Hoop oorwin wanhoop!
IN Webster’s Ninth New Collegiate Dictionary word wanhoop omskryf as die “algehele verlies van hoop”. Dit is dus duidelik dat ons hoop nodig het om wanhoop te oorwin!
’n Ongelukkige persoon wat deur omstandighede gedwing is om op ’n sypaadjie te woon, sal nie heeltemal wanhopig raak as hy hoop het nie. Hoop kan selfs diegene wat aan kliniese depressie ly die moed en krag gee om te volhard. Maar die hoop moet betroubaar wees! Wat beteken dit?
Die basis vir hoop
Kyk wat het met Sarah, die vrou van die patriarg Abraham, gebeur. Sy was byna 90 jaar oud; sy was steeds onvrugbaar en het lankal alle hoop opgegee om ooit ’n kind te hê. Maar toe haar man 99 jaar oud was, het Jehovah ’n belofte herhaal wat hy jare vantevore gemaak het—Abraham sou waarlik ’n “saad”, of erfgenaam, hê. Abraham het geweet dat dit ’n betroubare belofte was. Stel jou voor hoe gelukkig Sarah moes gewees het toe hierdie vreugdevolle gebeurtenis op wonderdadige wyse plaasgevind het en sy aan Isak geboorte gegee het! (Genesis 12:2, 3; 17:1-4, 19, vgl. NW; 21:2). Abraham se vertroue in God was nie misplaas nie, soos die apostel Paulus verduidelik het: “[Abraham] het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee.”—Romeine 4:20.
Waar Paulus aan Jode geskryf het wat in sy dag Christene geword het, het hy gesê dat hulle om twee goeie redes op God se belofte vir redding deur Jesus kon vertrou. Nadat die apostel na God se belofte aan Abraham en Sy gepaardgaande goddelike eed verwys het, het hy geredeneer: “Mense sweer by een wat meer is, en die eed van bevestiging is vir hulle die einde van alle teëspraak [“aangesien dit ’n wetlike waarborg vir hulle is”, NW]. Daarom het God, omdat Hy nog kragtiger aan die erfgename van die belofte die onveranderlikheid van sy raad wou toon, dit met ’n eed gewaarborg; sodat ons deur twee onveranderlike dinge, waarin dit onmoontlik is dat God sou lieg, kragtige bemoediging kan hê, ons wat ontvlug het, om vas te hou aan die hoop wat voorlê” (Hebreërs 6:16-18). Ja, God se beloftes is waar en betroubaar. Jehovah is almagtig en kan op unieke wyse die vervulling van sy woord waarborg.
Hoop—“seker en vas”
Paulus het geskryf dat die Christelike hoop “seker en vas” is (Hebreërs 6:19, NW). Paulus het geweet waarop sy hoop gebaseer was. Hy verduidelik: “Dit [die hoop] gaan in tot binnekant die voorhangsel.” Wat beteken dit? Paulus het ongetwyfeld na die eertydse tempel in Jerusalem verwys. In die tempel was ’n Allerheiligste wat deur ’n voorhangsel van die res van die gebou geskei is (Exodus 26:31, 33; Mattheüs 27:51). Die letterlike tempel in Jerusalem is natuurlik sedertdien al lankal vernietig. Waarmee stem hierdie Allerheiligste dus vandag ooreen?
Met die hemel self, waar God op sy troon sit! Paulus het dit verduidelik toe hy gesê het dat Jesus na sy hemelvaart “nie ingegaan [het] in ’n heiligdom met hande gemaak [in die tempel in Jerusalem], ’n teëbeeld van die ware nie, maar in die hemel self om nou voor die aangesig van God vir ons te verskyn” (Hebreërs 9:24). Die Christelike hoop, wat ons help om teen wanhoop te stry, hang dus nie af van mensepolitici nie, maar van ’n hemelse reëling. Dit hang af van die Een wat deur God aangestel is, Jesus Christus, wat sy lewe as ’n losprys vir ons sondes gegee het en wat nou ten behoewe van ons voor God verskyn (1 Johannes 2:1, 2). Hierdie selfde Jesus is ook, soos dit al dikwels in die bladsye van hierdie tydskrif getoon is, die een wat deur God aangestel is om as Koning van God se hemelse Koninkryk te regeer, en hy doen dit reeds sedert 1914. Hierdie hemelse Koninkryk sal binnekort die dinge verwyder wat so baie mense tot wanhoop dryf.
Hoop—“’n anker vir die siel”
Paulus het ’n analogie gebruik om sy lesers daarvan te oortuig dat hulle hoop op redding deur Jesus gegrond is. Hy het verduidelik: “Hierdie hoop het ons as ’n anker vir die siel.”—Hebreërs 6:19, NW.
Ankers is iets wat reisigers soos Paulus goed geken het. Eertydse ankers het baie soos hedendaagse ankers gelyk en is dikwels van yster gemaak met twee tandagtige punte om aan die seebodem te haak. Onderweg na Rome, ongeveer die jaar 58 G.J., het die gevaar ontstaan dat Paulus se skip kon strand. Maar toe die skip in vlakker water kom, het die matrose “van die agterskip vier ankers uitgegooi”. Danksy daardie ankers het die skip veilig deur die storm gekom.—Handelinge 27:29, 39, 40, 44.
Wat moet jy dus doen om jou hoop so vas soos ’n anker te maak sodat jy veilig kan kom deur ekonomiese probleme, fisiese of emosionele siekte of watter ander “storms” jy ook al kan teëkom? Ten eerste, vergewis jou daarvan dat die Bybel se beloftes betroubaar is. “Vergewis julle van alles” (1 Thessalonicense 5:21, NW). Wanneer Jehovah se Getuies byvoorbeeld weer met jou praat, luister na wat hulle sê. As hulle die omgewing waar jy woon nie gereeld besoek nie, gaan soek hulle op by die naaste Koninkryksaal. Hulle sal jou nie probeer dwing om by hulle aan te sluit nie, maar sal jou nooi om ’n gratis Bybelstudiekursus te aanvaar, wat gehou kan word op die plek en tyd wat jou pas.
So ’n studie sal jou oortuig dat God “’n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Jy sal leer dat God se Koninkryk in die hande van die Koning, Christus Jesus, binnekort die korrupsie en onregverdigheid sal verwyder wat vandag soveel mense wanhopig maak. Onder daardie Koninkryk sal hierdie aarde tot ’n paradys herstel word, en God sal die ewige lewe gee aan diegene wat hom liefhet (Psalm 37:29; Openbaring 21:4). Wat ’n wonderlike hoop!
Lees die Bybel noukeurig sodat jy kan sien dat hierdie hoop waar is. Lê jou dan daarop toe om ’n hegte persoonlike verhouding met God op te bou sodat jy net soos Abraham sy vriend kan word (Jakobus 2:23). Vertel Jehovah van al jou bekommernisse, aangesien hy die “Hoorder van die gebed” is. Wanneer jy Jehovah in opregtheid nader, sal jou gebed jou help om van jou laste ontslae te raak en jou wanhoop te oorwin. God se gees kan selfs ’n weg open om die situasie wat jou wanhopig maak te verander.—Psalm 55:23; 65:3; 1 Johannes 5:14, 15.
“Hou vas”!
Nadat Paulus sy mededissipels aangeraai het om ‘hulle van alles te vergewis’, het hy bygevoeg: “Hou vas aan dit wat voortreflik is” (1 Thessalonicense 5:21, NW). Een manier om dit te doen is om met mense om te gaan wat ook aan die Christelike hoop vashou. Wyse koning Salomo het gewaarsku: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Moenie toelaat dat vooroordeel of ’n minderwaardigheidsgevoel jou verhinder om goeie omgang te soek nie. Daar is byvoorbeeld mense onder Jehovah se Getuies wat in die verlede sonder hoop was. Maar hulle studie van die Bybel, saam met die vreugdevolle omgang van medegelowiges, versterk hulle verhouding met Jehovah en voorsien hulle van ’n betroubare, ankeragtige hoop. Oorwin dit werklik wanhoop? Inderdaad.
Neem die geval van Annmarie wat tot wanhoop gedryf is omdat haar man haar wreed mishandel het. “Ek het besluit om ’n einde aan my lewe te maak”, verduidelik sy, “maar om die een of ander rede het ek besluit om eers tot God te bid. Ek onthou dat ek gesê het: ‘Waarom kan u my nie help nie? Ek hoop al so lank op u, maar tevergeefs.’ Ek het my gebed afgesluit terwyl ek gedink het dat die lewe geen sin het nie en dat ek dus maar net sowel dood kan wees. Op daardie oomblik was daar ’n klop aan die deur. Ek het besluit om dit te ignoreer in die hoop dat wie ook al daar was uiteindelik sou weggaan.
“Die geklop het aangehou, en ek het my vererg. Ek het my trane afgevee en gaan kyk wie by die deur was, terwyl ek gehoop het om gou van hulle ontslae te raak sodat ek kon doen wat ek van plan was om te doen. Maar”, sê Annmarie, “danksy Jehovah het dit nie so gebeur nie, want toe ek die deur oopmaak, het daar twee vroue gestaan. Ek was weliswaar baie verward, en ek het nie werklik verstaan wat hulle gesê het nie. Maar hulle het ’n boek vir my aangebied wat sou verduidelik dat die lewe ’n doel het. Dit was net wat ek nodig gehad het om my weer belangstelling in die lewe te gee.” Haar besoekers het gereël om ’n gereelde Bybelstudie met haar te hou. Annmarie het geleer om ’n vriend van God te word. Dít het haar ’n doel in die lewe gegee. Nou help sy ander om vertroue in God op te bou.
Miskien het jy al gehoop dat wanhoop sal eindig sonder om te besef wat alles daarby betrokke is. Maar as jy al ooit gebid het: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde”, dan het jy gebid vir God se Koninkryk in die hande van Jesus Christus om te kom, wat dié dinge sal vernietig wat regskape mense tot wanhoop dryf (Mattheüs 6:10). Jou persoonlike studie van die Bybel en gereelde omgang met ander wat daardie selfde vertroue het, sal jou greep verstewig op die hoop dat Jehovah se Koninkryk gaan kom en die aarde in ’n Paradys gaan omskep (1 Timotheüs 6:12, 19). Dit is die wonderlike hoop wat hierdie tydskrif in elke nommer verkondig. Gryp die hoop heelhartig aan sodat jy teen wanhoop kan veg. Hoop ‘beskaam inderdaad nie’.—Romeine 5:5.
[Prent op bladsy 7]
’n Studie van die Bybel gee ons ’n hoop wat “’n anker vir die siel” is