Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 5/15 bl. 4-8
  • Waarom die Bybel God se geïnspireerde gawe is

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom die Bybel God se geïnspireerde gawe is
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die Bybel en die wetenskap
  • Betroubare geskiedkundige besonderhede
  • Die grootste bewys
  • Jehovah se Woord is onfeilbaar!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Die boek wat die kennis van God openbaar
    Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Profesieë wat bewaarheid is
    Die Bybel—God se woord of die mens s’n?
  • Kan jy God se beloftes vertrou?
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 5/15 bl. 4-8

Waarom die Bybel God se geïnspireerde gawe is

DIE Bybel sê “God is liefde” en skryf wysheid en mag aan hom toe (1 Johannes 4:8; Job 12:13; Jesaja 40:26, NW). Dit sê vir ons dat ‘al sy weë geregtigheid is’ (Deuteronomium 32:4, NW). Volgens die Bybel openbaar God ook eienskappe soos barmhartigheid en medelye.—Exodus 34:6; Romeine 9:15, NW.

Omdat die Bybel sulke eienskappe aan Jehovah God toeskryf, trek dit soekende mense na hom toe. Hierdie boek praat van die skepping, die oorsprong van sonde en die dood en die manier waarop die mens met God versoen kan word. Dit bied ’n wonderlike hoop op ’n herstelde Paradys op die aarde. Maar dit alles sal net van waarde wees as daar bewys kan word dat die Bybel ’n geïnspireerde gawe van God is.

Die Bybel en die wetenskap

Die Bybel het nog altyd oor kritiek geseëvier. Wanneer ’n mens dit onbevooroordeeld lees, vind jy byvoorbeeld dat dit met die ware wetenskap strook. Die Bybel is natuurlik as ’n geestelike rigsnoer geskryf, nie as ’n wetenskaphandboek nie. Maar kom ons kyk of die Bybel met wetenskaplike feite saamstem.

Anatomie: Die Bybel sê tereg dat “al die dele” van ’n menslike embrio “beskrywe” is (Psalm 139:13-16, NW). Die brein, die hart, die longe, die oë—hierdie en al die ander liggaamsdele is ‘neergeskryf’ in die genetiese kode van die bevrugte eier in die moeder se baarmoeder. Hierdie kode bevat interne tydroosters waarvolgens elkeen van hierdie dele in die regte volgorde verskyn. En dink net! Hierdie feit oor die ontwikkeling van die menseliggaam is in die Bybel opgeteken bykans 3 000 jaar voordat wetenskaplikes die genetiese kode ontdek het.

Argeologie: Bybelse konings, stede en nasies het gestalte gekry met die ontdekking van kleitablette, erdewerk, inskripsies, ensovoorts. Mense soos die Hetiete wat in die Skrif gemeld word, het byvoorbeeld werklik bestaan (Exodus 3:8). In sy boek The Bible Comes Alive het sir Charles Marston gesê: “Diegene wat die volksgeloof in die Bybel laat wankel het, en die gesag [van die Bybel] ondermyn het, word op hulle beurt self ondermyn deur die bewyse wat aan die lig gekom het, en hulle gesag word vernietig. Die graaf dryf vernietigende kritiek uit die gebied van twyfelagtige feite na dié van erkende fiksie in.”

Die argeologie het die Bybel al op baie maniere gestaaf. Ontdekkings het byvoorbeeld die plekke en name in Genesis hoofstuk 10 bevestig. Opgrawers het die Chaldeeuse stad Ur, die handel- en godsdienssentrum waar Abraham gebore is, ontdek (Genesis 11:27-31). Aan die bokant van die Gihonfontein in die suidooste van Jerusalem het argeoloë die Jebusitiese stad ontdek wat deur koning Dawid verower is (2 Samuel 5:4-10). Die Siloam-inskripsie op die een punt van koning Hiskia se watervoor, of akwaduk, is in 1880 ontdek (2 Konings 20:20). Die Nabonidus-kroniek, wat in die 19de eeu G.J. opgegrawe is, vertel van Kores die Grote se verowering van Babilon in 539 v.G.J. Inskripsies uit Persepolis en die ontdekking van die paleis van koning Xerxes (Ahasveros) by Susan, of Susa, tussen 1880 en 1890 G.J. bevestig besonderhede in die boek Ester. ’n Inskripsie wat in 1961 in die ruïnes van ’n Romeinse teater in Cesarea ontdek is, het die bestaan van die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus gestaaf, wat Jesus aan die volk oorgelewer het om aan ’n paal genael te word.—Mattheüs 27:11-26, vgl. NW.

Astronomie: Sowat 2 700 jaar gelede—lank voordat mense oor die algemeen geweet het dat die aarde rond is—het die profeet Jesaja geskryf: “Hy sit bo die kring van die aarde” (Jesaja 40:22). Die Hebreeuse woord chugh, wat hier met “kring” vertaal is, kan ook met “sfeer” weergegee word (A Concordance of the Hebrew and Chaldee Scriptures, deur B. Davidson). Daarbenewens kan “die kring” van die aarde se horison duidelik gesien word vanuit die buitenste ruimte en soms vanuit vliegtuie wat baie hoog vlieg. Job 26:7 sê ook dat God “die aarde ophang oor ’n niks”. Dit is waar, want astronome weet dat die aarde nie op iets sigbaars rus nie.

Dierelewe: Volgens die Bybel ‘herkou die haas’ (Levitikus 11:6). François Bourlière (The National History of Mammals, 1964, bladsy 41) sê: “Dit lyk of die herkougewoonte, of die proses wanneer voedsel twee keer pleks van een keer deur die ingewande beweeg, ’n algemene verskynsel by konyne en hase is. Mak konyne eet en sluk gewoonlik hulle nagtelike uitwerpsels sonder om dit te kou, wat in die oggend tot die helfte van die totale inhoud van die maag uitmaak. In die wilde konyn vind herkouing twee keer per dag plaas, en na bewering kom dieselfde gewoonte by die Europese haas voor.” Die boek Mammals of the World (deur E. P. Walker, 1964, Deel II, bladsy 647) sê: “Dit kan ooreenkom met ‘herkouing’ in herkouende soogdiere.”

Geneeskunde: In sy boek The Physician Examines the Bible het C. Raimer Smith geskryf: “Dit is vir my baie verbasend dat die Bybel vanuit die mediese oogpunt so akkuraat is. . . . Waar behandeling gemeld word, soos vir bloedvinte, wonde, ens., is dit selfs volgens moderne standaarde korrek. . . . Baie mense glo nog steeds aan talle bygelowe, byvoorbeeld dat ’n perdekastaiing in die sak rumatiek sal voorkom; dat die hantering van paddas vratjies sal veroorsaak; dat rooi flanel om die nek ’n seer keel sal genees; dat ’n sakkie met duiwelsdrek siektes sal voorkom; dat ’n kind wurms het elke keer as hy siek is; ens., maar sulke bewerings word nie in die Bybel gevind nie. Dit op sigself is merkwaardig en vir my nog ’n bewys van die goddelike oorsprong daarvan.”

Geologie: Die beroemde geoloog Wallace Pratt het aangaande die Bybelverslag oor die skepping gesê: “Indien daar vir my as geoloog gevra is om ons hedendaagse idees oor die oorsprong van die aarde en die ontwikkeling van lewe daarop kortliks te verduidelik aan ’n eenvoudige, landelike volk, soos die stamme tot wie die boek Genesis gerig is, sou ek nouliks beter kon vaar as om heelwat van die taal van die eerste hoofstuk van Genesis taamlik getrou te volg.” Pratt het gesê dat die volgorde van gebeure in Genesis—die oorsprong van die oseane, die verskyning van droë grond en daarna die verskyning van seelewe, voëls en soogdiere—wesenlik die volgorde van die vernaamste afdelings van geologiese tyd is.

Plantkunde: Sommige kom verkeerdelik tot die gevolgtrekking dat die Bybel onakkuraat is omdat Jesus Christus van “’n mosterdsaad” as “die kleinste . . . van al die soorte saad” gepraat het (Markus 4:30-32). Jesus het waarskynlik verwys na die saad van die swartmosterdplant (Brassica nigra of Sinapis nigra), wat maar ongeveer 1 tot 1,6 millimeter in deursnee is. Hoewel daar kleiner sade is, soos die poeierfyn orgideesaadjies, het Jesus nie met mense gepraat wat orgideë kweek nie. Daardie Galilese Jode het geweet dat die mosterdsaad die kleinste was van die verskillende soorte saad wat die plaaslike boere gesaai het. Jesus het oor die Koninkryk gepraat en nie ’n les in plantkunde gegee nie.

Betroubare geskiedkundige besonderhede

In sy boek A Lawyer Examines the Bible het regsgeleerde Irwin H. Linton opgemerk: “Terwyl liefdesverhale, legendes en valse getuienis die gebeurtenisse sorgvuldig in die een of ander afgeleë plek en die een of ander onbepaalde tyd plaas, en daardeur die eerste reëls skend wat ons as regsgeleerdes aangaande goeie pleidooie leer, dat ‘die verklaring tyd en plek moet gee’, gee die Bybelverslae met die grootste akkuraatheid vir ons die datum en plek van die dinge waarvan daar vertel word.”

Om hierdie punt te staaf, het Linton Lukas 3:1, 2 aangehaal. Daar het die Evangelieskrywer sewe amptenare opgenoem om die tyd te bepaal toe Jesus Christus sy bediening begin het. Kyk na die besonderhede wat Lukas in hierdie woorde verskaf het: “In die vyftiende jaar van die regering van keiser Tiberius, toe Pontius Pilatus goewerneur was van Judea en Herodes viervors van Galilea, en Filippus, sy broer, viervors van Iturea en die land Trachonitus, en Lisanias viervors van Abilene, tydens die hoëpriesterskap van Annas en Kajafas, het die woord van God gekom tot Johannes, die seun van Sagaria, in die woestyn.”

Die Bybel is vol soortgelyke besonderhede. Daarbenewens is sulke gedeeltes soos die Evangelies geskryf gedurende ’n tydperk van hoogs ontwikkelde Joodse, Griekse en Romeinse kultuur. Dit was ’n tyd van regsgeleerdes, skrywers, administrateurs en dies meer. As die besonderhede in die Evangelies en ander dele van die Bybel nie feitelik was nie, dan sou hulle dit ongetwyfeld as bedrog geopenbaar het. Maar sekulêre geskiedskrywers het punte soos die bestaan van Jesus Christus gestaaf. Die Romeinse geskiedskrywer Tacitus het byvoorbeeld oor Jesus en sy volgelinge geskryf: “Christus, aan wie die naam [Christene] ontleen is, is tydens die regering van Tiberius die doodstraf opgelê deur een van ons prokurators, Pontius Pilatus” (Annals, Boek XV, 44). Die Bybel se geskiedkundige akkuraatheid help om te bewys dat dit God se gawe aan die mensdom is.

Die grootste bewys

Hoewel argeologie, astronomie, geskiedenis en ander vakgebiede die Bybel staaf, berus geloof daarin nie op sulke bewyse nie. Onder die baie bewyse dat die Bybel God se geïnspireerde gawe aan ons is, is die grootste bewys daarvan die vervulling van sy profesieë.

Jehovah God is die Bron van ware profesie. Deur sy profeet Jesaja het hy gesê: “Kyk, die vorige dinge het gekom, en nuwe dinge verkondig Ek; voordat hulle uitspruit, laat Ek julle dit hoor” (Jesaja 42:9). Daarbenewens sê die Bybel dat sy skrywers deur God geïnspireer is deur middel van Sy heilige gees, of werkende krag. Die Christenapostel Paulus het byvoorbeeld geskryf: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer” (2 Timotheüs 3:16, NAV). Die apostel Petrus het geskryf: “Geen profesie van die Skrif [is] ’n saak van eie uitlegging . . . nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Petrus 1:20, 21). Kom ons kyk gevolglik na Bybelprofesieë.

Onder die honderde profesieë in die Bybel is dié aangaande die Assiriese hoofstad, Nineve, “die bloedstad” wat langer as 15 eeue in die hele eertydse Midde-Ooste vrees ingeboesem het (Nahum 3:1). Maar die Bybel het gedurende die hoogtepunt van Nineve se mag voorspel: “[God] sal . . . Nineve tot ’n verwoesting maak, dor soos die woestyn. En binne-in die stad sal troppe vee lê en allerhande gediertes by troppe, die pelikaan sowel as die krimpvarkie op sy kapitele vernag; hoor! daar word gesing in die venster; verwoesting sit op die drumpel, want hulle het die sederwerk afgeruk” (Sefanja 2:13, 14). Vandag vind besoekers slegs ’n grondhoop op die verlate terrein van eertydse Nineve. Daarbenewens wei troppe skape daar, net soos voorspel is.

In ’n gesig het God se profeet Daniël ’n ram met twee horings en ’n bokram met ’n groot horing tussen sy oë gesien. Die bokram het die ram omgestoot en sy twee horings gebreek. Daarna is die bokram se groot horing afgebreek, en vier horings het in die plek daarvan uitgekom (Daniël 8:1-8). Die engel Gabriël het verduidelik: “Die ram wat jy gesien het met die twee horings, is die konings van die Meders en die Perse. En die harige bok is die koning van Griekeland; en die groot horing wat tussen sy oë was, dit is die eerste koning. En dat dit gebreek is en vier in sy plek ontstaan het—vier koninkryke sal uit sy volk ontstaan, maar nie met sy krag nie” (Daniël 8: 20-22). Soos die geskiedenis bewys het, is die ram met die twee horings—die Medo-Persiese Ryk—deur “die koning van Griekeland” omvergewerp. Daardie figuurlike bokram het ’n “groot horing” gehad, wat Alexander die Grote afgebeeld het. Ná sy dood het sy vier generaals daardie “groot horing” vervang deur hulle mag in “vier koninkryke” te bevestig.

Talle profesieë in die Hebreeuse Geskrifte (“Ou Testament”) is al in verband met Jesus Christus vervul. Sommige van hierdie profesieë is op hom toegepas deur goddelik geïnspireerde skrywers van die Christelike Griekse Geskrifte (“Nuwe Testament”). Die Evangelieskrywer Mattheüs het byvoorbeeld daarop gewys dat Skriftuurlike profesieë vervul is deurdat Jesus uit ’n maagd gebore is, Hy ’n voorloper gehad het en Hy Jerusalem op die vul van ’n eselin binnegekom het. (Vergelyk Mattheüs 1:18-23; 3:1-3; 21:1-9 met Jesaja 7:14; 40:3; Sagaria 9:9.) Sulke vervulde profesieë help bewys dat die Bybel werklik God se geïnspireerde gawe is.

Die huidige vervulling van Bybelprofesieë bewys dat ons in “die laaste dae” lewe (2 Timotheüs 3:1-5). Oorloë, voedseltekorte, pessiektes en aardbewings van ongeëwenaarde afmetings is deel van “die teken” van Jesus se “teenwoordigheid” in Koninkryksmag. Daardie teken sluit ook die wêreldwye bedrywigheid van meer as viermiljoen Getuies van Jehovah in, wat die goeie nuus van die opgerigte Koninkryk verkondig (Mattheüs 24:3-14, vgl. NW; Lukas 21:10, 11). Bybelprofesieë wat tans vervul word, gee ons ook die versekering dat God se hemelse regering in die hande van Jesus Christus binnekort ’n nuwe wêreld van ewige geluk vir die gehoorsame mensdom tot stand gaan bring.—2 Petrus 3:13; Openbaring 21:1-5.

Die bygaande tabel “Bybelprofesieë wat reeds vervul is” toon net ’n paar van die honderde Bybelprofesieë wat genoem kan word. Die vervulling van sommige van hierdie profesieë is in die Skrif self opgeteken, maar profesieë wat vandag vervul word, is veral van belang.

Jy kan waarskynlik sekere wêreldwye verwikkelinge sien wat in die Bybel voorspel is. Maar waarom stel jy nie verder ondersoek in nie? Jehovah se Getuies sal met graagte meer besonderhede voorsien indien jy dit verlang. En mag jou opregte soeke na kennis van die Allerhoogste en sy voornemens jou daarvan oortuig dat die Bybel waarlik God se geïnspireerde gawe is.

[Tabel op bladsy 7]

BYBELPROFESIEË WAT REEDS VERVUL IS

PROFESIE VERVULLING

Genesis 49:10 Juda word die koninklike stam van Israel

(1 Kronieke 5:2; Hebreërs 7:14)

Sefanja 2:13, 14 Nineve omstreeks 632 v.G.J. vernietig

Jeremia 25:1-11; Jerusalem se verowering begin 70 jaar van

Jesaja 39:6 verlatenheid (2 Kronieke 36:17-21;

Jeremia 39:1-9)

Jesaja 13:1, 17-22; Kores verower Babilon; Jode keer terug na

44:24-28; hulle vaderland (2 Kronieke 36:20-23;

45:1, 2 Esra 1:1-4; 2:1)

Daniël 8:3-8, 20-22 Medo-Persië word deur Alexander die Grote

verower, en die Griekse Ryk verdeel

Jesaja 7:14; Miga 5:1 Jesus word in Betlehem uit ’n maagd gebore

(Mattheüs 1:18-23; 2:1-6)

Daniël 9:24-26 Jesus word as die Messias gesalf (29 G.J.)

(Lukas 3:1-3, 21-23)

Jesaja 9:1, 2 Jesus se verligtende bediening begin in

Galilea (Mattheüs 4:12-23)

Jesaja 53:4, 5, 12 Christus sterf as losprysoffer

(Mattheüs 20:28; 27:50)

Psalm 22:19 Die lot word oor Jesus se klere gewerp

(Johannes 19:23, 24)

Psalm 16:10; Opstanding van Christus op die derde dag

Mattheüs 12:40 (Markus 16:1-6; 1 Korinthiërs 15:3-8)

Lukas 19:41-44; Jerusalem se vernietiging deur die

21:20-24 Romeine (70 G.J.)

Lukas 21:10, 11; Ongeëwenaarde oorloë, hongersnode,

Mattheüs 24:3-13; aardbewings, pessiektes, wetteloosheid,

2 Timotheüs 3:1-5 ensovoorts kenmerk “die laaste dae”

Mattheüs 24:14; Wêreldwye bekendmaking deur Jehovah se

Jesaja 43:10, NW; Getuies dat God se Koninkryk opgerig

Psalm 2:1-9 is en binnekort alle teenstanders gaan

vernietig

Mattheüs 24:21-34; Internasionale gesin van Jehovah se

Openbaring 7:9-17 Getuies aanbid God en berei hulle voor

om “die groot verdrukking” te oorleef

[Prent op bladsy 8]

Oorloë, hongersnode, pessiektes en aardbewings rig vandag groot skade aan, maar ’n nuwe wêreld van vrede en geluk is op hande

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel