Staan vas vir godgegewe vryheid!
“Vir sulke vryheid het Christus ons vrygemaak. Staan daarom vas en laat julle nie opnuut ’n slawejuk oplê nie.”—GALASIËRS 5:1, NW.
1, 2. Hoe is godgegewe vryheid verloor?
JEHOVAH se volk is vry. Maar hulle probeer nie om onafhanklik van God te wees nie, want dit sal slawerny aan Satan beteken. Hulle koester hulle intieme verhouding met Jehovah en verheug hulle in die vryheid wat hy hulle gee.
2 Ons eerste ouers, Adam en Eva, het godgegewe vryheid verloor deur te sondig en slawe van sonde, die dood en die Duiwel te word (Genesis 3:1-19; Romeine 5:12). Trouens, Satan het die hele wêreld op die sondige pad na verderf geplaas! Maar diegene wat vasstaan vir godgegewe vryheid wandel op die pad wat na die ewige lewe lei.—Mattheüs 7:13, 14; 1 Johannes 5:19.
Vryheid van slawerny
3. Watter hoop het God in Eden aan die mens voorgehou?
3 Jehovah se voorneme was dat mense wat sy naam eer vry van slawerny aan Satan, sonde en die dood moes wees. Daardie hoop is aan hulle voorgehou toe God aan die slang wat deur Satan in Eden gebruik is, gesê het: “Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hý sal jou die kop vermorsel, en jý sal hom in die hakskeen byt” (Genesis 3:14, 15). Jesus Christus, die Saad van Jehovah se hemelse organisasie, is in die hakskeen gebyt toe hy aan die folterpaal gesterf het, maar God het sodoende ’n losprysoffer voorsien om die gelowige mensdom van sonde en die dood te bevry (Mattheüs 20:28; Johannes 3:16). Jesus sal die kop van Satan, die oorspronklike Slang, op tyd verbrysel.—Openbaring 12:9.
4. Watter vryheid het Abraham geniet, en wat het Jehovah hom belowe?
4 Ongeveer 2 000 jaar ná die belofte in Eden het Abraham, “’n vriend van God”, uit gehoorsaamheid aan God die stad Ur verlaat en na ’n ander plek getrek (Jakobus 2:23; Hebreërs 11:8). Hy het derhalwe godgegewe vryheid gekry en het nie meer geleef as ’n slaaf van Satan se wêreld van valse godsdiens, korrupte politieke aangeleenthede en gierige handelsverkeer nie. Benewens die profesie in Eden het God belowe dat alle families en nasies hulleself deur Abraham en sy Saad sal seën (Genesis 12:3, NW; 22:17, 18, NW). Abraham was vry van veroordeling, want “hy het in die HERE [Jehovah] geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken” (Genesis 15:6, vgl. NW). Vandag bring ’n intieme verhouding met Jehovah eweneens godgegewe vryheid mee van veroordeling en van slawerny aan die wêreld wat in Satan se mag lê.
’n Aangrypende simboliese drama
5. Watter omstandighede het met die geboorte van Isak gepaardgegaan?
5 Sara, Abraham se onvrugbare vrou, het haar diensmeisie, Hagar, aangebied om ’n kind vir Abraham te baar, sodat hy ’n saad kon hê. By haar het Abraham die vader van Ismael geword, maar God het hom nie as die beloofde Saad gekies nie. Jehovah het Abraham en Sara eerder in staat gestel om ’n seun, Isak, te hê toe Abraham 100 en Sara 90 was. Toe Ismael Isak gespot het, is Hagar en haar seun weggestuur, wat Abraham se seun by die vrye vrou Sara sonder twyfel Abraham se saad gemaak het. Soos Abraham het Isak ook geloof beoefen en godgegewe vryheid geniet.—Genesis 16:1-16; 21:1-21; 25:5-11.
6, 7. Waarvan het valse leraars party Christene in Galasië oortuig, maar wat het Paulus verduidelik?
6 Hierdie gebeurtenisse het dinge voorafgeskadu wat uiters belangrik vir liefhebbers van godgegewe vryheid is. Dit is opgeteken in die brief wat die apostel Paulus omstreeks 50 tot 52 G.J. aan die gemeentes van Galasië geskryf het. Teen daardie tyd het die bestuursliggaam al besluit dat besnydenis nie ’n vereiste vir Christene was nie. Maar valse leraars het party van die Galasiërs daarvan oortuig dat dit ’n noodsaaklike aspek van die Christelike geloof was.
7 Paulus het vir die Galasiërs gesê: ’n Mens word regverdig verklaar deur geloof in Christus, nie deur werke van die Mosaïese Wet nie (1:1–3:14). Die Wet het nie die belofte wat met die Abrahamitiese verbond verband gehou het kragteloos gemaak nie, maar het oortredinge openbaar gemaak en het gedien as ’n leermeester wat tot Christus lei (3:15-25, vgl. NW). Deur sy dood het Jesus diegene verlos wat onder die Wet was en hulle in staat gestel om seuns van God te word. ’n Terugkeer na die reëling om dae, maande, vaste tye en jare te onderhou, sou dus beteken dat hulle weer in slawerny verval het (4:1-20). Paulus het vervolgens geskryf:
8, 9. (a) Verduidelik kortliks in jou eie woorde wat Paulus in Galasiërs 4:21-26 gesê het. (b) Wie of wat is in hierdie simboliese drama deur Abraham en deur Sara afgebeeld, en wie is die beloofde Saad?
8 “Sê vir my, julle wat onder die wet wil staan: Hoor julle nie die Wet nie? Daar staan byvoorbeeld geskrywe dat Abraham twee seuns gekry het, een [Ismael] by die diensmeisie [Hagar] en een [Isak] by die vrye vrou [Sara]; maar die een by die diensmeisie is in werklikheid na die vlees gebore, die ander by die vrye vrou uit die krag van ’n belofte. Hierdie dinge vorm ’n simboliese drama; want hierdie vroue beteken twee verbonde: die een [die Wetsverbond] afkomstig van die berg Sinaï [waar God daardie verbond met die Israeliete gesluit het] bring kinders vir slawerny voort, en dit is Hagar. [Die ander verbond was die een wat met Abraham gesluit is aangaande sy Saad.] Hierdie Hagar beteken Sinaï, ’n berg in Arabië, en sy kom ooreen met die teenswoordige Jerusalem, want sy is met haar kinders [afstammelinge van Abraham, Isak en Jakob] in slawerny. Maar die Jerusalem daarbo is vry, en sy is ons moeder.”—Galasiërs 4:21-26, NW.
9 In hierdie simboliese drama was Abraham ’n afbeelding van Jehovah. “Die vrye vrou”, Sara, het God se “vrou”, of heilige universele organisasie, afgebeeld. Dit het Christus, die Saad van daardie simboliese vrou en van die Grotere Abraham, voortgebring (Galasiërs 3:16). Jesus het die waarheid verkondig en valse godsdiens aan die kaak gestel om vir mense te toon hoe hulle van onreine aanbidding, sonde en Satan bevry kan word, maar Jerusalem en haar kinders het in godsdiensslawerny gebly omdat hulle hom verwerp het (Mattheüs 23:37, 38). Jesus se Joodse volgelinge het vry geword van die Wet, wat hulle slawerny aan onvolmaaktheid, sonde en die dood openbaar gemaak het. Alle mense wat Jesus aanneem as die Een wat deur God se “vrou” voortgebring is om die Messiaanse Koning en die Bevryder te wees wat ‘vrylating vir die gevangenes uitroep’, is inderdaad vry!—Jesaja 61:1, 2; Lukas 4:18, 19.
Vermy ’n slawejuk
10, 11. Van watter slawejuk het Christus sy volgelinge bevry, en watter parallelle kan vandag gesien word?
10 Aan diegene wat saam met Christus, die Grotere Isak, Abraham se saad uitmaak, sê Paulus: “Jerusalem daarbo is vry, en dit is ons moeder. . . . Ons, broeders, is kinders wat tot die belofte behoort, net soos Isak. Maar net soos hy wat na die vlees gebore is [Ismael], hom wat na die gees gebore is [Isak], destyds vervolg het, so is dit nou ook. . . . Ons is nie kinders van die diensmeisie nie, maar van die vrye vrou. Vir sulke vryheid [van die Wet] het Christus ons vrygemaak. Staan daarom vas en laat julle nie opnuut ’n slawejuk oplê nie.”—Galasiërs 4:26–5:1, NW.
11 Enige volgeling van Jesus wat hom aan die Wet sou onderwerp, sou hom ’n slawejuk laat oplê het. Valse godsdiens is vandag ’n slawejuk, en die Christendom stem ooreen met eertydse Jerusalem en haar kinders. Maar gesalfdes is kinders van Jerusalem daarbo, God se vrye hemelse organisasie. Hulle en medegelowiges met aardse verwagtinge is nie deel van hierdie wêreld nie en is nie in slawerny aan Satan nie (Johannes 14:30; 15:19; 17:14, 16). Laat ons, aangesien ons deur die waarheid en deur Jesus se offer bevry is, vasstaan vir ons godgegewe vryheid.
Neem ’n standpunt in vir godgegewe vryheid
12. Watter weg volg gelowiges, en wat sal nou bespreek word?
12 Miljoene geniet nou ware vryheid as Jehovah se Getuies. Bybelstudies word gehou met miljoene ander, waarvan baie “die regte gesindheid vir die ewige lewe” het. Wanneer hulle gelowiges word, sal hulle ’n standpunt inneem vir godgegewe vryheid deur hulle te laat doop (Handelinge 13:48, NW; 18:8). Maar deur watter stappe word Christelike doop voorafgegaan?
13. Watter verband is daar tussen kennis en doop?
13 Voordat ’n mens jou laat doop, moet jy juiste kennis van die Skrif opdoen en daarvolgens optree (Efesiërs 4:13, NW). Jesus het derhalwe vir sy volgelinge gesê: “Gaan . . . maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.”—Mattheüs 28:19.
14. Om in die naam van die Vader, die Seun en die heilige gees gedoop te word, vereis watter kennis?
14 Om in die naam van die Vader gedoop te word, beteken dat ’n mens Jehovah se posisie en gesag as God, Skepper en Universele Soewerein erken (Genesis 17:1; 2 Konings 19:15; Openbaring 4:11). Doop in die naam van die Seun vereis erkenning van Christus se posisie en gesag as ’n verhewe geesskepsel, die Messiaanse Koning, en die een deur wie God “’n ooreenstemmende losprys” voorsien het (1 Timotheüs 2:5, 6, NW; Daniël 7:13, 14; Filippense 2:9-11). Iemand wat in die naam van die heilige gees gedoop word, besef dat dit God se werkende krag is wat deur Jehovah gebruik is in die skepping en om Bybelskrywers te inspireer, asook op ander maniere (Genesis 1:2, NW; 2 Petrus 1:21). Daar is natuurlik baie meer wat ons aangaande God, Christus en die heilige gees kan leer.
15. Waarom moet ’n mens geloof beoefen voor hy gedoop word?
15 Voordat ’n mens jou laat doop, moet jy geloof beoefen wat op juiste kennis gegrond is. “Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag” (Hebreërs 11:6). Iemand wat geloof in God, Christus en die goddelike voorneme beoefen, sal een van Jehovah se Getuies wil wees en sal in harmonie met God se Woord lewe en ’n betekenisvolle aandeel aan die verkondiging van die goeie nuus hê. Hy sal van die heerlikheid van Jehovah se koningskap praat.—Psalm 145:10-13; Mattheüs 24:14.
16. Wat is berou, en hoe hou dit verband met die Christelike doop?
16 Nog ’n voorvereiste vir doop is berou. Om berou te hê, beteken dat “jy jou gedagtes verander ten opsigte van vorige (of opsetlike) dade, of gedrag, omdat jy spyt het of ontevrede is daaroor”, of dat jy “spyt, gewetenswroeging of berou het oor wat jy gedoen het of nie gedoen het nie”. Eerste-eeuse Jode moes berou hê oor hulle sondes teen Jesus Christus (Handelinge 3:11-26). Sommige gelowiges in Korinthe het hulle bekeer van hoerery, afgodediens, egbreuk, homoseksualiteit, diefstal, hebsug, dronkenskap, kwaadsprekery en afpersery. Hulle is gevolglik “skoon gewas” in Jesus se bloed, is “geheilig” as diegene wat vir Jehovah se diens afgesonder is en is “regverdig verklaar” in die naam van Jesus Christus en met die gees van God (1 Korinthiërs 6:9-11, vgl. NW). Berou is dus ’n stap om ’n goeie gewete en godgegewe vryheid van kwellende skuldgevoelens oor sonde te verkry.—1 Petrus 3:21.
17. Wat beteken bekering, en wat vereis dit van iemand wat beplan om hom te laat doop?
17 Bekering moet ook plaasvind voordat iemand as een van Jehovah se Getuies gedoop kan word. ’n Berouvolle individu se bekering vind plaas nadat hy sy verkeerde lewenswandel laat vaar het en hom voorneem om te doen wat reg is. Hebreeuse en Griekse werkwoorde wat met bekering verband hou, beteken “terugdraai, omdraai of terugkeer”. Wanneer dit in geestelike sin op ’n gunstige manier gebruik word, slaan dit op ’n terugkeer na God van ’n verkeerde weg (1 Konings 8:33, 34). Bekering vereis ‘werke wat by die bekering pas’, dat ons doen wat God beveel, valse godsdiens verlaat en ons hart onwrikbaar op Jehovah rig om hom alleen te dien (Handelinge 26:20; Deuteronomium 30:2, 8, 10; 1 Samuel 7:3). Dit behels “’n nuwe hart en ’n nuwe gees” vir ’n nuwe denkwyse, gesindheid en doel in die lewe (Esegiël 18:31). Die nuwe persoonlikheid wat hieruit volg, vervang goddelose karaktertrekke met godvrugtige eienskappe (Kolossense 3:5-14). Ja, ware berou laat ’n mens werklik ‘tot inkeer kom’.—Handelinge 3:19, NAV.
18. Waarom moet jy jou in gebed aan God toewy, en hoe belangrik is hierdie stap?
18 Toewyding aan God in gebed moet voor die doop geskied. (Vergelyk Lukas 3:21, 22.) Toewyding beteken dat jy jou vir ’n heilige doel afsonder. Hierdie stap is so belangrik dat ons ons besluit om God uitsluitlike toegewydheid te gee en hom vir ewig te dien in gebed tot God moet uitspreek (Deuteronomium 5:8, 9, NW; 1 Kronieke 29:10-13). Ons wy ons natuurlik nie aan ’n werk toe nie, maar aan God self. Daardie punt is duidelik gestel by die begrafnis van die Wagtoringgenootskap se eerste president, Charles Taze Russell. By daardie geleentheid in 1916 het die Genootskap se sekretaris-tesourier, W. E. Van Amburgh, gesê: “Hierdie groot wêreldomvattende werk is nie die werk van een persoon nie. Dit is veels te groot. Dit is God se werk en dit verander nie. God het in die verlede baie knegte gebruik en Hy sal ongetwyfeld in die toekoms baie gebruik. Ons is nie aan ’n mens, of aan ’n mens se werk, toegewy nie, maar om die wil van God te doen, soos Hy dit deur Sy Woord en bestiering aan ons sal openbaar. God staan steeds aan die stuur.” Maar wat moet nog gedoen word wat toewyding aan God betref?
19. (a) Hoe bewys ’n individu in die openbaar dat hy hom aan Jehovah toegewy het? (b) Waarvan is waterdoop ’n simbool?
19 Wanneer iemand gedoop word, is dit ’n openbare bewys van sy toewyding aan Jehovah. Die doop is ’n simbool wat daarop dui dat die persoon wat onder die water gedompel word hom onvoorwaardelik aan Jehovah God deur Jesus Christus toegewy het. (Vergelyk Mattheüs 16:24.) Wanneer ’n doopkandidaat onder die water gedompel word en dan daaruit gelig word, sterf hy in figuurlike sin wat sy vorige lewenswandel betref en word hy tot ’n nuwe leefwyse opgewek, om nou God se wil onvoorwaardelik te doen. (Vergelyk Romeine 6:4-6.) Toe Jesus gedoop is, het hy hom onvoorwaardelik vir sy hemelse Vader aangebied (Mattheüs 3:13-17). En die Skrif toon herhaaldelik dat gelowiges wat aan die vereistes voldoen hulle moet laat doop (Handelinge 8:13; 16:27-34; 18:8). As iemand vandag dus een van Jehovah se Getuies wil word, moet hy ’n gelowige wees wat waarlik geloof beoefen en hom laat doop.—Vergelyk Handelinge 8:26-39.
Staan vas!
20. Noem ’n paar Bybelse voorbeelde wat toon dat ons geseën sal word as ons ’n standpunt inneem vir godgegewe vryheid as gedoopte Getuies van Jehovah.
20 As jy ’n vaste standpunt vir godgegewe vryheid ingeneem het deur ’n gedoopte Getuie van Jehovah te word, sal hy jou seën soos hy sy knegte in die verlede geseën het. Jehovah het die bejaarde Abraham en Sara byvoorbeeld geseën met ’n godvresende seun, Isak. Deur geloof het die profeet Moses verkies om liewer sleg behandel te word saam met God se volk “as om ’n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad [om ’n eertydse afbeelding te wees] van Christus [of God se Gesalfde] groter rykdom geag het as die skatte van Egipte” (Hebreërs 11:24-26). Moses het die voorreg gehad om deur Jehovah gebruik te word om die Israeliete uit Egiptiese slawerny te lei. Omdat hy God getrou gedien het, sal hy boonop opgewek word en as een van die “vorste op die hele aarde” onder die Grotere Moses, Jesus Christus, dien.—Psalm 45:16, NW; Deuteronomium 18:17-19.
21. Watter bemoedigende voorbeelde van godvrugtige vroue van die ou tyd word gegee?
21 Toegewyde Christene kan vandag ook aangemoedig word deur te kyk na voorbeelde van vroue wat waarlik vry en vreugdevol geword het. Onder hulle was die Moabitiese vrou Rut, wat die hartseer van weduweeskap en die vreugde van godgegewe vryheid van valse godsdiens ervaar het. Sy het haar volk en haar gode verlaat en by haar weduwee-skoonmoeder, Naomi, gebly. “Waar u gaan, sal ek gaan”, het Rut gesê, “en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God” (Rut 1:16). As die vrou van Boas het Rut die moeder van Dawid se oupa Obed geword (Rut 4:13-17). Jehovah het hierdie nederige nie-Israelitiese vrou ‘’n volkome loon’ gegee deur haar toe te laat om ’n stammoeder van Jesus die Messias te word! (Rut 2:12). Hoe bly sal Rut tog nie wees nie wanneer sy opgewek word en uitvind dat sy so ’n voorreg gehad het! Ragab, die voormalige hoer, wat van onsedelikheid en valse aanbidding bevry is, asook die sondige maar berouvolle Batseba se hart sal ongetwyfeld met soortgelyke vreugde gevul word, want hulle sal ook uitvind dat Jehovah hulle toegelaat het om stammoeders van Jesus Christus te word.—Mattheüs 1:1-6, 16.
22. Wat sal in die volgende artikel bespreek word?
22 ’n Bespreking van diegene wat godgegewe vryheid ontvang het, kan oneindig lank wees. Hulle sluit byvoorbeeld die mans en vroue van geloof in wat in Hebreërs hoofstuk 11 gemeld word. Hulle het verdrukking en slegte behandeling verduur, en “die wêreld was hulle nie werd nie”. Daarby is daar die lojale eerste-eeuse volgelinge van Christus en ander getroues sedertdien, waaronder die miljoene wat Jehovah nou as sy Getuies dien. Soos ons in die volgende artikel sal sien, het jy baie redes om vreugdevol te wees as jy saam met hulle ’n standpunt vir godgegewe vryheid ingeneem het.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Watter hoop het God aan mense voorgehou toe godgegewe vryheid verloor is?
◻ Van watter “slawejuk” het Christus sy volgelinge bevry?
◻ Deur watter stappe word doop as een van Jehovah se Getuies voorafgegaan?
◻ Watter skriftuurlike voorbeelde bewys dat ons geseën sal word as ons ’n standpunt vir godgegewe vryheid inneem?
[Prent op bladsy 16]
Weet jy deur watter stappe doop as een van Jehovah se Getuies voorafgegaan word?