Vrae van lesers
Is Sagaria, die vader van Johannes die Doper, doof sowel as stom gemaak, soos Lukas 1:62 oënskynlik te kenne gee?
Sommige het tot die gevolgtrekking gekom dat Sagaria ook doof geword het. Ons lees in die Bybelverslag: “Hulle wou [die kindjie] Sagaria noem, na die naam van sy vader. Toe antwoord sy moeder en sê: Nee, maar hy moet Johannes genoem word. En hulle sê vir haar: Daar is niemand in jou familie wat dié naam het nie. En hulle beduie vir sy vader hoe hy wou hê dat hy genoem moes word. Hy vra toe ’n skryfbordjie en skryf: Johannes is sy naam.”—Lukas 1:59-63.
Daar word egter geensins uitdruklik in die verslag gesê dat Sagaria ’n tyd lank nie kon hoor nie.
Vroeër het die engel Gabriël Sagaria meegedeel dat daar vir hom ’n seun gebore sou word wat hy Johannes moes noem. Die bejaarde Sagaria het dit moeilik gevind om te glo. Daarop het die engel aan hom gesê: “Kyk, jy sal swyg en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur, omdat jy my woorde wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie” (Lukas 1:13, 18-20). Die engel het gesê Sagaria se spraak, nie sy gehoor nie, sou aangetas wees.
Die verslag lui verder: “Toe hy uitkom [uit die tempel], kon hy met [die volk wat op hom gewag het] nie praat nie; hulle bemerk toe dat hy ’n gesig in die tempel gesien het. En hy het aanhoudend vir hulle beduie en stom gebly” (Lukas 1:22). Die Griekse woord wat hier met “stom” vertaal word, bevat die gedagte van gestremdheid in spraak, gehoor of albei (Lukas 7:22). Wat van Sagaria? Wel, dink na oor wat gebeur het toe hy genees is. “Onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak, en hy het gepraat en God geloof” (Lukas 1:64). Daaruit kan ons redelikerwys aflei dat dit slegs Sagaria se spraakvermoë was wat aangetas was.
Waarom het ander Sagaria dan gevra deur aan hom te “beduie . . . hoe hy wou hê dat [die kindjie] genoem moes word”? Sommige vertalings gee dit selfs weer as “in gebaretaal” of “deur die gebruik van gebaretaal”.
Sagaria, wat stom was vandat hy die engel se boodskap ontvang het, was dikwels verplig om vir mense te beduie, om ’n soort gebaretaal te gebruik, om te kon kommunikeer. Hy het byvoorbeeld “aanhoudend” vir diegene by die tempel “beduie” (Lukas 1:21, 22). Toe hy later ’n skryfbordjie gevra het, moes hy dit deur te beduie of deur gebare gedoen het (Lukas 1:63). Dit is dus moontlik dat die mense om hom gedurende die tydperk wat hy stom was ook eerder gebare gebruik het.
Maar daar is selfs ’n aanneemliker verduideliking vir die beduiery wat in Lukas 1:62 gemeld word. Elisabet het pas gesê wat haar seun se naam moes wees. Sonder om haar dus teë te spreek, het hulle moontlik net die volgende en die regte stap gedoen deur te vra wat haar man se besluit is. Hulle kon dit doen deur ’n blote kopknik of deur ’n vraende gebaar. Die feit dat hulle nie hulle vraag vir Sagaria neergeskryf het nie, kan selfs ’n aanduiding wees dat hy gehoor het wat sy vrou gesê het. ’n Blote kopknik of ’n soortgelyke gebaar teenoor hom kon te kenne gee: ‘Wel, ons almal (so ook jy, Sagaria) het gehoor wat sy voorgestel het, maar wat is jou finale besluit oor die kind se naam?’
En onmiddellik daarna het nog ’n wonderwerk gebeur, wat die situasie omgekeer het. “Onmiddellik is sy mond geopen en het sy tong losgeraak, en het hy gepraat” (Lukas 1:64). Dit was nie nodig om iets oor sy gehoor te sê as dit nie aangetas was nie.