’n Vol, bevredigende lewe in Jehovah se diens
SOOS VERTEL DEUR LEO KALLIO
Dit was die jaar 1914 en die einde van ’n pragtige laatsomersdag in ons woonbuurt in Turku, ’n stad in Finland. Skielik is die rustigheid verbreek deur die tyding dat ’n groot oorlog uitgebreek het. Kort voor lank was die strate vol mense wat gewonder het wat die gebeure sou beteken. Die volwassenes se somber gesigsuitdrukkings het ons as kinders laat wonder wat sou gebeur. Ek was nege jaar oud, en ek onthou dat die vreedsame gespeel van kinders in oorlogspeletjies verander het.
HOEWEL Finland nie by die Eerste Wêreldoorlog (1914-18) betrokke geraak het nie, is die land in 1918 deur burgeroorlog geteister. Familielede en voormalige vriende het vanweë uiteenlopende politieke beskouings die wapens teen mekaar opgeneem. Ons gesin van sewe het hierdie haat ondervind. My pa, wat baie uitgesproke oor sy opvattings was, is in hegtenis geneem en tot sewe jaar tronkstraf gevonnis. Hy is later vrygespreek, maar teen daardie tyd was sy gesondheid kwaai geknou.
Ons gesin het gedurende hierdie verskriklike tydperk swaargekry weens honger en siekte. Drie van my jonger susters het gesterf. My pa se broer, wat in die stad Tampere gewoon het, het van ons ellende te hore gekom en my pa en ma en ons twee oorblywende kinders genooi om by hom te gaan woon.
Jare later, terwyl ons nog in Tampere gewoon het, het ek ’n oulike meisie met die naam Sylvi ontmoet. Ek en sy het soortgelyke agtergronde gehad. Haar pa het in die burgeroorlog omgekom, en daarna het ’n goeie vriend van haar gesin, Kaarlo (Kalle) Vesanto van die dorp Pori, vir haar, haar suster en haar moeder ingeneem. Hy het gereël dat Sylvi se moeder werk kry en dat die meisies skool toe gaan. Sylvi het later Tampere toe getrek om werk te kry, en dit is waar ons mekaar ontmoet het.
’n Aand wat my lewe verander het
In 1928 het Sylvi my verloofde geword, en op ’n dag het ons na Pori gereis om vir Kalle Vesanto en sy gesin te gaan kuier. Geen ander gebeurtenis het so ’n ingrypende uitwerking op my lewe gehad nie. Kalle het voorheen drawwerperde besit en met hulle aan drafrenne deelgeneem, maar hy het dit opgegee. Hy en sy vrou het ywerige verkondigers van die goeie nuus van God se Koninkryk geword. Die 1990 Yearbook of Jehovah’s Witnesses beskryf hoe hy manne gehuur het om die woorde “Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie” op ’n buitemuur van sy dubbelverdiepinghuis te verf. Die letters was so groot dat dit maklik van verbysnellende treine af gelees kon word.
Daardie aand het ek en Kalle tot in die vroeë oggendure gesels. “Waarom? Waarom? Waarom?”, het ek gevra, en Kalle het verduidelik. Ek het letterlik oornag basiese Bybelwaarhede geleer. Ek het die tekste neergeskryf wat verskillende leringe verduidelik het. Later, toe ek terug was by die huis, het ek ’n notaboek geneem en al daardie tekste woord vir woord neergeskryf. Omdat ek nog nie die Bybel geken het nie, het ek hierdie notaboek gebruik om vir die mense by die bouterrein waar ek gewerk het te getuig. Wanneer ek die leringe van valse godsdiens blootgelê het, het ek dikwels gevind dat ek Kalle se woorde herhaal: “Julle is regtig om die bos gelei, kêrels!”
Kalle het my die adres van ’n huisie in Tampere gegee waar sowat 30 Bybelstudente hulle vergaderinge gehou het. Daar het ek op my hurke in ’n hoekie naby die deur langs broer Andersson, die eienaar van die huisie, gesit. My bywoning was baie ongereeld, maar gebed het gehelp. Toe ek ernstige probleme by die werk gehad het, het ek eenkeer gebid: “Asseblief, God, as u my help om hierdie probleme te oorkom, belowe ek om al die vergaderinge by te woon.” Maar sake het net vererger. Ek het toe besef dat ek aan Jehovah voorwaardes stel, en daarom het ek my gebed verander na: “Wat ook al gebeur, ek belowe om al die vergaderinge by te woon.” Daarna het my probleme afgeneem, en ek het die vergaderinge gereeld begin bywoon.—1 Johannes 5:14.
Ons bediening in die vroeë jare
In 1929 is ek en Sylvi getroud, en in 1934 het ons albei ons toewyding aan Jehovah deur middel van waterdoop gesimboliseer. Destyds het ons bediening behels dat ons ’n grammofoon en plate na mense se huise neem en hulle vriendelik vra of ons ’n Bybeltoespraak gratis vir hulle kan speel. Mense het ons dikwels geredelik ingenooi en nadat hulle na die opname van die toespraak geluister het met ons gesels en van ons lektuur geneem.
Met die toestemming van die owerheid het ons hierdie selfde Bybeltoesprake met behulp van luidsprekers in die parke gespeel. En in die voorstede het ons die luidspreker aan ’n dak of boaan ’n skoorsteen vasgemaak. By ander geleenthede het ons hulle by die meer gespeel waar groot skares stadsmense bymekaargekom het. Ons het eenvoudig die luidsprekers in ’n boot gesit en stadig al met die oewer langs geroei. Sondae het ons ons kosbare luidsprekers en baie lektuur geneem en per bus na die platteland gereis om daar te gaan preek.
’n Verandering toets ons geloof
In 1938 het ek die voltydse bediening as ’n pionier betree, maar ek het ook aangehou om as ’n messelaar te werk. Die daaropvolgende lente het ek ’n uitnodiging van die Genootskap se takkantoor ontvang om as ’n reisende bedienaar, wat nou ’n kringopsiener genoem word, te dien. Dit was nie maklik om die uitnodiging te aanvaar nie, want ek het dit geniet om saam met ons gemeente in Tampere te werk. Daarbenewens het ons ons eie huis gehad; ons het ’n sesjarige seun, Arto, gehad, wat kort voor lank skool toe sou moes gaan en Sylvi het haar werk as winkelassistente geniet. Maar, nadat ons dit saam bespreek het, het ek hierdie bykomende voorreg van Koninkryksdiens aanvaar.—Mattheüs 6:33.
Toe het nog ’n moeilike tydperk aangebreek. Oorlog het op 30 November 1939 uitgebreek toe Sowjettroepe Finland binnegeval het. Die oorlog, wat die Winteroorlog genoem is, het tot Maart 1940 geduur, toe Finland tot ’n vredesverdrag moes instem. Dit het gevoel of selfs die natuur oorlog verklaar het, want dit was verreweg die koudste winter wat ek kan onthou. Ek het per fiets van die een gemeente na die ander gereis terwyl die temperatuur tot onder minus 30 grade Celsius gedaal het!
In 1940 is die werk van Jehovah se Getuies in Finland verbied. Daarna is talle jong Finse Getuies in die tronk gegooi en moes hulle onmenslike toestande daar verduur. Ek is dankbaar dat ek deur die hele Tweede Wêreldoorlog, van 1939 tot 1945, die gemeentes kon bedien. Dit het dikwels vereis dat ek maande lank van Sylvi en Arto af weg was. Daar was boonop die voortdurende gevaar dat ek in hegtenis geneem sou word omdat ek aan ’n onwettige werk deelgeneem het.
Ek het seker baie koddig gelyk op my fiets wat met ’n tas, ’n sak met lektuur en ’n grammofoon en plate oorlaai was. Een rede waarom ek die grammofoonplate saam met my gedra het, was sodat ek, as ek in hegtenis geneem sou word, kon bewys dat ek nie ’n valskermspringer was wat vir die Russe gespioeneer het nie. In so ’n geval kon ek verduidelik dat ek onmoontlik ’n valskermspringer kon wees, want die plate sou tydens die sprong gebreek het.
Maar eenkeer toe ek ’n buurt besoek het wat teen ’n spioen gewaarsku is, het ’n Getuiegesin my vir een aangesien. Ek het op ’n donker winternag aan hulle deur geklop, en hulle was te bang om oop te maak. Ek het toe die nag in ’n skuur deurgebring en onder die strooi ingekruip om te probeer warm bly. Die volgende oggend is die misverstand opgeklaar, en ek moet sê die lede van die huisgesin het my gedurende die res van my besoek met buitengewone gasvryheid behandel!
Gedurende die oorlogsjare het net ek en broer Johannes Koskinen die gemeentes in die sentrale en noordelike gebiede van Finland bedien. Ons het elkeen ontsaglike gebiede gehad, party 600 kilometer lank, waarna ons moes omsien. Ons het soveel gemeentes gehad om te besoek dat ons net twee of drie dae by elke gemeente kon deurbring. Treine was selde op tyd, en daar was so min busse en hulle was so vol dat dit ’n wonder was dat ons ooit ons bestemmings bereik het.
Noue ontkomings
Eenkeer, aan die begin van die Winteroorlog, het ek na die takkantoor in Helsinki gegaan en vier swaar kartonne verbode lektuur gaan haal wat ek saam met my op die trein moes neem om by gemeentes af te lewer. Terwyl ek op Riihimäki-stasie was, het ’n lugaanvalsirene geloei. Soldate op die trein het hulle sneeupakke aangetrek, en passasiers is beveel om dadelik van die trein af te klim en na ’n oop veld oorkant die stasie te hardloop.
Ek het die soldate gevra om my kartonne te dra en vir hulle gesê dat hulle baie belangrik is. Vier van hulle het elk ’n karton opgetel, en ons het sowat 200 meter oor die sneeubedekte veld gehardloop. Ons het op die grond neergeval, en iemand het na my uitgeroep: “Haai, burger, moenie roer nie! As die bomwerpers enige beweging gewaar, sal hulle op ons skiet.” Ek was nietemin nuuskierig en het my kop versigtig gedraai sodat ek die lug kon sien, waar ek 28 vliegtuie getel het!
Skielik het die grond geskud van ontploffende bomme. Hoewel die stasie bly staan het, is die trein waarop ons gearriveer het, getref. Wat ’n aaklige gesig was die verwoeste trein en ineengestrengelde spore tog! Die volgende oggend kon ek my reis met die kartonne voortsit, en die soldate het op ’n ander trein vertrek. Een van hulle het ná die oorlog ’n Getuie geword, en hy het my vertel dat die soldate ná daardie insident onder mekaar gepraat het oor die eienaardige burger met sy kartonne.
’n Ruk daarna is broer Koskinen, wat op pad was om die gemeentetjie in Rovaniemi in die noorde van Finland te bedien, in hegtenis geneem voordat hy van die trein afgeklim het. Hy is tronk toe geneem, waar hy erg mishandel is. Toe dit my beurt was om daardie selfde gemeente te besoek, het ek reëlings getref om by die klein stasietjie by Koivu van die trein af te klim. Daar het suster Helmi Pallari gereël dat ek die res van die reis op ’n melkwa aflê. My besoek aan die Rovaniemi-gemeente was ’n sukses. Maar toe ek hulle verlaat het, het ek probleme ondervind.
Op pad na die stasie het ek en my metgesel twee militêre offisiere teëgekom wat besig was om al die verbygangers se dokumente na te gaan. “Moenie na hulle kyk nie. Kyk net voor jou”, het ek gesê. Ons het tussen hulle deurgeloop asof hulle nie bestaan nie. Toe het hulle ons agternagesit. By die stasie kon ek hulle uiteindelik in die skare ontglip en op ’n bewegende trein spring. In daardie dae was daar nooit ’n gebrek aan opwinding in die reisende werk nie!
Ek is eenkeer in hegtenis geneem en na die dienspligraad geneem. Hulle wou my na die oorlogsfront toe stuur. Maar die telefoon het gelui, en die leëroffisier wat ’n onderhoud met my sou voer, het dit geantwoord. Ek kon hoor hoe die stem aan die ander kant skreeu: “Waarom bly julle hierdie siek, nuttelose manne stuur? Al wat ons kan doen, is om hulle terug te stuur. Ons het manne nodig wat kan werk!” Gelukkig het ek ’n mediese sertifikaat by my gehad waarop ’n gesondheidsprobleem van my gemeld was. Toe ek hom dít wys, is ek toegelaat om te gaan en kon ek ongestoord met my werk onder die gemeentes voortgaan!
Hulp tydens ’n verhoor
Die oorlogshisterie het voortgeduur, en my vriend Ahti Laeste is in hegtenis geneem. Sy vrou het my geskakel. Toe ek na hulle huis toe gegaan het, het ek tussen sy papiere ’n dokument gevind waarin die plaaslike polisie Ahti toestemming gegee het om toespraakopnames in die stad se openbare parke te speel. Ons het met die dokument na die hof toe gegaan. Nadat hulle die aanklag gelees het, het ek die dokument vir broer Laeste gegee. Die regter het ’n soldaat beveel om ’n grammofoon en ’n paar van die plate met Bybeltoesprake daarop in te bring sodat die hof daarna kon luister. Nadat die regter na al die toesprake geluister het, het hy gesê dat hy niks verkeerd kan sien met wat gesê is nie.
Ek is toe saam met Ahti en sy vrou uitgestuur om in die gang op die hof se beslissing te gaan wag. Ons het in spanning daar gestaan en wag. Eindelik het ons ’n stem hoor sê: “Kan die aangeklaagde asseblief in die hof inkom.” Broer Laeste is onskuldig bevind! Ons harte het werklik oorgeloop van dankbaarheid teenoor Jehovah toe ons met ons bedrywighede voortgegaan het—broer en suster Laeste met hulle bedrywighede in die plaaslike gemeente en ek met myne in die reisende werk.
Die oorlog eindig—Ons diens gaan voort
Die verbod op ons predikingswerk is opgehef toe die oorlog geëindig het, en die broers is uit die tronk vrygelaat. Tydens die baie jare wat ek al dien, is ek diep beïndruk deur die rol wat Christensusters in die Koninkrykswerk en ter ondersteuning van hulle mans speel. Ek is veral dankbaar vir die opofferinge wat Sylvi gemaak het sowel as vir haar ondersteuning. As gevolg daarvan kon ek 33 jaar lank ononderbroke in die reisende werk bly en daarna as ’n spesiale pionier dien.
Ek en Sylvi het albei vir Arto aangespoor om die pionierdiens te betree nadat hy sy skoolloopbaan voltooi het, om Engels te leer praat en om die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die Verenigde State by te woon. Hy het in 1953 aan Gilead gegradueer. Hy is daarna met Eeva getroud, en hulle het saam aan verskillende vorme van die voltydse diens deelgeneem, onder andere die kringwerk, Betheldiens en spesiale pionierdiens. In 1988 het hulle na Tampere, die stad waar ons woon, verhuis om na my en Sylvi te help omsien en terselfdertyd as spesiale pioniers te dien.
Ek en Sylvi het ’n vol en geseënde lewe geniet met baie herinneringe om ons te bemoedig, hoewel ons kragte nou baie beperk is. Dit is baie bevredigend om te dink aan die groei wat ons gesien het. Toe ek gemeentes in 1939 begin besoek het, was daar 865 Koninkryksverkondigers in Finland, maar nou is daar meer as 18 000!
Min het ek besef toe ek die voltydse bediening destyds in 1938 betree het dat ek 55 jaar later steeds ’n aandeel daaraan sou hê. Ten spyte van die ouderdom gaan ons voort met behulp van Jehovah se krag en sien ons uit na ons beloofde beloning. Ons vertrou op die psalmis se woorde: “Die HERE is goed; sy goedertierenheid is tot in ewigheid, en sy trou van geslag tot geslag.”—Psalm 100:5.
[Prent op bladsy 21]
Leo en Sylvi Kallio het in 1934 hulle toewyding aan Jehovah gesimboliseer
[Prent op bladsy 23]
’n Onlangse foto van Leo en Sylvi toe hulle al byna 60 jaar in toegewyde diens was