Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 6/1 bl. 5-8
  • Hoe geloof die siekes kan help

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe geloof die siekes kan help
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Kan geloof ons help wanneer ons siek word?
  • Wat van geloofsgenesing?
  • Die tyd van ware genesing
  • Die wonderdadige genesing van die mensdom is op hande
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Keur God geloofsgenesing goed?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Genesing
    Redenering uit die Skrif
  • ‘Wonderdadige genesings’ vandag—Kom dit van God af?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 6/1 bl. 5-8

Hoe geloof die siekes kan help

DIE verslae van wonderdadige genesings in die Bybel gee ons die versekering dat God oor ons welsyn besorg is, en hulle toon dat hy die mag het om mense te genees. Aangesien hierdie wonderdadige genesings God verheerlik het en soveel vreugde gebring het, is dit redelik om te vra: Bestaan die gawe van genesing deur die heilige gees nog?

Die antwoord op daardie vraag is nee—en die rede sal sommige dalk verbaas. Daardie wonderdadige genesings in die eerste eeu het aan hulle doel beantwoord. The Illustrated Bible Dictionary sê tereg: “Die doel van die genesingswonderwerke was teologies, nie medies nie.” Wat was sommige van die teologiese doelwitte waaraan daardie wonderwerke beantwoord het?

Ten eerste het Jesus se genesingswonderwerke hom as die Messias geïdentifiseer. En na sy dood het hulle gehelp om te toon dat God se seën op die nuwe Christengemeente gerus het (Mattheüs 11:2-6; Hebreërs 2:3, 4). Daarbenewens het hulle getoon dat God se belofte om die mensdom in die nuwe wêreld te genees, vervul sal word. Hulle bevestig ons geloof dat die tyd werklik sal kom wanneer “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie; aan die mense wat daarin woon, is die skuld vergewe” (Jesaja 33:24). Toe hierdie eerste-eeuse doelwitte bereik is, was wonderwerke nie meer nodig nie.

Dit is opmerkenswaardig dat Jesus se eerste-eeuse dissipels self kwale gehad het wat nie op wonderdadige wyse genees is nie. Dit is verdere bewys dat die genesingswonderwerke wat Jesus en die apostels verrig het daarop gemik was om belangrike waarhede te leer, nie om ’n mediese diens te lewer nie. Toe Paulus behandeling vir Timotheüs se herhaalde ongesteldhede aan die hand gedoen het, het hy aanbeveel dat Timotheüs wyn as medisyne gebruik, nie dat hy hom tot geloofsgenesing wend nie. Paulus, wat genesingswonderwerke verrig het, het geen verligting gekry van die “doring in die vlees” wat hom aanhou “slaan” het nie.—2 Korinthiërs 12:7; 1 Timotheüs 5:23.

Toe die apostels gesterf het, het die gawe van genesing opgehou. Paulus het self getoon dat dit sou gebeur. Paulus het die Christengemeente met ’n kind vergelyk en gesê: “Toe ek ’n kind was, het ek gepraat soos ’n kind, gedink soos ’n kind, geredeneer soos ’n kind; maar nou dat ek ’n man is, het ek die dinge van ’n kind afgelê.” Sy illustrasie lig toe dat wonderdadige gawes van die gees deel van die Christengemeente was toe dit nog in sy kinderskoene gestaan het. Hulle was “die dinge van ’n kind”. Gevolglik het hy gesê: “Hulle [wonderdadige gawes] sal tot niet gaan.”—1 Korinthiërs 13:8-11.

Kan geloof ons help wanneer ons siek word?

Maar al vertrou ons nie op geloofsgenesing nie is dit beslis gepas om tot God om hulp te bid wanneer ons siek word. En daar is ongetwyfeld niks daarmee verkeerd wanneer ander vir ons bid nie. Maar die gebede moet realisties en in ooreenstemming met God se wil wees (1 Johannes 5:14, 15). Die Bybel beveel ons nêrens om te bid om geloofsgenesing nie.a Ons bid eerder om Jehovah se liefdevolle ondersteuning gedurende die beproewings wat deur siekte meegebring word.

Die Bybel toon waarvoor getroue persone kan bid wanneer hulle siek is, wanneer dit sê: “Die HERE sal hom ondersteun op die siekbed; sy hele slaapplek verander as hy krank is” (Psalm 41:4). Bepeinsing oor God se Woord sal diegene help wat emosioneel siek is. Die psalmis het geskryf: “U liefderyke goedhartigheid, o Jehovah, het my bly onderskraag. Toe my verontrustende gedagtes baie binne-in my geword het, was dit u vertroostinge wat my siel begin streel het.”—Psalm 94:18, 19, NW; sien ook 63:7-9.

Daarbenewens moet ons goeie oordeel aan die dag lê in gesondheidsake, en die Bybel gee vir ons raad hieroor. Dit is baie beter om volgens Bybelbeginsels te lewe as om dwelms te gebruik, te rook, straf te drink of te veel te eet en jou dan uit desperaatheid tot geloofsgenesing te wend wanneer jy siek word. Om vir ’n wonderwerk te bid wanneer jy siek word, is nie ’n plaasvervanger vir ’n verstandige lewenswyse om vermydelike siektes vry te spring nie, soos om voedsame voedsel te eet indien dit beskikbaar is of gekwalifiseerde mediese hulp te soek waar moontlik.

God se Woord moedig ons ook aan om ’n gesonde gesindheid aan te kweek wat ons fisiese gesondheid kan bevoordeel. Die boek Spreuke maan ons: “’n Rustige hart is die lewe vir die vlees, maar hartstog ’n verrotting vir die gebeente.” “’n Vrolike hart bevorder die genesing, maar ’n verslae gees laat die gebeente uitdroog” (Spreuke 14:30; 17:22). As ons om heilige gees bid sodat ons kalmte en vreugde kan aankweek, kan dit net ’n voordelige uitwerking op ons fisiese gesondheid hê.—Filippense 4:6, 7.

Wat van geloofsgenesing?

Selfs al lewe iemand so ’n gesonde lewe as wat sy situasie toelaat, kan hy vanselfsprekend nog siek word. Wat dan? Kan dit enige kwaad doen om na ’n geloofsgeneser te gaan in die hoop dat hy jou sal genees? Ja, dit kan. Hedendaagse geloofsgenesers lewer selde hulle dienste gratis. En om geld op ’n geloofsgeneser uit te gee wat eerder vir mediese hulp gebruik kon word, kan ons duur te staan kom. Bowendien, waarom sal ’n mens geld gee aan individue wat mense se liggelowigheid uitbuit?

Sommige redeneer dalk: ‘Geloofsgenesing moet ongetwyfeld ’n bietjie waarde hê, selfs al word net ’n klein persentasie genees van diegene wat hulle tot die “genesers” wend.’ Maar dit is betwisbaar of geloofsgenesers werklik enigiemand permanent genees. Die Encyclopædia Britannica erken: “Betreklik min gekontroleerde navorsing is al gedoen oor die talle onbekende faktore in verband met geloofsgenesing.”

Selfs al is ’n paar mense oënskynlik genees, is dit nie ’n bewys van die heilige gees se werking nie. In die Bergpredikasie het Jesus gesê: “Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte [“kragtige werke”, NW] gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” (Mattheüs 7:22, 23). Jesus het ook gesê dat sekere mense, hoewel hulle nie God se goedkeuring wegdra nie, die aandag op hulleself sou vestig deur tekens: “Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Mattheüs 24:24). Hierdie woorde kan ongetwyfeld op hedendaagse geloofsgenesers, met hulle dramatiese vertonings, voortdurende eise vir geld en beweerde wonderdadige genesings, toegepas word.

Sulke mense volg nie in Jesus se voetstappe nie. Wie volg hulle dan? Die apostel Paulus gee ons ’n aanduiding wanneer hy sê: “Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korinthiërs 11:14, 15). As geloofsgenesers mense nie genees soos hulle beweer nie, dan is hulle bedrieërs en volg derhalwe die weg van Satan, “wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Maar sê nou hulle genees wel mense, al is dit betreklik min? Word hulle “kragtige werke” nie dan in die mag van Satan en sy demone gedoen nie? Ja, dit moet die geval wees!

Die tyd van ware genesing

Die wonderdadige genesings van Jesus is met behulp van God se heilige gees gedoen. Hulle het getoon dat dit God se voorneme is om die mens se gesondheidsprobleme op sy vasgestelde tyd op te los. Jehovah belowe “die . . . genesing van die nasies” (Openbaring 22:2). En hy gaan nie net siektes genees nie, maar ook die dood wegneem. Johannes verduidelik dat Jesus gekom het “sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Wat ’n wonderlike genesing sal dit tog wees! Jesus sal weer genesings verrig soos dié wat in die Bybel opgeteken is, maar op ’n baie groter skaal. Hy sal selfs die dode opwek! (Johannes 5:28, 29). Wanneer sal dit gebeur?

In God se nuwe wêreld wat, volgens al die bewyse, op hande is. Daardie nuwe wêreld, wat ingelei gaan word nadat die goddeloosheid van hierdie stelsel van dinge vir ewig verwyder is, sal ’n ware seën vir die regskape mensdom wees. Dit sal ’n wêreld sonder lyding wees. “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Wat ’n kontras is dit nie met wat ons vandag om ons sien nie!

Bid derhalwe in geval van siekte tot God om ondersteuning. En hetsy jy siek of gesond is, leer hoe ewige lewe sonder siekte inderdaad moontlik gaan wees. Bou jou geloof op in hierdie betroubare belofte van God deur die baie verwysings daarna in die Bybel te bestudeer. Leer hoe die vervulling van God se voorneme in hierdie verband volgens sy eie tydrooster nader kom. Moenie twyfel nie, want God se Woord verseker ons: “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee.”—Jesaja 25:8.

[Voetnoot]

a Sommige dink dat die woorde in Jakobus 5:14, 15 op geloofsgenesing van toepassing is. Maar die konteks toon dat Jakobus hier van geestelike siekte praat (Jakobus 5:15b, 16, 19, 20). Hy raai individue wie se geloof swak geword het aan om die ouere manne om hulp te nader.

[Prent op bladsy 7]

Jesus se wonderdadige genesings het aan hulle doel beantwoord

[Prent op bladsy 8]

Jesus sal genesingswonderwerke herhaal en dit op ’n baie groter skaal doen

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel