‘Wonderdadige genesings’ vandag—Kom dit van God af?
IN SEKERE lande is dit algemeen om te sien dat pelgrims heiligdomme besoek waar baie mense beweer dat hulle van “ongeneeslike” kwale en siektes genees is. In ander lande beweer toordokters dat hulle mense deur middel van bonatuurlike krag genees. Op nog ander plekke word emosionele godsdienssaamtrekke gehou waar siek mense dalk uit hulle rolstoele opspring of hulle krukke weggooi en sê dat hulle genees is.
Diegene wat sulke genesings verrig, behoort meestal aan verskillende godsdienste en beskuldig mekaar dikwels daarvan dat hulle afvallig, vals of heidens is. Die vraag kan dus gevra word: Verrig God wonderwerke deur ’n menigte, dikwels onversoenbare, kanale? Die Bybel sê immers: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Korintiërs 14:33). Kom sulke ‘wonderdadige genesings’ dus werklik van God af? Sommige genesers beweer dat hulle mense deur die krag van Jesus genees. Kom ons kyk hoe Jesus mense genees het.
Hoe Jesus mense genees het
Jesus het die siekes genees op maniere wat baie anders is as dié van hedendaagse genesers. Jesus het byvoorbeeld almal genees wat na hom toe gekom het vir hulp. Hy het nie net sekere mense uit ’n skare uitgesonder om genees te word en die ander dan weggestuur sonder dat hulle genees is nie. Jesus het mense ook volkome en byna altyd oombliklik genees. Die Bybel sê: “Die hele skare het aan hom probeer raak, want krag het van hom uitgegaan en hulle almal gesond gemaak.”—Lukas 6:19.
In teenstelling met hedendaagse geloofsgenesers, wat dikwels die siek persoon van ’n gebrek aan geloof beskuldig wanneer hy nie genees is nie, het Jesus selfs party genees wat nog nie in hom geloof gestel het nie. Jesus het byvoorbeeld eenkeer ’n blinde man sonder uitnodiging genader en hom genees. Later het Jesus hom gevra: “Stel jy geloof in die Seun van die mens?” Die man het geantwoord: “Wie is hy, Meneer, sodat ek geloof in hom kan stel?” Jesus het vir hom gesê: “Dit [is] hy wat met jou praat.”—Johannes 9:1-7, 35-38.
Jy wonder dalk: ‘As geloof nie ’n voorvereiste was om deur Jesus genees te word nie, waarom het Jesus dan dikwels vir dié wat hy genees het, gesê: “Jou geloof het jou gesond gemaak”?’ (Lukas 8:48; 17:19; 18:42). Deur dít te sê, het Jesus getoon dat dié wat deur geloof beweeg is om na hom te soek, genees is, terwyl dié wat hom nie genader het nie, hulle kans om genees te word, verbeur het. Diegene wat genees is, is nie deur hulle geloof genees nie, maar deur God se krag. Die Bybel sê van Jesus: “God [het] hom met heilige gees en krag gesalf . . . , en hy het deur die land gegaan en goed gedoen en almal gesond gemaak wat deur die Duiwel onderdruk is; want God was met hom.”—Handelinge 10:38.
Oor die algemeen speel geld blykbaar ’n belangrike rol in hedendaagse “genesings”. Geloofsgenesers is bekend daarvoor dat hulle uitstekende fondsinsamelaars is. Een van hierdie genesers het na bewering in een jaar R684 miljoen deur sy wêreldwye bedrywighede ingesamel. Kerkorganisasies trek ook voordeel uit die pelgrims wat die heiligdomme besoek in die hoop op ’n genesing. In teenstelling hiermee het Jesus mense nooit geld gevra om hulle te genees nie. By een geleentheid het hy selfs vir hulle kos voorsien (Matteus 15:30-38). Toe Jesus sy dissipels uitgestuur het om te preek, het hy vir hulle gesê: “Genees siekes, wek dooies op, maak melaatses rein, dryf demone uit. Julle het verniet ontvang, verniet moet julle gee” (Matteus 10:8). Waarom is die gebruike van die hedendaagse genesers so anders as dié van Jesus?
“Genesing” uit watter bron?
Deur die jare heen het party in die mediese beroep die bewerings van die godsdiensgenesers ondersoek. Wat het hulle gevind? Volgens die Daily Telegraph van Londen het ’n dokter in Engeland, wat 20 jaar bestee het aan die ondersoek van hierdie onderwerp, gesê: “Charismatiese verslae van wonderdadige genesings word nie deur ’n enkele mediese bewys gestaaf nie.” Nogtans glo baie mense opreg dat hulle deur die krag van relieke, heiligdomme of geloofsgenesers genees is. Was hulle dalk slagoffers van bedrog?
Jesus het in sy beroemde Bergpredikasie gesê dat godsdiensbedrieërs vir hom sou sê: “Here, Here, het ons nie . . . in u naam talle kragtige werke verrig nie?” Tog sou hy antwoord: “Ek het julle nooit geken nie! Gaan weg van my af, julle werkers van wetteloosheid” (Matteus 7:22, 23). Die apostel Paulus het gewaarsku aangaande die bron van die krag wat sulke mense beweer dat hulle het: “Die wettelose se teenwoordigheid is volgens die werking van Satan met allerhande kragtige werke en leuenagtige tekens en voortekens en met allerhande onregverdige bedrog.”—2 Tessalonisense 2:9, 10.
Verder kan “genesings” waarby godsdienstige relieke, afgode en beelde betrokke is, nie hulle oorsprong by God hê nie. Waarom nie? Omdat God se Woord duidelik beveel: “Vlug vir die afgodediens”, en “Bewaar julle van afgode” (1 Korintiërs 10:14; 1 Johannes 5:21). Sulke “genesings” is deel van die Duiwel se listige streke om mense van ware aanbidding af weg te rokkel. Die Bybel sê: “Satan self hou aan om hom in ’n engel van lig te verander.”—2 Korintiërs 11:14.
Waarom Jesus en die apostels mense genees het
Die werklike wonderdadige genesings wat in die Christelike Griekse Geskrifte opgeteken is, het duidelik getoon dat Jesus en die apostels God se goedkeuring geniet het (Johannes 3:2; Hebreërs 2:3, 4). Jesus se wonderdadige genesings het ook die boodskap wat hy verkondig het, ondersteun: “Hy [het] deur die hele Galilea rondgegaan en in hulle sinagoges geleer en die goeie nuus van die koninkryk verkondig en elke soort kwaal . . . genees” (Matteus 4:23). Jesus se kragtige werke—wat nie net ingesluit het dat hy die siekes genees het nie, maar ook die skares gevoed, die elemente beheer en selfs die dooies opgewek het—het getoon wat hy vir gehoorsame mense onder sy Koninkryksheerskappy sal doen. Voorwaar goeie nuus!
Hierdie kragtige werke, of wonderdadige gawes van die gees, het klaarblyklik opgehou met die dood van Jesus en die apostels en enige van dié aan wie hulle die gawes gegee het. Die apostel Paulus het geskryf: “Of daar nou gawes van profesie is—hulle sal weggedoen word; of daar nou [wonderdadige] tale is—hulle sal ophou; of daar nou [goddelik geopenbaarde] kennis is—dit sal weggedoen word” (1 Korintiërs 13:8). Waarom? Sulke kragtige werke, insluitende genesing, is nie meer nodig nie; hulle is “weggedoen”, want hulle het hulle doel bereik—om Jesus as die beloofde Messias te identifiseer en om te toon dat die Christengemeente God se guns geniet.
Jesus se wonderdadige genesings het nogtans ’n belangrike boodskap vir ons vandag. As ons aandag skenk aan wat Jesus oor die Koninkryk van God geleer het en geloof daarin beoefen, kan ons uitsien na die tyd wanneer dié geïnspireerde profesie ’n geestelike sowel as ’n fisiese vervulling sal hê: “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie.”—Jesaja 33:24; 35:5, 6; Openbaring 21:4.