Hedendaagse valse profete
JEREMIA was God se profeet in Jerusalem op ’n tydstip toe die stad vol afgodediens, onsedelikheid, korrupsie en die vergieting van onskuldige bloed was (Jeremia 7:8-11). Hy was nie die enigste profeet op daardie tydstip nie, maar die meeste van die ander profete was selfsugtig en korrup. In watter opsig? Jehovah verklaar: “Van die profeet tot die priester pleeg hulle almal bedrog. En hulle genees die verbreking van die dogter van my volk op die maklikste manier deur te sê: Vrede, vrede!—terwyl daar geen vrede is nie.”—Jeremia 6:13, 14.
Die valse profete het probeer voorgee dat dit, ondanks al die korrupsie in die land, goed met hulle gaan en die bevolking vrede met God geniet; maar dit was nie die geval nie. God se oordeel het vir hulle voorgelê, soos Jeremia onbevrees verkondig het. Die ware profeet Jeremia se woorde, nie die valse profete s’n nie, is gestaaf toe Jerusalem in 607 v.G.J. deur Babiloniese soldate verwoes is, die tempel vernietig is en die inwoners gedood of in gevangenskap na vergeleë Babilon weggevoer is. Die patetiese groepie wat in die land oorgebly het, het na Egipte toe gevlug.—Jeremia 39:6-9; 43:4-7.
Wat het die valse profete gedoen? “Kyk, Ek het dit teen die profete, spreek die HERE, wat my woorde steel, die een van die ander” (Jeremia 23:30). Die valse profete het die krag van God se woorde gesteel deur die mense aan te moedig om na leuens pleks van na die betroubare waarskuwing wat van God afkomstig was te luister. Hulle het nie “die groot dade van God” verkondig nie, maar hulle eie idees, dinge wat die mense wou hoor. Jeremia se boodskap was waarlik van God afkomstig, en as die Israeliete op sy woorde ag geslaan het, sou hulle behoue gebly het. Die valse profete ‘het God se woorde gesteel’ en die mense na hulle ondergang gelei. Dit was net soos Jesus van die ontroue godsdiensleiers van sy dag gesê het: “Hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val.”—Handelinge 2:11; Mattheüs 15:14.
Soos in Jeremia se dag is daar vandag valse profete wat beweer dat hulle die God van die Bybel verteenwoordig; maar hulle steel ook God se woorde deur dinge te verkondig wat mense weglok van dit wat God, deur die Bybel, werklik sê. In watter opsig? Laat ons daardie vraag beantwoord deur die fundamentele Bybelleerstelling van die Koninkryk as ’n toetssteen te gebruik.
Die waarheid oor die Koninkryk
God se Koninkryk was die vernaamste tema van Christus se onderrigting, en dit word meer as honderd keer in die Evangelies gemeld. Vroeg in sy bediening het Jesus gesê: “Ek moet . . . die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur.” Hy het sy volgelinge geleer om te bid: “Laat u koninkryk kom.”—Lukas 4:43; 11:2.
Wat is die Koninkryk dan? Volgens The New Thayer’s Greek English Lexicon beteken die Griekse woord wat in die Bybel met “koninkryk” vertaal word ten eerste “koninklike mag, koningskap, heerskappy, bewind” en ten tweede “die gebied waaroor ’n koning heers”. Hieruit kan ons logieserwys aflei dat God se Koninkryk ’n letterlike regering in die hande van ’n Koning is. Is dit die geval?
Ja, dit is, en die Koning is niemand anders nie as Jesus Christus. Voor Jesus se geboorte het die engel Gabriël vir Maria gesê: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee” (Lukas 1:32). Die feit dat Jesus ’n troon ontvang, bewys dat hy ’n Koning, ’n Regeringshoof, is. Die profesie van Jesaja toon ook dat die Koninkryk ’n letterlike regering is: “’n Kind is vir ons gebore, ’n seun is aan ons gegee: en die regering sal op sy skouer wees . . . Aan die vermeerdering van sy regering en vrede sal daar geen einde wees nie.”—Jesaja 9:6, 7, King James Version.
Waar regeer Jesus? In Jerusalem? Nee. Die profeet Daniël het ’n visioen gesien van Jesus wat die Koninkryk ontvang, en in sy visioen is Jesus in die hemel (Daniël 7:13, 14). Dit strook met wat Jesus van die Koninkryk gesê het. Hy het dit dikwels “die koninkryk van die hemele” genoem (Mattheüs 10:7; 11:11, 12). Dit strook ook met Jesus se woorde aan Pilatus tydens Jesus se verhoor voor hom: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Johannes 18:36). Leer jou predikant of priester jou dat Jesus se Koninkryk ’n werklike regering is wat vanuit die hemel regeer? Of leer hy jou dat die Koninkryk bloot iets is wat in die hart bestaan? Indien wel, steel hy God se woorde van jou.
Wat is die verband tussen die Koninkryksregering en al die verskillende vorme van menseregerings? Volgens The Encyclopedia of Religion, onder redaksie van Mircea Eliade, het die Hervormer Martin Luther, toe hy die Koninkryk bespreek het, gesê: “Die wêreldse regering . . . kan ook God se koninkryk genoem word.” Sommige leer dat mense, deur hulle eie pogings, menseregerings meer soos God se Koninkryk kan maak. In 1983 het die Wêreldraad van Kerke verklaar: “Terwyl ons deur spesifieke dade van ons opregte begeerte na vrede getuig, kan die Gees van God ons swak pogings gebruik om die koninkryke van die wêreld meer soos die koninkryk van God te maak.”
Let egter op dat Jesus in die Gebed van die Here (die “Onse Vader”) sy volgelinge geleer bid het dat God se Koninkryk moet kom en eers daarna vir hulle gesê het om te bid: “Laat u [God se] wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:10). Met ander woorde, mense laat nie die Koninkryk kom deur God se wil te doen nie. Dit is die koms van die Koninkryk wat God se wil op die aarde laat geskied. Hoe?
Luister na wat die profesie van Daniël hoofstuk 2, vers 44, sê: “In die dae van dié konings [menseheersers in die tyd van die einde] sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie . . . Dit sal al daardie koninkryke verbrysel.” Geen wonder dat Jesus gesê het dat sy Koninkryk geen deel van hierdie wêreld is nie! Die Koninkryk gaan eerder die koninkryke, die regerings, van hierdie aarde vernietig en in hulle plek oor die mensdom heers. As die godgegewe regering van die mensdom sal dit toesien dat God se wil op die aarde geskied.
Die rede vir sulke drastiese optrede deur die Koninkryk word duideliker wanneer ons in gedagte hou wie hierdie wêreld beheer. Die apostel Johannes het geskryf: “Die hele wêreld [lê] in die mag van die Bose” (1 Johannes 5:19). “Die Bose” is Satan die Duiwel, wat deur Paulus “die god van hierdie wêreld” genoem is (2 Korinthiërs 4:4). Daar is geen manier waarop instellings in ’n wêreld waarvan Satan die Duiwel die god is met die Koninkryk van God vereenselwig kan word nie.
Dit is een rede waarom Jesus nie by die politiek betrokke geraak het nie. Toe Joodse nasionaliste hom ’n koning probeer maak het, het hy hulle ontwyk (Johannes 6:15). Soos ons gesien het, het hy reguit vir Pilatus gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.” En in ooreenstemming hiermee het hy van sy volgelinge gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). Derhalwe is godsdiensleiers wat leer dat die koms van God se Koninkryk deur hervorming in hierdie stelsel van dinge verhaas word en wat hulle kuddes aanmoedig om hulle vir sulke hervorming te beywer valse profete. Hulle steel die krag van wat die Bybel werklik sê.
Waarom is dit belangrik?
Is dit alles bloot ’n intellektuele argument? Beslis nie. Verkeerde leringe oor God se Koninkryk het baie al mislei en het selfs ’n uitwerking op die verloop van die geskiedenis gehad. Die publikasie Théo, ’n Rooms-Katolieke ensiklopedie, sê byvoorbeeld: “God se volk beweeg in die rigting van ’n Koninkryk van God wat op aarde deur die Christus begin is . . . Die kerk is die saad van hierdie Koninkryk.” Die gelykstelling van die Katolieke Kerk met God se Koninkryk het die kerk ontsaglike sekulêre mag gedurende die bygelowige Middeleeue gegee. Kerkowerhede probeer selfs vandag die verloop van wêreldaangeleenthede beïnvloed deur hulle vir sommige politieke stelsels en teen ander stelsels te beywer.
Een kommentator het nog ’n standpunt uiteengesit wat vandag algemeen voorkom toe hy gesê het: “Die weg van revolusie is die koninkryk omdat die revolusie die mense is wat in ’n nuwe mensdom bymekaarkom, wat aangevuur is deur ’n goddelike simbool wat deur die man van waarheid—Jesus . . . Gandhi . . . die Berrigans—gegee is.” Omdat godsdiensleiers leer dat God se Koninkryk deur politieke aktivisme bevorder kan word en omdat hulle die ware feite oor die Koninkryk ignoreer, het hulle politieke ampte nagestreef. Dit het daartoe gelei dat ander by burgerlike oproer betrokke raak en selfs aan guerrillaoorlogvoering deelneem. Niks hiervan strook met die waarheid dat die Koninkryk geen deel van hierdie wêreld is nie. En godsdiensleiers wat so diep by die politiek betrokke raak, is beslis ’n deel van die wêreld, iets wat Jesus gesê het sy ware dissipels nie sou wees nie. Diegene wat leer dat God se Koninkryk deur politieke optrede bereik kan word, is valse profete. Hulle steel God se woorde van die mense.
As godsdiensleiers in die Christendom werklik die dinge geleer het wat die Bybel sê, sou hulle kuddes weet dat God se Koninkryk inderdaad probleme soos armoede, siekte, rasse-ongelykheid en onderdrukking gaan oplos. Maar dit sal op God se tyd en op God se manier geskied. Dit sal nie geskied deur die hervorming van politieke stelsels, wat sal verbygaan wanneer die Koninkryk kom, nie. As hierdie geestelikes ware profete was, sou hulle hulle kuddes geleer het dat hulle ware, godgegewe, praktiese hulp kan vind om die probleme wat die onregverdigheid van hierdie wêreld veroorsaak die hoof te bied terwyl hulle vir God se Koninkryk wag om op te tree.
Laastens sou hulle hulle kuddes geleer het dat die verslegtende toestande op die aarde wat soveel ellende veroorsaak in die Bybel voorspel is en ’n teken is dat die Koninkryk naby is. Ja, die Koninkryk van God sal weldra ingryp en die huidige politieke strukture vervang. Wat ’n seëning sal dit tog wees!—Mattheüs 24:21, 22, 36-39; 2 Petrus 3:7; Openbaring 19:11-21.
Die mensdom onder God se Koninkryk
Wat sal die koms van God se Koninkryk vir die mensdom beteken? Wel, kan jy jou voorstel hoe dit sal wees as jy elke oggend vol lewenskrag opstaan? Niemand wat jy ken, is siek of sterwend nie. Selfs jou afgestorwe dierbares is deur ’n opstanding aan jou teruggegee (Jesaja 35:5, 6; Johannes 5:28, 29). Daar is geen ekonomiese bekommernisse wat deur selfsugtige kommersialisme of ongelyke ekonomiese stelsels veroorsaak word nie. Jy het jou eie gerieflike huis en genoeg grond om al die voedsel te kweek wat jou gesin nodig het (Jesaja 65:21-23). Jy kan enige tyd van die dag of nag op enige plek rondloop sonder om bang te wees dat jy aangeval sal word. Daar is nie meer oorloë nie—niks wat jou veiligheid bedreig nie. Almal dra jou belange op die hart. Die goddeloses is weg. Liefde en geregtigheid heers. Kan jy jou so ’n tyd voorstel? Dit is die soort wêreld wat die Koninkryk gaan bring.—Psalm 37:10, 11; 85:10-13; Miga 4:3, 4.
Is dit bloot ’n droom? Nee. Lees die tekste wat in die voorafgaande paragraaf aangegee is, en jy sal vind dat alles wat daar gesê is vaste beloftes van God weerspieël. As hierdie ware beeld van wat God se Koninkryk vir die mensdom kan en gaan doen tot dusver nie aan jou voorgehou is nie, het iemand God se woorde van jou gesteel.
Gelukkig hoef dit nie so te bly nie. Jesus het gesê dat ‘hierdie evangelie van die koninkryk in ons dag verkondig sal word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom’ (Mattheüs 24:14). Die tydskrif wat jy nou lees, is deel van daardie predikingswerk. Ons moedig jou aan om nie deur valse profete mislei te word nie. Kyk dieper in God se Woord om die waarheid oor God se Koninkryk te vind. Onderwerp jou dan aan daardie Koninkryk, wat ’n voorsiening is van die Groot Herder, Jehovah God. Dit is waarlik die mens se enigste hoop, en dit sal nie misluk nie.
[Prent op bladsy 5]
Luther het geleer dat menseregering as God se Koninkryk beskou kan word
[Erkenning]
Courtesy of the Trustees of the British Museum
[Prent op bladsy 7]
Soos ’n liefdevolle Herder sal Jehovah deur sy Koninkryk toestande tot stand bring wat geen mens kan nie