Die Vloed in die legendes van die wêreld
DIE Vloed van Noag se dag was so ’n verwoestende oorstroming dat die mensdom dit nooit sou vergeet nie. Meer as 2 400 jaar later het Jesus Christus daarvan gepraat as ’n geskiedkundige feit (Mattheüs 24:37-39). Hierdie ontsagwekkende gebeurtenis het so ’n onuitwisbare indruk op die mensdom gemaak dat dit reg oor die wêreld legendaries geword het.
Philip Freund skat in die boek Myths of Creation dat daar ruim 500 Vloedlegendes is wat deur meer as 250 stamme en volke vertel word. Soos ’n mens te wagte kan wees, is hierdie legendes deur baie eeue heen aansienlik met denkbeeldige gebeure en karakters getooi. Sekere basiese ooreenkomste word egter in almal aangetref.
Treffende ooreenkomste
Toe mense ná die Vloed van Mesopotamië af getrek het, het hulle verhale van die ramp saam met hulle na al die dele van die aarde geneem. Gevolglik het die inwoners van Asië, die eilande in die Stille Suidsee, Noord-Amerika, Sentraal-Amerika en Suid-Amerika almal verhale van hierdie indrukwekkende gebeurtenis. Die talle Vloedlegendes het bestaan lank voordat hierdie mense met die Bybel te doen gekry het. Nogtans het die legendes sekere basiese punte gemeen met die Bybelse verslag van die Vloed.
Party legendes meld gewelddadige reuse wat voor die Vloed op die aarde gelewe het. Vergelykenderwys toon die Bybel dat ongehoorsame engele voor die Vloed vleeslike liggame gematerialiseer het, saam met vroue geleef het en ’n geslag van reuse voortgebring het wat die Nefilim genoem is.—Genesis 6:1-4; 2 Petrus 2:4, 5.
Vloedlegendes sê gewoonlik dat een man gewaarsku is dat ’n vloed van goddelike oorsprong sou plaasvind. Volgens die Bybel het Jehovah God Noag gewaarsku dat Hy die goddelose en gewelddadige mense gaan uitwis. God het vir Noag gesê: “Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom; want die aarde is deur hulle vervul met geweld. En kyk, Ek gaan hulle saam met die aarde verdelg.”—Genesis 6:13.
Legendes oor die Vloed sê oor die algemeen dat dit ’n wêreldwye vernietiging tot gevolg gehad het. Die Bybel sê insgelyks: “En die waters het heeltemal die oorhand gekry op die aarde, sodat al die hoë berge onder die ganse hemel bedek was. Alles wat die asem van die lewensgees in sy neusgate gehad het, alles wat op die droë grond was, het doodgegaan.”—Genesis 7:19, 22.
Die meeste Vloedlegendes sê dat ’n man, tesame met een of meer ander persone, deur die Vloed heen behoue gebly het. Baie legendes sê dat hy geskuil het in ’n boot wat hy gebou het, en dat dit op ’n berg gaan rus het. Vergelykenderwys sê die Skrif dat Noag ’n ark gebou het. Dit sê ook: “Net Noag het oorgebly en wat by hom in die ark was” (Genesis 6:5-8; 7:23). Volgens die Bybel het die ark ná die Vloed “op die gebergte van Ararat gerus” waar Noag en sy gesin die ark verlaat het (Genesis 8:4, 15- 18). Die legendes dui ook aan dat die Vloedoorlewendes die aarde weer begin bevolk het, net soos die Bybel toon dat Noag se gesin gedoen het.—Genesis 9:1; 10:1.
Vloedlegendes uit die ou tyd
Met die voorgaande punte in gedagte, kom ons kyk na ’n paar Vloedlegendes. Kom ons begin met die Sumeriërs, ’n antieke volk wat in Mesopotamië gewoon het. Hulle weergawe van die Vloed is op ’n kleitafel gevind wat in die Nippur-ruïnes opgegrawe is. Hierdie tafel sê dat die Sumeriese gode Anu en Enlil besluit het om die mensdom deur ’n groot vloed te vernietig. Omdat Ziusudra deur die god Enki gewaarsku is, kon hy en sy gesin in ’n groot boot behoue bly.
Die Babiloniese Epos van Gilgamesj bevat heelwat besonderhede. Daarvolgens het Gilgamesj sy voorvader Oetnapisjtim besoek, wat onsterflikheid gegee is nadat hy die Vloed oorleef het. In die daaropvolgende gesprek het Oetnapisjtim verduidelik dat hy beveel is om ’n skip te bou en om beeste, wilde diere en sy gesin daarin te neem. Hy het die skip gebou in die vorm van ’n groot kubus, waarvan die sye elk 60 meter lank was. Dit het ses verdiepings gehad. Hy vertel Gilgamesj dat die storm ses dae en ses nagte geduur het, en sê toe: “Toe die sewende dag aanbreek, was die orkaan, die Vloed, die skok van die stryd, wat soos ’n leërmag geslaan het, gebreek.” Die see het kalm geword, die sikloon het weggesterf, die Vloed het opgehou. Ek het oor die see uitgekyk en daar was nie meer die klank van stemme nie. Die hele mensdom het klei geword.”
Nadat die vaartuig op die berg Nisir gaan rus het, het Oetnapisjtim ’n duif vrygelaat wat na die boot teruggekeer het toe dit nie ’n rusplek kon vind nie. Toe is ’n swaeltjie vrygelaat wat ook teruggekeer het. Daarna is ’n kraai vrygelaat, en toe hy nie terugkeer nie, het Oetnapisjtim geweet dat die water weggesak het. Toe het Oetnapisjtim die diere vrygelaat en ’n offerande gebring.
Hierdie baie ou legende kom ietwat met die Bybel se verslag van die Vloed ooreen. Maar dit het nie die treffende besonderhede en eenvoudige beskrywing van die Bybelverslag nie, en dit gee nie redelike afmetings vir die ark of meld die tydsduur wat in die Skrif aangedui word nie. Die Epos van Gilgamesj het byvoorbeeld gesê dat die storm ses dae en ses nagte geduur het, terwyl die Bybel sê “die stortreën was op die aarde veertig dae en veertig nagte lank”—’n aanhoudende, swaar reën wat uiteindelik die hele aarde met water oordek het.—Genesis 7:12.
Hoewel die Bybel agt Vloedoorlewendes meld, het slegs Deukalion en sy vrou Pirra volgens ’n Griekse legende behoue gebly (2 Petrus 2:5). Volgens dié legende is die aarde voor die Vloed deur gewelddadige mense bewoon wat die bronsmense genoem is. Die god Zeus het besluit om hulle deur ’n groot vloed te vernietig en het vir Deukalion gesê om ’n groot kis te bou en daarin te klim. Toe die vloedwaters weggesak het, het die kis op die berg Parnassos tot rus gekom. Deukalion en Pirra het die berg afgeklim en die mensdom weer begin.
Legendeeees uit die Verre-Ooste
In Indië is daar ’n Vloedlegende waarvolgens Manoe die menslike oorlewende was. Hy raak bevriend met ’n vissie wat uiteindelik baie groot word en hom van ’n vernietigende vloed waarsku. Manoe bou ’n boot wat deur die vis getrek word totdat dit op ’n berg in die Himalaja te lande kom. Nadat die water weggesak het, klim Manoe saam met Ida, die verpersoonliking van sy offerande, die berg af en begin hulle weer die mensdom.
Volgens die Chinese vloedlegende gee die god van donder ’n tand aan twee kinders, Noewa en Foesi. Hy beveel hulle om die tand te plant en om skuiling te soek in die kalbas wat daaruit sou groei. ’n Boom groei sonder meer uit die tand en bring ’n yslike kalbas voort. Toe die god van donder stortreëns bring, klim die kinders in die kalbas. Hoewel die gevolglike vloed die res van die aarde se inwoners laat verdrink, bly Noewa en Foesi behoue en herbevolk hulle die aarde.
In die Amerikas
Die Indiane van Noord-Amerika het verskillende legendes wat die algemene tema het van ’n vloed wat alle mense behalwe ’n paar uitwis. Die Arikara, ’n Caddo-volk, sê byvoorbeeld dat die aarde eens bewoon was deur ’n volk wat so sterk was dat hulle die gode bespot het. Die god Nesaru het hierdie reuse deur ’n vloed vernietig maar het sy volk, die diere en mielies in ’n grot bewaar. Die Havasupai-volk sê dat die god Hokomata ’n vloed veroorsaak het wat die mensdom uitgewis het. Maar die man Tochopa het sy dogter Pukeheh gered deur haar in ’n hol stomp te verseël.
Indiane in Sentraal- en Suid-Amerika het vloedlegendes wat basies ooreenstem. Die Majas van Sentraal-Amerika het geglo dat ’n groot reënslang die wêreld met stortvloede vernietig het. Die Chimalpopoca van Mexiko se weergawe lui dat ’n vloed die berge oorstroom het. Die god Tezcatlipoca het die man Nata gewaarsku, en hy het toe ’n stomp uitgehol waarin hy en sy vrou Nena geskuil het totdat die water weggesak het.
Die Chincha van Peru het ’n legende van ’n vloed wat vyf dae geduur het en al die mense uitgewis het behalwe een man wat deur ’n pratende lama na veiligheid op ’n berg gelei is. Die Ayamara van Peru en Bolivië sê dat die god Viracocha uit die Titicacameer gekom en die wêreld en buitengewoon groot en sterk manne geskep het. Omdat hierdie eerste ras hom kwaad gemaak het, het Viracocha hulle deur ’n vloed vernietig.
Die Tupinamba-Indiane van Brasilië praat van ’n tyd toe ’n groot vloed al hulle voorvaders laat verdrink het behalwe dié wat in hulle kano’s of in die toppe van hoë bome behoue gebly het. Die Cashinaua van Brasilië, die Macushi van Guyana, die Karibes van Sentraal-Amerika en die Ona en Yahgan van Vuurland in Suid-Amerika tel onder die talle stamme wat vloedlegendes het.
Die Stille Suidsee en Asië
Legendes omtrent ’n vloed waarin net ’n paar mense behoue gebly het, kom algemeen oral in die Stille Suidsee voor. In Samoa is daar byvoorbeeld ’n legende van ’n vloed in die vroeë tye wat almal uitgewis het behalwe Pili en sy vrou. Hulle het veiligheid op ’n rots gevind en het die aarde ná die vloed weer bevolk. In die Hawaii-eilande het die god Kane geïrriteerd geraak met die mensdom en ’n vloed gestuur om hulle uit te wis. Net Noeʹoe het in ’n groot boot ontvlug wat uiteindelik op ’n berg te lande gekom het.
Op Mindanao in die Filippyne, sê die Ata dat die aarde eens op ’n tyd met water oorstroom is wat almal behalwe twee mans en ’n vrou vernietig het. Die Iban van Sarawak, Borneo, sê dat net ’n paar mense ’n vloed ontkom het deur na die hoogste heuwels te vlug. Volgens die Igorot-legende van die Filippyne het net ’n broer en ’n suster behoue gebly deur op die berg Pokis te skuil.
Die Sojot van Siberië, Rusland, sê dat ’n reusepadda wat die aarde ondersteun het, beweeg het en dat dit die aarde laat oorstroom het. ’n Ou man en sy gesin het op ’n vlot wat hy gebou het behoue gebly. Toe die water gesak het, het die vlot op ’n hoë berg te lande gekom. Die Ugriane van westelike Siberië en Hongarye sê ook dat vloedoorlewendes vlotte gebruik het maar dat hulle na verskillende dele van die aarde gedryf het.
Gemeenskaplike oorsprong
Wat kan ons uit al hierdie vloedlegendes aflei? Hoewel hulle heelwat in besonderhede verskil, het hulle sekere gemeenskaplike kenmerke. Dit dui op ’n oorsprong in die een of ander geweldige en onvergeetlike oorstroming. Ondanks alles wat deur die eeue heen bygevoeg is, is hul onderliggende tema soos ’n draad wat hulle aan een groot gebeurtenis bind—die wêreldwye Vloed wat in die eenvoudige, onoordrewe Bybelverslag beskryf word.
Aangesien die Vloedlegendes oor die algemeen onder volke voorkom wat eers in onlangser eeue met die Bybel in aanraking gekom het, sou dit onjuis wees om aan te voer dat die Skriftuurlike verslag hulle beïnvloed het. Boonop sê The International Standard Bible Encyclopedia: “Die universaliteit van die verslae oor die vloed word gewoonlik aanvaar as bewys van die universele uitwissing van die mensdom deur ’n vloed . . . Boonop is party van die ou verhale deur mense geskryf wat baie teen die Hebreeus-Christelike tradisie gekant was” (Deel 2, bladsy 319). Ons kan dus met vrymoedigheid die gevolgtrekking maak dat die Vloedlegendes die waarheid van die Bybelse verslag bevestig.
Aangesien ons in ’n wêreld vol geweld en onsedelikheid leef, sal dit in ons eie belang wees om die Bybelse verslag van die Vloed, wat in Genesis hoofstukke 6 tot 8 opgeteken is, te lees. As ons oor die rede vir daardie wêreldwye Vloed nadink—die beoefening van goddelose dinge in God se oë—sal ons ’n lewensbelangrike waarskuwing daarin sien.
Die huidige stelsel van dinge gaan binnekort God se ongunstige oordeel beleef. Gelukkig sal daar oorlewendes wees. Jy kan een van hulle wees as jy ag gee op die apostel Petrus se woorde: ‘Die toenmalige wêreld van Noag is met water oorstroom en het vergaan . . . Maar die teenswoordige hemele en die aarde is deur dieselfde woord as ’n skat weggelê en word vir die vuur bewaar teen die dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense. Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie?—julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas.’—2 Petrus 3:6-12.
Sal jy die teenwoordigheid van Jehovah se dag goed in gedagte hou? As jy dit doen en ooreenkomstig God se wil optree, sal jy groot seëninge geniet. Diegene wat Jehovah God sodoende behaag, kan geloof hê in die nuwe wêreld waarna Petrus verwys wanneer hy byvoeg: “Ons verwag volgens [God se] belofte nuwe hemele en ’n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.”—2 Petrus 3:13.
[Prent op bladsy 7]
Die Babiloniese vloedlegendes is van die een geslag aan die ander oorgedra
[Prent op bladsy 8]
Gee jy ag op Petrus se waarskuwing deur Jehovah se dag in gedagte te hou?