Vrae van lesers
Hebreërs 9:16 (“NW”) sê dat ’n verbondsluiter moet sterf voordat ’n verbond geldig kan wees. Maar God het die nuwe verbond ingestel, en hy het nie gesterf nie. Hoe kan ons hierdie vers dus verstaan?
Ons lees in Hebreërs 9:15-17: “Daarom is hy [Christus] dus middelaar van ’n nuwe verbond, sodat diegene wat geroep is die belofte van die ewige erfenis kan ontvang, aangesien ’n dood plaasgevind het om hulle deur die losprys te verlos van die oortredinge onder die vroeëre verbond. Want waar ’n verbond is, moet die dood van die [menslike] verbondsluiter aangetoon word. Want ’n verbond is geldig oor dooie slagoffers, aangesien dit nooit van krag is solank die [menslike] verbondsluiter nog leef nie” (NW).a
Jehovah is die eintlike Insteller van die nuwe verbond. In Jeremia 31:31-34 het God uitdruklik voorspel dat hy self die nuwe verbond met sy volk sou sluit. Die apostel Paulus haal hierdie teks in Hebreërs 8:8-13 aan, wat daarop dui dat Paulus besef het dat God na regte hierdie goddelike verbond ingestel het.
Maar in Hebreërs hoofstuk 9 het Paulus voorts bespreek watter rolle Jesus gespeel het met betrekking tot die nuwe verbond. Christus het as Hoëpriester van hierdie verbond gekom. Uit ’n ander oogpunt beskou, was Jesus die offer vir die nuwe verbond; net “die bloed van Christus” kan ons “gewete reinig van dooie werke”. Christus was ook die Middelaar van hierdie verbond, net soos Moses die middelaar van die Wetsverbond was.—Hebreërs 9:11-15.
Paulus het gemeld dat ’n dood nodig was om verbonde tussen God en mense geldig te maak. Die Wetsverbond is ’n voorbeeld. Moses was die middelaar daarvan, die een wat hierdie ooreenkoms tussen God en vleeslike Israel tot stand gebring het. Moses het dus ’n deurslaggewende rol gespeel en hy was die mens wat onderhandel het met die Israeliete toe hulle onder die verbond gekom het. Moses kan dus beskou word as die menslike verbondsluiter van die Wetsverbond wat deur Jehovah ingestel is. Maar moes Moses sy lewensbloed uitgiet sodat die Wetsverbond van krag kon word? Nee. Diere is in sy plek geoffer, en hulle bloed het as plaasvervanger vir Moses se bloed gedien.—Hebreërs 9:18-22.
Wat van die nuwe verbond tussen Jehovah en die geestelike nasie Israel? Jesus Christus het die glorieryke rol as tussenganger gehad, die Middelaar tussen Jehovah en geestelike Israel. Hoewel Jehovah hierdie verbond ingestel het, draai dit om Jesus Christus. Benewens die feit dat Jesus die Middelaar hiervan is, het hy regstreeks in die vlees omgegaan met diegene wat eerste lede van hierdie verbond sou word (Lukas 22:20, 28, 29). Daarbenewens het hy aan die vereistes voldoen om die offer te voorsien wat nodig was om die verbond geldig te maak. Hierdie offer was nie bloot diere wat geoffer is nie, maar ’n volmaakte menselewe. Paulus kon dus van Christus praat as die menslike verbondsluiter van die nuwe verbond. Toe ‘Christus in die hemel self ingegaan het om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn’, het die nuwe verbond geldig geword.—Hebreërs 9:12-14, 24.
Toe Paulus van Moses en Jesus as menslike verbondsluiters gepraat het, het hy nie te kenne gegee dat enigeen van hulle die onderskeie verbonde, waarvan God eintlik die insteller was, ingestel het nie. Inteendeel, daardie twee mense was as middelaars intiem betrokke by die totstandkoming van die onderskeie verbonde. En in elke geval was ’n dood nodig—diere as plaasvervanger vir Moses, en Jesus wat sy eie lewensbloed geoffer het vir diegene in die nuwe verbond.
[Voetnoot]
a Die twee Griekse woorde wat hier vir “van die verbondsluiter” gebruik word, word letterlik vertaal met “van die (een) wat vir homself ’n verbond gesluit het” of “van die [een] wat ’n verbond sluit”.—The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., en The Interlinear Greek-English New Testament, deur dr. Alfred Marshall.