Jehovah, die onpartydige “Regter van die ganse aarde”
“Die Vader . . . oordeel onpartydig volgens elkeen se werk.”—1 PETRUS 1:17, NW.
1, 2. (a) Waarom moet die gedagte dat Jehovah die groot Regter is ons met vrees vervul en ons tegelykertyd vertroos? (b) Watter rol speel Jehovah se aardse knegte in sy regsaak met die nasies?
JEHOVAH is die groot “Regter van die ganse aarde” (Genesis 18:25). As die allerhoogste God van die heelal het hy die volste reg om sy skepsele te oordeel. Dit is tegelykertyd ’n vreesinboesemende en ’n vertroostende gedagte. Moses het hierdie oënskynlike teenstrydigheid op ’n roerende wyse beskryf, en gesê: “Jehovah, jou God, is die God van die gode en die Heer van die here, die grote, magtige en vreesinboesemende God, wat niemand partydig behandel en geen omkoopgeskenk aanneem nie, wat aan die vaderlose seun en die weduwee reg verskaf en die inwonende vreemdeling liefhet, sodat hy hom brood en ’n mantel gee.”—Deuteronomium 10:17, 18, NW.
2 Wat ’n treffende balans is dit tog nie! ’n God wat groot, magtig en vreesinboesemend is, tog beskerm hy onpartydig en liefdevol die belange van wese, weduwees en vreemdelinge. Wie kan ’n liefdevoller Regter as Jehovah verlang? Jehovah beskryf hoe hy ’n regsaak teen die nasies van Satan se wêreld het, en hy doen ’n beroep op sy knegte op aarde om sy getuies te wees (Jesaja 34:8; 43:9-12). Hy maak nie op hulle getuienis staat om sy godheid en regmatige soewereiniteit te bewys nie. Maar hy gee sy getuies die buitengewone voorreg om voor die hele mensdom te getuig dat hulle sy oppermag erken. Sy getuies onderwerp hulle self aan sy regverdige soewereiniteit, en hulle beweeg ander deur hulle openbare bediening om hulle onder die gesag van die oppermagtige Regter te plaas.
Die wyse waarop Jehovah oordeel
3. Hoe kan die wyse waarop Jehovah oordeel, opgesom word, en hoe is dit in Adam en Eva se geval toegelig?
3 Gedurende die vroeë geskiedenis van die mensdom het Jehovah sekere oortreders persoonlik geoordeel. Die wyse waarop hy regterlike sake behartig het, het die voorbeeld gestel vir dié van sy knegte wat later daarvoor verantwoordelik sou wees om geregtelike prosedures onder sy volk te behartig (Psalm 77:12, 13). Die wyse waarop hy oordeel, kan soos volg opgesom word: ferm waar nodig, barmhartigheid waar moontlik. In Adam en Eva se geval het hulle geen genade verdien nie omdat hulle volmaakte menseskepsele was wat opsetlik in opstand gekom het. Jehovah het hulle gevolglik ter dood veroordeel. Maar hy het barmhartigheid teenoor hulle nageslag betoon. Jehovah het die voltrekking van die doodsvonnis uitgestel sodat Adam en Eva kinders kon hê. Hy het liefdevol voorsiening gemaak dat hulle nageslag die hoop op verlossing van slawerny aan sonde en die dood kon hê.—Genesis 3:15; Romeine 8:20, 21.
4. Hoe het Jehovah teenoor Kain opgetree, en waarom is hierdie geval veral van belang?
4 Die wyse waarop Jehovah teenoor Kain opgetree het, is van besondere belang omdat dit die eerste opgetekende geval is waarby een van Adam en Eva se onvolmaakte nakomelinge, wat ‘onder sonde verkoop’ is, betrokke was (Romeine 7:14). Het Jehovah dit in aanmerking geneem en anders teenoor Kain opgetree as wat Hy teenoor sy ouers opgetree het? En kan Christenopsieners vandag uit hierdie geval ’n les leer? Kom ons kyk. Jehovah het gesien dat Kain ’n verkeerde houding ingeneem het toe sy offer nie aangeneem is nie, en Hy het hom liefdevol gewaarsku teen die gevaar waarin hy verkeer het. ’n Bekende spreuk sê: ‘Voorsorg voorkom nasorg.’ Jehovah het gedoen wat hy kon deur Kain te waarsku dat sy sondige neiging die oorhand oor hom sou kry as hy nie versigtig was nie. Hy het hom probeer help ‘om goed te doen’ (Genesis 4:5-7). Dit is die eerste keer dat God ’n beroep op ’n sondige mens gedoen het om tot inkeer te kom. Nadat Kain blyk gelewer het van ’n onberouvolle gesindheid en sy wandaad gepleeg het, het Jehovah hom verban, maar hy het hierdie vonnis versag met ’n bevel dat niemand hom mag doodmaak nie.—Genesis 4:8-15.
5, 6. (a) Hoe het Jehovah opgetree teenoor die geslag wat voor die Vloed geleef het? (b) Wat het Jehovah gedoen voordat hy oordeel aan die inwoners van Sodom en Gomorra voltrek het?
5 Voor die Vloed, toe ‘Jehovah sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was, was daar smart in sy hart’ (Genesis 6:5, 6). Hy het “berou” gehad, aangesien hy spyt was dat die meerderheid van die geslag wat voor die Vloed geleef het hulle wilsvryheid misbruik het en dat hy oordeel aan hulle moes voltrek. Tog het hy hulle voldoende waarskuwing gegee deur Noag jare lank as ’n “prediker van geregtigheid” te gebruik. Daarna het Jehovah geen rede gehad om ‘die wêreld van goddelose mense te spaar nie’.—2 Petrus 2:5.
6 Jehovah was eweneens verplig om ’n regsaak teen die verdorwe inwoners van Sodom en Gomorra aanhangig te maak. Maar let op hoe hy te werk gegaan het. Hy het ’n “klaaguitroep” oor die skokkende gedrag van hierdie mense gehoor, ofskoon dit slegs deur die gebede van regverdige Lot was (Genesis 18:20, NW; 2 Petrus 2:7, 8). Maar voordat hy opgetree het, het hy deur middel van sy engele “neergedaal” om hom van die feite te vergewis (Genesis 18:21, 22; 19:1). Hy het ook die moeite gedoen om Abraham te verseker dat hy nie onregverdig sou optree nie.—Genesis 18:23-32.
7. Watter lesse kan ouere manne wat op regterlike komitees dien, leer uit voorbeelde van hoe Jehovah oordeel?
7 Wat kan ouere manne vandag uit hierdie voorbeelde leer? In Adam en Eva se geval het Jehovah liefde en besorgdheid betoon teenoor diegene wat, hoewel hulle aan die skuldiges verwant was, nie in dié geval daarvoor verantwoordelik gehou kon word nie. Hy het barmhartigheid aan Adam en Eva se nakomelinge betoon. In Kain se geval het Jehovah die gevaar voorsien waarin Kain hom bevind het, en hy het op goedhartige wyse met hom geredeneer om te probeer keer dat hy sondig. Selfs nadat Jehovah hom verban het, was hy besorg oor Kain. Verder het Jehovah sy oordeel aan die geslag wat voor die Vloed geleef het, voltrek eers nadat hy groot lydsaamheid aan die dag gelê het. Toe Jehovah die mens se halsstarrige goddeloosheid moes aanskou, het hy “smart in sy hart” gevoel. Hy het die feit betreur dat die mens teen sy regverdige heerskappy in opstand gekom het en dat hy ’n ongunstige oordeel aan hulle moes voltrek. (Genesis 6:6; vergelyk Esegiël 18:31; 2 Petrus 3:9.) In die geval van Sodom en Gomorra het Jehovah opgetree eers nadat hy hom van die feite vergewis het. Watter uitstekende voorbeelde is dit tog vir diegene wat vandag regterlike sake moet behartig!
Menseregters in patriargale tye
8. Watter basiese wette van Jehovah was in patriargale tye bekend?
8 Hoewel daar klaarblyklik op daardie tydstip geen geskrewe wetboek was nie, het die patriargale gemeenskap Jehovah se basiese wette geken, en sy knegte was onder verpligting om hulle na te kom. (Vergelyk Genesis 26:5.) Die gebeure in Eden het getoon dat gehoorsaamheid en onderdanigheid aan Jehovah se soewereiniteit noodsaaklik is. In Kain se geval het Jehovah getoon dat hy moord veroordeel. God het die mensdom onmiddellik ná die Vloed wette gegee oor die onskendbaarheid van die lewe, moord, die doodstraf en die eet van bloed (Genesis 9:3-6). Jehovah het owerspel streng veroordeel tydens die voorval waarby Abraham, Sara en Abimeleg, koning van Gerar, naby Gasa, betrokke was.—Genesis 20:1-7.
9, 10. Watter voorbeelde toon dat ’n regstelsel in die patriargale gemeenskap bestaan het?
9 In daardie dae het familiehoofde as regters opgetree en regsprobleme behartig. Jehovah het van Abraham gesê: “Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen” (Genesis 18:19). Abraham het onselfsugtigheid en oordeelkundigheid aan die dag gelê toe hy ’n geskil tussen sy eie veewagters en dié van Lot besleg het (Genesis 13:7-11). Juda het as patriargale hoof en regter opgetree toe hy sy skoondogter, Tamar, ter dood veroordeel het en beveel het dat sy gestenig en verbrand moes word omdat hy geglo het dat sy owerspel gepleeg het. (Genesis 38:11, 24; vergelyk Josua 7:25.) Toe hy egter al die feite omtrent die saak uitvind, het hy gesê sy is regverdiger as hy (Genesis 38:25, 26). Hoe belangrik is dit tog om seker te maak van al die feite voordat ’n regterlike beslissing geneem word!
10 Die boek Job maak melding van ’n regstelsel en toon hoe gewens onpartydige oordeel is (Job 13:8, 10; 31:11, NW; 32:21). Job self het teruggedink aan die tyd toe hy ’n gerespekteerde regter was wat in die stadspoort gesit en reg laat geskied het en wat die weduwee en die vaderlose seun se regsaak verdedig het (Job 29:7-16). Daar is dus aanduidings dat daar in die patriargale gemeenskap “ouere manne” was wat selfs vóór die uittog uit Egipte en die godgegewe wetskode van die nasie van Israel as regters onder Abraham se nakomelinge opgetree het (Exodus 3:16, 18). Trouens, die bepalings van die Wetsverbond is deur Moses aan die “oudstes”, of ouere manne, van Israel gegee, wat die volk verteenwoordig het.—Exodus 19:3-7, vgl. NW.
Israel se regstelsel
11, 12. Wat het Israel se regstelsel volgens twee Bybelgeleerdes van dié van die ander nasies onderskei?
11 Die regspleging in Israel het heeltemal verskil van die regsprosedures wat onder die omliggende nasies gevolg is. Daar is geen onderskeid tussen burgerlike reg en strafreg getref nie. Albei het ten nouste met die sedelike en godsdienstige wette saamgehang. ’n Oortreding teen ’n mens se naaste was ’n oortreding teen Jehovah. In sy boek The People and the Faith of the Bible sê skrywer André Chouraqui: “Die geregtelike tradisie van die Hebreërs verskil van dié van hulle bure, nie net in die definisie van oortredings en strawwe nie, maar in die ware gees van die wette. . . . Die Tora [Wet] verskil nie van die daaglikse lewe nie; dit beheer die wese en gehalte van die daaglikse lewe deur die seën of die vloek uit te spreek. . . . In Israel . . . is dit feitlik onmoontlik om die geregtelike bedrywighede van die stad duidelik te onderskei. Hulle was verberg in die eenheid van ’n lewe wat heeltemal daarop ingestel was om die wil van die lewende God te volbring.”
12 Hierdie unieke situasie het die regspleging in Israel op ’n baie hoër vlak geplaas as onder die ander nasies van daardie tyd. Bybelgeleerde Roland de Vaux skryf: “Ten spyte van die ooreenkoms in samestelling en inhoud, verskil die Israelitiese wet hemelsbreed van die klousules van die Oosterse ‘verdrae’ en die bepalings van hulle ‘wetboeke’. Dit is ’n godsdienswet. . . . Geen Oosterse wetboek kan vergelyk word met die Israelitiese wet, wat in sy geheel aan God as die insteller daarvan toegeskryf word, nie. As dit sedelike en rituele bepalings bevat, en dikwels vermeng, is dit omdat dit die hele spektrum van die goddelike Verbond dek, en omdat hierdie Verbond mense se verhoudings met mekaar sowel as hulle verhouding met God beheer het.” Dit is dus geen wonder nie dat Moses gevra het: “Watter groot nasie is daar wat sulke regverdige insettinge en verordeninge het soos hierdie hele wet wat ek julle vandag voorhou?”—Deuteronomium 4:8.
Regters in Israel
13. In watter opsigte is Moses ’n goeie voorbeeld vir ouere manne van vandag?
13 Met so ’n verhewe regstelsel wonder ’n mens watter soort man as regter kon dien. Die Bybel sê die volgende oor die heel eerste regter wat in Israel aangestel is: “Die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem” (Numeri 12:3). Hy was ook nie selfversekerd nie (Exodus 4:10). Hoewel hy die volk moes oordeel, was hy by tye hulle voorspraak by Jehovah, en het hy by Jehovah gepleit om hulle te vergewe en selfs aangebied dat hy ten behoewe van hulle opgeoffer word (Exodus 32:11, 30-32). Hy het op digterlike wyse gesê: “My woorde verkwik julle soos dou, soos sagte reëns op die grassies, soos reënbuie op die graan” (Deuteronomium 32:2, NAV). Hy het glad nie oor die volk reggespreek deur op sy eie wysheid te steun nie, maar het gesê: “As hulle ’n saak het, kom hulle na my; en dan moet ek regspreek tussen die partye en die insettinge van God en sy wette bekend maak” (Exodus 18:16). Wanneer hy getwyfel het, het hy die saak aan Jehovah voorgelê (Numeri 9:6-8; 15:32-36; 27:1-11). Moses is ’n goeie voorbeeld vir ouere manne wat vandag die ‘kudde van God as herders versorg’ en regterlike besluite neem (Handelinge 20:28). Hulle verhouding met hulle broers moet eweneens “soos sagte reëns op die grassies” wees.
14. Watter geestelike kwalifikasies het die manne gehad wat deur Moses as regters oor Israel aangestel is?
14 Mettertyd kon Moses nie meer die verantwoordelikheid om die volk se geregtelike sake te behartig alleen dra nie (Exodus 18:13, 18). Hy het sy skoonvader se raad aangeneem om ander se hulp in te roep. Ons kan weer eens vra watter soort manne gekies is. Ons lees: “Kies jy uit die hele volk bekwame manne wat God vrees, betroubare manne wat onregverdige wins haat. . . . Moses het bekwame manne uit die hele Israel gekies en hulle as hoofde oor die volk aangestel—owerstes oor duisend, owerstes oor honderd, owerstes oor vyftig en owerstes oor tien. En hulle het voortdurend oor die volk die regspraak uitgeoefen: die moeilike sake het hulle na Moses gebring, maar in al die klein sake self reggespreek.”—Exodus 18:21-26.
15. Watter kwalifikasies het diegene gehad wat as regters in Israel gedien het?
15 Dit is duidelik dat ouderdom nie die enigste maatstaf was waarvolgens manne gekies is om as regters te dien nie. Moses het gesê: “Bring tog wyse en verstandige en ervare manne aan volgens julle stamme, dat ek hulle as julle hoofde kan aanstel” (Deuteronomium 1:13). Moses was goed vertroud met die woorde wat jong Elihu baie jare vantevore gespreek het: ‘Nie slegs die bejaardes is wys nie, en nie net die oues verstaan wat reg is nie’ (Job 32:9, vgl. NW). Diegene wat aangestel is, moes beslis “ervare manne” wees. Maar hulle moes veral bekwame, godvresende, betroubare manne wees, wat onregverdige wins haat en wat wys en verstandig is. Dit lyk gevolglik asof die “hoofde” en “regters” wat in Josua 23:2 en 24:1 genoem word, nie verskil van “die oudstes”, of “die ouere manne” (NW), wat in daardie selfde verse genoem word nie, maar dat hulle uit die geledere van die oudstes, of ouere manne, gekies is.—Sien Insight on the Scriptures, Deel 2, bladsy 549.
Geregtigheid word toegepas
16. Waarop moet ons vandag let as ons kyk na die instruksies wat Moses aan die pas aangestelde regters gegee het?
16 Moses het van die instruksies wat aan hierdie aangestelde regters gegee is, gesê: “Ek het in dié tyd aan julle regters bevel gegee en gesê: Neem julle broers in verhoor en oordeel regverdig tussen ’n man en sy broer en die vreemdeling wat by hom is. Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle moet klein sowel as groot aanhoor; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle te moeilik is, moet julle na my [Moses] toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.”—Deuteronomium 1:16, 17.
17. Wie is as regters aangestel, en watter waarskuwing het koning Josafat hulle gegee?
17 ’n Saak kon natuurlik net na Moses gebring word terwyl hy nog geleef het. Daar is dus verdere reëlings getref sodat moeilike sake na die priesters, die Leviete, en spesiaal aangestelde regters geneem kon word (Deuteronomium 17:8-12; 1 Kronieke 23:1-4; 2 Kronieke 19:5, 8). Koning Josafat het vir die regters wat hy in die stede van Juda aangestel het, gesê: “Kyk wat julle doen, want julle spreek nie reg vir die mens nie, maar vir die HERE . . . So moet julle handel in die vrees van die HERE, met getrouheid en met ’n volkome hart. En by al die regsake wat voor julle kom vanweë julle broers wat in hulle stede woon, . . . moet julle hulle waarsku, sodat hulle hul nie skuldig maak teen die HERE en ’n toorn oor julle en oor julle broers kom nie; so moet julle handel, dat julle jul nie skuldig maak nie.”—2 Kronieke 19:6-10.
18. (a) Wat was sommige van die beginsels wat regters in Israel moes toepas? (b) Wat moes die regters in gedagte hou, en watter tekste toon wat die gevolge sou wees as hulle dit nie sou doen nie?
18 Die volgende is sommige van die beginsels wat regters in Israel moes toepas: gelyke geregtigheid vir ryk en arm (Exodus 23:3, 6; Levitikus 19:15); streng onpartydigheid (Deuteronomium 1:17); geen aanvaarding van omkoopgeskenke nie (Deuteronomium 16:18-20). Regters moes voortdurend in gedagte hou dat diegene oor wie hulle regspraak uitoefen Jehovah se skape is (Psalm 100:3). Trouens, een van die redes waarom Jehovah vleeslike Israel verwerp het, was omdat hulle priesters en herders versuim het om in geregtigheid te oordeel en die volk hardvogtig behandel het.—Jeremia 22:3, 5, 25; 23:1, 2; Esegiël 34:1-4; Maleagi 2:8, 9.
19. Van watter waarde is dit vir ons as ons Jehovah se standaarde van geregtigheid voor die Gewone Jaartelling ondersoek, en wat sal in die volgende artikel bespreek word?
19 Jehovah verander nie (Maleagi 3:6). Hierdie kort oorsig van die wyse waarop regspraak in Israel uitgeoefen moes word en hoe Jehovah enige miskenning van geregtigheid beskou het, moet ouere manne wat vandag die verantwoordelikheid het om regterlike besluite te neem tot nadenke stem. Jehovah se voorbeeld as Regter, en die regstelsel wat hy in Israel ingestel het, het beginsels vasgelê wat as voorbeeld dien vir regspleging in die Christengemeente. Dit sal in die volgende artikel duidelik uiteengesit word.
Hersieningsvrae
◻ Hoe kan die wyse waarop Jehovah oordeel, opgesom word?
◻ Hoe is die wyse waarop Jehovah oordeel, toegelig in sy optrede teenoor Kain en die geslag wat voor die Vloed geleef het?
◻ Wie het in patriargale tye as regters opgetree, en hoe?
◻ Wat het Israel se regstelsel van dié van die ander nasies onderskei?
◻ Watter soort manne is as regters in Israel aangestel, en watter beginsels moes hulle toepas?
[Prent op bladsy 10]
Aangestelde ouere manne het in patriargale tye en in Israel in die stadspoorte regspraak uitgeoefen