Godgegewe vryheid bring vreugde mee
“Die vreugde van Jehovah is julle vesting.”—NEHEMIA 8:10, NW.
1. Wat is vreugde, en waarom kan diegene wat aan God toegewy is dit ervaar?
JEHOVAH vul die harte van sy volk met vreugde. Hierdie toestand van groot geluk of uitgelatenheid spruit voort uit die verkryging of verwagting van goeie dinge. Mense wat aan God toegewy is, kan so ’n emosie ervaar omdat vreugde ’n vrug van sy heilige gees, of werkende krag, is (Galasiërs 5:22, 23, NW). Selfs as ons pynlike beproewinge moet verduur, kan ons dus vreugdevol wees as knegte van Jehovah wat deur sy gees gelei word.
2. Waarom was die Jode by ’n spesiale geleentheid in Esra se dag vreugdevol?
2 By ’n spesiale geleentheid in die vyfde eeu v.G.J. het die Jode hulle godgegewe vryheid gebruik om ’n vreugdevolle Huttefees in Jerusalem te hou. Nadat Esra en ander Leviete God se Wet aan hulle voorgelees en verduidelik het, het “die . . . volk weggegaan om te eet en te drink en porsies te stuur en groot vreugde te bedrywe; want hulle het ag gegee op die woorde wat aan hulle bekend gemaak is”.—Nehemia 8:6-13.
Die vreugde van Jehovah is ons vesting
3. In watter omstandighede kan “die vreugde van Jehovah” ons vesting wees?
3 Tydens daardie fees het die Jode besef hoe waar die woorde is: “Die vreugde van Jehovah is julle vesting” (Nehemia 8:10, NW). Hierdie vreugde is ook ons vesting as ons vasstaan vir godgegewe vryheid as toegewyde, gedoopte Getuies van Jehovah. ’n Paar van ons is deur heilige gees gesalf en as hemelse mede-erfgename saam met Christus in God se gesin aangeneem (Romeine 8:15-23). Die meeste van ons het vandag die vooruitsig om in ’n aardse paradys te lewe (Lukas 23:43, NW). Hoe vreugdevol behoort ons tog nie te wees nie!
4. Waarom kan Christene lyding en vervolging verduur?
4 Hoewel ons wonderlike vooruitsigte het, is dit nie maklik om lyding en vervolging te verduur nie. Ons kan dit egter doen omdat God ons sy heilige gees gee. Dit help ons om vreugdevol te wees en die oortuiging te hê dat niks ons van ons hoop of van God se liefde kan beroof nie. Daarbenewens kan ons daarvan seker wees dat Jehovah ons vesting sal wees solank ons hom liefhet met ons hele hart, siel, krag en verstand.—Lukas 10:27.
5. Waar kan ons redes vir vreugde vind?
5 Jehovah se volk geniet ryk seëninge en het baie redes om hulle te verheug. Sommige redes vir vreugde word in Paulus se brief aan die Galasiërs gemeld. Ander word elders in die Skrif aangedui. Dit sal ons aanmoedig as ons sulke vreugdevolle seëninge bespreek.
Waardeer godgegewe vryheid
6. Waarom het Paulus die Christene in Galasië aangemoedig om vas te staan?
6 As Christene het ons die vreugdevolle seën om ’n aanneemlike posisie voor God te hê. Aangesien Christus sy volgelinge van die Mosaïese Wet bevry het, is die Galasiërs aangemoedig om vas te staan en hulle nie ’n “slawejuk” te laat oplê nie. Wat van ons? As ons probeer om regverdig verklaar te word deur die Wet te hou, sal ons van Christus geskei word. Maar omdat ons deur God se gees gelei word, verwag ons die regverdigheid waarop ons hoop, wat die gevolg is van geloof wat deur liefde werksaam is, nie deur liggaamlike besnydenis of ander werke van die Wet nie.—Galasiërs 5:1-6, vgl. NW.
7. Hoe moet ons heilige diens aan Jehovah beskou?
7 Dit is ’n seën om ons godgegewe vryheid te gebruik om ‘Jehovah met blydskap te dien’ (Psalm 100:2, vgl. NW). Dit is beslis ’n onskatbare voorreg om heilige diens aan “Jehovah God, die Almagtige”, die “Koning van die ewigheid”, te verrig! (Openbaring 15:3, NW). As jy ooit deur gevoelens van minderwaardigheid oorweldig word, kan dit nuttig wees om te besef dat God jou deur Jesus Christus na hom getrek het en jou aan “die heilige werk van die goeie nuus van God” laat deelneem (Romeine 15:16, NW; Johannes 6:44; 14:6). Watter goeie redes is dit tog vir vreugde en dankbaarheid teenoor God!
8. Watter rede het God se volk om vreugdevol te wees wat Babilon die Grote betref?
8 Nog ’n rede vir vreugde is ons godgegewe vryheid van Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens (Openbaring 18:2, 4, 5). Hoewel hierdie godsdienshoer in figuurlike sin “op baie waters sit”, wat “volke en menigtes en nasies en tale” beteken, sit sy nie op Jehovah se knegte, of beïnvloed en beheer hulle op godsdiensgebied nie (Openbaring 17:1, 15). Ons verheug ons in God se wonderbare lig, terwyl Babilon die Grote se ondersteuners in geestelike duisternis verkeer (1 Petrus 2:9). Ja, dit is dalk moeilik om party van die “diep dinge van God” te verstaan (1 Korinthiërs 2:10, NW). Maar gebede om wysheid en hulp deur die heilige gees help ons om skriftuurlike waarheid te verstaan wat die besitters daarvan geestelik vrymaak.—Johannes 8:31, 32; Jakobus 1:5-8.
9. Wat moet ons doen as ons die seën van voortgesette vryheid van godsdiensdwaling wil geniet?
9 Ons geniet die seën van voortgesette vryheid van godsdiensdwaling, maar om daardie vryheid te behou, moet ons afvalligheid verwerp. Die Galasiërs het die Christelike wedloop goed gehardloop, maar sommige het hulle verhinder om aan die waarheid gehoorsaam te wees. Sulke goddelose oortuiging het nie van God gekom nie en moes teëgestaan word. Soos ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak, kan valse leraars of ’n neiging tot afvalligheid ’n hele gemeente besmet. Paulus het gewens dat voorstanders van die besnydenis wat die Galasiërs se geloof probeer ondermyn het nie net besny moes word nie maar dat hulle seksueel vermink moes word. Inderdaad sterk taal! Maar ons moet afvalligheid net so ferm verwerp as ons ons godgegewe vryheid van godsdiensdwaling wil behou.—Galasiërs 5:7-12, vgl. NW.
Dien mekaar as slawe in liefde
10. Wat is ons verantwoordelikheid as lede van die Christelike broederskap?
10 Godgegewe vryheid het ons lede van ’n liefdevolle broederskap gemaak, maar ons moet ons deel bydra om liefde te betoon. Die Galasiërs moes nie hulle vryheid as “’n aanleiding vir die vlees” of as ’n verskoning vir liefdelose selfsug gebruik nie. Hulle moes mekaar uit liefde as slawe dien (Levitikus 19:18; Johannes 13:35). Ons moet ook die laster en haat vermy wat daartoe kan lei dat ons deur mekaar verteer word. Dit sal natuurlik nie gebeur as ons broederlike liefde betoon nie.—Galasiërs 5:13-15.
11. Hoe kan ons ’n seën vir ander wees, en hoe kan hulle ons seën?
11 As ons ons godgegewe vryheid in harmonie met die leiding van God se gees gebruik, sal ons liefde betoon en vir ander ’n seën wees. Ons moet ’n gewoonte daarvan maak om ons deur heilige gees te laat beheer en te laat lei. Dan sal ons nie geneig wees om ons sondige vlees wat ‘teen die gees begeer’ op liefdelose wyse te bevredig nie. As ons deur God se gees gelei word, sal ons dinge doen wat liefdevol is, maar nie omdat reëls gehoorsaamheid en straf aan oortreders vereis nie. Liefde—nie net ’n wet nie—sal ons byvoorbeeld daarvan weerhou om teen ander kwaad te spreek (Levitikus 19:16). Liefde sal ons beweeg om vriendelike dinge te sê en vriendelik op te tree. Omdat ons die gees se vrug van liefde openbaar, sal ander ons seën, of goed van ons praat (Spreuke 10:6). Boonop sal dit vir hulle ’n seën wees om met ons om te gaan.—Galasiërs 5:16-18.
Kontrasterende vrugte
12. Watter seëninge gaan gepaard met die vermyding van die sondige “werke van die vlees”?
12 Baie seëninge wat met ons godgegewe vryheid gepaardgaan, word geniet omdat ons die sondige “werke van die vlees” vermy. As God se volk vermy ons oor die algemeen baie smart omdat ons nie hoerery, onreinheid en ongebondenheid beoefen nie. Omdat ons afgodediens vermy, het ons die vreugde wat voortspruit uit die wete dat ons Jehovah in daardie opsig behaag (1 Johannes 5:21). Aangesien ons nie spiritisme beoefen nie, is ons vry van oorheersing deur demone. Ons Christelike broederskap word nie bederf deur vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap en afguns nie. En ons vreugde gaan nie verlore in dronkenskap en brassery nie. Paulus het gewaarsku dat diegene wat die werke van die vlees beoefen die Koninkryk van God nie sal beërwe nie. Maar omdat ons op sy woorde ag slaan, kan ons aan die vreugdevolle Koninkrykshoop vashou.—Galasiërs 5:19-21.
13. Watter vrug bring Jehovah se heilige gees voort?
13 Godgegewe vryheid verskaf ons vreugde omdat Christene die vrug van Jehovah se gees openbaar. Dit blyk duidelik uit Paulus se woorde aan die Galasiërs dat die werke van die sondige vlees soos dorings is vergeleke met die gees se wonderlike vrug van liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid en selfbeheersing wat in godvrugtige harte gewortel is. Ons is vasbeslote om nie volgens die begeertes van die sondige vlees te lewe nie en wil graag deur God se gees gelei word en daarvolgens lewe. Die gees maak ons nederig en vreedsaam, nie “egotisties, deurdat ons onderlinge mededinging aanwakker en mekaar beny nie”. Dit is geen wonder nie dat dit ’n vreugde is om met diegene om te gaan wat die vrug van die gees openbaar!—Galasiërs 5:22-26, vgl. NW.
Ander redes vir vreugde
14. Watter wapenrusting het ons nodig in ons stryd teen goddelose geesmagte?
14 Nog ’n seën wat met ons godgegewe geestelike vryheid gepaardgaan, is die feit dat ons teen Satan en die demone beskerm word. As ons ons worstelstryd teen bose geesmagte wil wen, moet ons “die volle wapenrusting van God” aantrek. Ons het die gordel van die waarheid en die borswapen van geregtigheid nodig. Ons voete moet geskoei wees met die toerusting van die goeie nuus van vrede. Ons het ook die groot skild van die geloof nodig, waarmee ons die vurige pyle van die Bose kan uitblus. Ons moet die helm van verlossing dra en “die swaard van die Gees”, God se Woord, gebruik. Laat ons ook “by elke geleentheid bid in die Gees” (Efesiërs 6:11-18, vgl. NW). As ons die geestelike wapenrusting dra en demonisme verwerp, kan ons onbevrees en vreugdevol wees.—Vergelyk Handelinge 19:18-20.
15. Watter vreugdevolle seën geniet ons omdat ons gedrag met God se Woord strook?
15 Ons smaak vreugde omdat ons gedrag strook met God se Woord, en ons is vry van die skuldgevoelens waardeur talle oortreders gekwel word. Ons ‘oefen onsself voortdurend om ’n bewustheid te besit dat ons geen oortreding teen God en mense begaan nie’ (Handelinge 24:16, NW). Daarom hoef ons nie die goddelike vergelding te vrees wat oor moedswillige, onberouvolle sondaars gaan kom nie (Mattheüs 12:22-32; Hebreërs 10:26-31). Deur die raad in Spreuke 3:21-26 toe te pas, word daardie woorde vir ons ’n werklikheid: “Bewaar beleid en oorleg [“praktiese wysheid en denkvermoë”, NW], dan sal dit die lewe wees vir jou siel en ’n versiersel vir jou hals; dan sal jy veilig jou weg bewandel en jou voet nie stamp nie; as jy gaan lê, sal jy nie skrik nie, en lê jy, dan sal jou slaap soet wees. Jy hoef nie bang te wees vir ’n skielike skrik of vir die ondergang van die goddelose as dit kom nie; want die HERE sal jou vertroue wees, en Hy sal jou voet bewaar vir die strik.”
16. Hoe is gebed ’n rede vir vreugde, en watter rol speel Jehovah se gees in hierdie opsig?
16 Nog ’n rede vir vreugde is ons godgegewe vryheid om Jehovah in gebed te nader met die versekering dat ons gehoor sal word. Ja, ons gebede word verhoor omdat ons die eerbiedige “vrees van Jehovah” het (Spreuke 1:7, NW). Ons word boonop gehelp om in God se liefde te bly deur ‘in die Heilige Gees te bid’ (Judas 20, 21). Ons doen dit deur ’n hartstoestand te openbaar wat vir Jehovah aanneemlik is en deur onder die invloed van die gees te bid vir dinge wat strook met sy wil en sy Woord, waarin ons sien hoe ons moet bid en waarvoor ons moet bid (1 Johannes 5:13-15). As ons swaar beproef word en nie weet waarvoor ons moet bid nie, ‘kom die Gees ons swakhede te hulp, deur met onuitspreeklike sugtinge vir ons in te tree’. God verhoor sulke gebede (Romeine 8:26, 27). Laat ons om heilige gees bid en toelaat dat dit in ons daardie vrugte voortbring wat veral nodig is om ’n spesifieke beproewing te deurstaan (Lukas 11:13). Ons sal ook meer vreugde smaak as ons God se geesgeïnspireerde Woord en Christelike publikasies wat onder die leiding van die gees voorberei word biddend en ywerig bestudeer.
Geseënd met hulp wat altyd beskikbaar is
17. Hoe toon die ondervindinge van Moses en die woorde van Dawid dat Jehovah met Sy volk is?
17 As ons ons godgegewe vryheid reg gebruik, put ons vreugde uit die wete dat Jehovah met ons is. Toe Moses Egipte weens ongunstige omstandighede verlaat het, het hy deur die geloof “volgehou soos een wat die Onsienlike sien” (Hebreërs 11:27). Moses het nie alleen gewandel nie; hy het geweet dat Jehovah met hom was. Die seuns van Korag het eweneens gesing: “God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef. Daarom sal ons nie vrees nie, al waggel die aarde en al wankel die berge weg in die hart van die see. Laat sy waters bruis, laat hulle skuim; laat die berge bewe deur sy onstuimigheid!” (Psalm 46:2-4). As jy sulke geloof in God het, sal hy jou nooit verlaat nie. Dawid het gesê: “Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem” (Psalm 27:10, NAV). Watter vreugde verskaf dit ons tog om te weet dat God so goed vir sy knegte sorg!—1 Petrus 5:6, 7.
18. Waarom het diegene wat die vreugde van Jehovah besit godgegewe vryheid van oorweldigende angs?
18 Omdat ons die vreugde van Jehovah het, het ons godgegewe vryheid van oorweldigende angs. “Wees oor niks besorg nie”, het Paulus gesê, “maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus” (Filippense 4:6, 7). Die vrede van God is ’n onvergelyklike kalmte selfs in uiters beproewende omstandighede. Met behulp daarvan bly ons hart kalm—dit is geestelik, emosioneel en liggaamlik goed vir ons (Spreuke 14:30). Dit help ons ook om geestesbalans te behou, want ons weet dat niks wat God toelaat ons blywende skade kan berokken nie (Mattheüs 10:28). Ons geniet hierdie vrede wat voortspruit uit ’n hegte verhouding met God deur Christus omdat ons aan Jehovah toegewy is en omdat ons ons onderwerp aan die leiding van sy gees, wat vrugte soos vreugde en vrede voortbring.
19. Waarop moet ons ons hart gerig hou as ons vreugdevol wil wees?
19 As ons ons hart op ons godgegewe vryheid en op die Koninkrykshoop gevestig hou, sal dit ons help om vreugdevol te wees. Soms kan ons byvoorbeeld min doen om swak gesondheid te verbeter, maar ons kan bid om wysheid en krag om dit te verduur en ons kan vertroos word as ons dink aan die geestelike gesondheid wat ons nou geniet en die genesing van liggaamlike siektes wat onder Koninkryksheerskappy sal plaasvind (Psalm 41:2-4; Jesaja 33:24). Hoewel ons vandag dalk ontberinge moet verduur, sal daar in die Paradysaarde wat so naby is geen tekort aan lewensbenodigdhede wees nie (Psalm 72:14, 16; Jesaja 65:21-23). Ja, ons hemelse Vader sal ons nou ondersteun en ons vreugde uiteindelik volkome maak.—Psalm 145:14-21.
Koester jou godgegewe vryheid
20. Hoe moet ons ons volgens Psalm 100:1-5 voor Jehovah aanbied?
20 As Jehovah se volk moet ons beslis die godgegewe vryheid koester wat vir ons vreugde en soveel seëninge meegebring het. Dit is geen wonder dat Psalm 100:1-5 (vgl. NW) ons aanspoor om “met gejubel” in God se teenwoordigheid te kom nie. Ons behoort aan Jehovah en hy sorg vir ons as ’n liefdevolle Herder. Ja, “ons is syne, sy volk en die skape van sy weide”. Die feit dat hy die Skepper is en sulke wonderlike eienskappe het, spoor ons aan om die voorhowe van sy heiligdom met lofgesang en danksegging binne te gaan. Ons word beweeg om ‘sy Naam te prys’, om goed van Jehovah God te praat. Daarbenewens kan ons altyd op sy liefderyke goedhartigheid, of tere besorgdheid, teenoor ons staatmaak. “Van geslag tot geslag” is Jehovah getrou, onwrikbaar in sy betoning van liefde vir diegene wat sy wil doen.
21. Watter aanmoediging het die eerste nommer van hierdie tydskrif gegee, en wat moet ons ten opsigte van godgegewe vryheid doen?
21 As onvolmaakte mense kan ons nie nou alle beproewinge vryspring nie. Maar met goddelike hulp kan ons moedige en vreugdevolle Getuies van Jehovah wees. In hierdie opsig is hierdie woorde wat in die eerste nommer van hierdie tydskrif (Julie 1879) verskyn het noemenswaardig: “Wees moedig . . . my Christenbroer of -suster, wat met vermoeienis daarna streef om op die smal pad te wandel. Moenie besorg wees oor die ruwe pad nie; dit is alles geheilig deur die geseënde voete van die Heer. Beskou elke doring as ’n blom; elke skerp rots as ’n mylpaal, wat jou na die doel aanspoor. . . . Hou jou oog gevestig op die prys.” Die miljoene wat Jehovah nou dien, hou hulle oë gevestig op die prys en het baie redes om moedig en vreugdevol te wees. Staan saam met hulle vas vir godgegewe vryheid. Moenie die doel daarvan mis nie, en mag die vreugde van Jehovah altyd jou vesting wees.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe kan “die vreugde van Jehovah” ons vesting wees?
◻ Watter seëninge het godgegewe vryheid op godsdiensgebied vir Jehovah se volk meegebring?
◻ Waarom moet ons mekaar liefdevol as slawe dien?
◻ Noem ’n paar seëninge wat met godgegewe vryheid gepaardgaan?
◻ Hoe kan God se volk vreugdevol bly?
[Prent op bladsy 23]
“Beskou elke doring as ’n blom; elke skerp rots as ’n mylpaal, wat jou na die doel aanspoor”