Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 5/1 bl. 24-25
  • Hy het vir Israel in Sinai voorsien

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hy het vir Israel in Sinai voorsien
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2023
  • Sinai—berg van Moses en genade
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Die wildernis van Juda—dor maar fassinerend
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Jy moet Jehovah nie vergeet nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 5/1 bl. 24-25

Tonele uit die Beloofde Land

Hy het vir Israel in Sinai voorsien

STEL jou voor miljoene mense—mans, vroue en kinders—op pad om in ’n “groot en vreeslike woestyn” in te gaan wat wemel van “giftige slange en skerpioene . . . ’n dorsland sonder water”!

Daardie woorde van God wat in Deuteronomium 8:15 aangetref word, vestig die aandag op ’n oënskynlik skrikwekkende tog wat vir die Israeliete voorgelê het toe hulle uit Egipteland in die woestyn Sinai ingetrek het. ’n Ontsaglike probleem het hulle in die gesig gestaar: Wie sou hulle van genoeg kos en water voorsien?

Daar in die Nyldelta was die Israeliete in slawerny, maar hulle het niks kortgekom nie. Muurskilderye in antieke grafkelders beeld ’n verskeidenheid druiwe, waatlemoene en ander gewasse, sowel as vis en pluimvee af wat hulle ’n veelsoortige dieet sou gebied het. Wat ’n juiste beskrywing is hulle gekla oor die dinge waarna hulle terugverlang het toe hulle hulle in die woestyn bevind het dus nie: “Wie sal vir ons vleis gee om te eet? Ons dink aan die visse wat ons in Egipte verniet kon eet, aan die komkommers en die waterlemoene en prei en die uie en die knoffel.”—Numeri 11:4, 5; 20:5.

Nadat die Israeliete die Rooi See oorgesteek het, het die werklikheid van Sinai spoedig tot hulle deurgedring. Hulle het nie die bekende handelsroete na die noorde geneem nie, maar het na die punt van die driehoekige skiereiland getrek. Nadat hulle sowat 80 kilometer deur die woestyn getrek het, was hulle behoefte aan water skynbaar kritiek. Hulle kon nie drink wat hulle daar gekry het nie, want dit was bitter en kon siektes gedra het. “Wat moet ons drink?” het hulle gekla. God het ingegryp en die water laat soet word.—Exodus 15:22-25.

Let op die roete van die karavaan kamele hierbo. Dit gee ’n mens begrip vir die vraag hoe die Israeliete deur die woestyn sou kon trek op pad na die berg Sinai toe. Hoe sou hulle gereeld genoeg water kry—en kos—vir hulleself en vir die troppe kleinvee en beeste wat hulle moes hê om aan die lewe te kon bly?—Exodus 12:38.

Hulle het verder suidwaarts getrek en spoedig verkwikkende water en kos by Elim gekry (Exodus 15:27). Dit was egter nie hulle bestemming nie. Hulle was op pad na “die berg van [die ware] God”, die berg Sinai (Exodus 3:1; 18:5; 19:2; 24:12-18, vgl. NW). Dit was 120 kilometer daarvandaan—kilometers van ruwe, dorre land.

Terwyl die reusevergadering voortgetrek het op pad na die berg Sinai toe, het hulle tot by die groot oase van Feira gekom—waar hulle waarskynlik vertoef het. ’n Klein deeltjie daarvan kan in die foto op die bladsy hier langsaan gesien word.a Dit loop deur ’n bergpas in die woestyn in die rigting van die Rooi See (Golf van Suez). Watter lafenis sou hulle nie daar vind nie!

Hoewel die bewoording “groot en vreeslike woestyn” oor die algemeen ’n gepaste beskrywing van die woestyn Sinai is, kon die Israeliete by die oase van Feira die skadu’s van statige palm- en ander bome geniet. Hulle sou ook genoeg soet dadels kry, wat hulle daar kon eet en wat hulle kon saamneem.

Dit was alles moontlik omdat grondwater by Feira na die oppervlak opgestoot het. Dink net hoe jy sou voel as jy in die woestynwildernis was en skielik op vars drinkwater afkom! Dit wys dat daar selfs in Sinai plekke is waar water beskikbaar is. Soms is dit nodig om ’n taamlike diep put te grawe. Dan vereis dit heelwat werk om emmers of kruike vol te skep met die noodsaaklike vloeistof, veral as troppe vee water moet kry. Bedoeïene van Sinai kom tot vandag toe nog na putte waar hulle vir hulleself en vir hulle kamele water kan skep.—Vergelyk Genesis 24:11-20; 26:18-22.

Ja, ondanks die kere wat hulle gemurmureer het oor wat vir hulle na ’n onoorbrugbare gebrek gelyk het, het die Israeliete tog water en kos gehad. Soms het God dit op ’n wonderdadige wyse voorsien (Exodus 16:11-18, 31; 17:2-6). Op ander kere het hy hulle blykbaar na “’n rusplek” gelei waar daar deur middel van natuurlike voorrade in hulle werklike behoeftes voorsien kon word (Numeri 10:33-36). Hy het hulle al die tyd herinner aan die oorvloed wat daar in die Beloofde Land op die getroues gewag het.—Deuteronomium 11:10-15.

[Voetnoot]

a ’n Vergroting van die foto verskyn in Jehovah se Getuies se kalender vir 1992.

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Foto-erkenning op bladsy 24]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Foto-erkenning op bladsy 25]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel