Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 8/1 bl. 31-32
  • Kom na die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kom na die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Ryk seëninge by die “Ligdraers”-Streekbyeenkomste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Wie volg die lig van die wêreld?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Ligdraers—Met watter doel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • “Laat julle lig . . . skyn”
    Ons Koninkryksbediening—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 8/1 bl. 31-32

Kom na die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms

“KYK, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke” (Jesaja 60:2). Hoe waar is daardie woorde tog nie vandag nie! Valse godsdiens hou mense ongetwyfeld in die duister aangaande die soort aanbidding wat God behaag. Waarom? Want Satan, die god van hierdie stelsel van dinge, het ‘die sinne van die ongelowiges verblind’.—2 Korinthiërs 4:4.

Jehovah se Getuies is opvallend anders as diegene wat deur Satan verblind word. Die woorde van die profeet Jesaja kan op hulle toegepas word: “Oor jou sal Jehovah skyn, en oor jou sal sy heerlikheid gesien word” (Jesaja 60:2, NW). Hoe dankbaar is hulle tog nie om uit die duisternis in God se wonderbare lig te kom nie! Die waarheid van God se Woord is ’n geestelike lig wat die verstand verlig, sodat selfs dié wat letterlik blind is die waarheid kan sien.

Hulp is natuurlik nodig. Dit is onwaarskynlik dat iemand wat eenvoudig die Bybel lees sonder om godgegewe hulpmiddels te benut die lig sal sien. Dit is waarom Jehovah God “die getroue en verstandige dienskneg” voorsien het, soos voorspel is in Mattheüs 24:45-47. Daardie “dienskneg” word vandag deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies verteenwoordig. Die “Ligdraers”-Streekbyeenkoms is onder die leiding van hierdie liggaam gereël.

Die doel van hierdie byeenkoms is om al Jehovah se knegte te help om beter ligdraers te wees, in ooreenstemming met Paulus se woorde in Filippense 2:15. Christene word daar aangemoedig om soos “ligte in die wêreld” te skyn.—Mattheüs 5:14, 16.

In Suid-Afrika sal die reeks “Ligdraers”-Streekbyeenkomste Vrydag, 11 Desember, begin. ’n Musiekprogram om 10:20 vm. sal almal help om in die regte gemoedstemming te kom, gereed vir die geestelike program wat voorlê. Elke dag het sy eie tema, en Vrydag se tema is: “Stuur u lig en u waarheid.”—Psalm 43:3.

Vrydagoggend sal die programrede “Ligdraers—Met watter doel?” gehou word. Christene is gewis nie ligdraers met enige persoonlike, selfsugtige beweegrede nie. Hulle dien eerder as ligdraers om dieselfde redes as waarvoor Jesus Christus, die Hoofligdraer, aarde toe gekom het, naamlik om vir die waarheid te getuig en om die Skepper se naam te verheerlik. Jesus het tereg van homself gesê: “So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld” (Johannes 9:5). Sodoende het hy vir ons ’n voorbeeld nagelaat sodat ons sy voetstappe noukeurig kan navolg (1 Petrus 2:21). In die middag van daardie eerste dag sal daar ’n toespraak sowel as ’n Bybeldrama wees wat oor koning Josia handel, en jongmense sal dit besonder interessant vind.

Saterdag se tema is: “Julle is die lig van die wêreld . . . Laat julle lig skyn” (Mattheüs 5:14, 16). Gedurende die oggendprogram sal daar ’n simposium wees met die titel “Laat julle lig skyn”. Diegene wat hulle aan Jehovah toegewy het, sal die geleentheid hê om gedoop te word. Daar sal die middag ’n insiggewende simposium wees met die titel “Lig op Christus se teenwoordigheid en openbaring”.

Die gekose tema vir Sondag, die derde en laaste dag van die byeenkoms, is: “Wandel soos kinders van die lig” (Efesiërs 5:8). Die oggendprogram sal ’n simposium bevat wat oor gesinsverpligtinge handel met die titel “Sien om na mekaar in die Christengesin”. Daar sal ook ’n toespraak gehou word wat verduidelik wat dit beteken om aan God en Christus onderdanig te wees.

Die byeenkoms sal Sondagmiddag sy hoogtepunt bereik met die openbare toespraak met die titel “Volg die Lig van die wêreld”. Hierdie toespraak sal ’n bespreking wees van Johannes 1:1-16 en sal toon hoe nodig Bybelkennis is, terwyl dit beklemtoon dat Jesus Christus die lig van die wêreld is. Die byeenkoms sal eindig met die ernstige vermaning “Bly in die lig wandel”.

Toon jou waardering vir hierdie geestelike fees wat Jehovah deur sy sigbare organisasie voorsien. Wees teenwoordig van die openingslied Vrydagoggend af tot die slotgebed Sondagmiddag. Skenk noukeurig aandag aan alles wat van die verhoog af gesê word. Maak aantekeninge om jou te help konsentreer, asook vir toekomstige gebruik. Ten slotte, neem jou voor om ’n aandeel te hê aan die een of ander vorm van vrywilligersdiens. Sodoende sal jy nie net die seën geniet om te ontvang nie, maar die selfs groter seën om te gee.—Handelinge 20:35.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel