Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 4/1 bl. 9-14
  • Verwelkom God se nuwe wêreld van vryheid

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Verwelkom God se nuwe wêreld van vryheid
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Bevryding van sy volk
  • Ware vryheid in God se nuwe wêreld
  • Wêreldwye onderrigting wat tot die lewe lei
  • Nou reeds groot vryhede
  • Bevry ander van valse leerstellings
  • Soek Jehovah
  • Wat God se Koninkryk gaan doen
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Binnekort ’n wêreld sonder oorlog
    Ontwaak!—1996
  • Die wonderlike nuwe wêreld wat God tot stand gaan bring
    Gee God werklik vir ons om?
  • ’n Vry volk maar met verantwoordelikheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 4/1 bl. 9-14

Verwelkom God se nuwe wêreld van vryheid

“God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie.”—OPENBARING 21:4.

1, 2. Wie alleen kan ware vryheid bring, en wat kan ons uit die Bybel omtrent Hom leer?

DIE geskiedenis het die waarheid bevestig van die profeet Jeremia se woorde: “Dit is nie vir die aardse mens om sy weg te bepaal nie. Dit kom die mens wat loop nie toe selfs om sy voetstappe te rig nie.” Wie alleen kan die mens se voetstappe na behore rig? Jeremia sê voorts: “Wys my tereg, o Jehovah” (Jeremia 10:23, 24, NW). Ja, slegs Jehovah kan ware vryheid bring van die probleme wat die mensdom teister.

2 Die Bybel bevat talle voorbeelde van Jehovah se vermoë om diegene wat hom dien te bevry. “Alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê” (Romeine 15:4). Jehovah se oordele oor valse aanbidding is ook opgeteken, en hulle dien as “’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het”.—1 Korinthiërs 10:11.

Bevryding van sy volk

3. Hoe het Jehovah sy vermoë getoon om sy volk in Egipte te bevry?

3 ’n Voorbeeld van God se vermoë om oordeel aan valse aanbidding te voltrek en om diegene wat sy wil doen te bevry, is dié van sy eertydse volk wat deur Egipte in slawerny gebring is. Exodus 2:23-25 sê: “Hulle geroep om hulp oor hulle slawerny het opgeklim tot God. En God het hulle gekerm gehoor.” In ’n ontsagwekkende vertoon van sy verhewenheid bo Egipte se valse gode het die almagtige God tien plae oor daardie nasie gebring. Elke plaag was daarop gemik om een van Egipte se gode te verneder, en dit het getoon dat hulle vals was en nie die Egiptenaars wat hulle aanbid het, kon help nie. God het sy volk gevolglik bevry en Farao en sy krygsmagte in die Rooi See verdelg.—Exodus, hoofstukke 7 tot 14.

4. Waarom was dit nie onregverdig van God om sy oordele aan die Kanaäniete te voltrek nie?

4 Toe God Israel in Kanaän ingebring het, is die inwoners, wat demoonaanbidders was, uitgewis en het God die land aan sy volk gegee. As die Universele Soewerein het Jehovah die reg om sy oordele aan verdorwe godsdienste te voltrek (Genesis 15:16). En met betrekking tot Kanaänitiese godsdiens sê Halley se Bible Handbook: “Die aanbidding van . . . Kanaänitiese gode het uit die buitensporigste orgies bestaan; hulle tempels was sentrums van ontug. . . . Die Kanaäniete het aanbid deur losbandigheid, as ’n godsdiensrite, voor hulle gode te bedryf; en dan deur hulle eersgebore kinders te vermoor as ’n offerande aan daardie selfde gode. Dit wil voorkom asof die land Kanaän grotendeels ’n soort Sodom en Gomorra op ’n nasionale skaal geword het.” Hy voeg by: “Het so ’n verfoeilik onsedelike en wrede beskawing enige verdere bestaansreg gehad? . . . Argeoloë wat in die puin van Kanaänitiese stede uitgrawings doen, wonder waarom God hulle nie vroeër vernietig het nie.”

5. Hoe dien God se bevryding van sy eertydse volk as ’n patroon vir ons tyd?

5 Hierdie verslag van God se optrede teen valse aanbidding, die bevryding van sy verbondsvolk en die feit dat hy hulle ’n beloofde land gegee het, voorsien ’n patroon vir dinge wat in die toekoms gaan gebeur. Dit wys op die nabye toekoms wanneer God hierdie wêreld se valse godsdienste en hulle ondersteuners gaan verbrysel en sy hedendaagse dienaars in ’n nuwe wêreld van geregtigheid gaan inbring.—Openbaring 7:9, 10, 13, 14; 2 Petrus 3:10-13.

Ware vryheid in God se nuwe wêreld

6. Wat is sommige van die wonderlike vryhede wat God in die nuwe wêreld sal voorsien?

6 In die nuwe wêreld sal God sy volk seën sodat hulle al die wonderlike fasette van vryheid sal geniet wat oorspronklik sy voorneme vir die mensdom was. Daar sal vryheid van verdrukking deur politieke, ekonomiese en valse godsdienselemente wees. Daar sal vryheid van sonde en die dood wees, en mense sal die vooruitsig hê om vir ewig op die aarde te lewe. “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:29; Mattheüs 5:5.

7, 8. Watter gewaarwordinge sal die mense hê wanneer hulle volmaakte gesondheid in die nuwe wêreld terugkry?

7 Kort nadat daardie nuwe wêreld ingebring is, sal sy inwoners op wonderbaarlike wyse volmaakte gesondheid terugkry. Job 33:25 sê: “Dan word sy vlees fris van jeugdige krag, hy keer terug na die dae van sy jonkheid.” Jesaja 35:5, 6 belowe: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel.”

8 Dié van julle met liggaamlike kwale weens ouderdom of swak gesondheid, stel jou voor jy is reeds in die nuwe wêreld waar ’n mens elke oggend gesond en vol lewenskrag wakker word. Jou plooie het verdwyn en plek gemaak vir ’n gladde, gesonde vel—velrome is nie meer nodig nie. Jou eens dowwe of blinde oë is herstel sodat jy nou volmaakte sig het—’n bril is nie meer nodig nie. Jy het weer volmaakte gehoor teruggekry—gooi maar daardie gehoortoestel weg. Kreupel ledemate is nou sterk en gesond—raak gerus ontslae van daardie kieries, krukke en rolstoele. Daar is geen siekte meer nie—weg met al daardie geneesmiddels. Jesaja 33:24 voorspel dus: “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie.” Hy sê ook: “Vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg.”—Jesaja 35:10.

9. Hoe sal oorlog vir ewig uit die weg geruim word?

9 Niemand sal meer aan oorlog geoffer word nie. ‘God laat die oorloë ophou tot by die einde van die aarde, verbreek die boog en slaan die spies stukkend, verbrand die strydwaens met vuur’ (Psalm 46:10). Die Heerser van God se Koninkryk, Christus Jesus, wat in Jesaja 9:5 die “Vredevors” genoem word, sal nooit weer enige oorlogswapens toelaat nie. Vers 6 voeg by: “Tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde.”

10, 11. Wat sal algehele vrede vir die aarde beteken?

10 Wat ’n seën sal dit tog vir die mensdom, en vir hierdie aarde, wees om vry te wees van oorlogswapens! Kan jy glo dat wapens wat in vorige oorloë gebruik is vandag nog die lewe van mense bedreig? In een land, Frankryk, het meer as 600 bomruimdeskundiges sedert 1945 hulle lewe verloor terwyl hulle probeer het om plofstowwe te vernietig wat van vorige oorloë agtergebly het. Die hoof van die bomruimagentskap in dié land het gesê: “Ons kom steeds af op ongebruikte kanonkoeëls uit die Frans-Pruisiese oorlog van 1870. Daar is mere wat gevul is met toksiese granate uit die Eerste Wêreldoorlog. Telkens ry ’n boer op ’n trekker bo-oor ’n tenkafweermyn uit die Tweede Wêreldoorlog en boem, dis klaarpraat met hom. Hierdie goed lê oral rond.” Twee jaar gelede het The New York Times gesê: “In die 45 jaar sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog het [bomruimeenhede] 16 miljoen artilleriekoeëls, 490 000 bomme en 600 000 onderwatermyne [in Frankryk] verwyder. . . . Miljoene [hektaar] is nog afgekamp, besaai met wapentuig en omring deur kennisgewingborde wat waarsku: ‘Bly weg. Dit maak dood!’”

11 Hoe sal die nuwe wêreld tog nie hiervan verskil nie! Almal sal goeie behuising en oorgenoeg kos hê en die lonende, vreedsame werk om die aarde in ’n paradys te omskep (Psalm 72:16; Jesaja 25:6; 65:17-25). Nooit weer sal mense, en die aarde, deur miljoene ploftoestelle gebombardeer word nie. Jesus het so ’n nuwe wêreld in gedagte gehad toe hy aan ’n man wat geloof in hom getoon het, gesê het: ‘Jy sal saam met My in die Paradys wees.’—Lukas 23:43.

Wêreldwye onderrigting wat tot die lewe lei

12, 13. Watter wêreldwye onderrigtingswerk het Jesus en Jesaja vir ons dag voorspel?

12 Wanneer iemand omtrent God se nuwe wêreld leer, leer hy ook dat Jehovah in ons dag ’n wêreldwye gemeente voortgebring het wat georganiseer is vir ware aanbidding. Dit sal die fondament wees vir die nuwe wêreld, en God gebruik dit nou om ander mense in sy voornemens te onderrig. Hierdie Christelike organisasie verrig ’n wêreldwye onderrigtingswerk van ’n aard en omvang wat nog nooit vantevore gesien is nie. Jesus het voorspel dat dit sou plaasvind. Hy het gesê: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Mattheüs 24:14.

13 Jesaja het ook van hierdie wêreldwye onderrigtingswerk gepraat: “En aan die einde van die dae [in ons dag] sal die berg van die huis van die HERE [sy verhewe ware aanbidding] vasstaan op die top van die berge en verhewe wees . . . en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, . . . dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel.”—Jesaja 2:2, 3.

14. Hoe kan ons vandag God se volk identifiseer?

14 Die wêreldwye getuieniswerk omtrent God se Koninkryk is derhalwe ’n kragtige bewys dat ons na aan die einde van hierdie goddelose stelsel is en dat ware vryheid ophande is. Diegene wat met die verblydende boodskap van God se nuwe wêreld by mense aanklop, word in Handelinge 15:14 beskryf as ‘’n volk vir God se Naam’. Wie dra Jehovah se naam en getuig wêreldwyd van Jehovah en sy Koninkryk? Die geskiedenisverslag van die 20ste eeu gee die antwoord: net Jehovah se Getuies. Hulle tel vandag oor die viermiljoen in meer as 66 000 gemeentes wêreldwyd.—Jesaja 43:10-12, NW; Handelinge 2:21.

15. Hoe kan ons God se ware dienaars identifiseer as dit by politieke aangeleenthede kom?

15 Nog ’n bewys dat Jehovah se Getuies die profesieë oor die Koninkrykspredikingswerk vervul, is opgeteken in Jesaja 2:4: “Hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” Diegene wat God se Koninkryksheerskappy wêreldwyd verkondig, moet dus “nie meer leer om oorlog te voer nie”. Jesus het gesê hulle moet “nie van die wêreld” wees nie (Johannes 17:16). Dit beteken dat hulle neutraal moet wees ten opsigte van politieke aangeleenthede en nie kant moet kies in die geskille en oorloë van die nasies nie. Wie is nie van die wêreld nie en leer nie meer om oorlog te voer nie? Die geskiedenisverslag van die 20ste eeu getuig weer eens hiervan: net Jehovah se Getuies.

16. Hoe deeglik sal God se wêreldwye onderrigtingswerk wees?

16 Die wêreldwye onderrigtingswerk van Jehovah se Getuies sal aanhou selfs nadat God hierdie huidige goddelose wêreld vernietig het. Jesaja 54:13 sê: “Al jou kinders sal deur die HERE geleer wees.” Hierdie onderrigting sal so deeglik wees dat Jesaja 11:9 voorspel: “Die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” Voortgesette onderrig sal nodig wees, nie net vir diegene wat die einde van hierdie ou wêreld oorlewe en vir kinders wat moontlik in die nuwe wêreld gebore word nie, maar ook vir die miljarde wat in die opstanding opgewek gaan word. Mettertyd sal elke mens wat op die aarde lewe, geleer word om sy wilsvryheid behoorlik binne die grense van God se wette te beoefen. Die gevolg? “Die ootmoediges daarenteen sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”—Psalm 37:11.

Nou reeds groot vryhede

17. Wat het Moses God se eertydse volk aangesê om te doen?

17 Toe eertydse Israel op die drumpel van die Beloofde Land was, het Moses met hulle gepraat en gesê: “Ek het julle insettinge en verordeninge geleer soos die HERE my God my beveel het, om so te handel in die land waarheen julle gaan om dit in besit te neem. Onderhou dit dan en doen dit; want dit is julle wysheid en julle verstand voor die oë van die volke wat al hierdie insettinge sal hoor en sê: Waarlik, hierdie groot nasie is ’n wyse en verstandige volk. Want watter groot nasie het gode wat vir hulle so naby is soos die HERE onse God so dikwels as ons Hom aanroep?”—Deuteronomium 4:5-7.

18. Watter groot vryhede geniet diegene wat God dien nou reeds?

18 Vandag is die miljoene wat Jehovah aanbid ook op die drumpel van ’n beloofde land—die nuwe wêreld. Omdat hulle God se wette gehoorsaam, is hy na aan hulle en is hulle ook opvallend anders as al die ander volke. God het hulle reeds bevry van valse godsdiensidees, rassisme, ongeoorloofde dwelmgebruik, nasionalisme, oorloë en die pandemie van seksueel oordraagbare siektes. Daarbenewens het hy hulle verenig in ’n onverbreeklike internasionale broederskap van liefde (Johannes 13:35). Hulle is nie verontrus oor die toekoms nie, maar “jubel, omdat hulle hart vrolik is” (Jesaja 65:14). Watter groot vryhede geniet hulle nie nou al deur God as Heerser te dien nie!—Handelinge 5:29, 32, NW; 2 Korinthiërs 4:7; 1 Johannes 5:3.

Bevry ander van valse leerstellings

19, 20. Hoe word mense bevry deur wat die Bybel omtrent die toestand van die dooies leer?

19 Baie vir wie Jehovah se Getuies preek, begin ook hierdie vryhede geniet. In lande waar vooroueraanbidding beoefen word, leer Jehovah se Getuies ander byvoorbeeld dat die dooies nie elders voortlewe nie en dat hulle die lewendes nie kwaad kan aandoen nie. Die Getuies vestig die aandag op Prediker 9:5, wat sê dat “die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie”. Hulle wys ook op Psalm 146:4, wat sê dat iemand wat sterf ‘terugkeer na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan’. Die Bybel toon dus dat daar geen spookagtige gees of onsterflike siel is wat genesings doen of die lewendes die skrik op die lyf kan jaag nie. Dit is derhalwe glad nie nodig om swaarverdiende geld te mors deur die dienste van toordokters of priesters te koop nie.

20 Sulke juiste Bybelkennis bevry mense van die valse leerstellings oor die helse vuur en die vaevuur. Wanneer mense die Bybelwaarheid leer dat die dooies in ’n onbewuste toestand is, asof hulle diep slaap, is hulle nie meer bekommerd oor wat met hulle afgestorwe dierbares gebeur het nie. Inteendeel, hulle sien uit na die wonderlike tyd waarvan die apostel Paulus gepraat het toe hy gesê het dat “daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges”.—Handelinge 24:15.

21. Wie sal ongetwyfeld onder die verresenes wees, en wat sal hulle reaksie waarskynlik wees?

21 Tydens die opstanding sal die dooies terugkeer tot lewe op ’n aarde waar hulle vir ewig bevry sal wees van die dood wat ons van Adam oorgeërf het. Die verresenes sal ongetwyfeld kinders insluit wat aan Kanaänitiese gode, soos Molog, geoffer is, asook jong manne wat aan Asteekse gode geoffer is en ontelbare miljoene wat aan die god van oorlog geoffer is. Hoe verbaas en verheug sal daardie eertydse slagoffers van valse opvattings nie wees nie! Sulke verresenes sal dan vreugdevol kan uitroep: “Waar is jou angel, o Dood? Waar is jou vernietigende krag, o Sjeool?”—Hosea 13:14, NW.

Soek Jehovah

22. Wat moet ons in gedagte hou indien ons in God se nuwe wêreld wil lewe?

22 Wil jy graag in God se regverdige nuwe wêreld woon waar daar ware vryheid sal wees? Indien wel, moet jy die woorde in 2 Kronieke 15:2 ter harte neem: “Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.” En hou in gedagte dat jou opregte pogings om van God te leer en om hom te behaag nie ongemerk sal bly nie. Hebreërs 11:6 sê dat God “’n beloner is van die wat Hom soek”. En Romeine 10:11 sê: “Elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.”

23. Waarom moet ons God se nuwe wêreld van vryheid verwelkom?

23 Net op die horison is God se nuwe wêreld van ware vryheid. Daar sal “die skepping self vrygemaak . . . word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God”. En “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie” (Romeine 8:21; Openbaring 21:4). Dan sal al Jehovah se knegte hulle hoofde ophef en God se nuwe wêreld van vryheid met blydskap verwelkom deur uit te roep: ‘Dankie, Jehovah, want uiteindelik het ons ware vryheid!’

Hoe sal jy antwoord?

◻ Hoe het Jehovah sy vermoë getoon om sy volk te bevry?

◻ Watter wonderlike vryhede sal daar in God se nuwe wêreld wees?

◻ Hoe onderrig Jehovah mense sodat hulle die lewe kan kry?

◻ Wat is sommige van die vryhede wat God se volk reeds nou geniet omdat hulle Jehovah dien?

[Prent op bladsy 10]

Jehovah het sy verhewenheid bo Egipte se valse gode getoon deur sy aanbidders te bevry

[Prente op bladsy 12, 13]

God se ware dienaars word vandag geïdentifiseer deur sy wêreldwye onderrigtingswerk uit te voer en sy naam te dra

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel