Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 4/1 bl. 20-23
  • Jehovah se weg is die beste vir mense

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jehovah se weg is die beste vir mense
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Christelike erfenis
  • Vroeë herinneringe
  • Skool en ’n belangrike besluit
  • Pionierdiens en Betheldiens
  • Ek bly neutraal
  • Verskeie diensvoorregte
  • ’n Ryk, lonende lewe
  • Vasbeslote om Jehovah te dien
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • ’n Vol, bevredigende lewe in Jehovah se diens
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • My swakhede het God se krag duideliker gemaak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Betheldiens—Meer vrywilligers is nodig
    Ons Koninkryksbediening—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 4/1 bl. 20-23

Jehovah se weg is die beste vir mense

SOOS VERTEL DEUR ERKKI KANKAANPÄÄ

DIT was sedert my kinderjare my doelwit om by Finland se takkantoor van Jehovah se Getuies, of Bethel soos dit genoem word, te dien. Toe ’n reisende opsiener my dus in die somer van 1941 gevra het: “Wat is jou planne vir die toekoms?” het ek geantwoord: “Ek wou nog altyd Bethel toe gaan.”

“Jy moet maar daarvan vergeet; jy sal nooit genooi word nie”, het hy gesê. Aanvanklik was ek diep teleurgestel, maar toe het ek besluit om die saak eenvoudig in Jehovah se hande te laat. ’n Paar maande later het ek ’n uitnodiging ontvang om by Bethel te dien.

Ek was ’n skaam, 17-jarige plaasseun toe ek die deurklokkie op ’n baie koue, helder Novemberdag in 1941 by die takkantoor in Helsinki gelui het. Kaarlo Harteva, die takopsiener, het my spoedig verwelkom. Die tak het destyds toesig gehou oor 1 135 Getuies in Finland.

’n Christelike erfenis

In 1914 het my pa ’n eksemplaar van die Wagtoringpublikasie The Divine Plan of the Ages gekoop. Maar die Eerste Wêreldoorlog het kort daarna uitgebreek, en hy het nie kans gekry om dit te lees nie.

Finland se stryd om nasionale onafhanklikheid het probleme geskep. Twee invloedryke groepe—die Wittes en die Rooies—is gevorm. Die Wittes het die kapitaliste en die middelstand verteenwoordig, terwyl die Rooies die werkers verteenwoordig het. My pa het neutraal probeer wees deur albei groepe heeltemal te vermy. Maar albei groepe het hom as ’n verdagte beskou.

Die gevolg was dat Pa twee keer ter dood veroordeel is, eers deur die Wittes en toe deur die Rooies. Toe ’n man eenkeer vermoor is en die moordenaar nie gevang kon word nie, is tien jong mans, my pa inkluis, ter dood veroordeel. Een van my pa se onderwysers, wat ’n lid van die jurie was, het aanbeveel dat hy vrygestel word, en dit is toegestaan. Die nege ander jong mans is tereggestel.

Pa is ook by ’n ander geleentheid van ’n doodvonnis vrygestel. Daarna het hy besluit om letterlik ondergronds te gaan! Hy en sy broer het ’n skuiling gegrawe, waar hulle gewoon het totdat die oorlog verby was. Hulle jonger broer het vir hulle kos en drinkgoed gebring sodat hulle aan die lewe kon bly.

Toe die oorlog in 1918 geëindig het, is Pa getroud en het hy ’n huis naby daardie skuiling gebou. Ek het dit later goed leer ken, aangesien ek altyd daar gespeel het. Pa het my vertel dat hy baie gebid het terwyl hy daar onder die grond weggekruip het. Hy het God belowe dat as hy ooit sou leer hoe om Hom te dien hy dit sou doen.

Kort nadat Pa getroud is, het hy besluit om leesstof op ’n sakereis saam te neem. Hy het The Divine Plan of the Ages wat hy jare tevore gekoop het op die solder gevind. Hy het dit by die hoofstuk “The Day of Jehovah” oopgemaak en dit gelees. Hy het herhaaldelik vir homself gesê: ‘Dit is die waarheid, dit is die waarheid.’ Toe hy van die solder afkom, het hy vir my ma gesê: “Ek het die ware godsdiens gevind.”

Pa het byna onmiddellik vir ander begin vertel van die dinge wat hy geleer het, en hy het heel eerste met familielede en bure gesels. Toe het hy openbare toesprake begin hou. Ander mense in die omgewing het hulle spoedig by hom aangesluit. Nadat Pa in aanraking gekom het met die Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds genoem is, is hy in 1923 gedoop. Toe ons gebore is—daar was uiteindelik vier van ons—het Pa nie nagelaat om ons te onderrig nie. Trouens, nadat ’n gemeente gestig is, moes ons elke vergadering bywoon.

Vroeë herinneringe

Een van my vroeë herinneringe is van ’n byeenkoms wat in 1929 in ons tuisgemeente gereël is toe ek vyf was. Baie mense van nabygeleë gemeentes het daar bymekaargekom, en daar was ook ’n verteenwoordiger van die takkantoor. Dit was destyds gebruiklik, ten minste in Finland, om kinders by byeenkomste te seën. Die broer van Bethel het dus die kinders geseën, net soos Jesus tydens sy bediening gedoen het. Ek het dit nooit vergeet nie.—Markus 10:16.

Nog ’n vroeë herinnering is die aanvaarding van die naam Jehovah se Getuies in 1931. My pa, wat bewus was van die belangrikheid van die geleentheid, het die aankondiging oor ons nuwe naam plegtig aan die gemeente voorgelees.

Feitlik reeds van ek kan onthou, het ek saam met my pa aan die predikingswerk deelgeneem. Ek het aanvanklik net na hom geluister, maar mettertyd het ek die werk op my eie begin doen. In 1935, toe ’n reisende opsiener ons besoek het, het ek na al ons bure gegaan en hulle genooi om die vergadering by te woon. Ek het ook vir hulle boekies aangebied, en sommige het dit geneem.

Skool en ’n belangrike besluit

Ons vier was die enigste kinders in die skool met Getuie-ouers, en ons is dikwels gespot omdat ons ons nie saam met ander jongmense aan onchristelike gedrag wou skuldig maak nie. Hoewel skoolmaats my sover probeer kry het om te rook, het ek dit nooit gedoen nie. Ons is ook spottenderwys Russelliete (Russell was die Wagtoringgenootskap se eerste president) of Hartevaliete (Harteva was destyds die takopsiener in Finland) genoem. Ek is bly om te sê dat sommige van die jongmense wat ons vroeër gespot het mettertyd Getuies geword het.

My onderwyser het my aangemoedig om verder te studeer, en ek het dit op een tydstip oorweeg om ’n ingenieur te word. Maar toe was daar in die lente van 1939 ’n byeenkoms van Jehovah se Getuies in Pori, en dit was ’n keerpunt in my lewe. Ek en my jonger broer, Tuomo, het ons by daardie byeenkoms, op 28 Mei 1939, aan Jehovah toegewy en dit deur waterdoop gesimboliseer. Toe, vroeg in September, het die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek.

Die omstandighede in Europa het dramaties verander. Die situasie tussen Finland en die Sowjetunie het kritiek geraak. My pa het dit beklemtoon dat Armageddon nader kom en het ons aangemoedig om die pionierdiens te betree. Gevolglik het ek en my broer in Desember 1940 in Noord-Finland aan die pionierdiens begin deelneem.

Pionierdiens en Betheldiens

Ons het die meeste van die tyd wat ons pionierdiens gedoen het by Yrjö Kallio gewoon. Hy was ’n broer wat ongeveer 30 jaar tevore in Pennsilvanië in die Verenigde State ’n Bybelstudent geword het. Yrjö was baie goedhartig, en hy het sy bes gedoen om die lewe vir ons aangenaam te maak. Sy eie broer, Kyösti Kallio, was van 1937 tot 1940 die president van Finland. Yrjö het vir ons gesê dat hy vir sy broer ’n deeglike getuienis gegee het en aan hom verduidelik het dat God se Koninkryk die enigste hoop vir ’n goeie regering en vir blywende, wêreldwye vrede is.

My begeerte om ’n lid van die Bethelgesin te word, het mettertyd groter geword. Ten spyte van die reisende opsiener se waarskuwing dat ek nie hoë verwagtinge moet koester nie, is my Bethelaansoek gelukkig aanvaar. My eerste werk was dié van ’n boodskapper. Maar ek het spoedig die voorreg gehad om in die fabriek te werk. Daar het ek in baie afdelings gewerk, met inbegrip van ons klein perskamertjie en die Versendingsafdeling.

Ek bly neutraal

In 1942, toe ek 18 was, is ek vir militêre diens opgeroep. Aangesien ek opleiding geweier het, is ek vir lang tydperke op ’n keer ondervra, terwyl ’n geweer by twee sulke geleenthede heeltyd op my gerig was. Ander kere is liggaamlike geweld gebruik. Ek is ook vir die tydperk wat ek ondervra is in ’n onverhitte gevangenissel gehou waar dit yskoud was.

Toe, in Januarie 1943, het die tyd aangebreek dat ek en ander Getuies gevonnis moes word. Die leëroffisier wat ons ondervra het, het geëis dat ons ten minste tien jaar gevangenisstraf opgelê word. Die veldkapelaan wou hê dat ons ’n selfs swaarder straf opgelê moes word, en hy het in ’n brief geëis dat ‘hierdie verraaiers die doodstraf moet kry of as verkenningsvalskermspringers [’n byna gewisse dood] na Rusland gestuur moet word, aangesien dit hulle verdiende loon is’.

’n Skynverhoor is gereël. Ek moes in die hof verskyn en is ter dood veroordeel. Maar dit was net nog ’n poging om my te intimideer, aangesien ek later daardie dag weer in die hof moes verskyn en die vonnis opgelê is om drie en ’n half jaar lank in ’n strafgevangenis te werk. Ek het teen die vonnis geappelleer en dit is tot twee jaar verkort.

Kos was skaars in die gevangenis, en van die ander gevangenes het kwaadwillige dreigemente gemaak. Ek is twee keer deur homoseksuele aangeval, maar ek kon gelukkig van hulle af wegkom. Een van hulle het gedreig om my dood te maak as ek nie aan sy eise toegee nie. Maar soos tydens al my beproewinge het ek my tot Jehovah gewend, en hy het my gehelp. Ek kon die gevangene se dreigement nie as ’n kleinigheid afmaak nie, aangesien hy al voorheen iemand doodgemaak het. Die man het na sy vrylating weer moord gepleeg en hy is weer opgesluit.

Dit is ongetwyfeld omdat Jehovah se Getuies daarvoor bekend is dat hulle betroubaar is dat ek spoedig ’n vertrouensman gemaak is. Ek moes voedselrantsoene aan ander gevangenes uitdeel en kon vryelik op die gevangenisterrein rondloop. Ek het derhalwe nie net genoeg kos vir myself gehad nie, maar ek kon ook toesien dat daar genoeg was vir my Christenbroers. Een broer het selfs ’n hele paar kilogram in die gevangenis aangesit, iets baie seldsaams as ’n mens die voedseltekort in ag neem!

Ek is in September 1944, op dieselfde dag as broer Harteva, vrygelaat. My vrylating het beteken dat ek my Betheldiens kon hervat. Ek het gedink: ‘Om 16 uur lank per dag hard by Bethel te werk, is baie beter as die lewe in die gevangenis.’ Ek het sedertdien nog nooit probeer om werk vry te spring nie!

Verskeie diensvoorregte

Later in 1944 het ek Margit, ’n mooi jong pionier, ontmoet; ons het van mekaar gehou en is op 9 Februarie 1946 getroud. Gedurende ons eerste jaar van getroude lewe het ek in Bethel gedien terwyl Margit in Helsinki pionierdiens gedoen het. Toe, in Januarie 1947, is ons in die kringwerk aangestel.

Ons het tydens die reisende werk dikwels by gesinne tuisgegaan en in dieselfde kamer as hulle geslaap. Ons het geweet dat hulle hulle bes vir ons gedoen het, en ons het nooit gekla nie. Die kringe was destyds klein, en sommige gemeentes het geen gedoopte Getuies gehad nie!

Ons is in 1948 genooi om weer in Bethel te dien. Twee jaar later het Wallace Endres uit die Verenigde State na Finland toe gekom, en hy is kort daarna as die takopsiener aangestel. Hy het ons sterk aangeraai om aan te hou om Engels te leer, wat ons toe ook gedoen het. Ons is gevolglik genooi om die 19de sendingklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon, wat in Februarie 1952 in South Lansing, New York, begin het.

Na ons graduering is ons na Finland teruggestuur. Maar voordat ons die Verenigde State verlaat het, is ek by die internasionale hoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, opgelei om op die drukperse te werk.

Toe ons in Finland aankom, is ons in die kringwerk aangestel, maar is later in 1955 genooi om weer by die takkantoor te gaan werk. Ek het daardie jaar fabrieksopsiener geword, en twee jaar later, in 1957, is ek as takopsiener aangestel. Sedert 1976 dien ek as die koördineerder van die Finlandse takkantoor.

Ek is bly om te kan sê dat my pa en my ma tot die dood aan Jehovah getrou gebly het. Meer as honderd van Pa se familielede het mettertyd Getuies geword. En my broer en susters en hulle gesinne dien Jehovah almal tot vandag toe, en een van my susters is ’n pionier.

’n Ryk, lonende lewe

Die jare het uit werk en nogmaals werk bestaan, maar omdat dit God se werk was, was dit beslis vrugbaar en lonend (1 Korinthiërs 3:6-9). My lewe was nie altyd maklik en aangenaam nie. Dit het ook met probleme en ontberinge gepaardgegaan. Ek het vroeg in my lewe geleer dat ’n mens selfdissipline aan die dag moet lê. Jy kan nie altyd doen net wat jý wil nie. Ek is dikwels tereggewys, en ek het geleidelik die regte leefwyse geleer.

Die beproewinge en gebrek aan lewensbehoeftes gedurende die oorlog het my byvoorbeeld geleer om sonder luukshede klaar te kom. Ek het geleer om te onderskei of ek iets regtig nodig gehad het of nie en ek het steeds die gewoonte om my af te vra of ek dit of dat werklik nodig het. En as ek dan besef dat dit tog nie so belangrik is nie, koop ek dit nie.

Dit was nog altyd duidelik dat Jehovah leiding deur sy organisasie verskaf. Ek het die vreugde gehad om te sien hoe Jehovah se Getuies gedurende my jare by die tak in Finland van 1 135 tot meer as 18 000 groei! Ek kan waarlik sien dat my werk geseën is, maar ek weet dat dit geseën is omdat dit Jehovah se werk is, nie ons s’n nie (1 Korinthiërs 3:6-7). Ek het vroeg in my lewe Jehovah se weg gekies, en dit is waarlik die beste weg vir mense.

[Prent op bladsy 23]

Erkki Kankaanpää vandag, by sy vrou Margit

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel