet genoem het? (Mattheüs 13:47, 48). Daarbenewens toon Mattheüs 4:21 dat die vissers dikwels tyd daaraan moes bestee om nette heel te maak wat weens rotse of deur die visse geskeur is.

As jy al met hierdie kuslyn van Gennesaret langs reis, sal jy waarskynlik ’n paar plekke sien waar gebeure tydens Jesus se bediening moontlik plaasgevind het. Een is ’n groen heuwel waarop Jesus, volgens oorlewering, sy Bergpredikasie gehou het. Hierdie plek weerspreek nie die Evangelieverslae nie, want Jesus was naby die vlakte van Gennesaret toe hy daardie preek gehou het.—Mattheüs 5:1–7:29; Lukas 6:17–7:1.

Nog ’n plek wat na bewering eg is, stem nie ooreen met die Bybelse feite nie. Jy sal ’n kerk vind wat kwansuis gebou is waar Jesus 4 000 met sewe brode en ’n paar vissies gevoed het (Mattheüs 15:32-38; Markus 8:1-9). Pleks dat die wonderwerk op die vlakte van Gennesaret plaasgevind het, sê Markus se verslag dat dit in “die gebied van Dekapolis” plaasgevind het, wat anderkant die see meer as 11 kilometer daarvandaan is.—Markus 7:31.

Mattheüs en Markus sê dat nadat Jesus hierdie wonderwerk verrig het, hy per boot na Magdala, of Dalmanuta, gereis het (Mattheüs 15:39; Markus 8:10). Geleerdes koppel hierdie gebied met Magdala, net suid van die vlakte van Gennesaret, naby Tiberias. Volgens The Macmillan Bible Atlas was Magdala “bekend vir sy vis wat daar bewerk is”. Aangesien daar soveel visse in hierdie deel van die meer gevang is, kon so ’n bedryf ongetwyfeld prakties en winsgewend wees.

Dit is interessant dat ’n droogte in 1985/86 die watervlak in die See van Galilea laat daal het, wat dele van die meerbedding blootgelê het. Twee mans het die oorblyfsels van ’n antieke boot naby die vlakte van Gennesaret gevind. Argeoloë kon hierdie houtvissersboot herstel wat dateer uit om en by die tyd toe Jesus die meer en vlakte van Gennesaret besoek het.

[Voetnoot]

a Sien die groter kleurfoto in Jehovah se Getuies se kalender vir 1992.

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Garo Nalbandian

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel